Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 138

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Oor die kontak met goeie geeste

138 Daarop sê die bootsman: “O beste Majesteit en Heer, waarom word dit eintlik nie toegelaat dat die siele van gestorwe mense in sigbare gedaante tenminste na hulle verwante kom nie - veral, wanneer dié gevaar loop om deur die wêreld verslind te word - en hulle waarsku teen die wêreld en hulle die hiernamaals laat sien; daardeur sou die geloof in die voortlewe van die siel na die dood van die liggaam by die mense tog waaragtiger, vaster en op eie ervaring gebaseer bly en sou die mense deur so `n geloof ook makliker en sekerder glo in `n God, wat elke mens tog nie, netsoos ons nou, elke oomblik kan sien en spreek nie? 

[2] Watter nut het dit uiteindelik om die mens `n toekomstige lewe van die siel na die dood van die liggaam te verkondig, as mens hom nie werklik daarvan kan oortuig nie?

[3] Die priesters, wat self baie min of meestal heeltemal niks glo nie, het daarom al sedert `n lang tyd hulle toevlug geneem tot allerlei bedrieglike kunste om die gewone, blinde volk in `n egte bygeloof te hou, sodat dié alleen vir hulle sal werk en hulle allerlei offers bring, sodat hulle hulleself sonder enige vermoeiende inspanning kan vetmes. As iemand wat reeds oorlede is steeds aan die volk sou verskyn en hulle sou onderrig oor die werklike stand van sake, dan sou die priestervolk met sy bedrieërye sekerlik geen bygeloof in die volk kon laat wortel skiet en in stand hou nie!”  

[4] Ek sê: “Vriend, waarvan jy, volgens jou opvatting, sou wens dat dit bestaan, was altyd by elke volk die geval gewees, solank hulle altyd volgens die trou geopenbaarde wil van God geleef het! Toe die mense hulle egter geleidelik aan deur die luste van die wêreld en hulle vlees te baie gevange laat neem het, verduister hulle geestelike gesigsvermoë ook, en die mense begin die vermanings van die anderkant te verag, te vrees en te ontvlug, en hulle verloor dan ook die vermoëns om in wakende toestand om te gaan met die siele wat in die groot wêreld aan die anderkant voortlewe en werksaam is; slegs in helder drome word die beter mense deur die saliger bewoners van die anderkant besoek en onderrig, en wel gedeeltelik ten behoewe van hulle eie persoon en gedeeltelik ook ten behoewe van ander mense wat hulle op die rand van `n te diep afgrond van verderf bevind en meestal ook daardeur gered word.

[5] Gaan vertel maar net aan `n egte wêreldse mens dat hierdie of anderkantse gees aan jou verskyn het en dit of dat aan jou gesê het - dink jy dalk dat die wêreldse mens jou sal glo? O, absoluut nie - hy sal jou uitlag en jou `n dwaas en `n dom fantaseerder noem. 

[6] Toe die wette op Sinai, onder alle tekens van My volle aanwesigheid, aan Moses gegee was, het die volk in die dal om `n goue kalf gedans. Waarom het die volk geen ag op My geslaan nie? Kyk, dit het hulle wêreldse ingesteldheid gedoen! Nou is Ekself sigbaar handelend in hierdie wêreld - en waarom glo die wêreldse volk nie in My nie? Kyk, dit doen wederom hulle wêreldse ingesteldheid! En die kwade ingesteldheid dryf die priesters selfs sover, dat hulle My vervolg, ja My selfs as `n gewone misdadiger wil gryp en doodmaak, netsoos hulle al verskeie kere geprobeer het!

[7] Het daar nie aan Sagaria, netsoos aan almal wat in die tempel was, sigbaar en hoorbaar `n engel verskyn, toe Sagaria in die tempel geoffer en gebid het nie? En daarvoor was hy deur die wêreldsugtige fariseërs verwurg! So gaan dit met die vele wyses en profete, wat die wêreldse ingesteldheid van die mense tegemoet tree met die mees ligtende waarheid. 

[8] Wat jy in jou vraag as `n prysenswaardige wens uitgedruk het, was ook altyd toegelaat, en die eenvoudige en in hulle sedes nog suiwer en onbedorwe mense van die oertyd, is deur suiwer geeste in alle dinge onderrig, omdat hulle voortdurend omgang met hulle gehad het. Die geeste het die mense getoon hoe hulle metale uit die aarde moes grawe en hoe hulle allerlei nuttige werktuie en gereedskap kon maak met behulp van die vuur, waarvan hulle ook van die geeste geleer het hoe hulle dit moes maak. Want van wie anders het die eerste mense, wat begripsvermoë aanbetref, volledig aan kinders gelyk was, dit alles moes leer as van die wesens wat met wysheid vervul was, vir wie alles duidelik was, vanuit God se lig in hulle?

[9] Laat diegene vir wie dit nie duidelik is nie, hulle maar `n pasgebore kind voorstel, wat maar net liggaamlik deur sy ouers versorg word, maar nie die minste opvoeding sou kry nie, nóg van die ouers nóg van iemand anders. Hy sal weliswaar so grootword, maar in die gebruik van sy ledemate selfs baie dommer wees as die van nature domste dier.

[10] Stel jou nou eers `n afgeleë land op hierdie aarde voor, wat met dergelike mense sonder onderrig en opvoeding bevolk is! In duisend jaar sal hulle uit hulleself bykans geen verstand kry nie en nie eers `n ander taal hê as die diere in die woude en die wildernis nie, netsoos wat daar in hierdie tyd inderdaad dergelike mense op aarde bestaan en nog `n lang tyd sal bestaan, as bewys van die feit dat `n mens sonder opvoeding en onderrig uit homself niks kan weet en ontdek nie.

[11] Maar as die mense nou allerlei kennis en vaardighede besit, wat hulle nou natuurlik van mekaar leer, dan moet dit logieserwys tog ook waar wees dat hulle tenminste in die aanvanklike grondbeginsels onderrig moes gewees het deur hoër geeste, wat van alle dinge kennis besit.

[12] Ja, die eerste mense, wat ook “kinders van God “ genoem word, was aanvanklik in alles vanuit die hemele onderrig. Maar die mense word gewaar dat hulle wys en verstandig geword het, en daardeur word hulle ydel, ingebeeld en hoogmoedig en daardeur ook steeds meer op die wêreld ingestel en selfsugtig. Hulle het die onderrig uit die hemele nie meer nodig nie en begin hulle selfs daarvoor te skaam, en hulle stel hulle vyandig op teen diegene wat hulle daaraan herinner. 

[13] Hulle rig self skole op en stel allerlei leraars en priesters daar aan, wat langsamerhand steeds meer net op hulle eie wêreldse voordeel uit was, as op dié van die volk, wat hulle in hulle verblinding as soorte gode begin te beskou en vereer het, en hulle nou nog heel dikwels as sodanig vereer.

[14] As dit nou gebeur voor die oë van elkeen en die wêreldse mens in niks meer glo wat suiwer geestelik is nie, is dit dan verwonderlik dat die suiwer geeste steeds minder gereeld by die wêrelds ingestelde mense verskyn nie? O vriend, die toelating is nog steeds dieselfde as altyd - die mense is net nie die van vroeër, wat met die suiwer geeste van die hemele in voortdurende kontak gestaan het nie!

[15] As die mense weer volgens My leer suiwer en geestelik sal word, dan sal hulle ook weer in nouer verbinding en kontak tree met die geeste of siele van mense wat hierdie wêreld verlaat het; maar vir wêrelds ingestelde mense kan `n dergelike kontak trouens geen nut hê nie, omdat hulle nie daarin glo nie en dit dwaasheid noem van diegene wat dit waag om hulle aan die moontlikheid daarvan te herinner.

[16] Jyself het al verskillende kere dergelike visioene en verskynings gehad; maar was hulle vir jou tot nut gewees? Jy sê by jouself: “Heel weinig; want ek glo self nie dat hulle werklik en waar was nie, en beskou hulle netsoos die ander wêreldse mense as die resultaat van `n lewendige verbeelding en `n produk van my fantasie.”

[17] Maar as jy, wat tog `n taamlike suiwer mens is, al self so oor dergelike gebeurtenisse oordeel, hoe moet die totaal verkeerde en deur en deur wêrelds ingestelde mense dan wel nie oordeel nie?  

[18] Dit is dus volslae onsinnig as sulke mense sê: “Ja, as my gestorwe vader as sigbare gees sou terugkom en byvoorbeeld aan my sou sê: “Kyk, so en so is dit!”, dan sou ek dit glo!” Maar nou kom die gees van sy vader, oordag of in die nag in `n helder droom, en hy onderrig sy seun. Die seun beskou sy visioen dan as `n produk van sy fantasie en glo daarna dikwels nog minder as voorheen. Watter nut het die gewenste verskyning van sy vader dan vanuit die wêreld aan die anderkant?

[19] As die mense nou dus vir die allergrootste deel by hulle afskeid van hierdie wêreld `n baie stormagtige en met alle moontlike twyfel vermengde sieleaand moet deurstaan, dan gebeur dit deur niemand anders as hulleself nie. - As jy, vriend, dit begryp het, sal jy My sekerlik nie meer so `n vraag stel nie!”

[20] Na hierdie woorde bedank almal My vir hierdie ware en vir elkeen maklik verstaanbare uitleg hieroor.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205