Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 106

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die droom van die meisie

106 Toe hulle die visse geëet het, sê die woordvoerder aan die herbergier: “O beste vriend, jy het ons nou `n goeie versterking vir ons liggaam gegee; maar betaal sal nie so maklik gaan nie!”

[2] Die herbergier sê: “My beste stamverwante, daaroor hoef julle jul geen sorg te maak nie, en as julle weer huistoe gaan, sal daar ook goed voor gesorg word dat julle jul terugreis nie met leë sakke sal maak nie; wees daarom opgewek en moet geen vrees en onnodige sorge hê nie!”

[3] Die twaalfjarige meisie wat nou goed versterk was met spys en drank, skep ook moed om te praat en sê aan haar vader: “Luister, vader, drie dae gelede, toe ons ook die geluk gehad het om in die herbergier van `n herberg `n mensevriend aan te tref, het ek `n voorspellende droom gehad! Soos altyd het u natuurlik aan my gesê dat drome van kinders niks beteken nie; maar in die droom het ek hierdie kamer gesien en ook dat ons meer as vriendelik in hierdie herberg opgeneem word. In my droom het ek egter nog baie meer gesien, wat u, toe ek u dit wil vertel, nie wou hoor nie en waarna u my beveel het om te swyg; maar ek het nou die gevoel dat my droom heeltemal in vervulling sal gaan!”

[4] Daarop sê die vader aan sy dogter: “Wel nou, wat het jy dan nog meer gedroom, wat hier in vervulling sal gaan? Nou gee ek jou toestemming om jou droom heeltemal vir ons te vertel!”

[5] Toe sê die meisie: “Die helder droom wat ek gehad het, sal ek nie in sy geheel vertel nie, maar alleen die hoofsaak aanhaal, en dit is die volgende: In my droom sien ek ook die groot tafel en dieselfde manne daaromheen sit. En kyk, een van hulle was nou juis die nuwe Hemelkoning, vir wie ons ons reis hierheen onderneem het! Ek sou Hom vir u ook kon aanwys; maar ek het nou `n stem in myself gehoor wat my verbied om dit te doen, en aan die stem moet ek gehoorsaam! Maar omdat alles uit my droom hier in vervulling gaan, sal dit miskien ook nog in vervulling gaan dat ons hier die Een sal vind wat ons die graagste van almal wil vind!”

[6] Daarop sê die vader heel verras: “My liewe kind, daar kan wel iets waars aan jou droom wees, - maar om dadelik onvoorwaardelik geloof aan jou droomverhaal te heg, sou by so-iets belangrik en gewyd tog wel baie gewaagd wees; dit is dus beter om krities en versigtig te werk te gaan! Ek sal my dus weer tot die baie wyse Man wend, met wie ek al gepraat het en wat kennelik `n Profeet is; van Hom sal ek die vinnigste meer oor die Hemelkoning van alle Judeërs hoor. Ek het Hom al vroeër gevra om die persoon van die heilige Koning te beskryf; as Hy dit doen, sal dit nie al te moeilik wees om Hom op te spoor en ook te herken nie!” 

[7] Nou sê ook die vrou aan haar man: “Luister eers, my eggenoot, die onskuldige en suiwer gemoed van `n kind staan gereeld nader aan God as die van ons, wat reeds deur menige hartstog onsuiwer geword het, en die sien en herken die nabyheid van God dan ook gereeld vroeër as ons! In die soek en vind is kinders met hulle skerp oë gereeld baie handiger as ons oues. Maar jy is in baie dinge te streng en te krities, en ek het al verskeie kere meegemaak dat wat jy mettertyd as eg en goed erken het, ons jou al dadelik in die begin gesê het dat dit eg en goed was; wie weet of dit nie hierdie keer ook net so met jou sal gaan nie!” 

[8] Die man sê: “Hierdie keer sou ek wel wil hê dat julle gelyk het! Maar nou gaan ons manne met ons twee na die Wyse en vra Hom nog `n keer om `n persoonsbeskrywing van die groot Koning, aan wie alle mag in die hemel en op hierdie wye aarde gegee is!”

[9] Na daardie gesprek, wat steeds met gedempte woorde plaasgevind het om te sorg dat Ons dit nie hoor nie, staan die twee manne op, gaan weer vol eerbied na My toe en vra My om die persoon van die groot Koning te beskryf.

[10] Met `n vriendelike gesig sê Ek aan die getroude man: “Weliswaar het julle op sagte toon oor die Koning gespreek en oor die droom van jou dogtertjie geoordeel, en tog het Ek elke woord goed gehoor. Julle wil van My `n persoonsbeskrywing van die Koning hê, omdat julle van mening is dat julle daardeur die Koning, as julle Hom êrens ontmoet, dadelik sal herken en Hom die eer kan gee.

[11] Maar Ek sê vir julle: Die nuwe Koning van die Judeërs moet deur diegene wat Hom werklik wil ken, veral in die gees en in alle waarheid herken word, en dan sal ook Sy persoon weldra maklik te herken wees. Maar jou dogter wou jou tog uit haar droom, drie dae gelede, nie ver van Damaskus nie, die persoonlike gestalte van die Koning beskryf; waarom wou jy eintlik nie daarna luister nie?”

[12] Die man sê: “Beste, baie wyse Vriend, omdat by my, netsoos by my ouers en voorouers, steeds die wyse opvoedingsprinsiep gehanteer word dat kinders die goeie en ware wel goed moet hoor, maar dat hulle alleen moet praat wanneer hulle iets gevra word, sodat hulle geen ligsinnige kletsers word nie; want baie dink en daarvolgens handel is verstandiger as baie klets en daarby weinig doen. Ek wou die droom dan ook nie onmiddellik deur my kind aan my laat vertel nie, om haar te oefen en te sterk in geduld en selfverloëning, wat veral by die vroulike geslag die meeste nodig is, wat tog nouliks in staat is om hulle tong in toom te hou.”

[13] Ek sê: “Daarin het jy weliswaar heeltemal gelyk, - maar omdat jou dogtertjie tog al `n buitengewoon swygsame karakter het, kan jy wel `n klein uitsondering op jou vaste reël maak; want kinders wat so deugsaam en goed opgevoed is, staan gewoonlik baie digter by die innerlike lewenswaarheid as die volwassenes, wat hulle verstand deur hulle onvermoeibare ondersoek so volgestop het met wêreldse wysheid, dat hulle ten slotte deur die bome die woud nie meer sien nie. By jou is dit ook baie sterk die geval; want jy wil die ou naam van jou stam geen oneer aandoen nie, wat jou ook nie kwalik te neem is nie. Maar jy sal self ook wel gemerk het dat `n te skerp geslypte mes altyd vroeër stomp word as `n mes wat weliswaar `n bietjie stomper, maar tog altyd nog skerp genoeg geslyp is! - Maar hoe dit ookal sy - laat jou dogtertjie nou hierheen kom en van Ons die Een uitsoek wat sy in haar droom as die nuwe Koning van die Judeërs gesien het!” 

[14] Die man, wat netsoos sy swaer heeltemal verleë deur My woorde geword het, sê: “O beste, onbegryplik wyse Vriend, sou die heilige groot egter Koning dalk een van julle wees?” 

[15] Ek sê: “Dit sal straks wel blyk; maar doen nou wat Ek jou aanbeveel het!”

[16] Na die woorde gaan die man weg en bring sy dogtertjie na My toe.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205