Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 121

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die Heer lê die 13de hoofstuk van Esegiël uit

121 Toe Ons van tafel opstaan, kom die skrifgeleerde onmiddellik na Ons toe en sê aan My: “Wyse Vriend, dink aan wat julle my gisteraand belowe het!”

[2] Ek sê: “Jy is wel op die goeie weg - maar tog is dit `n wonder dat jy nog altyd blind is, terwyl jy al soveel lig ontvang het. Gisteraand het jy weliswaar so half en half oortuig geraak van die waarheid van wat Ek jou oor die Nasarener gesê het, maar tog dink jy en jou metgeselle in julle harte: “Ons wil tot elke prys die Nasarener `n keer persoonlik ontmoet en Hom dan skerp aan die tand voel. As ons dit in Hom vind wat ons in Kis oor Hom gehoor het, dan sal ons Sy kant kies; maar as ons dit nie volledig so vind nie, dan sal ons volgens ons opdrag onverwyld die hand aan Hom slaan en Hom aan die gereg oorlewer.”

[3] Derhalwe behoort julle saam met die hoëpriester en met al julle valse profete, netsoos die oudstes, skrifgeleerdes, fariseërs en Leviete in Jerusalem en eweneens in die sinagoges oral in die hele Judese land, tot die valse profete, van wie die Heer deur die profeet Esegiël gesê het:

[4] “Mensekind, profeteer teen die profete van Israel en spreek tot diegene wat vanuit hulle eie hart en insig profeteer: Hoor die Woord van JaHWeH! So spreek JaHWeH God: Wee die dwase profete wat hulle eie gees volg, sonder dat hulle nog ooit `n visioen gehad het en `n roep gehoor het!

[5] O Israel, die profete wat jou aanhang is soos jakkalse in die woestyn! Hulle kom nie te voorskyn uit hulle gate nie (uit angs om gevang te word) en stel hulle ook nie op as `n muur rondom die (bedreigde) huis van Israel nie en staan nie in die stryd op die dag van JaHWeH (beproewingstyd van die ware geloof) nie. Hulle sogenaamde visioene is niks en hulle profesieë louter leuens! Hulle sê wel baie vermetel: “Die Heer het dit gesê!” en tog weet hulle baie duidelik in hulleself, dat Hy hulle nooit geroep en gestuur het nie, en hulle span hulle maar net in met woeste ywer om hulle dinge (vir hulle wêreldse welsyn) te behou.

[6] (Sê eers, valse profete, almal:) Is dit nie so, dat julle sogenaamde visioene niks en julle profesieë louter leuens is nie? En tog sê julle aan die volk: ”Die Heer het dit gesê!” - terwyl Ek met julle, netsoos julle heel goed weet, nog nooit gespreek het nie!

[7] Daarom spreek die Heer verder: “Omdat julle die volk dinge verkondig wat nie uitkom nie en die volk leuens profeteer, kom Ekself na julle toe (om julle liste aan die volk te onthul), spreek die Heer. En My hand sal oor die profete kom wat verkondig wat nie uitkom nie en leuens profeteer! Hulle sal nie by die samekoms van My volk wees en nie gereken word tot die huis Israel nie, nog in die land Israel kom; en julle sal ervaar dat Ek die Heer is! (En My hand sal oor hulle kom,) omdat hulle My volk verlei en sê:”Vrede (sy met jou)!”, terwyl daar tog geen vrede is nie.

[8] As die volk (in My Naam) nog `n muur bou, kom hulle en kalk dit wit met hulle ondeugdelike kalk (uiterlike skynvroomheid terwille van aardse gewin). Sê aan diegene wat die slegte kalk aanbring: Hulle wit kalk sal weldra van die muur val; want daar sal `n stortreën kom en swaar hael val, waardeur die wit kalk daar sal afval, en `n magtige warrelwind sal dit losbreek. (Onder “stortreën” moet die suiwer Godswoord verstaan word, onder”swaar hael” die vaste waarheid daarvan en onder die “magtige warrelwind” die mag van die waarheid.) Sien, so sal met die wit kalk ook die bedorwe muur instort! Wat beteken dit dan nog, dat mens aan julle sal sê: “Waar is nou dit wat julle gekalk het?”

[9] So spreek JaHWeH: Ek sal in `n warrelwind alles (al die valse) in puin laat val in My grimmigheid, `n stortreën stuur in My toorn en swaar haelstene in My grimmigheid; die sal alles omverwerp! So sal Ek die muur omverstoot en ter aarde werp, wat julle met onvaste kalk gewit het, en as dit op die grond lê, sal mens haar valse fondament sien, en haar valse profete sal daarby omkom en ervaar dat Ek die Heer is! So sal Ek My grimmigheid loslaat op die muur en diegene wat haar met brose kalk gewit het, en Ek sal aan julle sê: hier is geen muur meer en ook niemand meer wat hom wit kalk nie! Dit is die profete van Israel, wat in Jerusalem profeteer en vrede verkondig, terwyl daar tog geen vrede (onder hulleself) is nie, spreek JaHWeH.

[10] En jy, mensekind (Esegiël), rig jou aangesig ook teen die dogters in jou volk, wat ook profeteer in hulle hart, en profeteer teen hulle en sê: “So spreek JaHWeH: Wee julle, wat vir die mense kussings maak vir onder hulle arms en hoofkussings vir onder hulle hoofde, beide vir jonk en oud, om hulle siele te vang en, as julle die siele gevang het onder My volk, hulle die ewige lewe belowe! So ontheilig julle My onder die volk vir `n handvol gars en `n hap brood, deurdat julle die siele, wat tog nie moet sterf nie, in plaas van tot lewe, tot die dood veroordeel, en die siele tot die lewe veroordeel, wat (deur hulle goddelose lewenswyse) tog nie sou moet lewe nie, deur julle leuens onder My volk, wat graag leuens hoor.

[11] Daarom spreek JaHWeH: Sien, Ek sal julle kussings te lyf gaan (soos `n leeu), waarmee julle die siele vang en valslik inpalm! Ek sal hulle onder julle arms wegruk en die siele, wat julle valslik inpalm en vir die dood gevang het, losmaak. Netso sal Ek julle kussings verskeur en My volk uit julle hande red, sodanig, dat julle die nie meer sal vang nie - en so sal julle ervaar dat Ek die Heer is! Ek wil en sal dit doen, omdat julle die harte van die regverdiges valslik bedroef, wat Ekself tog nooit bedroef gemaak het nie, maar in plaas daarvan versterk julle die hande van die goddeloses, sodat hulle hulleself tog maar nie sal bekeer van hulle kwade inbors en daardeur tot die lewe kom nie. Daarom sal julle nooit meer nuttelose leringe verkondig of profeteer nie! Derhalwe sal Ek My volk uit julle hande ruk, en julle sal ervaar dat Ek alleen die Heer is!”

[12] Kyk, My vriend, so het die Heer deur die mond van die profeet gespreek teen die valse profete; en wat Hy gesê het, gaan nou voor julle oë heeltemal in vervulling! Maar wie in hierdie tyd, erger as ooit tevore, die valse profete is, hoef Ek julle nie nog eens te sê nie, omdat Ek hulle al meer as voldoende vir julle beskryf het.

[13] “Maar”, so vra julle jul af,”wie is dan die dogters van Israel, wat ook valslik profeteer en vir die mense kussings onder hulle arms en hoofkussings onder hulle hoof maak?” Dit is die deur julle gemaakte instellings, wat julle nou nie meer alleen van gars en brood nie, maar ryklik van alle denkbare skatte voorsien.

[14] Om te sorg dat die mense nie self onder mekaar die wette van die lewe in ag hoef te neem nie, het julle dit vir hulle deur julle instellings makliker gemaak, deur vir hulle te lieg dat julle visioene gehad het wat JaHWeH aan julle geopenbaar het, dat die mense julle eerder groot offers moet bring en dat dit God baie welgevalliger is as wanneer julle julleself aan ongemaklike wette hou - en die volk, wat deur julle blind gemaak is en tog altyd al eerder traag is as dat dit self aktief word, het dit graag geglo.

[15] Daardeur het julle die volk van God en dus ook van die lewe van die siele uit Hom afgekeer en die deure na die ryk van God versper, sodat geen mens meer die ewige lewe van sy siel kan bereik nie.

[16] Of bestaan daar by julle dalk geen instellings, waarvolgens `n mens hom deur ryk offers, natuurlik en veral aan die tempel gebring, vir `n bepaalde aantal jare vir die toekoms volledig vry kan koop van die hou van God se gebooie nie? Hy kan dan lieg, steel, roof, moor, hoerery bedryf, egbreek en die Sabbat skend soveel hy maar wil en kan, sonder om `n sonde daardeur te begaan! 

[17] Is dit dan geen miserabele en onbestendige laag wit kalk oor die deur God geboude muur ter beskerming van Sy volk nie, waardeur die muur ten slotte self waardeloos geword het en saam met die kalk nou neergehaal en opnuut opgebou moet word?!

[18] Is sulke leringe en valse profesieë van julle nie te vergelyk met die dogters, wat vanuit hulle slegte hart profeteer en sê: “Hier het jy sagte kussings as aangename steun vir jou arms, waarmee jy nou goed kan rus, en bowendien sagte kussings vir jou hoof, sodat jy sonder sorg kan slaap, in plaas van moeisaam te bedink en te ondersoek wat volgens die lastige wette in die oë van God en die mense goed is?”

[19] Dink jy dalk dat God dit ooit teen Sy volk sou laat gebeur het, naamlik dat hulle deur heidene oorheers moes word, as hulle nie deur totaal valse profesieë en leringe en instellings dermate goddeloos geword het, dat hulle hulleself al lankal tot op die laaste mens geheel sou vernietig het, as die heidene dit nie met hulle streng en verstandige staatswette verhinder het nie?

[20] Maar God het die groot ellende gesien van Sy arme volk, wat Hom hier en daar tog nog nie volkome vergeet het nie en bring die heidene in die Beloofde Land om die volk te beskerm, anders sou hulle volledig ten offer geval het aan julle selfsugtige boosaardige willekeur.

[21] Hoe kan julle aan die volk sê dat God veels te gewyd en verhewe is om Hom oor die doen en late van die mense te bekommer. En dat Hy Sy wil daarom alleen aan die hoogste aartsengele bekend maak, en die vervolgens weer alleen aan julle deur middel van allerlei visioene en innerlike profesieë - en op die manier kan die volk alleen van julle, as deur God aangestelde profete, Sy wil verneem. 

[22] Ek sê vir julle: Julle het netso verrot geraak soos die seders op die berg Sion; daarom is die byl nou ook vir julle aan die wortel gelê. Julle sal gevel en in die vuur van My grimmigheid en toorn tot as verbrand word, spreek JaHWeH God, wat nou Sy volk wil en sal red!

[23] Wat die Heer nou egter doen vanuit Sy geheel eie mag, dit sal Hy altyd doen wanneer daar `n fariseërdom sal ontwikkel op dieselfde wyse as wat dit in Jerusalem ontwikkel het!

[24] Hoe dikwels is daar nie van God deur die mond van die ware profete waarskuwings aan Jerusalem gegee nie! Maar wat het die tempeldienare gedoen? In plaas van om hulle iets aan te trek van die waarskuwings, het hulle die profete gestenig en verwurg, en hulle verklaar teenoor die volk dat sulke profete, wat teen die tempel preek, afgesante van die duiwel van die duiwels is en daarom van die aarde verwyder moet word.

[25] En so het julle baie profete gedood tot Sagaria toe en as laaste ook Johannes deur julle tussenkoms, en hulle onskuldig vergote bloed sal straffend oor julle en julle kinders kom tot aan die einde van die tye.

[26] Soos kaf sal julle verstrooi word na alle dele van die wêreld! Julle sal geen volk meer wees en as onderdanige slawe sal julle die heidene moet dien, aan wie die lig gegee sal word wat van julle afgeneem word; en netsoos die Judeërs eens die belangrikste volk op aarde was, so sal hulle weldra die minste en oral die mees veragte word! Want met die vele profete, wie se grafte hulle nou, vanweë die volk, ook met hulle brose kalk witmaak, het hulle nog nie genoeg gemoor nie - hulle wil hulle nou ook op die Heer Self werp, Hom gevange neem en dood! Dit sal die Heer ook nog toelaat, egter nie tot heil van die valse profete nie, maar tot hulle oordeel; en so sal Hyself die magtige warrelwind wees, wat hulle almal sal verskeur en in alle poele van die aarde uiteen sal slinger.

[27] En wat die Heer met die fariseërs sal doen, sal Hy ook doen met elke fariseërdom wat homself op soortgelyke wyse, soos by julle, êrens op aarde sal ontwikkel.

[28] Ek het nou genoeg gespreek en nou kan julle praat en sê hoe die waarheid vir julle gesmaak het!”

[29] Daarop sê die skrifgeleerde: “My baie waaragtige en wyse Vriend, ek en ook al my metgeselle en dienare kan jou absoluut geen ongelyk gee nie; want met die tempel is dit nou letterlik so gestel soos wat Jy ons nou uiteengesit het. Maar wat kan ons daarteen doen? Laat maar oor die tempel kom wat die profeet Esegiël geprofeteer het! Maar hoewel ons daarvoor deur die tempel uitgestuur is, sal ons ons hande nooit meer aan die Gesalfde van God slaan nie; want ons het Hom nou uit Jou mond goed leer ken, ons wil geheel en al afsien van ons wêreldse waardigheid en Sy leer volg, wat ons Jou en al Jou metgeselle geheel volgens waarheid kan verseker.

[30] Maar staan my, arme sondaar, toe om teenoor Jou nog `n heel eenvoudige, maar vir ons tog heel betekenisvolle opmerking te maak - en dit is die volgende: Kyk, in die loop van Jou ware boetepreek aan ons het ek deur Jou ywer steeds meer die indruk gekry dat jy oftewel `n baie vername leerling is van die Een wat as JaHWeH God tot Esegiël gespreek het, oftewel is Jy self die Ene waarvoor ons uitgestuur is om te soek; en as Jy dit self is, staan ons dan toe dat ons ander klere kan aantrek en dan by Jou bly en Jou volg!”  

[31] Ek sê: “As julle glo, kan julle ook bly; die resultaat sal julle wel laat sien of julle wel in My die regte persoon gevind het! Maar die heil is nie afhanklik van die uiterlike mens nie, maar kom van die Gees van ewige Liefde en Waarheid, wat in die mens woon.

[32] Die uiterlike mens sal netsoos elke ander mens hierdie aarde verlaat en nie by die mense bly nie; maar sy gees sal bly tot aan die einde van die tye.

[33] As julle jul aan My gees wil hou, bly dan; maar as julle jul aan My persoon wil hou, dan kan julle weer vertrek netsoos julle hier gekom het!”

[34] Die skrifgeleerde sê: “Majesteit, Majesteit, en Heer in U gees, nie aan U persoon nie, maar aan U gees wil ons ons hou; want U persoon dien in eerste instansie alleen Uself, netsoos dit by elkeen is - maar U gees kan elke mens dien wat hom daarna rig!”

[35] Ek sê: “Bly dan en glo! Want salig is diegene wat glo en volgens die ingesiende waarheid leef en handel.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205