Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 108

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Oor die krag van die gees

108 As eerste vra toe die meisie aan My: “O Majesteit en Heer en hoogste Koning vol goddelike mag en krag, hoe was dit vir U tog moontlik om hierdie werklik hemelse wyn in die bekers suiwer uit die niks te skep, en ook so skielik, dat dit nie te sien was hoe dit in die bekers kom nie? Ek weet wel dat niks onmoontlik is vir die goddelike krag nie en dat God alles wat daar bestaan geskape het en nog voortdurend skep; maar by die skep neem God steeds `n bepaalde orde in ag, en wel so, dat daar om `n volmaakte ding tot stand te bring altyd die een die ander voorafgaan, en die hoofsaak dan ook altyd verskyn as gevolg van die dikwels vele voorafgaande prosesse en dit volgens alle waarheid ook is.

[2] Ja, die wyn wat van die wynstok kom is nie minder `n wonder nie! Maar by die ontstaan van die wyn vanaf die wynstok is daar baie prosesse tot aan die volledige ryp druif; maar hier by die werklik skep van die allerbeste wyn in die bekers was daar geen proses nie, maar U het dit gewil - en dadelik was die bekers vol wyn! Hoe is dit tog moontlik?”

[3] Ek sê: “Luister, My liewe dogtertjie, jy is weliswaar maar twaalf jaar oud; maar jou verstand reik sover soos na veertig jaar se goeie ontwikkeling! Met so `n vraag het nog nouliks iemand by My aangekom nie. Ja, My liewe dogtertjie, die vraag wat jy hier gestel het is wel baie duidelik en verstaanbaar, - maar die antwoord wat Ek daarop moet gee sal vir julle seker nie net so helder en verstaanbaar voorkom nie; maar omdat jy dit gevra het, sal jy ook `n antwoord van My kry.  

[4] Kyk, die wyn wat geleidelik aan deur die wynstok berei word, is net so `n wonder soos hierdie wyn, wat Ek hier skielik vir julle geskape het! Ek sou die wyn en ook al die ander voortdurend kan skep netsoos die wolke en die reën in die lug en netsoos Ek nou ook vir julle die versterkende wyn geskape het uit die lug, waarin alle bestanddele wat nodig is vir die wyn reeds aanwesig is, netsoos alles wat vereis word vir die voortbring van alle ander geskape dinge. Die mens kan dit nie met sy liggaamlike oë sien nie, maar slegs die gees kan dit sien, afsonder en verenig, en dit dan skielik of - om die menslike verstand, die liefde en die geduld te beproef, en ook om die werksaamheid van die mense op te wek en die traagheid van die mense geen kans te gee nie - stap vir stap op dit op manier wat vir julle bekend is, tot stand bring. Maar altyd is dit een en dieselfde gees, wat soos enige in staat is om alles op die een of op die ander manier te bewerkstellig, omdat hy uiteindelik die oerbegin van alles is en ook ewig sal wees; want alles wat bestaan is in die grond van die saak maar net die Mag, Krag, Liefde, Wysheid en Wil van die Gees.

[5] Ook elke mens is in die besit van so `n gees, wat egter eers werksaam in die mens optree wanneer hy God se wil volledig ken en volgens die wil aan die werk gaan en sy gees hom langs die weg van die suiwer liefde vir God en van daaruit vir sy naaste met die siel in die mens verenig, en die siel daardeur self tot suiwer liefde en wil van God word. As dit in die mens plaasgevind het, dan is hy daarin ook soos God en kan hy ook dinge bewerkstellig, wat geen mens met sy suiwer uiterlike verstand kan begryp nie.

[6] Maar nou is julle by die bron om God se wil te hoor en vir julle lewe te leer ken; as julle volgens die wil gaan handel - wat van julle volkome vrye wil afhang - sal julle jul daardeur die almagtige wil van God eie maak en sodoende tot alles in staat wees.

[7] In God se wil leef egter ook die hoogste Wysheid; daarom kan en wil hy ook niks tot stand bring wat in stryd met God se Wysheid sou wees nie. Wie hom dus God se wil eie gemaak het, deur daarvolgens te handel, het ook God se Wysheid as sy eie gemaak, waarsonder die wil tot niks in staat sou wees nie; en so is `n mens, wat in ooreenstemming met God se wil handel, vol van die ware lewenslig en vol van wysheid, wat lewend is deur die liefde vir God en die naaste. Kyk nou eers, My allerliefste dogtertjie, daar het jy nou `n volkome opregte en alles inhoudende waarheid op die vraag wat jy aan My gestel het; en sê My nou of jy dit ook begryp het!”

[8] Die goed opgevoede en goed geleerde dogtertjie sê: “O bo alles groot en magtige Koning, Majesteit en Heer, ek het die gevoel dat ek die korrekte betekenis van U woorde wel begryp het; maar ek sal eers in staat wees om deur te dring tot die helder diepte van hierdie waarheid, wat slegs deur `n baie suiwer gees begryp kan word, wanneer ook ek dit sover gebring sal hê dat my siel één sal wees met die gees, netsoos U sê. Ek dank U, o Majesteit en Heer, vir U baie wyse les!”

[9] Ek sê: “Jy het nou baie goed gespreek, en Ek sê vir jou dat jy nog vroeër as wat jy dink die toestand sal bereik, waarin jy netsoos Ek vir jou gesê het, volmaak en op God gelykend sal wees; want jy het al die regte liefde vir My en so ook die regte liefde vir jou naaste. Die liefde is die enigste en sekerste werkende middel wat die gees met die siel verenig, omdat die liefde in die siel eintlik al die gees van God is; laat haar sterk word deur goeie dade, dan sal jy weldra stellig oortuig raak van sy wonderbaarlike mag en krag in jou en ook buite jou.

[10] Wie God met sy verstand wil soek en deurgrond, het `n moeisame werk en kom ook maar nouliks één stap verder; maar wie God soek met die liefde in sy hart, sal Hom weldra vind en bereik maklik sy ware lewensdoel. - Begryp jy dit?”

[11] Die meisie sê: “O groot Majesteit en Heer, dit het ek nou goed begryp; want dit het nou opeens lig geword in myself, en ek begryp nou ook die antwoord wat U op my vraag gee baie duideliker as daarvoor. So begryp ek nou ook my droom en sien in, dat slegs U gees dit in my siel gegee het, want anders sou sy nooit uit haarself in staat gewees het om so `n helder blik in die ewig onmeetlike dieptes van U skeppings te werp nie!”  

[12] Nou sê Ek aan die ouers van die meisie: “Die kind sal nog `n lig vir julle word! Maar as sy julle vanuit My Gees in haar die een en ander sal verkondig, doen dan nie netsoos drie dae gelede in die omgewing van Damaskus nie! Maar nou moet julle bekers nog `n keer gevul word, en julle moet dit ook vir die tweede keer leeg drink!”

[13] Hierop sê die vrou: “O Heer, dit hoef nie; want ons is nou al meer as genoeg versadig en versterk!”

[14] Ek sê: “Vrou, bemoei jou nie met wat Ek vir julle doen nie! In die wyn wat die wynstok julle gee sit wel `n verdowende en vir die mens verontreinigende gees, wat die siel nie verlig nie, maar wel verduister. Maar in die wyn wat Ek julle hier uit die hemele gee, is die gees van die ware en lewende liefde en wysheid; want dit is eintlik My Woord en My wil. Daarom moet julle dit ook sonder enige vrees of skroom drink, sodat julle die krag kan kry om die ander mense in julle land in My Naam My Woord en My wil bekend te maak!” 

[15] Toe Ek dit gesê het, vra al vier My nie of Ek die bekers tog nog `n keer met die wonderwyn wil vul nie. En Ek kyk na die bekers, netsoos tevore, en onmiddellik word hulle gevul met die beste en suiwerste wyn. Daarop sê Ek aan die vier dat hulle die bekers moes leegdrink; en dit doen hulle met alle genoeë.

[16] Toe hulle ook hierdie keer die wyn opgedrink het, begin hulle steeds ligter en meer oop van hart te word, en die getroude man begin baie wys te spreek, sodat ook My leerlinge hulle erg daaroor verbaas en enkele van hulle onder mekaar die opmerking maak (die leerlinge): “Kyk, die mense uit Indië maak Hy met `n paar slukke wonderlik wys en ingewy in die hele leer; waarom doen Hy dit nie ook by die ander mense nie?”

[17] Ek sê: “Waarom maak julle jul bedruk, as Ek doen wat Ek wil? As Ek weet om vir elke plant die geskikte voeding te verskaf en weet om aan elke dier die voedsel te gee wat dit goed bekom, dan sal Ek ook goed weet hoe Ek die een of die ander mens sy geestelike voedsel moet verskaf en aanreik. Julle is steeds om My heen en hoor en sien alles; maar let ook goed op hoe Ek die mense behandel en hoe Ek hulle elkeen na die aard van hulle siel onderrig, en doen netso, dan sal julle goeie resultate boek! Maar hierdie vier is slegs tot môremiddag by My, en tog moet hulle tot `n werktuig vir My word; en omdat hulle siele so geskik daarvoor is, maak Ek hulle dan ook sneller bekwaam vir daardie amp, netsoos Ek dit ook met die twee-en-sewentig leerlinge in Emmaus gedoen het. - As julle dit nou begryp, wees dan tevrede!”

[18] Daarop word alle leerlinge weer kalm. Maar Ek onderrig die vier nog verder oor die ryk van God.

[19] Nadat Ek die vier goed onderrig het oor die ryk van God in die mens op die aarde en hulle ook vertel het wat dit teweegbring, asook dat My koningskap en My ryk nie van hierdie wêreld is nie, sê Ek aan die herbergier dat hy die vier `n rusplek moes aanwys, aangesien dit al `n uur na middernag geword het. Die herbergier doen dit onmiddellik, en die vier begeef hulle ter ruste. Ons bly egter, netsoos wel gereelder, aan Ons tafel sit en rus daar tot sonsopkoms; ook die herbergier rus naas Ons aan `n klein tafel.

[20] In die oggend was die herbergier, netsoos sy gewoonte was, reeds `n uur voor sonsopkoms op die been en sorg vir alles voordat die son opkom; want dit was Sabbat, en dan was dit van sonsopkoms tot sonsondergang gedaan met alle liggaamlike werksaamhede. So laat hy ook die oggendmaal vóór sonsopkoms voorberei, sodat dit ook voor die tyd genuttig sou word; want in daardie opsig was hy `n streng Judeër.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205