Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 117

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Tempeldienare uit Jerusalem soek die Heer

117 Hierop kom daar `n dienaar die saal binne en sê aan Kisjona: “Daar het enkele tempeldienare uit Jerusalem hier aangekom wat om onderdak vra. Wat moet ons doen?”

[2] Toe Ons Kisjona dit gehoor het, word hy wrewelig en sê: “Ag, jy het tog dag en nag geen rus vanweë die mense nie, wat ek meer as hinderlik vind! Hulle het niks anders te doen as om voortdurend van die een plek na die ander te reis, om die mense met hulle hoogmoed, vermetelheid en deur hulle onversadigbare hebsug op dikwels onverdraaglike wyse lastig te val. Majesteit en Heer, het U geen geweldige stormwind wat hierdie lastige gaste na `n ander plek kan verjaag nie?”

[3] Ek sê: “Maak jou nie druk oor die vyf tempeldienare nie en neem hulle maar op! As hulle by Ons wil binnekom, weier hulle dit dan nie; want Ek en ons almal is nie bang vir hulle nie. Gee hulle wat hulle vra, sodat hulle geen rede sal hê om van Ons kwaad te spreek nie! Hulle ken My nie, en Ons sal weldra die een en ander met hulle oor My te spreek kry. Hulle moet die waarheid hoor!” 

[4] Toe Kisjona dit van My gehoor het, word hy bietjie bereidwilliger en sê aan die dienaar, dat hy hulle moes binnelaat, onderdak moes gee en ooreenkomstig hulle wens moes bedien.

[5] Toe gaan die dienaar na buite en sê vir hulle wat sy Heer aan hom gesê het. 

[6] Toe die tempeldienare dit hoor, begin hulle te brom en vra die dienaar wat die herbergier dan wel so belangrik in huis te doen het, dat hy daardeur vergeet het wat hy die priesters van God verskuldig was.

[7] Die dienaar sê: “Daar is al `n aansienlike aantal vreemde gaste in die herberg, waaronder Grieke, en die herbergier moet immers die eerste gaste eer betoon, en kan nie wag op diegene van wie hy nie weet of hulle sal arriveer nie. Kortom, sedert die herbergier `n Romeinse burger is, maak hy geen onderskeid meer tussen die gaste nie. Wie dit nie geval nie, kan `n ander herberg opsoek. Maar as julle hier wil bly, sal julle na behoefte redelik bedien word!”

[8] Hierna sê `n fariseër erg liggeraak: “Nou, nou, Romeins gesinde dienaar van jou Romeinse meester van `n tolhuis-herberg, bring ons maar na die groot gastekamer!”

[9] Hierop bring die dienaar hulle na Ons toe in die groot gastevertrek, waar `n tafel aan die ander kant van die vertrek vir hulle gedek word.

[10] Toe hulle die gastekamer binnekom, staan Kisjona wel op, begroet hulle en bring hulle na die tafel wat vir hulle gedek is.

[11] Toe hulle plaasgeneem het, vra hulle (die fariseërs) aan Ons vriend wie Ons eintlik was.

[12] Kisjona sê: “Ek doen hier die Romeinse polisiewerk; dit is voldoende dat ek die gaste ken en teenoor die Romeine vir hulle eerlikheid moet borgstaan. As julle hierdie goeie gaste van my egter van naderby wil leer ken, wend julle dan tot hulleself!”

[13] Toe die tempeldienare daardie antwoord van Kisjona kry, vra hulle verder niks meer nie en laat brood, wyn en visse aan hulle gee; want hulle het al honger en dors, omdat hulle op `n Sabbat gereis het en sedert sonsopkoms niks geëet en gedrink het vanweë die volk nie; tuis sou hulle hulleself egter gladnie oor die nuwemaan Sabbat bekommer het nie. 

[14] Nou sê Maria met `n sekere ongerustheid aan My: “My geliefde seun Jesus, as hierdie grootste vyande van Jou Jou nou maar nie herken nie; want in Nasaret het ek terwille van Jou van die plaaslike owerste baie kwade woorde en oordeel te verduur gehad en ek het my vernaamlik na hierdie eensame plek begewe om met rus gelaat te word deur die owerste en sy aanhangers. Hierdie hier trek seker die land in om opnuut inligting in te win oor Jou en wat Jy doen. Twee van hulle kom baie bekend vir my voor, en ek het hulle vanweë Jou al verskillende kere in Nasaret gesien.”

[15] Ek sê: “Wees maar gladnie besorg daaroor of hulle My, wat My persoon betref, ken of nie; in die gees sal dié soort My eers herken as Ek oordeel oor hulle sal hou. Maar dan sal hulle herkenning te laat wees en hulle volledige ondergang bewerkstellig. Maar laat ook Ons nou eet en drink; want Ons het nog visse, brood en wyn!”

[16] Daarmee was Maria weer gerusgestel en neem nog bietjie spys en drank tot haar.

[17] Toe die tempeldienare hulle dik buike gevul het, staan die twee fariseërs van hulle tafel op en kom heel vrypostig na Ons toe.

[18] Eén van hulle, wat `n owerste en skrifgeleerde was, sê aan ons: “Julle sal ons godsdienare wel ten goeie hou dat ons volgens `n ou gebruik na julle toe gekom het, om van julle `n bietjie nuus te hoor. Elkeen van julle sien natuurlik dadelik wie en wat ons is; maar daarteenoor sou ook ons graag van julle wil hoor waar julle vandaan gekom het en wat julle hier te doen het!”

[19] Nou sê Ek: “Hoewel julle versoek aan Ons buitengewoon aanmatigend is en elke beter wellewendheid tersyde stel, wil Ons tog daaraan tegemoetkom, as julle Ons eers vertel wat julle gedwing het om selfs op `n nuwemaan Sabbat `n reis te onderneem - aangesien julle dit vir elke ander Judeër, as die nie vir `n groot som geld `n vergunning by julle sou gekoop het nie, as `n groot, nouliks te vergewe sonde sou aangereken het. Welke enorm belangrike rede kon julle dan daartoe gebring het om die Sabbat te breek? Vertel dit eers vir Ons, dan sal Ons Onsself ook van naderby bekend maak!”

[20] Die enigsins pynlik getrefde skrifgeleerde sê: “Vriend, ons is priesters en het volgens die Goddelike Raad ook op `n Sabbat die volste reg om in naam van die tempel in Jerusalem te handel, omdat ons eintlik die lewende wet van Moses self is. Bowendien sal dit vir julle nie onbekend wees dat die sekere Nasarener, wat Hom as die beloofde Messias uitgee en daarby nog die tempel vervolg, al sedert geruime tyd `n nuwe sekte opgerig het en deur Sy tekens, groot en klein, die volk verlei en van ons afwend. Ons het weer opnuut berig gekry dat Hy nou eers hier en dan weer daar optree en onderrig, baie uitsonderlike tekens doen en die volk oral teen die tempel opsteek; en daarom moes ons volgens die Goddelike Raad in die tempel ook die Sabbat gebruik om te wete te kom waar die volksverleier Hom bevind en wat Hy doen. Nou weet julle waarom ons ook op `n Sabbat `n reis onderneem het - en dus kan julle ons nou ook vertel waar julle vandaan kom en welke rede julle vir julle reis het. Want julle is onmiskenbaar ook reisigers, wat ons aan julle gebruinde gesigte en hande kan sien.”

[21] Ek sê: “En wat moet julle dan met die Nasarener doen, as julle Hom êrens sou aantref?”

[22] Die skrifgeleerde sê: “Wat ons moet doen? Hom in die eerste plek gadeslaan, Hom daarna gryp en dan aan die gereg oorlewer!” 

[23] Kisjona sê nou: “So! En verder niks? Weet julle wel dat die Nasarener ook `n vriend van die Romeine is, en dat ook die heidene in Hom glo? Weet julle dat Hy alle siekes slegs deur die mag van Sy wil genees, die elemente gebied en dooies opwek? As die hele volk in Hom die beloofde Messias herken en Hom liefhet en eer, waarom julle dan nie? Is julle dalk wyser as Hy en magtiger as Sy wil?”

[24] Die skrifgeleerde sê: “Is jy dalk ook al deur die Nasarener verblind?” 

[25] Kisjona sê: “Waaragtig nie; want ek het deur Hom maar net wys geword, omdat Ek eers deur Hom die waarheid en die lewe leer ken het! Maar julle is verblind deur julle onversadigbare hebsug en heerssug en julle is blind en doof; daarom herken julle die Nasarener nie en vervolg julle in jul magteloosheid die Een wat almagtig is.

[26] Hy is weliswaar hoogs geduldig en lankmoedig en duld baie van julle; maar dit sal nog net `n baie kort tyd duur voordat Sy geduld met julle sal op wees. Die tyd sal baie gou verby wees, en dan: Wee julle, hardnekkige vervolgers van die grootste Vriend van die mense! Dan sal die oordeel oor julle losbreek, waarvan julle enige tyd gelede die mees onbedrieglike tekens in die nag aan die uitspansel gesien het! Ek, Kisjona, nou `n Romein, wat geen vrees vir julle koester nie, sê dit vir julle heeltemal ronduit.”

[27] Dit verbaas die twee fariseërs behoorlik en die skrifgeleerde sê: “Nou goed, jy sal wel gelyk hê! Jy kan maklik praat oor die waarde, die waardigheid en die karakter van die Nasarener; want jy ken Hom vas en sekerlik persoonlik en het sekerlik al verskillende kere met Hom te make gehad. Maar ons ken Hom gladnie en het tot nou toe nog niks met Hom te make gehad nie. Wat ons oor Hom weet, weet ons slegs deur die spioene wat na Hom uitgestuur is, en van orals af stem die berigte volkome ooreen oor die feit dat Hy Hom steeds baie vyandig teenoor die tempel opstel. Maar laat ons weet waar ons Hom kan vind, dan sal ons self met Hom praat, Hom aan die tand voel en sien watse mens Hy is!” 

[28] Kisjona sê: “Julle lieg as julle sê dat julle Hom nie persoonlik ken nie; want ek weet self maar al te seker dat Hy die volk al herhaaldelik in Jerusalem openlik onderrig het en Sy leer ook deur tekens as suiwer goddelik bevestig het. Toe word daar heidene bekeer - maar julle tempeldienare het klippe in die hand geneem en wou Hom stenig! As dit so is - hoe kan julle dan sê dat julle Hom nie persoonlik ken nie?”

[29] Die twee sê: “Daaroor het ons wel gehoor praat, toe ons tuis kom uit Damaskus, waar ons werk te doen gehad het; maar sodoende het ons tog nog nooit die geleentheid gehad om die so beroemde, maar in die tempel, uitermate berugte Nasarener, persoonlik te leer ken nie. Aangesien ons egter deur ons reise wêreldwyser en verstandiger geword het as almal wat konstant in die tempel sit, het die groot Raad in die tempel ons baie gou uitgekies as die mees geskikte spioene om teen `n goeie beloning navraag te doen oor die Nasarener en die tempel onverwyld berig te stuur oor Sy verblyfplek en Sy aktiwiteite. Ons was oor hierdie, tog wel lastige aangeleentheid, al wel verskillende kere deur die tempel uitgestuur, was selfs enkele kere in Nasaret gewees en het Sy moeder en broers daar leer ken - maar die Ene wat ons soek, het ons tot nou toe nog nie gesien nie! Ons het dus geen onwaarheid gespreek, toe ons beken het dat ons Hom nie persoonlik ken nie en nog nooit met Hom kontak gehad het nie.  

[30] Deel ons dus mee waar ons Hom kan ontmoet, hoor en gadeslaan, dan sal ons volgens ons eie ervaring self kan beoordeel in hoeverre die groot beskuldigings van die kant van die tempel teen Hom waar of vals en kwaadwillig versin is. Ons is skrifgeleerdes en weet alles wat daar by die profete oor die komende Messias geskryf staan; daarom neem ons `n nuwe leer natuurlik nie somaar op die eerste oogopslag aan nie, soos die volk, wat meestal gladnie goed in die Skrif tuis is nie en al erg deur die heidene bedorwe is.”  

[31] Nou sê Ek weer: “Maar wie se skuld is dit, dat die volk so sleg onderrig is in die Skrif? Sien, julle eie skuld! Julle weerhou die Woord van God van die volk en kwel hulle in plek daarvan met julle instellings, wat die volk as God se Woord moet aanneem. Is dit dan geen wonder nie dat die volk by die heidene beskerming teen julle gaan soek en dit ook daar vind nie?

[32] As God nou Sy belofte vervul het en Sy Gesalfde die mense nou weer die suiwer Woord leer en deur die krag daarvan wonders doen, netsoos ook die profete gedoen het - is dit dan in stryd met die tempel, as die tempel sou wees netsoos dit volgens die gegewe reëls sou moet wees? As julle skrifgeleerdes is, oordeel dan self hoe ver die tempel hom in sy handelswyse van die suiwer Woord van God verwyder het!

[33] Ek sê vir julle: Die heidene staan nou baie digter by God se troon as die tempel met sy meer as egoïstiese en heerssugtige instellings! Waar is die ou Ark van die Verbond nou, waar die altyd groenblywende staf van Aäron, waar die manna, en waar die toonbrode wat al lankal deur die motte opgeëet is?

[34] Julle toon dergelike dinge nog wel aan die volk en hou lang toesprake daaroor, maar julle innerlike sê hard en duidelik: “Ons bedrieg die volk en is gedwing om hulle te bedrieg, sodat hulle nie opstaan, ons oorval en ons vernietig nie!” 

[35] Kyk, dit is dan ook die vernaamste rede dat julle die Gestuurde, wat deur God in hierdie wêreld gestuur is, met gloeiende ywer vervolg en Hom nog erger vrees en haat as die dood, wat julle nie sal ontsien nie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205