Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 20

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Beskrywing van nooit vermoede prag. Gelykenis van winterprag en lentewarmte

20 Daar staan ons al by die toegangspoort. Kyk maar net na die nouliks met woorde beskrewe prag van die toegangspoort self! Dit het die volle hoogte van die eerste verdieping, dus `n hoogte van ongeveer dertig klafter en `n breedte van twaalf klafter. Die sypilare van die poort is massiewe diamant pale, presies vierkantig en die vlakke van beide pilare is nog versier met drie naas mekaar geleë stroke van rooi, blou en groen helder glansende sterre. Die boog van die portaal is vervaardig uit kosbare wit sonsteen en is ook versier met mooi gerangskikte rooi, blou en groen sterre. Bokant die portaal, dit wil sê bokant die boog daarvan, is daar nog `n massiewe rooi-goue borswering en bo-op die leuning van die borswering is op gelyke afstand, rond balle van die allerfynste en kosbaarste wit sonsteen geplaas, wat `n buitengewone mooi wit lig uitstraal. Die poortdeure is vervaardig van kunstig oopgewerkte, fyn goud en is met kruisbande van wit goud oorgetrek, waarin alle moontlike soorte allersuiwerste en mooi geslypte edelstene besonder sierlik ingelê is.

2 Dit is nog maar net die poort. Daarna kom ons in die wondermooi voorportaal, wat aan beide kante met drievoudige galerye van suiwer wit pilare versier is. Die gange van die galerye het borswerings wat uit robyne en diamante bestaan. Kyk net na die vloer van die onderste gelykvloerse galery. Dit is `n egte mosaïek­vloer, waarin julle die mooiste festoen (versier met loofwerk) van helder stralende blomme ingelê sien. Die kleure van die blomme in die festoen wissel by elke wending en glinster soos in `n kunstig vervaardigde reënboog, dit wil sê as dit vir die mens moontlik sou wees om die reënboog te vervang deur `n veelkleurige blommeboog, waarin die blomme steeds so van kleur sou verander soos `n goed geslypte diamant in die strale van die son.

3 Wel, wat sê julle van hierdie onmeetlike prag? Is die nie meer as wat `n menslike gees op één slag kan verdra nie?

4 Maar laat ons nou die sentrale ruimte van die gebou binnegaan vanwaar `n stroom lig ons reeds tegemoet kom. Kyk, dit is `n baie groot ronde saal. Die vloer is asuurblou en is heeltemal ingelê met die welbekende sterrebeelde van julle sigbare hemel, wat aan julle bekend is. Die sterre straal egter baie sterker as dié wat julle snags vanaf julle aarde sien. Die wande van hierdie ronde saal bestaan ook uit drie bo-op mekaar geplaasde magtige pilaarrye. Die onderste ry bestaan uit suiwer robyne, die middelste uit suiwer smarag en die boonste uit die mees suiwerste hiasint. Die pilare van elke ry is onderling verbonde deur wit boë waarbo pragtige galerye van deursigtige goud aangebring is.

5 Agter die pilaarrye sien julle `n vlak wand, dit is uitgevoer in `n liggewende sagte roosrooi steen. In die muur is daar na verhouding groot vensters en deure wat uitkom op die pragtige galerye.

6 Maar rig julle blik nou nog hoër na die plafon van hierdie saal! Kyk, dit is niks anders as die wondermooi groot koepel wat ons al van buite af soos `n geweldige keiserskroon aanskou het en wat met die pragtigste liggewende edelstene van hierdie sentraalson beset is. Hierdie edelstene versprei `n fantastiese lig binne-in die ronde saal.

7 Wat staan egter daar in die middel van die saal? Kyk, dit is alweer `n altaar en wel uit één brok robyn, waarin die mooiste sirkels wit vonkelende sterre ingelê is. Op die altaar sien ons weer dwars oor mekaar gelegde hout. Ons hoef nie lank te vra waarvoor dit dien nie, maar slegs ons vroeëre paleis terug in herinnering te roep en die antwoord is alreeds daar.

8 Maar nou sien ek iets in julle en dit is die volgende: Onuit­spreeklik verkwistend is die eindelose ryk prag van die paleis. Waarlik, as daar op aarde so iets verwesenlik sou kan word, dan sou selfs die grootste keisers en konings hulle al te gering voel om heer te wees van so 'n eindelose prag. Hulle sou so 'n paleis vol eerbied tot `n algemene tempel van die Heer wy. Ja, hierdie eindelose prag is werklik selfs vir die stoutmoedigste gees volkome onverdraaglik om te aanskou.

9 Maar by hierdie prag mis ons tog alweer die vernaamste, naamlik die mense. Sonder hulle is die grootste prag dood en kan ons geen innerlike welgevalle daaraan hê nie. Ons kan wel sê: Oneindig groot is die wonderbaarlike mag en wysheid van die Heer wat alleen sulke heerlikhede kan maak. As ons egter sonder broeders of susters daarin lewe, dan sou die eenvoudigste hutjie op aarde met broeders en susters vir ons onuitspreeklik baie kosbaarder wees.

10 Ja my liewe broeders en vriende, julle oordeel weliswaar volgens `n goeie en korrekte gevoel, maar weet julle hoe dit gebeur dat julle altyd eerder die woninge van die mense sien, as die mense in die woninge self?

11 Kyk, dit gebeur deurdat julle, as natuurlike mense, vir ruim tweederdes meer geheg is aan die materie as aan die inwendige geestelike. Maar hierdie materie is dood, omdat dit in `n oordeel is, en bedoel om verder ontwikkel te word. Daarom sien julle vanuit julle natuurlike sfeer dan ook dit wat met haar verwant is.

12 Wil julle die lewende sien, dan moet julle die tweederdes deurbreek en weer na die sentrum van die liefde teruggryp, waar die lewe tuis is. Dan sal die hout op die altaar begin brand en ons sal ons dadelik daarvan kan oortuig die sale en vertrekke van die groot paleis nie so sonder lewe is as wat julle by die eerste natuurlike aanblik toeskyn nie.

13 Julle vra nou waarom die aansteek van die hout op die altaar dan altyd hier nodig is om die mense te kan sien wat so 'n paleis bewoon? 

14 Ek sê vir julle: Om die rede hiervan in te sien, is daar al baie voorbeelde op aarde. Ek sal julle slegs enkeles daarvan laat sien, en dan sal julle dadelik wyser word.

15 Kyk net na die groot prag van een winterdag en ook van `n helder wintersnag. Die wye oppervlak van die aarde is oordek met tallose diamante wat by die lig van die son soos tallose sterre vonkel en die oog van die toeskouer byna deur die oordadige ligglans verblind. Die takke van die bome is met suiwer diamantkristalle beset en in die helder nag vonkel die sterre oorvloedig en pragtig glansend aan die hemel. Maar wanneer julle die, met tallose glinsterende diamante oordekte, wye vlaktes oorsien, dan lyk hulle dood, want die lewe soek warm vertrekke en skep geen genoegdoening in hierdie koue verstarde prag nie. As die strale van die son in die voorjaar egter nie net lig nie, maar ook warmte begin te gee, dan vergaan die groot prag van die aarde; maar in plaas daarvan ontstaan vanuit die binnenste vertrekke lewe wat hom teen die koue prag teruggetrek het. Die lewe verteer die winterprag en vorm haar om tot iets baie mooier.

16 Julle hoef niks anders aan die voorbeeld toe te voeg as dat die warmte gelyk is aan die lewegewende liefde en dat die warmte voortkom uit die middel van die son nie. Daarom sal julle baie goed begryp waarom die hout hier op die altaar eers deur julle liefde aangesteek moet word, voordat julle die lewende bewoners van hierdie prag sal kan sien. 

17 Aan `n tweede voorbeeld kan julle nog beter sien hoe dit by twee mense op aarde werk. Neem byvoorbeeld `n paleis wat bewoon word deur `n vrek wat mense baie verag. Gaan daarheen en julle sal nie eens baie vlieë rondom die paleis sien rondswerm nie, laat staan nog mense. Waarom lyk dit dan so leeg daar? Omdat daar geen liefde in die huis heers nie.

18 Maar gaan na `n ander een, ook `n werklike mooi huis wat bewoon word deur `n welgestelde groot mensevriend. Kyk, daar wemel dit van die mense, oud, jonk, groot en klein. Die bome word bevolk deur die voëltjies, die dakke van die huis deur die duiwe en die erf deur pluimvee en ander nuttige mak huisdiere. Ook vir die vlieë is hier altyd ietwat te snoep en alles wat julle sien is vrolik en opgewek. Ja, waarom is dit dan so lewendig hier? Omdat die liefde in die huis woon! Die warmte van die liefde is tot op `n ver afstand voelbaar en trek alles na haar toe. 

19 Ek dink dat julle uit hierdie twee voorbeelde nog makliker kan aflei waarom ons die hout nou juis hier moet aansteek voordat die lewe van die paleis hom om ons heen sal gaan versamel. Omvat julle dus die Heer en alles wat uit Hom voortgekom het met julle liefde, en dan sal die hout begin brand en sal ons baie gou omring word deur die duisende mense wat die pragtige woonoord altyd bewoon.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205