Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 25

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Verskil tussen kinders van die son en godskinders

25 Ons oudste hef sy staf weer op en open sy mond. Wat sal hy nou wel vir sy kinders sê? Om self te hoor is die beste antwoord op hierdie vraag en dus luister ons na wat hy gaan sê. Sy woorde lui as volg:

2 My liewe kinders en kindskinders, julle het julle versamel rondom die altaar waarop God se vlam nog brand. Julle het die Almagtige `n waardige lofprysing gebring. Daarom spreek God se Gees uit die vlam tot ons: 

3 Vir die grotes is Ek groot, vir die kleinste is Ek klein, vir die sterke is Ek sterk en vir die swakke is Ek swak; maar in hierdie swakte rus `n geheime krag wat magtiger is as die krag van die grotes. Wie barmhartig is, vir hom is Ek ook barmhartig; wie goed doen, sal Ek goed ontmoet. Vir `n heer is Ek `n Heer, maar vir `n dienaar `n kneg. Die wyse wil eerder geen gebruik van My lig maak nie, maar vir die eenvoudige sal alle gebiede van My goddelike oorvloed oopstaan. Wie vervul is van sy verstand, vir hom woon Ek in die ontoeganklike lig; maar met diegene wat deur die wêreld en haar glans as dwase aangemerk word, sal Ek omgaan soos `n broeder. Die kinders van die son besit groot mag; hulle asem is sterker as die hewigste storm op die klein aarde en vir hulle gedagtes buig hulle wêreld en dryf nuwe vlamme uit haar uitgestrekte bodem. Maar hulle wat My kinders is en wil wees, moet swak wees en hulle swakte moet eers `n krag word in My. Die kinders van die son aanbid My graag in hulle lig, maar My kinders aanbid My in hulle vuur. Die kinders van die son is wat hulle is; maar My kinders mag nie bly wat hulle is nie, maar hulle moet verteer word, sodat hulle in hulle vernietiging eers word wat hulle moet wees.

4 Wat wil julle hê, kinders van die son? Julle het julle ruim afgemete deel; wil julle meer hê, dan word julle ook meer gegee, wil julle `n groter saligheid hê, hoe kan julle dan meer verlang as dit wat julle volgens julle insig en wil ten deel geval het? Wil julle egter My kinders word, dan moet julle nie wil vergaar nie, maar slegs alles wil verloor. Want soos wat julle lot, as kinders van die son, een is waarby julle julleself kan versier met ewig groeiende skatte en rykdomme, so is die lot van My kinders daarenteen om steeds armer te word, en dit gaan sover dat hulle nie eens meer hulle eie lewe as hulle eie mag beskou nie. Ook moet hulle steeds bereid wees om hulle liefde, wat die grondslag van hulle lewe is, aan tallose broeders te wy.

5 Wat julle besit, is vir julle gegee as `n ewige onbeperkte eiendom, maar My kinders mag niks besit nie, nie eens vir `n eie ete sorg nie. Alles wat hulle nodig het, mag hulle slegs en slegs by My in My huis tot hulle neem. Julle is in julle wêreld magtige here, maar My kinders moet arme knegte wees; hulle moet werk met hulle hande. Wanneer hulle met hulle werke iets verwerf het, dan mag hulle dit nie as hulle eiendom behou nie, maar moet dit dadelik na My huis bring, waar Ek dan eers aan elkeen gee wat hy ooreenkomstig sy liefde regtig nodig het. Julle woon in paleise wat aan prag en praal, alles wat `n mens homself maar kan voorstel oortref, maar My kinders moet in hutte woon wat so eenvoudig en sober lyk dat julle daarvan sou gru. My kinders is desondanks My kinders en is altyd by My en handel altyd volgens My wil, wat eindeloos magtig is voor die magtiges, maar ook eindeloos sagmoedig vir die kleinste en swakkes.

6 Wil julle My kinders word, dan moet julle dit in gedagte hou en alle voordele van julle lewe vir goed laat vaar. Selfs julle lewe, met sy hoogste helder bewussyn, moet vir My opgeoffer word; julle mag niks anders behou as julle totaal leeggemaakte wese nie. Want so, soos julle is, is julle weliswaar ook houers van die lewe wat uitgaan van My lig, maar as My kinders, moet julle tot woonplek van My eie ewige Gees word. En dit kan nie woon in die vlugtigheid van julle lig nie, maar slegs in groot vastheid wat gedug genoeg is om die almagtige vuur van My eie ewige liefdeslewe te weerstaan.

7 Julle versier `n magtige staf van wilskrag en as julle hom ophef, dan bewe julle groot wêreld onder die groot dwingende mag van julle wil, maar My kinders moet `n swaar dwarsbalk op hulle skouers laai, wat hulle ter aarde druk en hulle die dood bring waaroor julle klein wêreld geweldig jubel. Eers uit hierdie dood kan hulle verrys, aan My gelyk word, en dan doen wat Ek doen, egter nie om te heers, soos julle nie, maar om almal te dien met die grootste liefde en sagmoedigheid en in volledige oorgawe aan My wil. Dink julle dat dit `n kleinigheid is om julle heeltemal aan My wil oor te gee? - Luister en neem dit op:

8 Om hom volkome aan My wil te onderwerp, wil meer sê as dat iemand van julle die hele oneindige skepping in sy vuis sou wil hou en daarmee speel soos met die kleinste kluitjie sand. Ja, dit beteken meer as wanneer julle na die verre uiteindes van julle wêreld sou gaan, waar die allerkragtigste vlammegloed onophou­delik in onmeetlike diep ravyne woed en iemand hom daar in die krater sou wil stort en in één teug die eindelose woedende vlammegloed sou wil opslurp. En tog moet My kinders My oneindige, ewige magtige wil tot die laaste druppel in hulleself opneem, voordat hulle volkome My kinders kan word.

9 Julle beoordeel en erken die oneindige mag van My wil; wie van julle kondig `n konfrontasie met My wil aan en sê: Heer, laat my met U stry? - Sal die kleinste vonkie hom nie dadelik vernietig, asof hy nooit bestaan het nie? Ja, die kleinste vonkie van My wil is voldoende om tallose sonwêrelde, soos hierdie hier wat julle bewoon, in die niet te laat opgaan. 

10 Wanneer julle dit egter duidelik volgens julle beoordeling insien, wat sal julle dan wel sê wanneer Ek julle vanuit My vuur te kenne gee dat dit `n opgawe en `n absolute voorwaarde is, dat My kinders hulle volkome aan My wil moet onderwerp? Om die vir julle onbeskryflike groot opgawe te volbring, moet My kinders, as hulle My kinders wil word, tydens die periode van hulle vryheidsproef voortdurend die las van My wil leer dra en moet hulle dit deur die vuur van My ywer onder baie angs en pyn heeltemal laat verteer, sodat hulle daardeur vir ewig verwant mag word aan die eindelose, ewige vuur van My wil. En selfs baie wat hierdie proef tydens hulle afsonderlike vryheidsperiode nie deurstaan het nie, moet dit hom dan na hulle omvorming laat welgeval om hom gedurende, vir julle ondenkbare lang tye in die vuur van My wil te laat reinig en daaraan met die grootste moeite te wen, voordat hulle as die allergeringstes onder My volmaakte kinders opgeneem kan word.

11 Wat wil julle nou hê? Wil julle bly of wil julle werklik My kinders word? Kyk, nog brand die klein vonkie van My wil op die altaar. Wil julle bly, bly dan, maar wil julle die kindskap bereik, plaas julle hande dan op die altaar! 

12 Kyk, so het ons oudste alles uit die vlam voorgelees. Maar wat sê die kinders nou op hierdie voorlesing? Hulle sê: Groot God, dit moet tog wel iets oneindigs wees om `n kind van U te word, maar as U wil nog heftiger is as die eindelose gloed wat ons wêreld in haar diep kraters dra, wie kan dit dan verdra en daarby in die lewe bly? Laat ons daarom bly wat ons is en laat U altyd deur ons `n offer van ons wysheid bring! Neem daarom die skrikwekkende vlam op U altaar weer terug en laat ons gaan en in vrede lewe!

13 Uit die vlam klink nou die volgende woord: So geskied dit volgens julle wil! Tog moet daar altyd hout op die altaar lê, want Ek wil die weë, waarop My groot liefde en erbarming wandel, in stand hou.

14 Weet egter dat dit vir My maklik is wat vir julle moeilik lyk, en moeilik wat vir julle maklik lyk. Julle heersende vryheid is vir julle weliswaar kosbaar, maar Ek het tog maar net welgevalle aan die eenvoud en die nuttige ondergeskikte diensbaarheid van My kinders. Want daar bestaan geen heer wat eerder `n ander heer sou wou sien as sy eie kneg nie, wat vir hom altyd `n getroue dienaar bly. Daarom gee die een heer die ander slegs die ooreengekome verpligte deel, maar die kneg word deur sy meester beloon. Maar My kinders is ook My knegte en daarom kry hulle as knegte ook My loon en as kinders My erfdeel! Hou dit altyd in gedagte; as die nuwe hout op julle altaar eens weer begin te brand, weet dan dat `n vader beter is as `n heer! - Gaan nou egter in vrede, dan sal die vlam van My wil uitdoof, sodat die van julle mag heers op julle wêreld. Ewenwel slegs tot aan die gebiede waar die vlamme van My wil vanuit die eindelose dieptes opstyg; laat niemand hom daarheen waag nie. Slegs die vrugbare bodem bly julle onderdanig maar die vuur is van My. Amen!

15 Kyk nou, die vlam op die altaar is uitgedoof. Die oudste laat sy staf sak en die hele bevolking van die paleis gaan na buite om hulle opnuut na hierdie geweldige les te versterk. - Ook ons gaan na buite en vandaar verder na `n ander plek.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205