Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 76

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die jongste fariseër begin die Heer te herken

76 Toe die fariseërs dit van My gehoor het, sê die een, wat nog die beste van hulle was, aan die skrifgeleerde: “Luister, die Galileër het op Homself inderdaad geen ongelyk nie. Sy woorde steek weliswaar soos skerp pyle, maar Hy spreek die waarheid! Waarom het die bliksem eintlik presies ons sinagoge getref? Die Galileër weet waarmee ons besig is en kan dit baie seker geen lof toeswaai nie, en Hy weet dan ook baie goed dat God ons gebede onverhoord sal laat. Ons sou Hom nou vriendeliker moet benader, dan sou Hy ons miskien tog op wonderbaarlike wyse kan red. Wie van ons kan daar nou met enige sekerheid beweer dat hy nie die Een is wat aan ons belowe is nie?”

[2] Die skrifgeleerde sê: “Begin ook jy teen ons te getuig? Staan daar nie geskryf nie: “Uit Galilea sal daar geen profeet opstaan nie!”?”

[3] Die beter fariseër sê: “Ja, ja, dit staan so weggeskrywe; maar daar staan nêrens geskryf dat die Messias nie in Galilea kan opstaan nie. As Hy nou die Een is, dan is Hy ook geen profeet nie, maar die Heer Self, en dan sou dit wat daar in die Skrif staan geen betrekking op Hom hê nie!”

[4] Die skrifgeleerde sê: “Ja, as dit so sou wees, dan natuurlik nie; maar wie kan dit aantoon, en wie sou dit waag?”

[5] Die fariseër sê: “Hyself, en nou miskien al vele honderdduisende getuies! Dat ons dit nie glo nie, is nie Sy skuld nie. Maar dit is `n geleentheid om ons te laat sien dat hy meer is as `n profeet, en dan wil en sal ons ook in Hom glo!”

[6] Hierop sê die skrifgeleerde niks meer nie, gaan na buite om te sien hoeveel skade die steeds groter wordende vuur al aangerig het. Maar omdat die stormwind voortdurend so hewig blaas, dat `n mens hom nouliks regop staande kan hou, en die bliksems ook bykans onafgebroke met luide gedonder deur die lug en die dik wolke flits, bly die skrifgeleerde met nog `n fariseër, wat hom begelei het, nie lank as toeskouer buite staan nie, maar keer baie gou weer terug na die saal en vertel die ander dat daar nie meer baie van die sinagoge te red sou wees nie, aangesien die vuur al te hewig geword het en mens in hierdie plek te min water en te min dapper mense het om dit te blus. 

[7] Die beter fariseër loop egter weer na My toe en sê: “Heer, U het gehoor wat ek aan ons skrifgeleerde oor U gesê het; daarop kan hy my geen steekhoudende antwoord gee nie en swyg dus liewer, maar gaan tog na buite om te sien of dit stellig nog die moeite sou loon om die sinagoge te blus en so ook nog enkele kosbaarhede te red. Daarmee het hy wel aangegee dat hy ook in U sou gaan glo, as U deur U wondermag die brand in die sinagoge sou blus en op die manier ook `n paar skatte sou red. Maar omdat die kwade vuur alles nou wel vinnig sal verteer en vernietig, sal hy nou by homself dink: “Daar is nóg met natuurlike nóg met wonderbaarlike middele iets meer te red, en dus bly ek by my ongeloof.”

[8] Wat myself betref, dink en oordeel ek nou heel anders; want vir my is die twee tekens wat U hier gedoen het, voldoende, naamlik ten eerste die reiniging van die tien melaatses en ten tweede die genesing van die opperkneg, en ek glo dat U onweerlegbaar die Gesalfde van God is en dat niks ook daarom vir U onmoontlik is nie. En daarom glo ek dan ook dat U, as U dit sou wil, die storm sou kon laat bedaar en die vuur in ons sinagoge nog sou kon blus en red wat vir ons die mees noodsaaklike is om van te lewe! Majesteit en Heer, vergewe my as ek vroeër teenoor U gesondig het, en laat tenminste aan my sien dat U ook Heer oor die elemente en die groot natuur is!”

[9] Ek sê: “Salig is jy, omdat jy glo, en Ek wil vir jou ook doen na gelang van jou geloof! Gaan daarom nou met My saam na buite, dan sal Ons sien wat egte geloof vermag!”

[10] Daarop gaan Ek met die beter fariseër na buite en kyk met hom na die felle brand, wat reeds in die hele groot gebou woed, en Ek sê aan hom, terwyl hy sonder vrees of angs by My staan: “Dink jy en glo jy nou nog dat dit vir My moontlik sou wees om met één Woord die geweldige storm te bedaar, die brand te blus en daardeur tenminste jou besittings te red?”

[11] Vol vertroue sê die fariseër: “Ja, Majesteit en Heer, nou eers glo ek dit heeltemal sonder enige twyfel! Spreek slegs één Woord, en daar sal onfeilbaar gebeur wat U wil!”

[12] Ek sê: “Wel nou, dan sal dit gebeur soos wat jy glo!”

[13] Toe Ek dit gesê het, gaan die storm skielik lê, en die brand in die sinagoge doof so volkome uit, dat daar in die hele groot gebou nie `n gloeiende vonkie meer te vinde was nie. 

[14] Hierop val die fariseër voor My op sy knieë en prys God se krag en mag in My hardop.

[15] Maar Ek beveel hom om op te staan; want nou begin almal, wat deur angs en vrees na die groot saal gedryf was, na buite te kom, omdat hulle wel merk dat die storm geheel en al opgehou het en daar deur die venster ook niks meer te bespeur is van die brand in die sinagoge nie.

[16] Toe die skrifgeleerde dit met die ander fariseërs merk en ook sien dat daar geen wolke aan die hemel was nie, sê hy: “Luister, dit is meer as wat selfs die mees wyse mens ooit kon gedroom het! Maar wat kan ons doen? As ons in die Galileër glo, sal die hele tempel ons weldra met gloeiende knuppels agterna sit - en as ons Hom nou nog nie glo nie, dan het ons die volk uit die hele wye omtrek teen ons. Dit sal nou moeilik word om die goue middeweg te vind en daarop voort te gaan. Maar laat ons môre verder daaroor praat. Bring ons nou lig, sodat ons onsself vinnig daarvan kan oortuig welke skade ons deur die brand gely het!”

[17] Toe bring die herbergier ligte, wat uit was vervaardig was, en elkeen begewe hom na die sinagoge om te sien wat daar alles deur die vuur vernietig was. Die fariseërs ontdek baie gou dat die vuur `n groot verwoesting in hulle wonings aangerig het en begin hewig daaroor te kla; maar toe hulle in die woning van die beter, gelowige fariseër kom, waar Ek saam met hom is, staan almal dronkgeslaan toe hulle daar alles onbeskadig en in goeie orde aantref.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205