Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 7

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die Heer en die siek koopman uit Sidon

7 Enkele vreemdelinge het gemerk dat Ek die leerlinge daardie advies gegee het, en een van hulle, wat `n koopman uit Sidon was, staan op, kom na My toe en sê: “Goeie Vriend, vergewe my dat ek as vreemdeling die vryheid geneem het om U hier aan te spreek! Aan die woorde wat U tot U vriend gerig het, merk ek dat U sonder twyfel `n arts moet wees; ek sou U dus advies wil vra, naamlik wat ek moet doen en gebruik om bevry te word van my maagklagte, wat ek nou al verskeie jare het.”

[2] Ek sê: “As jy dink dat Ek `n arts is, neem dan ook My raad aan! Eet nie te veel en te vet varkvleis nie, netsoos jy tot nou toe gedoen het, en drink nie die hele dag deur soveel sterk wyn nie, dan sal jou maagklagte wel oorgaan! Dit is My advies as arts; as jy dit opvolg, sal dit jou meer van nut wees as jou alwynsap, wat jou maag wel leeg maak, om hom daarna weer des te meer te kan vul. Die mens leef nie om te eet nie, maar hy eet maar net om te lewe, en daarvoor is geen volgepropte maag en geen daaglikse bedwelming van die senuwees deur so sterk moontlike wyn voor nodig nie.”

[3] Toe die vreemdeling dit van My gehoor het, sê hy heel verbaas: “U het my tog nog nooit voorheen gesien nie! Hoe kan U so presies weet hoe ek leef?”

[4] Ek sê: “Werklik, Ek sou wel `n slegte arts moet wees, as Ek by `n sieke nie van sy voorhoof sou kon aflees hoe hy leef en hoe hy aan sy siekte gekom het nie! Doen wat Ek jou aangeraai het en onthou jou van die wellus, dan sal jou maag wel beter word!”

[5] Die vreemdeling bedank My vir hierdie raad en lê drie goudstukke voor My op die tafel.

[6] Maar Ek gee dit aan hom terug met die woorde: “Gee dit aan die armes; want Ek het geen goud of silwer nodig, waarna die mense so gretig verlang nie!”

[7] Die vreemdeling neem sy goud weer terug en sê: “Nou sien ek eers dat U `n egte arts is! As dit beter met my gaan, sal die armes dit honderdvoudig van my kry!”

[8] Daarmee gaan hy weer na sy tafel, en op die van Ons word die maaltyd opgedien.

[9] Die spyse bestaan uit baie welbereide visse, drie gebraaide lammers en twintig eweneens gebraaide hoenders en bowendien verskeie soorte edel vrugte. Ons begin dan ook dadelik te eet en elkeen laat hom die spyse, die fyn koringbrood en die wyn goed smaak, en baie gou word dit heel lewendig aan Ons tafel.

[10] Toe die vreemdelinge merk dat Ons dit aan Ons tafel goed laat smaak, en omdat hulle ook wis dat dit altyd baie duur was om in hierdie herberg te eet, sê die vreemdeling aan wie Ek so juis `n goeie advies vir sy maag gegee het, min of meer saggies aan sy metgeselle: “Ja, nou word dit vir my wel duidelik waarom die arts die drie goudstukke nie van my aanneem nie! Gaste soos Hy en Sy metgeselle, wat so `n duur maaltyd tot Hulle kon neem, het beslis meer skatte as ons, en dan is drie goudstukke natuurlik te min vir so `n Arts, wat al meer as ryk is! Wel, so `n aandmaaltyd kos in hierdie herberg minstens vyfhonderd geldstukke! Ja, ja, wie die bekwaamheid het om `n beroemde arts te wees, is gelukkiger en ryker as `n koning wat, as hy siek geword het, by so `n arts teen betaling van groot skatte hulp moet soek! Want `n koning kan nog so magtig en ryk wees, hy kan homself tog nie genees en van die dood red, as hy siek en swak word nie. Dan laat hy vir baie geld wel van heel ver die beste arts kom wat daar is, en as die arts hom gehelp het, word hy met nog groter somme geld beloon. En by hierdie Arts sal dit seker ook so wees dat Hy by konings en vorste reeds groot somme geld verdien het, en daarom kan Hy ook heel anders lewe as ons, arme kooplui uit Sidon enTirus.”

[11] My leerlinge hoor hierdie opmerking van die kant van die vreemdeling ook, en Jakobus, die ouere wil hom al in die rede val.

[12] Maar Ek sê aan hom, ook min of meer saggies: “Laat hulle maar praat en oor Ons oordeel, want daarmee berokken hulle Ons egter geen skade nie! As julle in My Naam aan die mense oor die hele wêreld die evangelie sal verkondig, sal julle nie ontkom aan allerlei oordele wat die mense oor julle vel nie. As hulle blind en dom is, laat die mense dan maar praat, solank hulle oordeel maar geen kwaad in hom dra nie! As dit egter `n kwaadaardige karakter het, dan kan julle diegene wat oor julle oordeel, voor `n regter ter verantwoording roep, of julle verlaat die plek en skud ook die stof van julle voete; dan sal Ek in die verborgene wel die regter wees oor so `n plek en die bewoners daarvan! Ons sal hulle nou dus ook oor Ons laat praat en Ons beoordeel netsoos hulle dit wil en begryp; want geen mens kan oor `n saak of `n omstandigheid `n oordeel vel as met sy eie begrip nie, net so min as wat `n os `n Psalm van Dawid kan sing of `n blinde `n ander blinde kan lei! Daarom moet julle julleself absoluut nie voortaan deur dergelike voorvalle meer van wysie laat afbring nie!” 

[13] Almal gee My gelyk en bedank My vir hierdie raad.

[14] Maar Apollon sê daarop: “O Majesteit en Heer, U het weliswaar ewig in alles gelyk; maar dit is wel lastig vir ons dat U deur die aanwesigheid van hierdie vreemdelinge niks besonders aan ons kan sê om Uself nie kenbaar te maak nie, en ons U ook niks buitengewoon kan vra nie.”

[15] Ek sê: “O vriend, maak jou maar nie druk daaroor nie! Voor middernag sal daar nog baie buitengewone dinge gebeur; want omdat Ons dagtaak goed beëindig is, is Ek in `n goeie stemming, en julle moet dit ook almal wees! Maar laat Ons nou eet en drink en Ons in Ons blydskap deur niemand laat steur nie!”

[16] Daarop eet en drink Ons heel welgemoed, netsoos die vreemdelinge aan die ander tafels.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205