Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 12

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die Heer spreek vermanende woorde tot die Grieke

12 Daarop kom die Griek weer na My toe en sê: “Dierbare Vriend, was dit goed so, met ons bede en ons dank?”

[2] Ek sê: “Jy het kinders tuis, waarvan jy baie hou; as hulle honger het en jou om brood vra, sal jy hulle dan die brood as seën van jou vaderlike liefde weerhou, as hulle jou daar op `n dom, aangeleerde manier daarom vra? As mens en heiden kyk jy immers maar net na die hart van jou kinders, en hulle gebrabbel is vir jou meer werd as die mees elegante toespraak van `n geoefende redenaar. Hoeveel te meer kyk God, wat die enig ware Vader van alle mense is, slegs na hulle harte en nie na die ydele woorde van hulle mond en of hulle mooi gevorm is nie!

[3] Ook al was julle bede en julle dank gehul in eenvoudige woorde, hulle kom uit julle hart, en daarom behaag hulle die enig ware Vader van die mense in die hemel ook eg. Bly so, dan sal julle terselfdertyd ook nog `n hoër lig uit die hemele gegee word! Wend julle altyd in die volle liefde van julle hart tot God, die ewige Vader in die hemel; dan sal Hy julle altyd met die lewende lig van die ewige waarheid in Hom na julle wend!

[4] Maar om God eg lief te hê, moet julle ook julle naaste liefhê soos julleself en niemand onreg aandoen nie. Wat julle nie wil dat mens julle aandoen nie, doen dit ook nie aan julle medemense nie! Ek bedoel dat julle dit met verstand en wysheid moet toepas; want anders sou `n roofmoordenaar ook kon verlang dat mens hom nie agtervolg en aan die gereg oorlewer nie, omdat hyself ook niemand met die bedoeling agtervolg nie - en nog baie meer van dergelike ongerymdhede.

[5] Wie sy medemense dus getrou en verstandig en sodoende ook werklik liefhet, het ook God lief en word op sy beurt ook deur God bemin. Maar wie sy naaste, wat hy tog sien, nie liefhet nie, hoe kan hy God dan liefhê, wat hy nie met sy oë kan sien of met sy ore kan hoor nie? 

[6] Julle is handelaars en geldwisselaars, en julle het dan ook `n groot wins liewer as `n klein wins, en vind dit ook meer korrek. Maar Ek sê vir julle, wees voortaan regverdig in alles, en bedink: Netsoos julle dit liewer wil hê dat `n ander regverdig en billik teenoor julle is, moet julle ook teenoor julle naaste regverdig en billik wees in prys, maat en gewig! Want met dieselfde maat, prys en gewig waarmee julle jul medemense bedien, sal JaHWeH, God en Vader in die hemel, julle op julle beurt vergeld. Leuenaars en bedrieërs in welke lewensomstandigheid hier op aarde ookal, word nie deur God gesien nie en sal Sy ewige lewensryk nie binnegaan nie. Dit kan Ek julle wel sê, omdat Ek God en Sy ryk en Sy ewige heerserstroon en Sy wil baie goed ken.

[7] As julle dit begryp het, handel dan ook daarna, dan sal die ware en lewende seën nie van julle weggeneem word nie! As iemand in `n koninkryk die wette van die koning ken en die ook steeds trou opvolg, en die koning weet dit, dan sal hy die mens welgesind wees, hom ag en liefhê en hom ook maklik `n amp verleen as beloning vir sy trou. Noudat julle van My die wil van die een, ware God verneem het, weet julle ook om daarvolgens te handel, dan sal julle barmhartigheid by God vind!”

[8] Die Griek sê: “Vriend, ons dank jou vir die werklik baie wyse onderrig en belowe Jou, dat ons van nou af aan getrou daarvolgens sal lewe en handel! Maar omdat dit nog nie so laat in die aand is nie en ek uit Jou woorde en uit wat Jy aan my gedoen het, afgelei het dat Jy die enig ware God baie goed ken en ook Sy liefde en vriendskap geniet, omdat Jy volledig volgens Sy wil leef en handel, kan Jy ons vanuit die goddelike lig in Jou tog ook nog wel enigsins uitlê, hoe God sonder stof of materie hierdie aarde uit Homself kon geskep het. Ek het weliswaar al gesê dat die stof, waaruit alles geskape is, enkel en alleen bestaan uit die almagtige wil van God; maar desondanks vra ek my nog af hoe dit moontlik is dat uit die suiwer wil van God die stof en die materie ontstaan het. As ons Grieke ons ook maar enige voorstelling daarvan sou kon maak, sou ons buitengewoon tevrede wees.”

[9] Ek sê: “Julle verlang werklik dinge wat die verstand van `n mens nooit heeltemal kan begryp nie; en as hy ook maar `n klein bietjie meer sou begryp van die diepste geheime van God se ryk, sou hy daardeur nie digter by God se liefde kom nie! Want niemand kan weet wat in God is as alleen God se gees nie; maar wie God se gebooie hou en Hom bo alles liefhet, ontvang ook God se Gees in sy hart en deel dan ook in God se diepste geheime.

[10] Doen dus wat Ek julle aangeraai het; daardeur sal julle in alle hoëre wysheid binnegelei word, en dan sal dit wat nou vir julle onbegryplik en onmoontlik voorkom, netso duidelik en insigtelik word as die speelgoed van julle kinders!

[11] Maar Ek wil julle nog `n bewys gee, dat God se wil in Homself alles is, ten eerste suiwer as Gees en vervolgens ook as stof en materie; bring daarvoor `n volkome leë kraffie vir My van julle tafel!”

[12] Onmiddellik bring `n ander Griek `n volkome leë kraffie en sit dit voor My op tafel, met die woorde: “Kyk, vriend van God, hier is `n kraffie, wat tot op die laaste druppel leeg is!”

[13] Ek sê: “Mooi, let nou goed op en neem die kraffie in jou hande! Sien, hoe hy nog leeg en selfs heeltemal droog is! Maar nou wil Ek vanuit God se wil in My, dat die behoorlike groot kraffie op dieselfde oomblik vol word met die suiwerste en beste wyn, wat julle dan kan drink om julle ledemate te versterk!”

[14] Ek het dit nog nie gesê nie, of die kraffie was al vol baie goeie wyn.

[15] Toe die twee Grieke dit heel duidelik sien, sê hulle hoogs verbaas: “Ja, nou het ons duidelik gesien dat die wil van die een, ware God alles in alles is, en daarom aan Hom alleen alle eer! Ons hoef gladnie te weet hoe dit moontlik is nie, maar dit is voldoende dat ons weet dat dit so en nie anders is en kan wees nie.”

[16] Ek sê: “Wel, noudat julle die wyn het, wat ewe goed volgens die wil van God is as die wyn wat julle tuis in groot hoeveelhede in sakke besit, moet julle ook daarvan drink en sê, hoe dit vir julle smaak!”

[17] Toe proe die Grieke die wyn en bly hulle alweer voortdurend verbaas oor die kwaliteit en krag daarvan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205