Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 159

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die beoefening van die naasteliefde

159 Die twee Grieke sê:”O Heer Heer, ons dank U uit die diepste van ons hart en lewe vir die so wonderbaarlik plotselinge genesing van ons liggaam, maar ons vra U ook of U ons, as ons ten gevolge van ons liggaamlike gesondheid, op watter manier dan ook, swak sou kan word en ons deur die een of ander verleiding van die wêreld en ons vlees sou laat bekoor, - of U ons steeds die nodige krag sal skenk om alle versoekings wat oor ons sou kan kom, met ware heldemoed te kan weerstaan; want ons sien nou al self dat geen mens sonder U hulp alle gevare en allerlei soorte vyande wat op hom loer, kan oorwin nie.

[2] Dit is wel maklik om `n vyand, wat mens sien, te ontwyk of hom met wapens in die hand kragtig en vol moed tegemoet te tree en hom onskadelik te maak; maar die mens het ontelbaar vele onsigbare vyande, waarteen alleen U, o Heer, Heer, dit steeds met sukses kan opneem. Daarom vra ons U dan ook vir U hulp, wanneer daar `n onsigbare vyand ons sou nader om ons skade toe te bring; want van sulke vyande kan `n mens slegs met U alvermoënde krag meester word.”

[3] Ek sê: “Julle het heeltemal waar en korrek geoordeel; sonder My kan niemand iets vir die heil van sy siel tot stand bring nie; en ook al het hy alles volgens die wette wat aan hom geopenbaar is, as te ware op eie wilskrag gedoen, dan moet hy tog in homself erken dat hy `n lui en trae dienaar was en in al die goeie wat hy gedoen het, slegs aan God die eer gee, dan sal God hom ook altyd sterk en kragtig maak.  

[4] Wie God in al die goeie die eer gee, is Hom welgevallig en `n egte kneg en dienaar na Sy hart. God sal diegene wat God nie in sy hart verlaat nie, nie verlaat nie, maar met Sy Hand beskerm; wie God egter in sy hart verlaat en weinig of glad geen ag op Hom slaan nie, sy eie meester meen te wees en volgens sy wêreldse verstand handel, en homself daarvoor laat eer en oor sy skranderheid en sy edele dade spreek, as hy met iets geslaag het, die beloon homself en het van God geen loon te verwag nie. Doen al die goeie en waaragtige wat julle doen, in My Naam, dan sal Ek met julle wees en julle sterk en kragtig maak!”

[5] Hierop bedank die twee Grieke My nogmaals, netsoos ons Kisjona, Philopold, die herbergier uit Jesaïra, die bootsman en die leier van die bekende vissersdorpie, en alle leerlinge prys My omdat Ek dit aan die twee Grieke meegedeel het.

[6] Nou vra die twee My of hulle dit, wat hulle hier op so `n wonderbaarlike wyse beleef het, ook mag vertel aan hulle metgeselle, wat saam met hulle na die kuuroord gekom het.

[7] Ek sê: “So lank as wat Ek hier verblyf, moet julle nie oor My praat en My nie bekend maak nie; maar oor wat julle oor Moses en oor die profete weet, veral oor Jesaja en Esegiël en uit die Psalms van Dawid, oor die kan julle met baie ywer praat!

[8] Voor My vertrek sal Ek die gaste van die kuuroord nog Self besoek en `n uitnodiging aan hulle rig, of ook hulle die Godsryk wil binnegaan. Eers daarna kan julle verder met hulle praat. Diegene by wie julle in My Naam die hande sal oplê, sal gesond word; maar dit moet julle eers doen nadat Ek die kuuroord eers besoek het. Vandag sal Ek egter nog geen besoek daar bring nie.”  

[9] Daarop staan die twee Grieke op, bedank My nogmaals en gaan na hulle metgeselle, wat hulle al gaan soek het. Ons bly egter tot die middel van die dag op die berg en spreek met mekaar oor die gevolge van die geloof en die ware, suiwer liefde vir God en die naaste.

[10] Oor die punt van die naasteliefde vra Markus aan My: “Majesteit en Heer, moet mens ook naasteliefde betoon aan bekende slegte mense en verkwisters, wat hulle vermoëns meestal op `n ergerlike sondige manier verspil en verbras het, en ook aan diegene wat duidelik ons vyande is?”

[11] Ek sê: “Julle moet by die bewys van naasteliefde geen uitsonderings maak nie, maar aan elkeen goed doen; want wie `n uitsondering maak, sal Ek ook allerlei uitsonderings maak.

[12] Wanneer iemand in nood sit en by julle kom, bewys hom dan naasteliefde in geestelike of ook materiële sin; die geestelike naasteliefde moet egter die materiële voorafgaan!

[13] As julle `n sondaar bekeer het en hy sit in aardse opsig in nood, help hom dan daaruit. As hy daarna nog eens sondig, vermaan hom dan in liefde en word hom nie vyandiggesind nie! Want met die maat waarmee julle in My Naam meet, sal julle weer op julle beurt gemeet word!

[14] Veroordeel niemand nie, dan sal julle later ook nie veroordeel word nie. Verdoem en vervloek dus ook niemand nie, sodat julle later ook nie verdoem en vervloek word nie!

[15] Doen goed aan diegene wat aan julle kwaad doen, dan sal julle daardeur gloeiende kole oor hulle hoofde strooi en hulle tot julle vriende maak. Seën dus ook diegene wat julle haat en vervloek, dan sal hulle berou hê. Vergeef julle vyande sewe maal sewe-en-sewentig keer; as hulle daardeur nie beter word nie, kan julle die saak by `n wêreldse regter aanhangig maak en moet die onverbeterlike vyand uit die gemeente gestoot word. Want wie onverbeterlik kwaad doen, moet ook getugtig word, sodat sy medemense nie langer deur hom geërger word nie.

[16] Wees dus ook onderdanig aan die wêreldse owerheid, of dit nou mild of streng is; want sy sou geen mag gehad het, as dit haar nie van bo verleen was, vanweë die vele onverbeterlike sondaars nie!

[17] Maar julle moet nie `n klag oor elke kleinigheid indien nie en sonder dringende noodsaak na die wêreldse regters loop nie; want wat julle nie wil en wens dat dit julle oorkom nie, ontsien daarin ook julle medemense, solank dit moontlik is. Alleen onmiskenbare diewe en rowers en te erge hoereerders en egbrekers mag julle aan die gereg oorlewer en insgelyks diegene wat `n moord begaan het. Maar daarby moet julle julleself nie kwaad maak nie, maar net doen wat nodig is; laat al die ander aan My en die regters oor!

[18] Kyk, My vriend Markus, so is My wil, wat daardie punt betref; wie daarvolgens handel, sal ook nooit gebrek aan My seën hê nie.”

[19] Markus en almal bedank My vir hierdie raad.

[20] Nou kom `n dienaar Ons vertel dat die middagmaal gereed was, en Ons staan op om huistoe te gaan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205