Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die kern van die voorwaardes - kan jy God liefhê?

17 Ons kandidaat vir die kindskap het nou alles gelees wat daar in die vlam geskrywe staan en rig sy blik weer op die oudste. Sy vraag is maklik te raai; jy het haar al in jou. Jy hoef haar slegs tevoorskyn te bring en ons sal ons kandidaat vir die kindskap weldra hoor spreek soos julle dit vooraf in julleself ervaar het.

2 Die voorwaardes is swaar en ons kandidaat vir die kindskap huiwer daarvan. Daarom vra hy die oudste dan ook die volgende: Ek het die eise van God in die vuur van Sy ywer gelees. Ek kan ook daaruit die voordeel van die lewe en die groot nadeel van `n hoër lewe aflei, en daarom dink ek dan ook dat dit verstandiger is om dit te bly wat mens op hierdie lae trap is, as om hom omhoog te werk tot die byna onbereikbare.

3 Dit is vir iemand soos ons tog eintlik ondenkbaar om hom soos `n god in `n kind van God te voel; ja, dit moet iets onbegrypliks verhewe wees om met één blik tot die oneindige dieptes van die goddelike mag en wysheid deur te dring. Ja, dit moet eg onuit­spreeklik salig wees om met die ewige, almagtige Skepper van alle ewigheid en oneindigheid in `n steeds sigbare, allervriendelikste verhouding te staan en in God die Heer `n medeheer van die gehele oneindigheid te wees. Maar die voorwaardes om die grootheid te bereik is huiweringwekkend swaar en so gesteld dat daar sekerlik uit baie duisende, nouliks één die hoë doel van sy onderneming sal kan bereik.

4 Daarom het ek goed daaroor nagedink en sal ek heeltemal van hierdie onderneming afsien. Wie dit egter in my plek wil waag, sal ek niks in die weg lê nie, maar ek sal hom meedeel wat ek in die vuur gelees het.

5 Die voormalige kandidaat vir die kindskap het sy oorweging beëindig en die oudste haal nou net die antwoord uit ons, wat beteken dat hy gaan sê wat reeds ín ons uitgespreek is.

6 Julle kan dit weliswaar nog nie duidelik in julleself verneem nie, maar in die ordening van die Heer is dit nou eenmaal so ingerig dat die spraak van `n mens `n produk is van alles wat daar in die diepte van sy lewe verborge lê. En wanneer `n mens spreek, dan word hy in `n sekere sin daartoe genoodsaak deur `n innerlike aansporing wat voortkom uit alles wat ooreenstem met dit wat daar in die diepte van sy lewe verborge lê.

7 Aangesien ons dit nou uit onsself gehaal het, sal ons dan nou ook hoor wat die oudste sê. Luister, die volgende klanke stroom uit sy mond en die betekenis daarvan lui as volg:

8 My seun, jy het die groot waarheid in die vlam van die goddelike ywer gelees. Alles is waar, op één puntjie na, want geen teken kom net verniet uit die laaiende vlam tevoorskyn nie. Maar één teken wat in die middel in die vlam bokant die inwendige gloed verborge lê, het jy nie gesien nie.

9 Kyk, wanneer jy die teken aan al die gelesene toevoeg, dan sal alles in `n ander lig aan jou getoon word.

10 Dit was naamlik die teken wat jy oor die hoof gesien het: In die middel van die gloed is daar, van alle kante deur die lewendige vlam omgewe, `n hart. En die hart vlam en die vlamme uit die hart vorm nou juis die tekens wat jy gelees het. Lees jy hierdie tekens op sigself, dan is dit huiweringwekkend, ja die aller huiwering­wekkendste, maar lees jy dit vanuit die hart, dan is dit vol van die saligste verwagtinge. Op sigself is dit `n oordeel van waaruit nêrens `n uitweg na `n beter lewe te ontdek is nie, maar vanuit die hart, is dit `n erbarming van God, waarin iemand wat hom eenmaal in die hart bevind, ewig nooit verlore kan gaan nie.

11 Sien jy, my seun, dit kom heeltemal daarop neer of jy God kan liefhê of nie. Kan jy God in alle deemoed van jou hart liefhê, dan bevind jy jou in die hart; kan jy God egter nie liefhê nie, dan is jy nie in die hart nie, maar in die oordeel. Dan is dit beter dat jy hier salig in `n klein oordeel bly, as wat jy die kindskap van God sou wil nastrewe, om daardeur in die groot oordeel te beland waaruit, volgens die tekens in die vlam, moeilik ooit `n uitweg te vinde sal wees.

12 So ontwikkel die dinge hom na volle waarheid. Waarlik, ons weet uit die mond van God se engele, dat God aan geen wêreld soveel genade, erbarming en liefde getoon en bewys het as juis aan diegene, waar Hy vir Homself kinders verwek en opvoed nie. Hy het dit daar so ingerig dat Hyself as mens aan hulle gelyk geword het, vir Sy kinders alle moontlike laste gedra en uit oneindige groot vaderliefde vir hulle, selfs deur die hande van Sy eie kinders, vir `n kort tydjie, wat Sy menslike liggaamlikheid betref, gedood was.

13 Sien jy, my seun, dit is goed aan ons almal bekend en dit is waar. Maar dit is ook waar dat die Heer ons God, daar waar Hy uit Sy goddelike volheid die meeste vir Sy skepsele gewerk het, ook die hoogste eise aan hulle handelinge volgens Sy ordening sal stel. Nou weet jy alles wat nodig is om binne te gaan in die ryk van die kindskap van God.

14 Daarom mag jy nou doen wat jy goeddink. Wil jy op die voorwaardes ingaan, dan moet jy dit in jou hart doen. Dan sal jy nie verlore gaan nie, want ons weet ook dat die Heer eerder `n hele skepping sou vernietig as wat Hy één kind heeltemal verlore sou laat gaan!

15 Wanneer jy dus in die hart is, dan sal die Heer soos `n allerwaaragtigste Vader vir jou sorg. Wil jy egter die voorwaardes sonder die hart aanvaar, dan sal jy geen stand kan hou onder die las van die groot beproewinge van God nie. Vir hulle wat in Sy hart is, het Hy geen wet gegee behalwe die een, dat hulle Hom steeds meer moet liefhê nie.

16 Maar hulle wat buite die hart is, is heeltemal ingeslote deur wette wat moeilik is om na te lewe, terwyl die oortreding van `n enkele een al op dieselfde oomblik `n dodelike oordeel met hom saambring, waardeur dit nog moeiliker word om die groot hoeveelheid ander wette na te lewe. Hieruit kan jy nou ongetwyfeld aflei wat daar vereis word om die kindskap van God te verkry. Handel dan ook daarvolgens, want jy is vry.

17 Laat ons nou maar weer aandag aan ons kandidaat bestee. Kyk, hy dink baie ernstig oor hierdie saak na en sê dan vir die oudste: Luister, vader van die huis, daar het `n gedagte in my opgekom en dit lui as volg: As ek nou die ernstige besluit neem om geen kind van die Heer te word nie, maar slegs die geringste dienaar van die geringste van Sy kinders, om op hierdie manier die almagtige Heer in die geheim uit liefde eenmaal tot op gesigs­afstand te kan nader, dan dink ek dat so-iets tog nie verkeerd kan wees nie. Maar sal die Heer in die ander wêreld wel my voorneme in gedagte hou en my in `n situasie plaas waarin ek my doel sou kan bereik? As dit die geval is, dan wil ek my hand op die altaar lê.

18 Die oudste sê: Daarvan kan jy volkome seker wees, want die beweegredes waarom iemand tot die kindskap van die Heer wil raak, is juis dieselfde wat die Heer gebruik om hom in die ander wêreld dit te laat word waardeur hy sy wesenlike lewensdoel kan bereik. Wil jy die geringste wees, dan sal die Heer jou op Sy hande dra. Wie egter die grootste wil wees, sal die Heer nie as leidsman hê nie, maar die Heer sal agter hom aanloop en sy doen en late gadeslaan. En as hy te groot wil wees, by `n afgrond sal kom en nie vrywillig wil omdraai nie, dan sal die Heer hom nie roep nie, nóg van die afgrond wegtrek, maar dit aan homself oorlaat om vrywillig om te draai as om hom wel vrywillig in die ewige afgrond te stort.

19 Jy het egter die deemoedigste beweegredes aangegryp. Hierdie beweegredes sal jou lewe en die erbarming van die Heer onherroeplik bewerkstellig en daarom kan jy getroos jou hand op die altaar lê!

20 Kyk nou, die kandidaat sê: Heer, almagtige in U liefde, genade en erbarming! Om geen ander rede as slegs uit suiwer liefde wil ek na U toe kom nie! Verlaat my daarom nie in tye van swakte nie en wees U net my krag en my sterkte. In watter gestalte ek in die nuwe wêreld ook maar sal optree, U liefde mag die enige, ewige, magtige voorbeeld vir my lewe wees, waarna ek met die verleende eie lewenskrag wat U my gegee het, sal strewe. Verberg vir my heeltemal wat ek hier was en wat ek hier het, sodat ek in my groot liefde tot U, alle nederigheid soveel makliker sal nastreef; maar laat die beweegredes altyd in my opkom, sodat ek steeds sterker mag word in my liefde vir U! En so, o Heer, gee ek my oor aan U oneindige liefde, erbarming en genade!

21 Kyk, nou lê die kandidaat sy hand op die altaar. Die magtige vlam gryp hom en op dieselfde oomblik bevind hy hom nie meer onder die bewoners van die huis nie.

22 Waarheen is hy dan? Kyk, op dié oomblik is hy reeds in die siel geplaas van `n lieflike moeder wat ontvang het, en hy sal as `n manlike kind gebore word. Dit verbaas julle wel ietwat, maar ek sê vir julle: Is dit dan minder wonderbaarlik dat die geestespartikels van julle son hom in die plante, net soos in die daaropvolgende, veelsoortige diere van julle aarde, saam met die sielsdeeltjies wat hom daarin bevind, ontwikkel tot mensesiele? Dit sien julle tog daagliks en julle verwonder julle weinig daaroor en tog is die proses veel ingewikkelder, groter en langduriger as die verhuising van `n gees. Want by die oorbring van songeeste gaan dit oor die ontwikkeling van julle liggaam en siel wat beide duisendmaal duisendvoudig saamgesteld blyk te wees. Maar hier, dit wil sê by hierdie sonwêreld, wat `n sentrale sonwêreld is, gaan dit oor die verhuising van `n kant en klaar gees, wat volgens sy grondbegin­sels in sy nuwe liggaam, niks anders te doen het as om in sy liefde één te word met die lewende siel in sy liefde vir die Heer nie.

23 En hierdie eenwording is die bereikte kindskap van die Heer, waaruit `n nuwe skepsel ontstaan tot verbasing van alle hemele. Want dit is `n skepsel uit die huwelik van die hemele met `n skepsel van die verlossing van die Heer en die skepsel is groot voor die Heer en `n kind van die ewige, heilige Vader. Kyk, dit is die ont­sluierde groot geheim van die menswording op aarde. Daarvan­daan kom julle ook. Maar nie alle mense van die aarde het hulle geestelike oorsprong daarvandaan nie, want daar is nog baie meer sulke geeste-sonne in die eindelose skeppingsruimte. Ons sal egter eers nog ietwat hierop rondkyk, voordat ons na `n ander onderwerp oorstap.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205