Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 158

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die Grieke herken die Heer. Doel en oorsake van siektes

158 Daarop sê Polycarpus: “Buitengewoon wyse Heer, ons is U buitengewoon dankbaar vir die onderrig en sal U advies met al ons kragte so noukeurig moontlik opvolg, hoewel Moses in baie gedeeltes van sy geskrifte vir ons moeilik te begryp is. Maar, afgaande op wat U ons belowe het, hoop ons om in die hele gees van die geskrifte van Moses, en daarmee ook in die van die ander profete, deur te dring, as ons volgens U advies die eenvoudige tien gebooie so noukeurig moontlik opvolg.

[2] Maar, wyse Heer, betoon ons nou nog net die geduldige goedheid om vir ons te sê of U ook langs die geestelike weg tot U werklik Goddelike wysheid en mag gekom het!”

[3] Ek sê: “As mens van vlees en bloed sekerlik langs geen ander weg nie, omdat daar volgens die goddelike orde ewig geen ander bestaan en kan bestaan nie. Maar Ek, wat julle hier sien en spreek, is nie die Ene wat julle die raad gegee het nie, maar in My woon Iemand wat hoër is in alle volheid van die goddelike Liefde, Wysheid en Mag, en Hy is die Een wat nou so met julle gespreek het netsoos met Moses en vele ander profete en wyses vroeër; en dit is ook die Een in Wie alleen julle sonder twyfel moet glo en wat julle bo alles moet liefhê deur volgens Sy getrou aan julle geopenbaarde wil te handel.

[4] In My het dus ook die Ene sigbaar in hierdie wêreld gekom, wat julle gesoek het en tog in geen enkele skool en in geen enkele tempel kon vind nie.

[5] Soos Ek nou in Myself hier is en deur die hele oneindigheid werksaam is, so sal Ek ook in die gees wees en werk in almal wat hulle aan My eenvoudige gebooie hou, in My glo en My inderdaad bo alles sal liefhê.

[6] Maar in diegene wat wel in My glo en “Heer, Heer!” sê, maar lou is in hulle handel en nalatig in hulle liefde vir hulle naaste, sal Ek nie woon nie en Ek sal Myself nie aan hulle openbaar en My krag en wysheid sal hulle siele nie vervul nie. Want omdat elkeen mens `n volkome vrye wil het, wil Ek dat hy eers, deur in alles My getrou aan hom geopenbaarde wil te doen, geheel uit vrye wil na My toe kom; en dan sal Ek ook na hom toe kom, Myself aan hom openbaar en hom vervolgens deur die Heilige Gees van My ewige en alomheersende liefde met al My wysheid en mag vervul. - So het JaHWeH vroeër gespreek, en ook nou!”

[7] Toe die twee hierdie woorde uit My mond gehoor het, kyk hulle uiters verwonderd en sê, nadat hulle `n rukkie diep nagedink het: “Baie vaag het ons al steeds gedink dat daar agter U iets baie anders skuil as maar net `n buitengewoon wyse mens; want Uself het ons dit maar al te duidelik laat merk toe U ons ons hele lewensloop onthul het. Nou het dit egter vir ons, deur U laaste woorde, meer as sonneklaar geword dat U, ondanks U liggaam, volkome God is in Uself, en wel Dieselfde wat ons solank gesoek het en tot nou toe nie kon vind nie.

[8] Maar noudat ons U gevind het, sal geen mag ter wêreld ooit meer in staat wees om ons afvallig te maak van wat ons nie net glo nie, maar waarvan ons ten volle van oortuig is.

[9] Maar aangesien U, Heer, Heer, in Uself dieselfde enig ware, een God is waarin alle mense ten volle moet glo en wie getrou aan hulle geopenbaarde wil hulle in lewende dade moet vervul, waag ons dit om vol geloof die baie onderdanige versoek aan U te rig of U ons liggame, solank ons dit nog nodig het vir die ware voleinding van ons siele, so gesond moontlik te wil maak! Want ons glo nou dat niks vir U onmoontlik is nie.

[10] Ons verlang dit nou egter nie as `n teken van die waarheid van wat ons van U glo nie, maar alleen omdat ons met `n gesonde instrument vir die voleinding van ons siele en die van ons metgeselle beslis beter werksaam kan wees as met `n siek en swak liggaam. Want met `n siek liggaam ly die siel ook en het sy maar weinig sin in verhoogde werksaamheid.” 

[11] Ek sê: “Dit geskied volgens julle geloof; maar behalwe wat julle glo, moet julle onthou dat dit vir `n mens terwille van sy siel nie altyd bevorderlik is as hy met `n volkome gesonde liggaam rondloop nie; want as sy vlees te gesond is, word die ook maklik geprikkel tot allerlei sinnelike luste, waarin die siel vroeër mede-begerig word as wanneer haar vlees sieklik en swak is, - en so is `n liggaamlike siekte in `n sekere sin `n wag vir die deur van die innerlike lewe van die siel.

[12] Tog sal julle nou volledig gesond van liggaam word; maar behoed julle daarvoor dat julle by bepaalde geleenthede, wat veelvuldig by die Grieke voorkom, nie weer in julle ou sondes en daarmee ook tot nog ergere siektes verval nie! Hou dus steeds die gebooie van Moses voor oë, in julle hart en in julle wil! Verloën julleself, en volg die Gees van My leer! 

[13] Ek wil nie dat iemand die aardse proeflewe vir die wilsvryheid met `n siek liggaam moet deurmaak nie; maar as die mense die ou raad van My liefde en My orde nie in ag neem nie, maar doen wat hulle nie moet doen nie, is hulle ook self die skeppers van alle kwale van hulle liggaam en hulle siele.

[14] Maar Ek kan My orde, waardeur alleen die voortbestaan van alle dinge moontlik is, nie omkeer terwille van die ligsinnigheid en die deur eie skuld veroorsaakte blindheid van die mense nie. As iemand weet dat sy liggaam pyn voel as dit geslaan of gesteek word, maar homself tog slaan en steek, is dit immers sy eie skuld as sy liggaam daarby baie pyn voel; want terwille van die onsinnige dwaasheid van die mense sal Ek `n siel nie van `n ongevoelige liggaam voorsien en ook nie daarvoor sorg dat mens vanweë die swaartekrag nie van die dak op die grond sou kan val nie. - Dit sê Ek julle dus ook nog, sodat julle jul daarvolgens kan rig.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205