Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 147

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die vissers begroet die Heer

147 Dit gebeur weldra netsoos Ek gesê het. Dit duur nie lank nie, of almal kom uit hulle skuilplekke te voorskyn, en Ek roep hulle met luide stem na My toe. 

[2] Hulle herken almal My stem dadelik en roep: “Dit is die groot Heiland uit Nasaret, vervul met alle mag van JaHWeH! Laat ons vinnig na Hom toe gaan!”

[3] Hulle kom vinnig na Ons toe en begroet My met plegtige, vriendelike woorde wat eg uit hulle hart kom, en bedank My vir alle weldade wat hulle sedert My eerste besoek so ryklik geniet het en nog voortdurend geniet. Daarop vra hulle My of Ek ook verder aan hulle en hulle kinders wil dink, wat Ek hulle ook toe sê, solank hulle gelowig en aktief in My leer sou volhard.

[4] Daarna neem hulle Ons saam na hulle wonings en laat Ons die baie doelmatige inrigting daarvan sien, asook hulle visgerei, hulle bewaarplekke vir die visse, en ook hulle kuddes, bestaande uit bokke en skape. Hulle het ook hoenders en eende en ganse, welke twee laasgenoemde soorte voëls by hulle, wat van oorsprong Grieke was, baie geliefd was. Ook laat hulle Ons hulle baie groot byekaste sien, wat vir hulle baie goeie heuning oplewer, wat maklik vir baie geld in Caesarea Philippi verkoop kan word. Kortom, dié volkie, wat vroeër geestelik en fisiek buitengewoon arm was, het hulle in `n tyd van ongeveer anderhalfjaar sodanig herstel, dat hulle nou in goeie welstand verkeer.

[5] Eén van die bewoners was `n smid wat die kuns verstaan het om van yster en ook van ander metale allerlei nuttige en bruikbare gereedskap te maak. Hy het daardie gereedskap ook te koop aangebied by die reeds bekende geleentheid, op `n paar spiese en lanse na, wat die volkie by My eerste besoek oorgehou het.* Hierdie wapens koop Kisjona nou van hulle vir `n pond goud saam met nog verskillende soorte ander gereedskap, wat hy in sy groot bedryf goed kan gebruik. *(Sien Johannes evangelie deel 5, hoofstuk 193:12, 196:4-5, en 206:9).

[6] Kisjona vra die leier van hierdie klein gemeente om hom in Kis te besoek, waar hulle met mekaar verskillende dinge ten gunste van dié plek sou bespreek en afhandel. Die leier belowe om dit te doen, en hy doen dit ook spoedig nadat hy teruggekeer het uit Jesaïra, wat hy hierdie keer vir die eerste keer leer ken het, omdat die herbergier hom uitgenooi het om met Ons saam te vaar. Ook Ons herbergier koop hier verskillende soorte gereedskap van die smid.

[7] Nadat die leier aan Kisjona, Philopold en die herbergier in kort beskryf het hoe hierdie streek voor My eerste koms daaruit gesien het en hoe dit deur My Woord op één slag tot bloei gekom het, staan veral die herbergier verbaas, vir wie dit nog meer ongewoon voorkom as die twee eersgenoemdes, wat al groter tekens van My gesien het.

[8] Daarna wil die bewoners Ons op allerlei dinge onthaal; maar Ek sê aan hulle: “My beste vriende, daarvoor het Ons nie hierheen gekom nie, en Ons sal ook weldra weer vertrek vir die terugreis, omdat Ek nog die een en ander in Jesaïra het om af te handel; maar Ek het met My leerlinge en vriende nou na julle toe gekom, omdat julle My leer heel trou bewaar het en tot ware edelstene van My wil geword het.

[9] Omdat julle dit geword het, is dit ook tyd om julle met ander mense kennis te laat maak, wat van julle die ware standvastigheid in die geloof moet leer en verwerf. En omdat julle ook goeie sprekers is, kan julle van nou af aan per geleentheid aan ander mense oor My en My ryk op aarde spreek en hulle die weg van die lewe toon. 

[10] Wie volgens My leer leef en handel netsoos julle, en nie sê en by homself dink: “Kyk, hierdie keer het die Heer weer heeltemal as `n gewone mens gespreek, en daarin is nie baie van die ryk van God te ontdek nie!”, sal ook dit bereik wat julle al bereik het, en hy sal netsoos julle kan sê: “Nou leef nie meer ek nie, maar die Heer leef in my!”

[11] Bly My dus voortdurend trou, ook in julle nageslag, dan sal Ek in julle bly! Doen in My Naam wat Ek julle nou aangeraai het, by `n regte geleentheid, wat julle baie maklik en spoedig sal herken; maar julle moet My pêrels nie vir die varke van wêreldse mense werp nie!

[12] Maar sê My nou, leier van hierdie klein, maar vir My tog groot gemeente, waarom julle jul eintlik in die struikgewas van daardie bos versteek het, toe julle Ons drie skepe die baai sien binnevaar het! Het julle toe nie gedink aan die krag wat julle as gevolg van julle onwrikbare, vaste geloof deur My gegee is nie?”

[13] Die leier sê: “O Majesteit en Heer, vol van God se allerhoogste mag en krag, kyk, dit was baie eienaardig! Reeds verskeie kere sedert U hier gewees het, het groter en kleiner skepe geprobeer om hierdie steeds visryke inham met riete en biesies binne te vaar; maar dit het niemand geluk om ook maar `n handbreedte oor die rietgrens binne te dring nie, want met die mag van U lewende Woord en wil dryf ons hulle almal dadelik ver die meer op. Maar hierdie keer het U Woord en wil in ons hart ons nie gehelp nie, om `n rede wat ek nou baie goed begryp. 

[14] Toe ons hierdie drie skepe in die oog kry, verbied ons dit ook dadelik in U Naam om hierdie inham binne te vaar; die skepe stop egter nie, maar dring onstuitbaar steeds dieper ons inham binne. Toe word ons almal baie bang, en daar bly toe vir ons niks anders oor as om op die vlug te slaan en ons te versteek in die struikgewas van die bos en in die groot holte, waarvan die onopvallende ingang hom agter die bos bevind, maar wat van binne so uitgestrek is dat daar gerieflik plek is vir vele duisende mense.

[15] Tog het ons `n wag uitgesit, wat ons moes meedeel wie daar aan land sou stap uit die drie skepe, wat nie wou gehoorsaam aan die mag van U Woord en wil in ons nie, en wat hulle sou doen. Die wag het ons egter onmiddellik berig dat diegene wat aan land gegaan het, geen Romeine was nie, nóg onderdane van Herodus, maar `n groep vriendelike mense, bestaande uit Judeërs en Grieke, en wat geen aanstaltes maak om ons woonhuise binne te dring nie.  

[16] Na daardie berig word ons geruster, en ons raai die wag aan om hom nog noukeuriger daarvan te oortuig wie diegene was wat aan land gegaan het. Ons ontvang toe `n nog beter berig. Eers toe waag ons dit om self vorendag te kom, hoor toe U roep, wat ons baie goed ken, en haas ons na U, die Vader en Heer van al die bestaan en lewe. 

[17] Nou het dit natuurlik vir ons duidelik geword waarom die drie skepe ons nie gehoorsaam het nie; want hoewel U Woord en wil in ons werklik wonderbaarlik magtig is, sal hulle tog ewiglik nie die oermag van U hoogs eie wil ewenaar en dit kan teenwerk nie. En dit is ook waaroor ons hierdie keer beslis te weinig nagedink het; ons het tevore nie voldoende U gees in ons geraadpleeg nie, of ons die skepe in U Naam moet gebied of nie. As ons hierdie keer netsoos by ander geleenthede om raad gevra het, sou dit vir ons ook duidelik geword het, wie daar op die skepe saamgekom het; maar omdat ons dit nie gedoen het nie, moes ons daarvoor boet met ons angs en vlug. - Is dit nie so nie, Majesteit en Heer?”

[18] Ek sê: “Ja, so is dit, en deur hierdie ervaring het julle nou weer baie wyser geword; maar maak jou nou klaar om te vertrek, leier, en vaar met Ons saam na Jesaïra!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205