Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 109

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die ware sabbatsheiliging

109 Omdat Ek sy swakheid goed ken, stel Ek hom op die proef deur saam met My leerlinge tot sonsopkoms te slaap, wat die sabbatsgewete van die herbergier onrustig begin te maak.

[2] Nadat die son heeltemal opgekom het, staan Ek saam met my leerlinge van tafel af op en gaan na buite, netsoos wat Ek ook meestal orals anders gedoen het.

[3] Die herbergier kom My egter dadelik agterna, begroet My en ook die leerlinge baie eerbiedig en vra My: “O Majesteit en Heer, wat moet daar nou gebeur? Dit is Sabbat vandag! Die oggendmaal is al vóór sonsopkoms voorberei. Wil U dit nou ook na sonsopkoms tot U neem, en moet ek die vier uit Indië ook oordag te ete gee?”

[4] Ek sê: “My beste vriend, anders is jy in alle opsigte `n egte wyse man, maar wat die vier van die Sabbat betref, is jy nog net soos die blinde fariseërs, wat hulle volgens die letter van die Wet rig, maar die gees daarvan nog nooit geken het nie. As jy op die Sabbat jou skape, osse, koeie, kalwers, esels en bokke voer gee, netsoos op `n werksdag - wat tog ook liggaamlike arbeid is - waarom moet die mense dan vas? Is mense in God se oë dan dalk minder as jou huisdiere? Bowendien is Ek vandag netsoos ewighede gelede ook Heer oor die Sabbat, asook oor elke ander dag wat, netsoos die Sabbat, `n dag van JaHWeH is. Sou Ek dan op `n Sabbat nie net so moet doen as op elke ander dag nie?

[5] Wie laat dan die son opgaan, wie laat die gras groei, wie laat die winde waai en wie laat die wolke verby trek? Wie stu die water in die bronne, stroompies, riviere en strome, wie bring die see in beweging van die een einde van die aarde tot die ander? Wie stu jou bloed in jou are en jou hart in jou bors - let wel - ook op die Sabbat?

[6] As Ek op `n Sabbat ook maar `n oomblik sou rus, sou die hele skepping dan nie ten gronde gaan nie?

[7] Sien, om werk van ware naasteliefde te verrig beteken by My: Om God en die mense werklik te dien, - wat seker `n hoër waarde het as om die Sabbat met traagheid te vier! Verrig daarom ook op die Sabbat goeie werk, dan sal jy die Sabbat daarmee vier op die manier wat My die Heer, die meeste welgevallig is!

[8] En nou gaan Ons weer na die eetsaal om die oggendmaal tot Ons te neem, en die vier Indo-Judeërs, wat oormôre eers hulle Sabbat het, moet dieselfde doen!”

[9] Toe die herbergier hierdie woorde van My gehoor het, sien hy onmiddellik die groot dwaasheid in van die uiterlike vier van die Sabbat en laat die oggendmaal op tafel sit; en Ons gaan na die eetsaal, gaan aan tafel sit en neem die oggendmaal heel welgemoed tot Ons. 

[10] Nou kom ook die vier Indo-Judeërs, en Ek sê aan hulle dat hulle aan Ons tafel moet plaasneem om die oggendmaal saam met Ons te gebruik, wat hulle ook dadelik met groot blydskap doen; want hulle wis nie dat in Galilea, netsoos in die hele Judese land, die Sabbat vandag gevier word nie.

[11] Toe Ons die oggendmaal tot Ons geneem het, kom die sabbatroeper deur die strate van die stadjie Kana, wat die mense, groot en klein, jonk en oud, oproep om na die sinagoge te gaan. Nou skrik die vier, omdat hulle nou hoor dat dit vandag die ware, aloue Judese Sabbat was en hulle na sonsopkoms `n oggendmaal tot hulle geneem het.

[12] Maar Ek sê: “Ek is die Heer, ook van die Sabbat! As Ek julle dit nie as sonde aanreken nie, waarom sou julle dan julle gewete belas?”

[13] Die man sê: “Ons dank U, o Heer, vir U Woord van barmhartigheid, wat ons harte geweldig troos; want as ons nou teenoor U sou gesondig het, sou U dit sekerlik vir ons gesê en ons tereggewys het. Maar hoe kan iets nou in U oë geen sonde wees nie, wat volgens die Wet van Moses `n sonde genoem word? Waarom het Moses dan tog sulke wette as van Godsweë aan die volk gegee?” 

[14] Ek sê: “Jy is op sigself werklik `n wyse man en goed tuis in die Skrif van Moses, die letter ken jy goed, en die Woord is nie vir jou vreemd nie; maar die ware, alles lewend makende gees, wat in die Woord verborge is, is nog vir jou vreemd, net soos wat dit reeds lank voor die Babiloniese gevangenskap vir alle Judeërs vreemd geword het. Daarom hou jy jou nog aan die dooie bas; maar die wese en die werksaamheid van die lewende murg in die inwendige van die boom is vir jou vreemd. As jy die ou bas van `n boom beskadig, sal dit die lewe van die boom geen enkele merkbare skade toebring nie; maar as jy die murg van `n boom beskadig, sal dit `n sonde teen die lewe van die boom wees, omdat die boom daarna sal verdor en derhalwe sal sterf. 

[15] Kyk, die Israeliete het in Egipte onder die farao’s traag en vraatsugtig geword soos die diere; hulle het die God van Abraham, Isak en Jakob byna heeltemal vergeet en het baie met die afgode van die Egiptenare gehad; nog maar weiniges het die een, ware God trou gebly, en hulle het tot God gebid of Hy nie Sy volk uit die harde slawerny en gewetenlose tirannie van die Egiptenare wou red nie. En God het dit deur Moses, gedoen netsoos jy goed weet.

[16] Moses het egter gedurende veertig jaar in die woestyn met die daagliks sigbare hulp van JaHWeH die hande vol gehad om die ontaarde volk deur wyse leringe, en ook deur passende wette tot die toestand te verhef, waarin `n mens homself volgens God se orde moet bevind. Daarvoor was vir `n ontaarde volk ook nog wette nodig, wat die mens voorgeskryf het wanneer, wat, hoeveel en hoe gereeld hy op `n dag moes eet en drink, en hoe hy hom moes klee en sy liggaam moes reinig.

[17] Ook word deur Moses aan die sterk tot traagheid neigende volk, wat geen enkele dag iets wou doen nie, slegs die sewende dag gegee om te vier en te rus, en op die dag was hulle deur die leiers onderrig oor God, Sy orde, Sy wil en Sy leiding, en was hulle baie ernstig gewaarsku vir weerspannigheid teen die wette.

[18] Maar as `n mens God se orde sy eie gemaak het en uit eie vrye wil aktief geword het in alles wat goed, waar en korrek is, kan dit vir hom tog geen sonde wees as hy as volkome gesonde mens geen geneesmiddels meer gebruik, wat `n sieke wel moet gebruik nie. Daarom sal ook jy, wat `n godvresende en regverdige man is, nie teen die vier van die Sabbat sondig wanneer jy, altyd met mate, ook na sonsopkoms, in die middaguur en ook, as jy honger het, voor sonsondergang spys en drank tot jou neem en jou naaste goed doen soos op `n werksdag nie. Doen jy ook soos Ek doen, dan sal jy die goeie doen en lewe!

[19] Wat win die sabbatsviering daarby as die Judeërs hulle dikwels al drie uur voor sonsopkoms oormatig volvreet en volsuip, en wel sodanig dat hulle die hele Sabbat nouliks kan gaan of staan en na sonsondergang weer begin te bras en te swelg tot middernag, sodat hulle daarna ook die volgende werksdag tot geen enkele werk in staat is nie? Weet, dat so `n sabbatsviering in My oë `n gruwel is; maar as jy die Sabbat hou op die manier wat Ek jou nou getoon het, is dit My wil en My dus sekerlik welgevallig. Dink daarom altyd by julleself: Die letter van die Wet dood; slegs die innerlike Gees van Liefde en Waarheid maak vry.”

[20] Toe die man dit van My gehoor het, bedank hy en die drie ander My vir hierdie les, en almal word bly gestem.

[21] Daarop vra die herbergier My, of hy met die syne na die sinagoge moes gaan of kon hy ook tuis bly.

[22] Ek sê: “Wie is die meeste, Ek of die sinagoge? Laat jou personeel daarheen gaan en stuur die rabbi `n offer, waarvoor hy baie liewer is, as jou aanwesigheid, - maar bly jy tuis; want daar sal baie gou `n karavaan uit Persië hier aankom en jou baie werk besorg!”

[23] Die herbergier sê: “O Majesteit en Heer, dit is nou vir my vandag, noudat dit `n nuwemaan Sabbat is, baie ongeleë; want ons herbergiers het `n streng wet wat ons verbied om op so `n Sabbat `n Judeër, laat staan nog `n vreemdeling in ons herberg op te neem!”

[24] Ek sê: “Goed doen op `n Sabbat is in My oë goed, soos wat Ek aan jou en so pas ook aan die mense uit Indië gesê het, maar as jy onnodige angs het vir die owerste van die sinagoge, stuur dan deur middel van jou opperdienaar `n vrystellingsoffer na die owerste, dan sal hy graag vir jou die toestemming gee!”

[25] Dit doen die herbergier, en die opperdienaar bring hom onmiddellik `n bewys van ontheffing, geldig vir drie Sabbatte, en die herbergier was baie bly daaroor, want die karavaan het hom `n honderdvoudige wins opgelewer van wat die bewys hom gekos het.

[26] Daarop vra die herbergier aan My: “Majesteit en Heer! Is dit eintlik wel korrek van die owerste van die sinagoge om my teen betaling van `n offer vir die ontheffing van die skending van die Sabbat – wat `n meer as groot en strafbare sonde is - toe te staan om die sonde met my hele gesin te begaan, en wel sonder enige besorgdheid, asof ek nooit enige straf daarvoor te vrees sal hê nie?”

[27] Ek sê: “Vriend, as die owerste die skend van die Sabbat volgens sy gewete en vanuit sy geloof werklik as `n sonde beskou, kom die sonde op sy rekening, aangesien hy dit vir geld deur ander laat begaan; maar as hy geen geloof het nie en teenoor die volk tog doen asof hy vas en sonder twyfel glo wat hy volgens die Skrif vir die skyn as `n uiters strafbare sonde beskou en skerp strafpreke daaroor hou, dan is hy deur sy vir geld gegewe toestemming om `n sonde te begaan nie net `n netso gereelde Sabbatskender as die vele aan wie hy vir geld toestemming gegee het om die Sabbat te skend nie, maar hy begaan daardeur die nog baie groter sonde van leuens, huigelary en inhaligheid, omdat hy sy geloof terwille van sy hebsug opgegee het.

[28] Maar wie, netsoos jy nou, toestemming gekry het om die Sabbat sogenaamd te ontheilig, kan des te geruster op die Sabbat goeie werk verrig, omdat dit My wil is om op die manier die Sabbat te vier!”

[29] Toe die herbergier dit van My gehoor het, sê hy onmiddellik aan sy personeel dat hulle alles in orde moes bring wat nodig was om `n groot karavaan te bedien.

[30] En elkeen raak aan die werk, en des te yweriger omdat die voorhoede van die karavaan reeds voor die herberg arriveer.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205