Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 60

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die rede waarom dit met die bewoners goed gaan

60 Toe die oue dit hoor, kom hy dadelik na My toe en sê: “Luister, Majesteit en Heer van hierdie manne, wat ons verkwik het met die vrugte van ons bome! Waarom wil U Uself eintlik ook nie saam met diegene wat vas en seker U leerlinge en dienare is, met die ryp vrugte verkwik nie?”

[2] Ek sê: “Omdat Ek nie so seer daarna verlang om die soet boomvrugte te eet nie, maar veeleer verlang na die baie soeter vrugte van julle hart en goeie wil; want as iemand aan een van My ware leerlinge en dienare `n egte, onbaatsugtige liefdesdiens bewys, neem Ek dit aan asof hy dit aan Myself gedoen het.

[3] Ek is met God en God is met My; en wie met My is, is sodoende ook met God, en God is met hom. God is egter ook met elkeen wat eg in Hom glo, Sy gebooie hou en Hom bo alles liefhet en sy naaste soos homself. As iemand sy naaste - en daarby is dit om `t ewe of daardie iemand uit eie land of `n vreemdeling is - alreeds nie sonder betaling liefhet en hom uit die een of ander nood help, terwyl hy hom as `n op homself lykende ewebeeld van God tog sien, hoe kan hy God dan liefhê, wat hy nie sien nie?

[4] Daarom is die ware, onbaatsugtige liefde vir die naaste één met die liefde vir God, en God beloon sy liefde reeds in hierdie wêreld en sal dit eers aan die anderkant in Sy ewige ryk nog meer beloon met die ewige lewe. Werklik, nie één sluk water wat julle met `n goeie hart aan `n dorstige mens gegee het, sal julle onvergeld bly nie!”

[5] Die oue sê: “Majesteit en Heer, uit U woorde maak ek op dat U werklik `n Majesteit en Heer is! Met water het ons die reisigers al baie gereeld verkwik; want ons het `n gemeenskaplike bron, wat baie vars water bevat. Ons sou egter `n vermoeide reisiger dikwels ook graag met `n beker wyn wou verkwik het, as ons dit sou gehad het; maar ons streek is skraal en die wynstok groei hier nie goed nie. Om wyn te koop het ons nóg geld nóg kuddes in die daarvoor vereiste hoeveelheid, en dus staan ons die vele arm vermoeide reisigers alleen by met die powere wat ons het; mag die dierbare, groot en almagtige Vader in die hemel ons wil dan ook as die werk self aanneem!”

[6] Ek sê: “Dit het Hy ook al sedert `n lang tyd gedoen, en daarom het julle nog nooit besondere nood geken nie; in die toekoms sal Hy egter nog baie opvallender vir julle tydelike heil en nog meer vir die heil van julle siele sorg, daarvan kan julle volkome seker wees! Want wie netsoos julle op Hom vertrou, die verlaat Hy nooit. Ook al help Hy hulle dikwels ook nie oombliklik en duidelik sigbaar nie, Hy laat hulle tog nie volkome in die steek nie.

[7] Want God beproef elkeen eers, voordat Hy hom duidelik help; as `n mens ook in alle beproewings sy trou en liefde tot Hom bewaar het, dan kom skielik, voordat `n mens dit kan dink, die altyd duidelike hulp van God, en dan bly Sy seën altyd by Sy getroues. Onthou julle dit almal, en bedink: God het julle beproef tot heil van julle siele, julle het die beproewing goed deurstaan, en daarom het Hy nou met `n oorvloed van Sy belonende seën na julle toe gekom, en Sy seën sal julle blywende besit word.

[8] My ken julle nie en julle weet nie wie Ek is nie; maar die tyd sal kom en is eintlik al daar, dat julle sal uitroep: “Heil aan die Seun van Dawid, wat na ons toe gekom het in die Naam van JaHWeH!” - Het julle nie dalk gehoor wat daar twee jaar gelede in Samaria gebeur het nie?”  

[9] Die oue sê: “Majesteit en Heer en, netsoos U nou self sê, afstammeling uit die lyn van die groot koning van die Judeërs, ons kom maar baie selde in die stad Samaria, wat meer as `n halwe dagreis hiervandaan lê, en daarom weet ons ook weinig van wat daar alles gebeur en voorval; van reisigers het ons egter gehoor dat daar in die deur U genoemde tyd deur `n nuwe opgestane groot Profeet wel baie ongelooflike en wonderbaarlike dinge gebeur het. Mense sê dat hy die Samaritane ook allerlei troosryke leringe gegee het, waar enkele priesters en ook ander wêreldse mense hulle tog aan geërger het, - of dit gegrond of, wat waarskynliker is, ongegrond was, kan ons in ons eenvoud nie beoordeel nie, en ons kan nie oordeel in `n saak wat vir ons onbekend is nie. 

[10] Maar onlangs het ons iets anders oorgekom, waar ons almal van getuie was, netsoos ook van die wonderbaarlike vermeerdering van die boomvrugte vandag, en dit was die volgende: So rondom die middaguur kom daar slegs twee manne na ons toe, volgens hulle kleding en taal te oordeel uit Jerusalem, en hulle vra ons vir `n bietjie brood en ook vir `n paar ryp vrugte van ons bome, wat ons hulle volgens vermoë ook graag gegee het. Toe hulle hulleself daarmee versterk het, neem ook ek die vryheid om hulle te vra wie hulle was, waar hulle vandaan gekom het, waarheen hulle verder sou reis, waar hulle woon en watter werk hulle doen.

[11] En hulle sê: “Nog nie so lank gelede nie was ons heel gewone en meestal erg onderdrukte dienare en knegte en af en toe, as ons geen vaste betrekking het nie, ook sleg beloonde dagloners in Jerusalem. Maar toe kom daar `n Man vol van goddelike krag, mag en wysheid uit Galilea na Jerusalem, wat die hele volk met magtige woorde onderrig en groot en nooit gehoorde tekens doen; en baie mense begin in Hom te glo, tot groot ergernis van die fariseërs en skrifgeleerdes, wie se duidelike volksbedrieëry Hy sonder enige skroom teenoor die volk onthul, en Hy roep hulle skerp ter verantwoording soos Iemand wat mag het. 

[12] Hierdie deur God in die wêreld gestuurde Man, wat ook voortdurend `n magtige aartsengel as begeleier het, neem ook ons aan as Sy leerlinge, omdat ons heeltemal in Hom glo, gee ons wysheid en allerlei mag om die siektes van liggaam en siel te genees en bose geeste by die mense uit te dryf; en vergiftiging en giftige diere kan ons geen skade doen nie, ook nie as ons gedwing sou wees om kaalvoet oor skerpioene en adders heen te loop.

[13] Ons vernaamste werk en besigheid is, dat ons in die Naam van die deur God gestuurde Godmens, as Sy gesante, die koms van die ryk van God op aarde onder die mense sal verkondig, of dit nou Judeërs of heidene is, en dat ons vir hulle sê dat die, deur die profete verkondigde Messias, nou in Sy persoon in hierdie wêreld gekom het, om hulle te verlos van die ou en meer as harde juk van die sonde, die leuens en die bedrog, wat die oordeel en die ewige dood is.” 

[14] Ek vra die twee manne waaruit die nuwe leer bestaan, waardeur die ryk van God op aarde onder die mense sou kom. En kyk, toe praat hulle netsoos U en ook netsoos een van U leerlinge nou met ons gespreek het; en ons was van oordeel dat hulle die waarheid gespreek het en het hulle woorde volkome geglo!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205