Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die genesing van die siek Helena

3 Daarop sê die herbergier verder aan sy personeel, wat nou aanwesig was: “Ons het ons nou daarvan oortuig dat hierdie aan ons nog volkome onbekende dienaar van die een ware God `n egte wonder gedoen het om ons die een ware God te laat leer ken; maar Hy het my ook al ander bewyse gegee, wat nie minder wonderbaarlik is nie, en waaruit ek opgemaak het dat Hy wel `n buitengewone wonderlike Mens moet wees, want noukeuriger as onsself, is Hy op die hoogte van die mees verborge en geheimgehoue inrigtings en omstandighede van ons huis.

[2] So weet Hy ook van die tot op hede ongeneeslike siekte van ons liefste dogter Helena, en Hy het my dan ook belowe dat hy haar sou genees, as ek die dooie afgode, groot en klein, almal uit die huis sou verwyder en my dan met my hele huis aan die een, ware God hou en Hom alleen die eer gee. Ek durf my egter tog nie self vergryp aan die dooie afgode nie, uit vrees dat ek eers deur iemand verraai en daarna deur die priesters en regbanke gestraf sou word, maar ek sê aan hierdie wonderbaarlike dienaar van die een ware God: “Verwyder U hulle onder getuies weg uit die huis, dan is ons nie daarvoor verantwoordelik nie!” En kyk, dit doen Hy in `n oomblik, en sodoende is al ons talryke afgode in die huis ook op `n uiters wonderbaarlike manier heeltemal vernietig; ons is nou almal getuie daarvan en kan nie deur die priesters en nog minder deur `n Romeinse regbank daarvoor ter verantwoording geroep word nie, wat julle almal netso goed sal verstaan as ekself!

[3] Maar noudat hierdie Man vandag skielik sulke onverwagte dinge voor ons oë laat gebeur het, laat nou dan ook ons dogter nog genees word en aan ons almal die een, enige ware God bekend gemaak en getoon word, sodat ons almal alleen aan Hom die eer kan gee en volgens Sy wil kan handel en lewe!”

[4] Daarmee was alle aanwesiges dit heeltemal eens, en die herbergier wend hom nou saam met sy vrou en sy kinders tot My en vra My om, as dit moontlik was, hulle siek dogter te genees.

[5] En Ek sê: “Omdat jy en jou hele huis glo, geskied dit ook volgens julle geloof! Gaan nou na die kamer van julle dogter en oortuig julle daarvan of sy al genees is! Maar bring haar daarna hierheen, sodat ook sy van hierdie wyn van die lewe kan proe en Hom leer ken, Wie haar genees het!”

[6] Toe Ek dit gesê het, verlaat almal in alleryl die eetkamer, om te sien of Helena wel genees was. Toe hulle by haar kom, tref hulle haar volkome gesond aan, en sy vertel dat daar `n vuur deur haar been gestroom het en dat die koors en alle pyn en haar vroeëre swakte haar skielik verlaat het. Dit bring `n groot gejuig teweeg. Die dogter verlaat dan ook dadelik haar siekbed, trek haar aan en word vinnig onder gejuig na My toe gebring.

[7] Toe daar aan haar vertel word dat Ek die Een was Wie haar genees het, kniel sy aan My voete, wat deur haar trane van dankbaarheid bevogtig word. Ook alle ander bedank My vir die wonderbaarlike genesing van Helena.

[8] Maar Ek sê aan haar: “Staan op, dogter, en drink bietjie wyn uit die kraffie wat langs jou staan, sodat jy versterk word in jou hele liggaam en in jou siel!”

[9] Toe staan Helena sonder moeite op, gryp die kraffie beskeie en drink die wyn daaruit, wat haar versterk en waarvan sy die goeie smaak nie genoeg kon prys en roem nie. 

[10] Toe sy versterk was, begin almal My weer te vra om hulle nou ook die een ware God te leer ken en om Hom ook aan hulle te toon, as dit moontlik was.

[11] Ek sê: “Luister dan na wat Ek julle nou in die kort sal sê!

[12] Daar is byna geen Griek wat in die Judese land leef en handel, wat nie vertroud is met die leer van Moses en die ander profete nie. Die God wat deur Moses aan die Judeërs verkondig was, die God wat op die berg Sinai onder donder en bliksem met Moses en deur hom en sy broer Aäron gespreek het en later ook steeds deur die mond van die profete en vele ander wyse manne, wie se meer as heilige naam JaHWeH is, is die een, enig ware, ewig lewende, mees wyse, meer as goeie en oppermagtige God, wat die hemel met die son, die maan en alle sterre en hierdie aarde met alles wat daarin, daarop en daarbo is, uit Homself geskape het.

[13] Glo in hierdie God, hou Sy gebooie, wat julle ken, en het Hom bo alles lief deur Sy gebooie te hou, maar het ook julle medemense lief netsoos `n elkeen van julle julleself liefhet, dit wil sê: Doen vir hulle alles waarvan julle redelikerwys wil dat hulle dit ook vir julle sal doen; dan sal die een, enig ware God julle altyd barmhartig wees en julle gebede graag verhoor!

[14] Dan sal Hy Homself nie vir julle as `n ver en hardhorende God laat ken nie, maar as `n steeds nabye, en `n Vader wat julle bo alles liefhet, wat julle gebede nooit onverhoord sal laat nie.

[15] Dit is alles wat die een, enig ware God, wat ook die enig ware Vader van alle mense is, verlang. Wie dit sal doen, sal nie net alreeds op hierdie aarde meer en meer geseën wees nie, maar na die afval van die liggaam ook die ewige lewe van sy siel ontvang en sal daar, waar die Vader is, ewig meer as salig wees. Weet julle nou wie die enig ware God is?”

[16] Almal sê: “Ja, as dit Hy Is - en daaraan twyfel ons nou nie meer nie - dan ken ons Hom uit die geskrifte, wat goed aan ons bekend is! Die leer van Moses het ons altyd goed geval; maar omdat ons maar al te gereeld moes uitvind dat die leer, veral deur die vernaamste priesters, in geheel teenoorgestelde sin nageleef word, en dat die enig ware God hulle geen enkel kwaad doen as straf vir die misdade wat hulle teen hulle medemense begaan nie, dink ons: Watter waarheid kan `n leer dan wel bevat, as - wat uit al hulle dade maar al te duidelik blyk - die vernaamste verteenwoordigers daarvan en die sogenaamde godsdienare geen spoortjie geloof daaraan heg nie?!

[17] Want dat mens sy medemens moet liefhê soos homself, is immers die eerste wat jy uit die gebooie van Moses aflei. Maar jy moet ook eers sien hoe die belangrikste verteenwoordigers van die leer van Moses hulle medemense liefhê; jy sou wel met die diepste blindheid geslaan moet wees om nie op te merk dat juis hierdie verteenwoordigers van die leer nie in die minste daarin glo nie. Want die waarheid van `n egte geloof moet immers blyk uit die handeling volgens die leer, en in die besonder by hulle wat die leer verteenwoordig en verbreed. Maar wanneer hulle deur hulle handeling nou al voor die oog van elkeen sonder enige skroom of vrees vir `n enig ware God laat sien dat hulle aan niks glo nie - hoe kan ons vreemdelinge ons dan by hulle leer aansluit?

[18] Kyk, magtige, ware dienaar en Priester van die een, enig ware God, dit was dan ook steeds die rede waarom ons netso getwyfel het aan die waarheid en egtheid van die leer van Moses, as aan ons veelgodery! Terwille van die mense en hulle wette het ons ten slotte wel aan alles meegedoen, maar self glo ons in geen enkele God meer nie - maar wel glo ons in die alles oorheersende kragte van die natuur, wat ons deur ons geleerdes ietwat van naderby leer ken het.

[19] Maar nou het, as gevolg van U dade en woorde, die sake by ons almal enorm verander, en ons glo nou sonder twyfel in die een, enig ware God van die Judeërs, wat aan U so `n ongehoorde suiwer goddelike mag verleen het, omdat U natuurlik altyd Sy wil gedoen het.

[20] Ons sal ons egter enkel en alleen aan die leer van Moses hou en nooit aan die verteenwoordigers daarvan in Jerusalem nie. Gisteraand laat het daar vanuit Essea nog `n paar van sulke tempelhere by ons aangekom, wat geweldig tekere gegaan het oor hulle eie tempelbedryf en die groot mag en wysheid van die Essene erg geprys het, en ons dink toe by onsself: “As julle julleself al so afkam, wat moet ons vreemdes dan wel van julle dink?” Maar tog geval hulle ons, omdat hulle die waarheid beken. Vanmore vroeg het hulle weer verder gereis. Wat die leer betref, is dit vir ons nou goed duidelik; maar daar is nog `n punt, en dit is U laaste belofte.

[21] U belowe om ons ook die enig ware God te toon, en dit sal U netsoos al die ander sekerlik kan doen. Noudat U ons al ongevraagd so gelukkig gemaak het, deur ons in woord en daad die een, enige ware God te leer ken, vra ons U om ons geluk nou ook nog kompleet te maak deur ons die enig ware, een God te toon! Ons vra U almal heel nadruklik daarvoor!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205