Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 71

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die laaste tyd vóór die wederkoms van die Heer

(Lukas 17:37)

71 Ek sê: “Dit is egter verbasingwekkend hoe weinig julle die dinge nog begryp! Ek het julle tog al gereeld genoeg uitgelê waarom die aardse tydstip nie - netsoos julle dink - tot op die dag noukeurig vasgestel kan word nie, terwyl Ek julle wel presies met sekerheid die oomblik sou kan noem waarop hierdie of daardie berg met sy rotsagtige toppe deur `n bliksem vernietig sal word! Want in daardie geval het Ons met geoordeelde materie te make, wat in alles heeltemal afhanklik is van die mag van My wil; maar by die mense, wat `n vrye, hulleself bepalende wil het, werk dit nie op dieselfde manier nie. Die rede daarvan het Ek julle al gereeld getoon en julle sal dit tog eindelik eers begryp, en julle moet daarom ook nie voortdurend met dieselfde vraag by My aankom nie!

[2] As julle die “waar” en “wanneer” dan met alle geweld presieser bepaal wil hê, onthou dan wat Ek julle nou sal sê: Waar die aas is, versamel die vrye adelaars ook baie gou.”

[3] Die leerlinge sê: “O Majesteit en Heer, nou het U alweer iets gesê wat ons nie kan begryp nie! Wie is die aas, en wie is die adelaars; en waar sal die aas wees, en waar sal die vrye adelaars vandaan kom?”

[4] Ek sê: “Kyk maar net na die trae en ongelowige fariseërdom, dan sien julle die aas! Ek en almal wat in My glo, Judeërs en heidene, is die adelaars, wat die aas weldra heeltemal sal opeet. So is ook die nag der sondes van die siel `n aas, waaromheen die lig van die lewe hom begin te versprei en die aas met al sy newels en drogbeelde vernietig, netsoos die oggend dit met die nag doen.

[5] Soos dit nou voor Ons oë gebeur met die Judeërdom, wat nou sonder waarheid of geloof is, waardeur dit `n geweldige aas geword het, waarmee dit oor ongeveer vyftig aardse jare afgeloop sal wees, so sal dit in later tye ook daarvoor staan met die leer en die kerk wat Ek nou stig. Dit sal tot `n nog baie erger aas word as die Judeërdom nou, en dan sal ook die vrye lig- en lewensadelaars van alle kante oor haar heen kom en hulle soos `n aas, wat alles sou wil verpes, met die vuur van die ware liefde en met die mag van die lig der waarheid verteer. En dit kan nog gebeur voordat daar na My lewe hier, netsoos Ek nou liggaamlik in julle midde is, twee duisend aardse jare sal verloop het - wat Ek julle by ander geleenthede ook al uitgelê het.

[6] Tóe vra julle julleself af, netsoos nou, waarom dit eintlik op die manier deur God toegelaat word. Ek het julle egter ook al gereeld, netsoos ook hierdie keer, laat sien dat Ek die mense, aan wie `n volkome vrye wil, `n vrye selfbeskikking gegee is, met My almagtige wil nie so kan en mag lei as al die orige geskapene, klein en groot, in die hele oneindigheid nie; want as Ek dit sou doen, sou die mens geen mens wees nie, maar netsoos `n dier of plant of klip, wat deur My almag geoordeel is. Hopelik sal julle dit nou goed insien en begryp en My nie so maklik meer dinge vra, wat vir elkeen, wat ook maar enigsins helderder dink, tog voor die hand liggend is.

[7] As daar nou in hierdie tyd, terwyl Ek nog in `n liggaam op hierdie aarde te midde van julle rondgaan en leer, al verskeie mense in My Naam begin rond te trek en My leer tot hulle materiële voordeel verbreed, maar ook hulle eie onsuiwer saad daartussen meng, waaruit tussen die maer koring op die akker van die lewe en die waarheid daarvan baie gou baie slegte onkruid sal opgroei - sal dit dan verbasing wek as daar in later tye in My Naam nog meer valse en nie geroepe leraars en profete opstaan en met magtige woorde, met die swaard in die hand, en wat tot die mense sal roep: “Kyk, hier is Messias (Christus)!” of “daar is Hy!”?

[8] As julle en later julle egte, suiwer opvolgers dit sal hoor en sien, glo sulke skreeuers dan nie! Want aan hulle werk sal hulle net so maklik te herken wees as bome aan hulle vrugte; want `n goeie boom bring goeie vrugte voort. Aan doringstruike groei geen druiwe en aan distels geen vye nie.

[9] Waaruit die ryk van God bestaan, en die enigste manier waarop dit hom in die mens self manifesteer en waar dit gebeur, het Ek so pas in julle teenwoordigheid aan die fariseërs gesê; julle sal dus ook goed insien en begryp dat diegene nie geglo moet word wat roep: “Sien hier, sien daar!” Want netsoos die gees inwendig in die mens is en al die lewe, dink, voel, weet en wil oorspronklik daarvan uitgaan en alle vesels deurdring, so is ook die ryk van God, wat die ware lewensryk van die gees is, maar net inwendig in die mens en nie op die een of ander manier uitwendig of buite die mens nie.

[10] Wie dit op die regte manier in hom opneem en dit volgens die volle, lewende waarheid begryp, sal in ewigheid nooit deur `n valse profeet mislei kan word nie; wie in sy gemoed egter lyk op `n windvaan (weerhaan) of `n rietstingel in die water, sal natuurlik nie die van rus vervulde en deur waarheid verligte hawe van die lewe vind nie. Wees daarom geen windvane en rietstingels nie, maar ware lewensrotse, waar die storms en watergolwe geen vat op het nie! - Het julle dit nou goed begryp?”

[11] Die leerlinge sê: “Ja, Majesteit en Heer, nou het ons U weer goed begryp, omdat U ons hierdie saak baie helder en in verstaanbare woorde toegelig het; maar wanneer U dikwels in sterk verhulde beelde tot ons spreek, kan ons nie anders as om te sê: “Heer, waar dan, en hoe?” Maar ook dank ons U nou, netsoos altyd, vir hierdie barmhartigheid wat U ons gegee het en vra U, of U telkens weer soveel geduld met ons wil hê!”

[12] Ek sê: “As Ek soos die mense sou wees, sou My geduld met julle al wel verskeie kere te klein gewees het; maar omdat Ek, netsoos julle My ken, vol van die grootste geduld, lankmoedigheid, liefde en sagmoedigheid is, sal julle jul oor My geduld ook nooit hoef te bekla nie. Wees egter ook so geduldig, sagmoedig en deemoedig as wat Ek van ganser harte is, en het mekaar lief soos broers onder mekaar, netsoos Ek julle ook liefhet en altyd liefgehad het; dan sal julle daardeur vir elkeen laat sien dat julle werklik My leerlinge is! Laat geeneen van julle dink dat hy meer is as sy medeleerling nie, want julle is almal gelyke broers; alleen Ek is julle Majesteit en Heer en sal dit in alle ewigheid en ook in alle tydperke van hierdie wêreld wees en bly. Want as die Vader geen geduld sou hê met Sy kinders nie, wie anders sou daar dan nog geduld met hulle hê? 

[13] Ons het nou al geruime tyd met mekaar vir die Godsryk gewerk, in welke tyd julle ook vele vergissings begaan het, en nog nie een van julle is deur My verstoot, selfs nie die een wat Ek julle al herhaaldelik aangedui het en wat tot op die oomblik nog `n duiwel is, wat sy lewe nog nie verbeter het nie. Maar My liefde en geduld het hom nog nie geoordeel nie; hoeveel minder sal My liefde en geduld diegene oordeel wat met alle liefde en vol geloof aan My hang! Daarom kan julle ook altyd verseker wees van My hoogste liefde en geduld; want as iemand in My bly, bly Ek ook in hom.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205