Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die liefde sit die hout op die altaar in vlamme

21 Julle het gedoen wat ek julle aangeraai het en kyk, `n pragtige vlam, stralend soos die môrerooi, ontsteek reeds die hout op die altaar en `n onbeskryflike heerlike geur vervul die besonder mooi sale en galerye van die groot paleis.

2 Maar kyk nou ook net omhoog na die galerye, waar dit begin te wemel van die mense; almal haas hulle na benede na die groot ronde saal.

3 Kyk net hoe onbeskryflik mooi hierdie mense is! Die vrouens lyk asof hulle uit die fynste eteriese ligmaterie gevorm is en die manne lyk soos vurige vlamme, wat hulle tot `n wondermooi, vriendelike ernstige, majestueuse mensevorm saamgevoeg het.

4 Kyk, nou kom daar alweer `n oudste uit die groot pragtige mense­menigte na vore, wat `n soort heerserstaf in sy hand hou. Sy hare is so wit soos vars gevalle, deur die son beskynde sneeu en hang in weelderige lokke tot halfpad op sy rug. Sy net so wit baard kartel tot oor sy onderliggaam; sy grootte is waardig verhewe ten opsigte van die grootte van die ander mense. Volgens julle aardse maatstaf sou hy wel sewe voet lank kan wees.

5 Julle sou wel wil weet waarom hy `n staf in sy hand hou. Is hy miskien `n heerser of `n ander verhewe persoonlikheid ten opsigte van sy medemens? Ek sê vir julle; hy is slegs die oudste en het die aansien van `n patriarg. Onder sy gesag staan ongeveer duisend sulke paleise, soos wat ons al voorheen een gesien het en hy is dus ook `n toonbeeld van wysheid.

6 Wanneer die mense van die ondergeskikte wonings een of ander belangrike advies nodig het, kom hulle na hom toe, maar hy stuur byvoorbeeld nooit bodes uit om ondergeskiktes in een of ander vak van die wysheid te onderrig nie. Want hier geld slegs die beginsel van volkome vryheid en dit mag nooit eiemagtig, nóg deur woord, nóg deur daad in gevaar gestel word nie. Daarom kan die bewoners hier van die ander, ten opsigte van die hoofpaleis ondergeskikte paleise, onderling doen wat hulle wil.

7 Niemand moet dit waag om die wye territorium van die paleis met vyandige bedoelinge te betree nie. Sou dit gebeur, dan sou daar onmiddellik, deur die wil van die patriarg, sy magtige staf ook flink in beweging geplaas word. Maar so iets is nouliks op hierdie sentraal sonnewêreld denkbaar, alhoewel dit tog nie heeltemal onmoontlik is nie. Want ten eerste het elke ondergeskikte huis ook alle moontlike rykdomme, prag en velerlei soorte skatte en bowen­dien het elke huis afsonderlik altyd `n wyse oudste, soos julle al een leer ken het. Sodoende is daar nouliks sprake van vyandig­heid.

8 Daar is slegs één aanleiding voorhande wat soms ietwat dreigend lyk, en dit is die magtige liefde vir vroue, wat die bewoners van hierdie sentraal sonnewêreld het.

9 Die vroue van so 'n hoofpaleis is, soos julle sien, in menige opsig baie mooier as die van die ondergeskikte paleise. Dit is enigsins vergelykbaar met die situasie by julle op aarde, waar die meer ontwikkelde vroue van goeie huise, net soos van `n heeltemal beter stad, ook mooier en aantrekliker lyk as die van die platteland, wat laaste, vanselfsprekend deur `n meer geringe geestelike ontwik­keling en deur die veelvuldige bekommernisse oor hulle bekoor­likhede, deur die swaar handearbeid, minder aantreklik is. Wanneer `n stoere boereseun daar by julle by so 'n ryk, deftige en goed ontwikkelde familie in die stad `n vrou sou mag uitsoek, dan sou hy sy plattelandsvrouens sekerlik laat staan. Die rede waarom is kristalhelder.

10 `n Soortgelyke geval kan hom dan ook hier voordoen en byna nog makliker as op aarde. Wanneer jongmanne ten gevolge van hulle vryheid so nou en dan so 'n hoofpaleis besoek en die eteries vroulike skoonhede dikwels te siene kry, dan begin dit by hulle geweldig begerig te kriewel en hulle sou dan alles op die spel plaas om in die besit van so 'n onuitspreeklike skoonheid te kom. Dit is egter die vraag of hulle dit op `n regmatige manier kan bereik. Ook dit kan, net soos ook die op aarde, nie dikwels die geval wees nie.

11 Maar hoe kan die seun van `n sogenaamde gewone boer op aarde in die besit kom van `n voortreflike dogter uit `n vername familie uit die stad? Deur geestelike ywer! So 'n boereseun deurloop baie vlytig die wetenskaplike weg en vestig dan deur sy eminente kapasiteite die aandag van iemand van die stadsbestuur op hom. Hy maak van hom `n hooggeplaaste beampte en ons vroeëre boereseun kan nou as `n heer van aansien met `n volkome geruste gewete by so 'n vername familie aanklop en mens sal hom nie voor `n toe deur laat staan nie. Dit is één weg.

12 `n Ander boereseun word in sorgwekkende tye vir die militêre diens opgeroep, watter diens hom tot die ryk van die hemele weliswaar teenstrydig en onvoordelig voordoen, maar wanneer `n algemene noodtoestand dit vereis, kan dit ook geregverdig wees soos ten tye van Dawid.

13 Wanneer so 'n in die militêre diens opgeneemde boereseun dan as verdediger van die vaderland uitblink deur dapperheid en takt, dan word hy selfs binne `n kort tydjie deur sy koning of keiser tot die rang van veldheer bevorder. In die hoedanigheid mag hy dan by die huise van grawe en vorste aanklop en mens sal die gunsteling van die keiser, wat van geboorte niks anders was as `n eenvoudige boereseun, met ope arms ontvang.

14 Kyk, hier gaan dit byna op dieselfde manier. Langs die weg van eenvoudig verlange val daar weliswaar niks te bereik nie, maar langs die weg van die verdienste, verwerf deur `n sekere graad van hoë wysheid, kan elke mens uit die laere klasse in die besit kom van so 'n eteriese, vroulike paleis-skoonheid.

15 Waaruit bestaan hierdie verdienste egter? Julle hoef die prag van die geboue maar ietwat van naderby beskou, dan sal julle tog baie maklik tot die volgende gevolgtrekking kom; as hierdie geboue deur mensehande opgetrek was, dan moet die mense buiten­gewone groot meesters wees in die boukunde, net soos in allerlei handvaardighede. Ja, so is dit ook. Wat julle hier ook maar sien en aantref, is alles die werk van mensehande en omdat hulle op hierdie hemelliggaam edele materiale in groot oorvloed besit, doen hulle dan ook al die moontlike om hulle woonplekke so wondermooi te maak soos wat maar moontlik is.

16 Wanneer iemand vanuit sy wysheid iets belangriks bedink en uitgevoer het, dit dan voorlê aan die raad van oudstes van `n hoof­paleis, en sy werk word daar besonder gewaardeer, dan verleen mens hom die meesterskap in sy vak. Het hy met sy talent bowendien ook nog iets bygedra tot die prag van die hoofpaleis, dan mag hy ook met `n geruste gewete by die hoofpaleis aanklop en kry hy die vrou wat hom aanstaan.

17 Dit is dan ook die grootste beloning wat so 'n wysheidsmeester in sy vak kan verkry. Hy verlang dan ook geen groter een nie, en ek is van mening, vir sover ek julle ken, dat julle `n hele keiserryk vir so 'n beloning sou gee. Aan so 'n gelukkige wysheidsmeester in sy vak, word dan ook as gevolg van so `n beloning, buitengewone voordele toegeken. In die eerste plek kry hy `n eie stuk grond, wat vir `n bepaalde territorium slegs die oudste van die hoofpaleis kan toekom. Op hierdie nuwe grond kan hy dan na eie smaak `n nuwe paleis bou.

18 Maar hoe kom hy aan bouers? Niks is so maklik nie, want iedereen gaan na so 'n begunstigde toe en probeer hom by hom verdienstelik te maak om hom daardeur as begunstigde vriend en voorspreker in die hoofpaleis vir hom te wen, waarmee enkeles so nou en dan ook slaag.

19 Maar juis by sodanige geleenthede is daar dan ook verskeie wat vanweë allerlei redes sulke begunstiginge nie ten deel kan val nie. Die gevolg is dan wel net dat hulle ietwat verbitterd word, as gevolg waarvan enkeles, wat na geluk en begunstiging verlang, hulle saamvoeg en dikwels met geweld probeer te bereik wat ander deur hulle verdienstes bereik het. En dan het jy `n klein oorlog, wat egter vir diegene wat geweld gebruik, altyd vrugteloos bly, want die oudste van die paleis hoef hom slegs met sy staf te vertoon, of die gewelddadiges slaan al op die vlug.

20 Ja, maar waarom is die gewelddadige persone dan so bang vir die staf? Omdat die staf die simbool van die wilskrag van die wyse oudste van die paleis is. Julle het reeds die wilskrag van die mense in die son leer ken en wel in die natuurlike deel daarvan. Hierdie wilskrag het julle in haar volledige omvang ook heel in die besonder in die oudste gevind.

21 In hierdie sentraalson manifesteer die wilskrag hom egter nog sterker en die verskil tussen die van die hoofoudste en die van die gewone mens is net so merkbaar soos die verskil in grootte tussen sentraalsonne, planetêre sonne, planete en hulle mane. Vandaar dat die wilskrag van so 'n hoofpaleis-wyse by alle ander mense, wat in sy wysheids- en wilsterritorium woon, baie goed bekend is. Maar hoe die wysheid van so 'n wyse is, die sal julle dadelik tot julle groot verbasing ondervind.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205