Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die gelykenis van die toevertroude ponde

27 Terwyl die volk hulle meer en meer versprei, sê Ek hardop aan Zaggeüs, wat nou heeltemal gelukkig was: “Hede het die huis, en dus ook jy, `n groot heil ten deel geval, deurdat jy ook `n seun van Abraham is! Want Ek, as die Menseseun en ware Heiland, het nou gekom om te soek en salig te maak wat verlore was, en as Heiland kom Ek alleen na die siekes en ook nie na die gesondes wat nie die hulp van `n arts nodig het nie.

[2] Ek het dus in die wêreld gekom om die ryk van God aan die mense terug te bring, wat hulle nou al sedert lang tyd geheel en al verloor het, en die geregtigheid daarvan, wat onder die mense nie meer bestaan nie. Ek is dus die weg, die waarheid, die lig en die lewe; wie in My glo, sal die ewige lewe hê!”

[3] Toe die volk, waarvan nog steeds `n taamlike groot deel aanwesig was, dit hoor, sê hulle onder mekaar: “Hierdie mens het weliswaar hoogs wonderbaarlike en seldsame eienskappe - maar dat Hy homself sien as diegene wat aan ons die verlore ryk van God en die geregtigheid daarvan sal terugbring, gee Hy blyke van `n groot inbeelding en selfoorskatting! Ons kom immers uit die omgewing van Jerusalem af en weet niks daarvan dat so-iets nou sou gebeur nie! Maar as Hy beweer dat Hy ons die verlore ryk van God en die geregtigheid daarvan sal terugbring, dan kan Hy dit tog ook dadelik aan ons openbaar! Waarom talm Hy eintlik nog en hou ons in vergeefse afwagtende spanning?”

[4] Daarop wend Ek My tot die volk, wat op die wyse onder mekaar oordeel, en omdat Ek My by dié volk werklik so goed as in die omgewing van Jerusalem bevind, vertel Ek hulle die volgende beeld: “Julle het gelyk deur te sê dat julle uit die omgewing van Jerusalem kom en niks weet van die feit dat die ryk van God en die geregtigheid daarvan opnuut gebring word nie, en dat julle nou hier verlang dat die ryk van God onmiddellik geopenbaar word, as dit deur My geopenbaar kan en wil word!

[5] Ek bevind My nou in julle aanwesigheid werklik in die omgewing van die blinde Jerusalem, wat met oop ore niks hoor en met wyd oopgesperde oë niks sien nie! Hoe baie was Ek nie al in Jerusalem gewees nie en het julle onderrig en voor julle oë tekens gedoen as getuienis van die ware rede van My koms in hierdie wêreld, en nog sê julle dat julle niks weet van die feit dat die ryk van God en die geregtigheid daarvan teruggebring word nie, en verlang nou van My, - as Ek diegene is wat die ryk van God en Sy geregtigheid opnuut kan bring, - dat Ek die ryk van God en sy geregtigheid in julle teenwoordigheid nou dadelik sal openbaar. Goed dan! Ek sal dit doen, luister dus na die volgende beeld:

[6] `n Edelman reis na `n ver land om daar `n ryk in besit te neem en daarna terug te kom. Vóór sy vertrek roep hy egter tien knegte na hom toe, gee hulle tien ponde en sê: “Handel daarmee tot ek terugkom! Diegene van julle wat my `n goeie wins besorg, sal na gelang van sy verdienste ook die passende loon ontvang!”

[7] Daarop vertrek die edelman. En die knegte begin met die ponde te handel, op nuttige en onnuttige wyse.

[8] Die burgers van die land was die edelman, wat hulle meester en koning was, egter vyandig gesind, en toe hulle hoor dat hy op reis gegaan het en die knegte in sy plek handel, stuur hulle hom `n boodskap na die land waar hy heengereis het en laat aan hom sê: “Ons wil dat jy voortaan nooit meer oor ons heers nie!”

[9] Nou gebeur dit egter dat die meester terugkom, nadat hy die ryk ingeneem het, en hy roep eers dieselfde tien knegte na hom, aan wie hy die geld gegee het om daarmee te handel, om te verneem hoeveel wins elkeen van hulle gemaak het.

[10] Die eerste kom na hom toe en spreek: “Heer, u pond het tien pond opgelewer! Hier is u pond, en daar die ander tien ponde!” En die meester sê aan hom: “Wel brawe en troue kneg! Omdat jy in die kleinste trou was, sal jy nou mag oor tien stede kry!”

[11] Daarop kom daar `n tweede kneg wat sê: “Heer, U pond het vyf pond opgelewer! Hier is u pond en daar die ander vyf!” En die meester spreek ook tot hierdie kneg: “Dan sal jy dus ook mag kry oor vyf stede!” En so gebeur dit ook met die ander, wat met die een pond iets verdien het.

[12] Nou word daar ook `n derde kneg spesiaal geroep, wat eintlik die minste was; maar hy kom en sê: “Kyk, meester, hier is U pond wat ek in `n sweetdoek bewaar het! Ek was bang vir u, omdat ek wel wis dat u `n harde man is, wat neem wat hy nie geplant het nie en oes, waar hy nie gesaai het nie.” Die meester spreek tot hom: “Ek oordeel jou met jou eie woorde, arglistige mens! As jy wis dat ek `n harde man is en neem waar ek nie geplant het nie en oes waar ek nie gesaai het nie, waarom het jy my geld dan nie in die bank gesit nie, sodat dit my ruim wins sou opgelewer het? “Toe verstom die kneg, omdat hy hom nie meer daarvoor kon verontskuldig nie.

[13] Maar die meester sê aan die ander knegte:”Neem hierdie lui kneg sy pond af en gee dit aan die een wat tien ponde vir my verdien het! Hy sal die beste daarmee omgaan!”

[14] Toe sê die ander knegte aan hom: “Maar hy het dan die meeste!”

[15] Maar die meester sê aan die knegte: “O, waarlik, Ek sê vir julle: aan wie het, sal nog meer gegee word, sodat hy dan oorvloed het; maar van wie nie het nie - netsoos julle in Jerusalem - sal binnekort ook nog afgeneem word wat hulle miskien nog het! Maar die vyande van My, wat nie wil dat Ek oor hulle moet heers nie (naamlik die fariseërs), bring hulle hier en wurg hulle in My teenwoordigheid!”

[16] Maar sodat julle ook begryp wat die beeld wil sê, sal Ek dit vir julle in die kort uitlê - luister dus:

[17] Die Heer, wat op reis gegaan het om `n verafgeleë ryk tot die Syne te maak, is God, wat via Moses tot julle gespreek het. Op twee steentafels gee Hy die Judeërs die tien ponde (wette van die lewe), waarmee die eerste Judeërs goed gehandel en daarom ook weldra groot mag gekry het.

[18] Die tyd van die konings is die ander kneg, wat vir die Heer slegs vyf ponde verdien het; daarom was hulle mag ooreenkomstig hulle wins korrek bepaal. Maar hoe die tyd steeds skraler geword het wat die wins vir die Heer aangaan, het Ek julle laat sien in die handelswyse van die nog oorgeblewe knegte, en julle kan dit verder opsoek in die boek van die Konings en in die Kronieke.

[19] Die derde, heeltemal lui kneg stel egter hierdie tyd voor, waarin die fariseërs die pond wat deur God aan hulle gegee was, verberg het in die ware sweetdoek van die oë, ore en harte van die arme en bedriegde mensdom en wat ook nie in die vorm waarin hulle dit van God gekry het in die bank van die heidene wil sit nie, sodat dit die Heer ruim wins sou oplewer - maar in die bank van die nog blinde heidene sit hulle hulle eie vuilis, wat hulle tot goud uitroep waarmee hulle woeker vir hulle liggame bedryf.

[20] Die fariseërs en Judeërs van hierdie tyd is dan ook die slegte burgers, wat die Heer vyandig gesind is en nie wil dat Hy oor hulle heers nie. Daarom sal daar met hulle ook gebeur wat Ek julle in dié beeld getoon het: Omdat hulle niks verdien het nie, sal van hulle in die eerste plek ook nog afgeneem word wat hulle nog gehad het, en die sal gegee word aan diegene wat nou werklik die meeste het - en dit is nou die heidene, wat tegelykertyd daardie verafgeleë ryk voorstel, waarheen die Heer op reis gegaan het om dit tot Sy eiendom te maak. En Hy het dit al tot Sy eiendom gemaak en het nou in My huiswaarts teruggekeer om afrekening te hou, netsoos die beeld julle dit vanuit velerlei invalshoeke voor oë gestel het.

[21] Kortom, die lig sal van die Judeërs afgeneem en aan die heidene gegee word! Die tyd dat die burgers wat JaHWeH God vyandig gesind is, bestraf sal word het baie naby gekom, en diegene aan wie die lig gegee word en reeds gegee is sal die nuwe dienare van die Heer wees, wat die vyande van die Heer sal wurg.

[22] Wat Ek julle nou geopenbaar het, is ook God se ryk, wat ek vir julle terugbring saam met die geregtigheid daarvan. Wie dit ter harte sal neem en die pond, wat aan hom geleen is om daarmee te handel, trou en gewetensvol sal beheer, sal ook die loon van die lewe kry.

[23] Dit het Ek gesê aan julle, burgers in en rondom Jerusalem; heil diegene wat dit gewetensvol ter harte sal neem!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205