Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 204

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die kommandant Leander voor die Heer

204 Na hierdie woorde van die dienaar word dit vir elkeen ligter om die hart.

[2] Die kommandant gaan dadelik met die dienaar saam na die herehuis, waar hy hom dadelik na My toe bring en aan hom sê: “Kyk, dit is die Heer!”

[3] Nou buig die kommandant diep voor My en sê: “Heer! Wees nie alleen vir my nie, maar ook die ander sondaars genadig en barmhartig! Want ons was immers maar net blinde en swak knegte van die bose Herodus, omdat hy ons onder baie dwang in sy diens geneem het - net, vandag het ons besluit om hom nooit meer te dien nie en ons sal U ook ewiglik nooit meer agtervolg nie. Ja, as dit moontlik is, sou ons U vanaf vandag of môre ten dienste wil staan, maar nooit meer die slegte en dom, trotse Herodus nie!”

[4] Ek sê: “Leander, Ek vergeef jou jou sondes! Wie in My glo en volgens My leer leef en handel, sal nie verlore gaan nie!

[5] My leer bestaan heel eenvoudig uit die volgende: Erken die een, enige ware God en Heer, en dus ook vir My, omdat Ek vanuit Hom in hierdie wêreld gekom het en Sy Gees in My dra, en wees vir die een God bo alles lief en jou naaste soos jouself, dan sal jy die ewige lewe ontvang!

[6] Soos jou vertroue die weg na My geopen het, so sal ook jou geloof in My die weg na die ewige lewe ontsluit.

[7] Maar jy ken ook die wette wat God op Sinai deur Moses aan die volk Israel gegee het; hou jou daaraan en nie meer aan jou vele valse, dooie gode en ander sedes en gebruike nie; dan kan jy `n goeie instrument in My ryk word!”

[8] Vol van vreugde sê die kommandant: “O Heer, waar gaan U U ryk vestig? Waar is U kasteel, sodat ek môre daarheen kan reis en vir U my dienste daar as dapper soldaat aanbied?”

[9] Ek sê: “Luister! My ryk, wat Ek nou weer opnuut vestig onder die mense op hierdie aarde, is geen aardse ryk soos die van `n koning nie, wat jy gedien het en waarvan daar nog legio is op die hele aarde, maar My ryk is `n geestelike ryk en is nie met allerlei prag en praal sigbaar vir die oë van die liggaam nie; want dit bestaan inwendig in die mens en die sterk kasteel, wat ewig nooit deur `n mag oorwin kan word nie, is die gelowige, liefdevolle hart wat vol vertroue is en sonder hoogmoed, sonder afguns of jaloesie, sonder leuens en bedrog, maar in plek daarvan vol deemoed, sagmoedigheid, geduld en barmhartigheid; daarin sal Ek, die een en enig ware Heer en Koning van alle bestaan en lewe, My intrek neem by elke mens wie se hart en gemoed die genoemde eienskappe sal besit.

[10] As jy by My as soldaat in diens wil tree, moet jy dus in die kasteel wat Ek jou nou getoon het, uit vrye wil en vol geloof, vertroue en vol liefde vir God en jou medemense, vertroud raak met My leer!

[11] Dit begryp jy nou natuurlik nog nie in die volle lig van die waarheid nie; glo, leef en handel egter maar met alle ywer volgens wat jy glo, dan sal die Gees van God se ewige liefde in jou ontwaak en jou in alle waarheid binnelei, en eers in die lig van die waarheid sal jy die Een herken wat dit nou aan jou gesê het. En as jy Hom geheel ooreenkomstig die waarheid herken het, sal alles wat nou vir jou nog `n diep verborge geheim blyk te wees, ook alles duidelik en meer as sonneklaar vir jou word. Verkondig dit ook aan jou metgeselle!” 

[12] Na hierdie woorde van My was die kommandant Leander totaal verbluf en sê: “O, Majesteit en Heer! Soos U het nog nooit `n mens op hierdie aarde gespreek nie! Ek het seker nie alles ten volle begryp nie; maar soveel het vir my uit U woorde wel duidelik geword, dat U geen kroon en septer van hierdie wêreld nastreef nie, maar net dat alle mense weer terugkeer na die aloue, reeds sedert baie lang tyd verlore gegane waarheid van die mees innerlike geestelike lewe.

[13] Ons ou wyses het die verlore gegane ryk van die volle, lewende waarheid weliswaar met groot ywer gesoek en hier en daar ook spore daarvan gevind; maar selfs die mees wyse ondersoeker het die onheilspellende sluier van ons Isis nie kon oplig nie.

[14] Maar U, o Majesteit en Heer, is die ware Isis Self en lig die nabye sluier nou vir ons mense op, en dit is na my mening die ware, geestelike lewensryk, wat U nou onder ons mense op hierdie aarde stig en waarvan U die enig ware Heer en Koning is, in U Gees was en voortaan ook sal bly. Want as die liefde, die waarheid en die lewe een en dieselfde krag is, dan is die lewe netso onverganklik en onvernietigbaar soos die waarheid as sodanig ewig waarheid moet bly.

[15] Tot sover het ek die betekenis en gees van die woorde opgevat wat U tot my, onwaardige mens, gerig het; `n verder gaande en dieper deurdringende lig verwag ek van die liefde en barmhartigheid van Hom, wat die enige egte en volkome waaragtige Koning van die ryk van die innerlike, geestelike lewe is.

[16] Maar nou is dit die vraag wat ons met die slegte en meer as dom Herodus moet doen! Hoe kan die wellusteling maar net op die idee kom om die mees liefdevolle Wederbringer van die waarheid van die lewe van alle mense in sy magteloosheid te vervolg?! O, die stokblinde skurk!”

[17] Ek sê: “Laat Herodus maar met rus en bekommer jou nie meer oor hom nie; want sy glorie sal weldra volkome ten einde loop!

[18] Wat jou owerste egter besluit het, ten aansien van die vergoeding van die vier gesinkte skepe van die burgers van Tiberias, dit moet hy ook ten uitvoer bring, en Ek sal hom met die mag van My wil ondersteun; in die toekoms sal hy nie meer baie soldate uitstuur, wat die Waarheid met boeie moet bind en ten slotte selfs moet dood en volkome vernietig nie!” 

[19] Diep ontroerd bedank die kommandant My vir hierdie opdrag aan die owerste, en hy belowe My dat die uitvoering van My wens nie agterweë sou bly nie.

[20] Daarop vra hy My egter ook wat die owerste geregtig was om te onderneem, en wel uit naam van die agtergeblewe weduwees en wese, in verband met die honderd-en-dertig soldate wat in die meer verdrink het, wat tog ook mense was en hulle onder dwang volgens die wil van die woesteling moes voeg - en, netsoos bekend, teen die mees armsalige soldy; want die soldate, wat Herodus baie toegewyd en trou was en sy lyfwag gevorm het, het van hom die begunstiging ontvang om netsoos elke ander staatsburger in die huwelik te tree. En noudat die soldate nie meer daar is nie, wie sal dan nou hulle vroue en kinders onderhou en voed?” 

[21] Ek sê: “Die verdrinkte soldate was soos afgerigte jaghonde, wat geen liefde en erbarming gehad het teenoor mense nie, wat hulle in naam van Herodus maar al te gereeld sonder noodsaak of opdrag gekwel het om hulleself `n aansienlike skadeloosstelling vir hulle karige soldy te besorg; die laaste tyd het hulle praktyke in die geheim al so erg geword, dat diegene wat maar al te gereeld deur hulle onder druk gesit was, eg vertwyfeld geraak het.

[22] Deur hulle geheime praktyke, waaroor niemand by `n regbank sy klag durf te maak nie, uit vrees om naderhand nog erger deur hulle gekwel te word, het hulle baie skatte verkry, en hulle naasbestaandes het meer te bestee as jy en jou owerste. Wat hulle het, het hulle goed opgeberg, en dit sou vir `n wêreldse regter nouliks moontlik wees om hulle tot die bekentenis te bring dat hulle onregmatige goedere besit.

[23] Maar Herodus moet aan diegene wat deur sy troue jaghonde gereeld erg onderdruk was, skade vergoed, omdat hy nagelaat het om sy jaghonde die streng wette te gee, waarvolgens hulle nie na eie willekeur met die arme onderdane mag omgegaan het nie! Bowendien vind hy dit selfs ook wel goed, as hy soms iets hoor oor die geheime praktyke van sy jaghonde; want daardeur hoef hy immers geen beter soldy uit te betaal nie.

[24] Die vreeslike jaghonde het uiteindelik hulle verdiende loon gekry, en Herodus moet alleen die skade wat deur hulle toegebring is vergoed, waarvoor die owerste baie goed sal kan sorg. En nou kan jy weer na julle hut gaan, waar jy vol verlange verwag word. Môre sal ons mekaar weer sien.”

[25] Die kommandant bedank My heel uitbundig vir My onderrig en geduld, en begewe hom toe heeltemal getroos na sy metgeselle en vertel hulle alles wat hy van My gehoor het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205