Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 146

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die Heer besoek die arm vissers van die baai

146 Nou kom daar `n bode uit die huis om Ons te sê dat die oggendmaal op Ons wag. Toe verlaat Ons die terras om dadelik na binne te gaan. Daar gaan Ons in die reeds bekende orde aan Ons tafel sit, en die twintig vissers aan die tafel wat vir hulle gedek was, en, versterk deur die mooi oggend, neem Ons heel blymoedig die buitengewoon goed bereide oggendmaal tot Ons.

[2] Toe Ons na `n halfuur klaar was met die maaltyd, vra die herbergier My wat Ek tot die middag sou gaan doen.

[3] Ek sê: “Vra staan vry, maar antwoord ook! Dit lê weliswaar nie altyd in My orde om vooruit te bepaal wat Ek gaan doen nie, want alles hang af van die Een wat in My woon; en Ek, wat nou ook slegs `n mens van vlees en bloed is en `n onsterflike siel het, moet na die Gees in My luister. Eers wanneer Hy aan My sê: “Gaan hier of daarheen, doen dit of dat!”, dan eers weet ook My vlees en bloed dit. Maar hierdie keer het die Vader in My al gespreek, en Ek weet wat My te doen staan en kan Ek julle dit dan ook wel vertel. 

[4] Kyk, nie ver hiervandaan nie, in die rigting van Caesarea Philippi, het die Meer van Galilea een van sy grootste inhamme, wat egter nouliks met `n groter skip te bevaar is; met kleiner bootjies kan mens egter die taamlike uitgestrekte oewers daarvan bereik, wat jy nog nie ken nie. Op die oewers is daar `n klein vissersdorp, naby aan `n steil gebergte aanleunend, en die Griekse bewoners daarvan voed hulle meestal met vis en die melk van `n paar bokke. Die eventuele oorskot van hulle visse verkoop hulle altyd in Caesarea Philippi en hulle neem in ruil daarvoor sout, brood en enkele stukke gereedskap wat hulle nodig het vir hulle klein huishouding en vir hulle werk.

[5] Ek het hierdie vissers al voorheen besoek, toe hulle hulleself geestelik en liggaamlik nog in `n baie armlike toestand bevind het; want geestelik gesien behoort hulle tot die skool van die Griekse sogenaamde sinici, en in fisieke opsig bewoon hulle die mees armsalige hutte, wat hulle op die kaal stukke klip van die gebergte gebou het. Toe Ek hulle besoek het, het Ek hulle, wat hulle fisieke toestand, maar veral ook wat hulle geestelike sfeer betref, ten seerste opgehef. 

[6] En kyk, Ons gaan hierdie vissers wat Ek nou vir jou beskryf het, besoek! Verskaf Ons dus `n aantal klein en ligte bote, waarmee Ons die inham kan binnevaar. Binne `n uur of iets meer kan Ons die genoemde dorpie maklik bereik. As julle wil, sorg dan dat ons vinnig kan afvaar! Julle sal aan die vissers, wat julle tot nou toe nog nie ken nie, groot vreugde belewe! `n Paar uur na die middag sal Ons dan weer hier in Jesaïra wees.”

[7] Toe Ek dit aan die herbergier gesê het, sê Kisjona aan My: “Majesteit en Heer, daar lê nou tog drie goeie skepe van my in die hawe; kan Ons dit nie gebruik en Ons herbergier, wat nie genoeg seevaardige bote het nie, die moeite bespaar om met behulp van sy bure die regte aantal klein bote bymekaar te bring nie?”

[8] Ek sê: “Vriend, waar die meer diep is sal Ons jou skepe tog gebruik; maar as Ons by die vlak en met baie riete en biesie begroeide inham kom, sal jou skepe Ons waarskynlik nie meer die gewenste dienste kan bewys nie!”

[9] Kisjona sê: “Aan elk van my skepe hang vier klein bootjies wat, indien nodig, gebruik kan word. Origens is My geloof in U en U mag so groot, dat ek nie die minste twyfel het dat Ons in U aanwesigheid die baai met my skepe kan binnevaar nie!”

[10] Ek sê: “Ja, as julle almal so sterk glo, kan Ons wel die kort seereis met jou skepe probeer!” 

[11] Toe Ek dit sê, staan Ons almal op en gaan onmiddellik na Kisjona se skepe, en hy gee instruksies aan sy aanwesige skippers wat hulle moes doen. Toe hulle hoor dat hulle die baai met die riete moes binnevaar, haal hulle hulle skouers op en gee daarmee te kenne dat dit nie sou slaag nie.

[12] Nietemin klim Ons in die drie skepe in en vaar vinnig af. Maria bly in Jesaïra, omdat sy gehoor het dat Ons `n paar uur na die middag weer sou terugkom, en sy praat oor baie dinge met die vrou van die herbergier, wat `n naaste verwante was van die eerste vrou van Josef.

[13] Na `n halfuur bereik Ons reeds die fatale baai, en die skippers sê: “Nou moet ons die roer intrek en die spane pak!”

[14] Kisjona sê: “Luister, die Heer is by ons en Hy is met ons! Doen wat Hy vir julle sal sê; want Sy mag is tot meer in staat as julle roeispane!”

[15] Toe die skippers dit van Kisjona gehoor het, wend hulle hulle tot My en vra My wat hulle nou moes doen.

[16] Ek sê: “Wend die roer na agter, dan sal Ons sien of `n goeie wind Ons deur die riete sal stu!” 

[17] Toe doen die skippers wat Ek hulle beveel het, en baie skielik kom daar `n harde wind uit die ooste, wat hoë golwe in die inham maak en met die golwe Ons skepe ook buitengewoon vinnig oor en deur die riete die inham inblaas. So bereik Ons vinnig en maklik Ons plek van bestemming, en almal bewonder die lieflikheid van die dorpie soos wat dit nou daar uitsien, en wat slegs Ek en My ou leerlinge ken. Ons gaan onmiddellik aan land en soek die bewoners op. 

[18] Toe Ons by die eerste huis kom, was daar niemand tuis nie, en so gaan dit met Ons ook by die ander huise; hulle was afgesluit en daar was geen mens in `n huis of `n bokstal nie.

[19] Toe sê verskillende leerlinge onder mekaar: “Andersins weet Hy tog die mees geheime gedagtes van `n mens, en Hy het al verskeie kere die verre toekoms vir ons en vele ander mense presies onthul; waarom wis Hy dan nie hierdie keer dat die bewoners van die klein plek nie tuis sou wees nie? Eienaardig, egter eienaardig! As Hy dit egter nie geweet het nie, kon Hy ons en Homself hierdie seereis bespaar het; maar as Hy dit geweet het en hierdie reis slegs onderneem het om ons geloof op die proef te stel, dan weet Hy tog dat ons almal sonder twyfel in Hom glo en aan Sy kant staan, anders sou ons Hom nie byna twee en `n half jaar lank oral gevolg het nie! Waarom is `n nuwe beproewing van ons geloof dan goed voor?”

[20] Ook Kisjona vra aan My: “Majesteit en Heer, wat doen Ons nou in dié plek, wat miskien al lankal deur die bewoners verlaat is? Laat Ons weer in Ons skepe klim en terugvaar na Jesaïra! Want wat moet Ons hier doen?”

[21] Ek sê: “Hoe ietwat kleingelowig is julle almal nie nog nie! As Ek nie geweet het dat die bewoners van die plek net vandag almal tuis is nie - omdat hulle gister `n goeie vangs gemaak het, deur die toedoen van My wil, wat hulle weliswaar nie ken nie, en môre `n deel van die visse na die mark wil bring in Caesarea Philippi, wat weer taamlik goed herstel het - dan sou Ek hulle ook nie tevergeefs opgesoek het nie. Maar hulle is tuis en Ons sou hulle ook in hulle huise aangetref het; maar toe hulle Ons skepe gewaar, het hulle hulleself uit angs in alleryl baie goed in daardie bos aan die noordekant versteek, omdat hulle vas daarvan oortuig was dat hulle deur iemand ontdek en verraai was en daar nou skepe van Herodus aankom om hulle ten gronde te rig.

[22] Daar agter `n rots het hulle `n wag met skerp oë geplaas, en die het nou al gemerk dat Ons nóg van Herodus, nóg fariseërs is. En die wagters verlaat nou al hulle plek en sal weldra so naby Ons kom sodat hulle hulleself met meer sekerheid daarvan kan oortuig wie Ons is. Daarna sal hulle aan die versteekte bewoners van die plek vertel dat Ons geen vyande is nie, en dan sal die bewoners vinnig by Ons wees en blyke gee van hulle buitengewoon groot blydskap, omdat Ek hulle besoek het.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205