Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 132

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die Heer gee aanwysings vir die verkondiging van Sy leer 

132 Ek spreek nog oor baie dinge met die vier Indo-Judeërs, en gee hulle aanwysings hoe hulle dit, wat hulle by My gesien en gehoor het, aan hulle landgenote moes meedeel, sodat dit vrugte sou afwerp vir die bereik van die ewige lewe van die siel. Daarna lê Ek die twee manne die hande op en verleen hulle die krag om deur handoplegging in My Naam siekes te genees en besetenes van hulle bose geeste te bevry. Die vier bedank My van ganser harte vir hierdie barmhartigheid en loof My goedheid.

[2] Ook die sewe tempeldienare vra My of Ek hulle die barmhartigheid wil verleen, sodat hulle die mense in die land van Gam met My hulp makliker tot die kennis van die een, enig ware God en tot geloof in My en My Woord kan bring. 

[3] Ek sê: “By julle hoef dit nie op die oomblik nie; maar hierdie vier vertrek môre reeds baie vroeg, en daarom verleen Ek hulle reeds vanaand die krag om siekes te genees. Bowendien is hulle al langer by My as julle en in alles goed onderrig, sodat hulle nou presies weet wat hulle moet doen, en hulle siele is rein en sonder sonde, en die verleende krag bly in hulle; julle siele is egter nog behep met vele swakhede, wat julle deur ware selfverloëning eers moet kwytraak, omdat die krag wat Ek julle sal verleen andersins nie in julle sal bly nie - want as My barmhartigheid in `n houer wil bly, dan moet dit duursaam, stewig, goed en rein wees. Julle sal dit nog wel binnekort bereik, as dit in julle en vir julle die regte tyd is!” 

[4] Daarmee neem die sewe genoeë en bedank My vir hierdie les en belofte. Daarop gaan hulle na hulle plekke en neem bietjie brood en wyn tot hulle. Nou kom egter ook die Samaritane na My toe en vra My of dit raadsaam was om die mense in hierdie uiters bygelowige tyd, behalwe die evangelie vir siel en gees, ook die evangelie wat hulle van die jong man gehoor en goed begryp het, naamlik oor die dinge en verskynsels in die groot wêreld van die natuur, aan hulle broers te verkondig en hulle `n korrekte lig te gee oor alle dwaashede waarin die mense steeds van tyd tot tyd meer verstrik geraak het - wat veral kom deur die selfsugtige en hebsugtige priesters, wat die blinde volk deur allerlei nuwe bedagte bedrieglike kunste en deur sinnelose gefantaseerde woorde en leringe van elke waarheid afbring. 

[5] Ek sê: “My beste vriende, as julle die mense in My Naam begin te onderrig en te vorm, sê dan eers: “Die ware vrede sy met julle! Want die ryk van God het naby julle gekom!”

[6] Leer hulle dan waaruit die ryk van God bestaan, en wat `n mens moet doen om die ryk van God reeds op hierdie aarde en nog meer aan die anderkant deelagtig te word; dit weet julle almal baie goed, omdat ten eerste Ekself en daarna ook verskeie van My uitgestuurde leerlinge My leer reeds in duidelike woorde aan julle verkondig het. 

[7] As julle op dié manier die harte en siele van die mense gelouter en gereinig het, dan kan julle hulle ook die dinge in die natuurlike wêreld verklaar om hulle verstand terug te bring in die toestand van oerwaarheid en hulle gemoed van al die bygeloof te reinig. Dit is des te noodsaakliker, omdat `n mens die verkeerde insigte het oor die Godgeskape werk, en sal God ook nooit goed kan leer ken nie, en dus ook nie homself en netso min sy naaste nie.

[8] Waar dit egter aan hierdie kennis ontbreek, sal dit ook ontbreek aan die verlangde ware liefde vir God en eweneens aan die liefde vir die naaste. Want as iemand sy naaste nie liefhet nie, wat hy tog sien as `n wese netsoos hyself, hoe sal hy God dan liefhê, wat hy nie met die oë van sy liggaam kan sien nie? 

[9] Die mens kan God maar net met die oë van sy gees sien, net langs die suiwer en waaragtige weg van insig in die geskape dinge en Sy liefdevolle en wyse orde daarin, en Hom dan ook bo alles liefhê; en wie God bo alles liefhet, ken vanuit die liefde ook homself en sy naaste en sal God se ewebeeld in sy naaste netso liefhê en ag as in homself.

[10] Maar dit is `n korrekte en ware vooronderstelling van julle, dat mens sorgvuldig daarheen moet werk, sodat al die bygeloof by die mense uiteindelik verdwyn; want solank daar nog `n vonkie wangeloof die menslike gemoed belas, is die mens nie vry nie en kan hy deur daardie vonkie tot vele, growwe dwalings verval. Daarom kan slegs die volkome suiwer waarheid die mens volkome vry maak en dus ook hier en aan die anderkant volkome gelukkig en salig maak.

[11] Die ryk van God, wat in My in hierdie wêreld gekom het, is die mees suiwer en volmaakte waarheid, netsoos Ek ook die Weg, die Waarheid en die Lewe Self is, waarvan Ek julle oral tog al meer as voldoende bewys gegee het en wat nou al vele duisende mense, Judeërs en heidene, uit alle windstreke weet en ook vas glo.

[12] Onthou egter goed dat dit altyd makliker is om die mens oor een of ander saak iets op die gebied van sy kennis mee te deel, as om sy gemoed te beweeg tot `n vaste, onwankelbare geloof! Daarom moet julle ook baie meer strewe na die vestiging van `n lewende geloof as na louter kennis; want in kennis alleen is die lewe nie, maar wel in die suiwer en deur die werk van die lewende geloof van liefde.

[13] Kennis, hoe suiwer ookal, is `n afspieëling van die dinge en hulle orde in hierdie wêreld wat, soos wat hulle nou is, verganklik is netsoos alle dinge in, op en bo haar; maar die dinge van die geloof is `n ware lig uit die hemele, hulle is ten diepste eie aan die gemoed, die siel en haar gees, en is onsterflik en onverganklik.

[14] Ek sê vir julle almal: Hierdie hemel wat vir julle sigbaar is, bestaande uit maan, son en alle sterre, sal eers vergaan; maar My woorde en diegene wat hulle glo sal nie vergaan nie, maar ewig bestaan!

[15] Daarmee wil Ek egter nie sê dat julle terwille van die lewende geloof by die mense dit wat mens suiwer wetenskap noem, buite beskouing moet laat nie; want die mens kan eers iets glo as hy iets daarvan gehoor of kennis daarvan gekry het. As die mens oor `n goeie, ware saak eenmaal `n suiwer, betroubare en ware mededeling en welbeproefde kennis verkry het, dan moet hy hom nie tevrede stel met die suiwer kennis nie, maar dit opneem in sy lewende geloof en volgens die grondbeginsels daarvan handel; as hy dit doen, sal die suiwer wetenskap hom ook ware, lewende en onverganklike vrugte oplewer. Daarom sal julle, wat nou met groot aandag na My woorde luister, ook eers volledig insien dat dit God se woorde is, as julle geheel en al daarvolgens sal lewe en handel. 

[16] Ek ken die Samaritane goed en hulle velerlei goeie eienskappe is nie vir My onbekend nie, maar daar bestaan onder hulle ook baie misvattings, waaraan hulle dikwels hardnekkiger vashou as die heidene aan die van hulle; daarom sal julle terwille van My Naam en My leer ook menige harde stryd te verduur kry. Want die wêreldse verstand van die mense begryp die innerlike dinge van die gees en van die lewende waarheid nie, en beskou diegene as dwase, wat hulle daaroor vertel, en hulle vervolg hulle ook waar hulle maar kan. Maar julle moet jul niks daarvan aantrek nie en die waarheid onderrig, netsoos dit deur My in julle hart en mond gelê word; dan sal julle ten slotte vele goeie vrugte vir My ryk vergaar, en julle loon sal later in My ryk nie klein wees nie!

[17] Luister self nie na die bedreigings en duistere woorde van julle rabbi’s nie, wat hulle baie laat voorstaan op hulle verborge wysheid, wat weinig volkome waarheid bevat, maar hou vas aan wat julle van My gehoor het, dan sal julle menige rabbi na My toe draai!

[18] As julle jul egter in enige opsig deur hulle laat intimideer, sal julle met die beste wil van die wêreld weinig goeds van belang verrig. Hiermee het Ek julle nou alles gesê wat julle in My Naam moet doen om My ryk ook onder julle seënryk te verbreed. 

[19] Julle sal weldra vele dinge van die wêreld hoor. Die herder sal gedood word en die skape sal uit angs verstrooid raak. Vererg jou dan nie aan My nie, word nie kleinmoedig en wankel nie in jou geloof nie; want ook al sal Ek hierdie wêreld liggaamlik verlaat, dan sal Ek tog in die gees by die Myne bly tot aan die einde van die wêreld en sal Ek Myself altyd getrou openbaar aan diegene wat My liefhet en wat hulle aan My gebooie hou.

[20] Ek sal julle nie as wese in hierdie wêreld agterlaat nie, maar waar daar ook maar twee of drie in My Naam bymekaar sal kom, daar sal Ek in hulle midde wees; en wat julle as die Vader, wat in My is netsoos Ek in Hom, in My Naam sal vra, sal julle ook gegee word.

[21] Laat julle gemoed daarom nie verdrietig en angstig word nie, as julle sal hoor dat Ek, die Heer Self, My deur die wêreld laat verdeemoedig het en via die smalste en doringrigste weg uit hierdie wêreld na My hemele oorgegaan het; want kyk, dit moet alles so gebeur, sodat die maat van die slegte wêreld kan vol word en die oordeel, wat oor haar voorspel is, oor haar kan kom. 

[22] Ek sê dit nou vooruit vir julle, sodat julle, wanneer julle daarvan sal hoor, nie ontsteld daardeur sal raak of julle selfs vererg vir My nie. Want as julle werklik My leerlinge en verspreiders van My ryk op aarde wil wees, moet julle ook in alles stewig word en nooit wankel nie.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205