Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 26

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Beskrywing van `n woongebied op `n son

26 Daar is ons alweer op ons welbekende, pragtige plato; kyk, dit het nog niks verander nie. Julle sou graag wil sien waar die bewoners van die paleis wat vóór ons na buite gegaan het, hulle nou ophou. Gaan maar na die rand van die plato, dan sal julle weldra sien hoe die mooi bewoners hulle vermaak, sommiges in die bekende galerye rondom, sommiges op die triomfboë bokant ons bekende trap en kyk daar, benede by die kanaal swerm al `n hele legioen rond.

2 Julle vra julle af hoe hierdie mense oral so vinnig hier gekom het. Ek sê vir julle dat so iets baie maklik hier kan wees. Ten eerste is hulle liggame veel ligter as die van julle op aarde; bowendien besit alle sonbewoners meestal `n aansienlike wilskrag waarmee hulle allerhande dinge kan volbring wat vir aardbewoners eg onmoontlik is. Hulle kan hulle dan ook met `n aansienlike groter snelheid oor hulle aardoppervlak voortbeweeg as wat julle kan begryp.

3 Hierdie eienskap is egter vir die bewoners van `n wêreld van so `n immense uitgestrektheid, ook absoluut noodsaaklik, want as hulle hulleself nie vinniger sou kan voortbeweeg as julle op aarde nie, wat sou hulle dan wel kan uitrig tydens die baie reise deur die gebiede, waarvan slegs een distrik soos die van die paleis, die oppervlak van julle aarde in grootte dikwels meervoudig oortref. Sentrale sonne onderskei hulle van die planetêre sonne deur die feit die hulle geen bewoonbare gordels het nie, maar slegs groot bewoonbare gebiede wat mens uiteindelik oases sou kan noem. Hoeveel van sodanige oases daar voorkom op `n sentrale son, waarvan die omvang volgens julle maat verskeie biljoene myle bedra, nouliks verstandelik te bepaal. Maar julle kan met sekerheid aanneem dat daar in so 'n songebied eweveel is as die aantal planetêre sonne met hulle planete, wat almal tesame tot die een sentrale son behoort.

4 Is hierdie enorm groot woongebiede, waarvan daar dus `n baie groot aantal is, onderling afgebaken of nie? Hulle is onderling baie streng afgebaken. Waardeur dan? Meestal deur eindelose uitge­strekte rye vurige kraters, hier en daar ook deur buitengewone hoë gebergtes, waarvan die toppe, as hulle vanaf julle aarde sou oprys, baie maklik die baan van julle maan sou kon versteur. Die oppervlak van hierdie bergtoppe is soms nog groter as die helfte van die oppervlak van julle aarde.

5 Dat die voete van sulke berge `n baie aansienlike omtrek en deursnee moet hê, kan julle maklik vir julleself voorstel. Nog `n derde soort begrensing van sulke woongebiede word hier en daar gevorm deur groot en breë strome, of ook buitengewone groot wêreld oseane, wat so 'n geweldige hoeveelheid water bevat dat julle aarde, as dit daarin sou val, dieselfde effek in so 'n see teweeg sou bring as wanneer julle `n pêrel in `n see van julle aarde sou werp. Dit is dan ook noodsaaklik dat daar op `n hemelliggaam, waar dit plaaslik so buitengewoon vurig te kere gaan, ook groot blusapparate aanwesig is.

6 Hier en daar ontdek mens op die hemelliggaam ook baie lang en breë ligwaterstrome. Die water van sulke strome is nie deursigtig nie en beduidend swaarder as ander, gewone deursigtige water.

7 Hierdie ligwaterstroom kan egter met niks gelyksoortig op julle aarde vergelyk word nie, omdat hulle slegs eie is aan sulke sonwêrelde. Die bewoners versamel die ligwater in bepaalde vorme, waarin dit dan weldra stol en oorgaan in die sogenaamde liggewende wit stene. In die gelyk is dit met die water byna dieselfde as met julle water op aarde, wat ook baie gou tot soutkristalle stol as dit van die totale massa afgesonder word. Maar op sigself stol die ligwater nie in sy bedding nie, omdat dit die steeds weekmakende voeding daaruit opneem.

8 Waarin mond so 'n rivier dan uit? So 'n rivier ontspring gewoonlik uit die berge wat voorsien is van baie groot vurige kraters, versamel hulle tot 'n duisende myle breë rivier en deurstroom dan `n gebied wat dikwels baie langer is as die afstand van julle aarde tot by julle son en mond dan soms uit in een of ander groot see, maar meestal in hier en daar lêende groot uitgedoofde kraters, vul dit geleidelik op en maak op die duur uit die groot en enorme diep ravyne vlak grond, wat vir julle `n onbeskryflike glans versprei. Maar mettertyd stol dit ook heeltemal en kan as vrugbare grond gebruik word.

9 Op sulke plekke word hier en daar dan ook die wit boustene uitgehou, wat liggewend is en gewoonlik gebruik word vir die boë bo-op die pilare en ook vir die stewige mure van `n gebou. Tog het die uitgehoue en dan gekapte steen nie die waarde van die steen wat regstreeks uit die rivierwater gegiet word nie, omdat dit minder lig gee as die gegote steen.

10 Dit is dus die begrensings van ons distriksgebiede. Kan hierdie grense of afbakeninge van die distriksgebiede dan nie oorskry word nie? Dit kan hier nie so maklik gebeur nie, want in die eerste plek is so 'n distriksgebied al so oneindig groot, dat miljoene maal miljoene mense buitengewoon goed versorg kan word daarin en wat ruimte betref hoogs gerieflik kan lewe. Ten tweede is daar op sy oppervlak tallose heerlikhede en veelsoortige, wonderbaarlike dinge, sodat die bewoners van so 'n distriksgebied hulle hele lewe lank voldoende het om te bekyk, te bestudeer en geestelik daarvan te geniet. Hulle bekommer hulle dan nog minder oor `n ander gebied as wat julle dit op julle aarde doen oor die omstandighede op `n vreemde planeet, veral wanneer julle op julle eie planeet baie goed van alles voorsien is.

11 Solank hulle in hulle liggaam lewe, weet baie bewoners van so 'n distriksgebied ook nie dat daar nog ander gebiede bestaan nie, maar is veelal van mening, wanneer hulle by een of ander onafsienbare afskeiding van hulle gebied kom, dat dit in die vorm van vuur, water, gebergte of ligstroom wel oneindig ver sal deurloop.

12 Wyses van hoë aansien weet weliswaar uit die gesprekke met die geeste dat daar op hulle wêreld nog talloos baie bewoonbare gebiede is, maar dit weet hulle slegs onder die seël van voorlopige streng geheimhouding, en hulle deel dit ook slegs mee aan hulle wat begeer om in die diepere geheime van die goddelike wysheid ingewy te word.

13 Daar is hier en daar wel egte liefhebbers van hoë berge, wat hulle graag sou wou beklim as dit maar enigsins moontlik sou wees. Maar wat hierdie enorme hoë grensgebergtes betref, vergaan ook die lus daartoe van grootste bergvriende. Ten eerste is hulle vir hulle tog ietwat al te hoog en hier en daar ook te steil en die hoogste toppe lê dikwels al te naby die eteriese ligstof, waarteen selfs hulle vuurliggame nog minder bestand sou wees as julle liggame van vlees en bloed teen die eteriese atmosfeer, wat op die hoogste bergtoppe van julle aarde ook al ietwat aanwesig is.

14 Bowendien is hierdie hoë grensgebergtes meestal ook nog gehul in sterk stralende wolke, wat op `n kort afstand van die bewoners absoluut nie aangenaam is nie, omdat hulle van naby `n baie fel lig uitstraal, wat die oë van die mense sodanig verblind dat hulle in hulle omgewing niks meer kan onderskei nie.

15 Kyk, so weet die Heer om oral die doen en late van Sy vrye skepsele binne perke te hou.

16 Die een of ander sou miskien kan sê: Ja, wat sou eintlik gebeur as mense van verskillende gebiede in `n woongebied bymekaar  kom? Daarop kan ek niks anders sê nie as: Die wysheid en die ordening van die Heer gaan oral beslis dieper as wat `n mens met sy geringe hoeveelheid verstand kan begryp. Mens sou homself op julle aarde ook kan afvra waarom die nasies wat op hierdie klein hemelliggaam lewe, hulleself nie ook so bont deurmekaar wil laat meng soos die gras en die kruie op `n weiland nie. Julle sal my antwoord: 

17 Omdat die nasies verskillende politieke en morele grondbeginsels het, wat absoluut nooit tot `n vergelyk kan kom nie. Elke nasie op sigself kan weliswaar baie goed in haar streng ordening bestaan, maar almal op één hoop bymekaar, sou `n baie afgryslike disharmonie teweegbring, soos wanneer mens alle pype van `n orrel tegelykertyd sou laat klink.

18 Die antwoord is korrek. Daaruit kan julle ook maklik aflei hoe dit daar op so 'n immense wêreld sou gebeur as die groot nasies daarop op dieselfde manier met mekaar in aanraking sou kon kom soos die klein nasies op julle aarde dit oral kan doen. Meer hoef ek julle nie hieroor te sê nie. Sodat julle dit nog beter mag begryp, sal ons ook hierdie keer dadelik na `n ander woongebied gaan, waar julle ten opsigte van die gebied `n baie belangrike verskil sal aantref. - So gaan ons op pad in die rigting van julle wil.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205