Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 126

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

`n Boom as voorbeeld van die wese van die geestesryk

126 In die loop van die hele relaas, met betrekking tot die gebied van die ryk van die geestelike son, is so ongeveer by elke situasie baie gedetailleerd aangetoon hoe die geesteswêreld met die natuurlike saamhang; mens sou daarom gevolglik kan sê: Om vanuit die verskyningsvorme tot die kern van die saak te kan kom, is dit byna onnodig om nog iets verder hieraan toe te voeg, omdat dit juis in die loop van die hele verhaal voldoende tot in alle besonderhede toegelig was.

2 Maar Ek sê: Van die goeie het `n mens nooit te veel nie, wel van die slegte; want baie van die goeie kan dikwels die slegte nie goedmaak nie; maar `n bietjie van die slegte kan dikwels die goeie bederf!

3 Daarom sal ons die onderhawige onderwerp nog met `n paar aanskoulike voorbeelde so duidelik as moontlik toelig.

4 Kyk net na `n boom. Sy wese, soos dit hom voordoen, skets vir julle die hele wese van die geesteswêreld in sy verhouding tot die natuurlike wêreld in die ooreenstemmende verskyningsvorm.

5 Die inwendige van die boom, die kern dus, is die hemelse; die stam, die takke en die latte is die eintlike geesteryk, wat sy lewe van die inwendige kern ontvang. Op die hout van die stam sien julle die bas, wat die sigbare buitekant van die boom is. Die bas op sigself is dood, maar onder die uiterlike, dooie bas is nog `n ander bas, wat julle "die lewende" noem. Die is te vergelyk met die verbindingstoestand, waar die geestelike in die materiële oorgaan.

6 Laat ons die werking van hierdie bas net bekyk. Uit haar kom dan eerste die buitenste, dooie bas voort en verder kom uit hierdie lewende bas al die verganklike geblaarte voort, net soos die uiterlike vorm van die bloeisel en ten slotte selfs die uiterlike skil van die vrug.

7 Al hierdie produkte is egter nie blywend nie; mettertyd as hulle hulle diens gedoen het, val hulle af.

8 Kyk, so is dit met die wêreld gesteld en alles wat daarby hoort. Dit alles lyk soos die uiterlike bas, die blare en die bloeisels, maar ten slotte ook soos die vrugte van die boom. Hulle val af, maar die boom bly en dra in sy innerlike lewe veelvoudig die uiterlike beeld van die sigbare en verganklike. Hoe kan mens nou vanuit die sigbare tot die innerlike, ware kern kom? Ek sê: Op die maklikste manier van die wêreld. Julle hoef julle slegs die sigbare oneindige veelvoudige en tewens gesamentlike doelmatige werkende voor te stel, dan het julle die kern van die geestelike al voor julle.

9 Die eg wesenlike word dus duidelik as julle die jarelange vegetatiewe aktiwiteite van `n boom bekyk. Dit bestaan uit niks anders nie as `n konstante vermeerdering en `n voortdurend in krag toenemende lewe.

10 Baie eenvoudig word dit in één enkele klein saadkorrel in die aarde geplaas. Hoeveel lewenskrag daar oorspronklik in hierdie saadkorrel lê, byvoorbeeld in `n akker, kan elkeen uitprobeer deur een in sy hande te neem en daarmee te speel soos met `n donsveertjie.

11 Wanneer hierdie nietige akker egter in die aarde geplaas word, begin die vegetatiewe lewe homself daarin te ontwikkel. Eers sien ons `n jong eikeboom met hoogstens twee blare. In die eerste stadium is dit vegetatiewe lewe van die eik in wording nog swak. Hy oortref nouliks tienmaal die gewig van die oorspronklike gladde eikel. Maar bekyk ons hom so 'n dertig jaar later, dan het hy reeds so 'n magtige vegetatiewe lewenskrag verwerf dat julle selfs met die reusagtige krag van verskeie perde nie in staat sal wees om hom uit die grond te trek nie. Maar bekyk hom net as hy die leeftyd van honderd jaar bereik het. Wat `n reusagtige, majestueuse boom en wat `n alle storms trotserende krag lê daar nie in hom nie! Hoeveel duisendvoudig het hierdie honderdjarige eik sy oorspronklike, minimale, vegetatiewe lewe in gelyksoortige akkers gereproduseer en hoe oordadig het hy met sy afval en dus in `n sekere sin met sy oortollige vegetatiewe lewenskrag die aarde om hom heen bemes en dit tot konstante vermeerdering van sy eie lewenskrag aangesit!

12 In kort, so 'n boom het `n wêreld vol lewe geword. En dit alles het uit één enkele nietige akker tevoorskyn gekom.

13 Kyk, so het daar oorspronklik slegs één vonkie lewenskrag van My uitgegaan, toegerus met die vermoë om hom as lewenskrag tot in die oneindige te ontwikkel. En hierdie verskyningsvorme van die boom dien nou juis daarvoor om aan elkeen `n duidelike insig te verskaf. 

14 Ons sê al hiervoor: Uit die lewende bas kom die sigbare geblaarte, die bloeisels en selfs die omhulsel van die vrug voort. In die vrug self kry die kiem van die pit slegs `n baie klein vonkie van die algehele lewe uit die kern van die boom. Die kern word tesame met die vrug ryp en stel die mens in sy aardse verskyningsvorm voor. Hoogs eenvoudig en niksseggend is sy uiterlike vorm en gering is sy krag. Maar hy is te vergelyk met `n akker. Wanneer hy in die goeie grond van My wil geplaas word, gaan sy innerlike kiem oop en dit word ten slotte selfs `n majestueuse boom, wie se krag die krag van tallose vroeëre akkers oortref.

15 En kyk, so het elke mens die kiem van sy geestelike toestand, wat die eintlike geesteswêreld is, reeds in hom. Hy is op hierdie aarde `n lewensvonkie wat hom moet ontwikkel tot `n lewenson. Uit sy atoomgrote lewenskiem moet `n reusagtige, kragtige lewens­boom groei. En so is dit!

16 Soos één akker tallose baie woude vol reusagtige bome, wat hulle almal uit die een kern kan ontwikkel, in homself dra, so dra ook die mens in sy so nietig skynende lewe op hierdie aarde, `n oneindige krag en die moontlikheid om dit verder te versterk in homself.

17 Maar in die evangelie sê hy wat sy talent begrawe het: "Ek weet dat U `n streng Heer is en wil oes, terwyl u nie gesaai het nie. Waar u één insit, daar wil u duisend wen. Daarom begrawe ek dit en wil dit vir U teruggee soos wat U dit my gegee het ".

18 Daarop sê die Heer van die talente egter: "Hé, jou slegte kneg! As jy geweet het dat ek `n onregverdige man is en wil oes terwyl ek nie gesaai het nie, waarom bring jy die talent dan nie na `n wisselaar, wat my woekerrente daarop sou gegee het nie?"

19 Kyk, uit hierdie teks blyk baie duidelik, dat Ek die lewe in die kleins moontlike hoeveelhede uit My uitstrooi in die eindelose gebiede van My alomheersende Wese, om uit elkeen van hierdie kleinste lewenshoeveelhede, `n uitermatige vergrote lewensmassa terug te ontvang.

20 Dit is die ware, mees innerlike wese van al die geestelike lewe. Maar is Ek werklik `n harde, selfsugtige, onregverdige lewens­woekeraar? O nee, want buite My is daar immers nêrens lewe nie en wel om die eenvoudige rede dat daar nêrens `n "buite My" bestaan nie! Ek is ewig die voedingsbron vir alle lewe!

21 Wat sou daar wel van die lewe word, as hierdie oerbron, met verloop van die tye, van alle lewe uitgeput sou raak? Kyk, dan sou alle lewe in die oneindige vervlug en ten slotte sal daar niks anders oorbly as `n ewige leë, duister, dooie oneindigheid nie!

22 Wanneer Ek as oervoedingsbron egter van al die lewe Myself elke oomblik, tot in die oneindige in Myself terugkerend, onophoudelik kragtiger en sterker maak, dan sal daardeur die lewe van alle afsonderlike deeltjies, wat hulle in julle geskape mense kenbaar maak, tog ook in gelyke mate oneindig vermeerder, gevoed en gesterk word.

23 Hoe sterker die Vader, des te sterker ook Sy kinders. Uit die mier kom wel eendagsvlieë, maar geen adelaars en leeus voort nie. Oral bring die swakke weer iets swak en die sterke iets sterk voort. Soos wat die swakke dus nooit iets sterk voortbring nie, so bring die sterke ook nooit iets swak voort nie. `n Adelaar is nooit die verwekker van `n vreesagtige duif nie en `n haas kan hom nooit daarop beroem dat die leeu sy verwekker sou wees nie.

24 As julle nou kinders van `n almagtige Vader is en die lewenskiem van die Vader in julle dra, versterk hierdie kiem dan in die goeie aarde van My wil en maak die Vader in julle sterk; dan word julle daardeur ook in dieselfde mate sterk in die Vader. Want die Vader verlang julle sterkte nie vir Homself nie, maar Hy verlang dit vir julle, sodat ook julle so volmaak mag word, soos Hyself in Hom oftewel in die hemel volmaak is.

25 Kyk, die beeld laat sien hoe julle vanuit die uiterlike verskyningsvorm tot die innerlike kern van die lewe kan kom. Hierna volg `n ander beeld vir dieselfde doel!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205