Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 29

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Vervolg van die tog. Met onwrikbare vaste wil lynreg op die doel af

29 Kyk nou net daar, na die ietwat dieper geleë onafsienbare groot vlakte, wat links en regs, sover die oog reik, deur die beboste gebergte begrens word! Wat sien julle op die vlakte? Sekerlik niks anders as wat ek sien nie. Op `n behoorlike ver afstand rys `n trapvormige, ronde piramide buitengewoon hoog op. Mens kan vanaf hierdie afstand, behalwe `n skitterende glans, nog geen verdere besonderhede onderskei nie. Desondanks beloof hierdie eerste aanblik al iets ongehoord groots en verhewe. Daarom sal ons dan ook vinnig daarop afstuur, om so spoedig moontlik naby die verhewe, pragtige bouwerk te wees. Kyk, ons het weliswaar geen voetpad en nog veel minder `n ryweg daarheen nie, maar as ek hierdie pragtige grond bekyk, wat veel liefliker en sagter lyk as die allerfynste syfluweel, dan dink ek dat die mens geen voetpad nodig het nie, maar net op die reguit lyn hoef te let: Ons sal ons dan met vinnige geestelike treë weldra daar bevind waar ons wil wees. 

2 Maar weet julle wel wat die reguit lyn, geestelik gesien, beteken? Die reguit lyn staan vir `n onwrikbare, standvastige wil, wat hom deur geen weersinwekkende verskynsel laat aflei nie. En juis hierdie reguit wilslyn word ook hier bedoel.

3 Julle vra julle nou wel af of ons op hierdie weg nog op hindernisse kan stuit, wat vir ons die bereiking van ons doel sou kan bemoeilik? Dit sal wel onderweg blyk. Tot nou toe gaan dit nog goed. Ons het in die loop van ons gesprek al `n taamlike groot afstand afgelê en as ek na die plek kyk waar die uitsonderlike bouwerk staan, kan ek een en ander al goed onderskei en daartoe was ek netnou nie vanaf die bergtop in staat nie. 

4 So kan ek nou al baie goed waarneem dat die uitsonderlike bouwerk uit twaalf afdelings bestaan, wat hulle sodanig bokant mekaar verhef, dat dit netsoos `n uitgeskuifde verkyker lyk, soos wat julle op aarde het, natuurlik van die allergrootste soort en ook met presies twaalf dele, en wat loodreg opgestel is. En as julle alles nog eens baie goed beskou, sal julle sonder veel moeite ontdek dat elk van hierdie twaalf verdiepings uit suiwer langs mekaar geplaasde pilare bestaan en dat elke verdieping `n ander kleur uitstraal.

5 Maar waarom sou ons ons oë bederwe deur in die verte te tuur? Ons kan die hele bouwerk tog sonder meer van baie naby bekyk; laat ons daarom maar vinnig daarheen gaan. Maar ek sien dat julle julle oë op `n, nie meer ver van ons afstaande, taamlike hoë wal rig. Dit lyk met die eerste oogopslag wel soos `n aansienlike wegversperring wat ons van ons reguit lyn afbring, want ons het geen stormram by ons nie.

6 Wanneer die muur van hierdie wal volgens aardse maatstawwe loodreg omhoog gaan en daar benede geen poort aangebring is nie, dan sou ons inderdaad `n probleem hê met die voortdurende volg van ons reguit lyn. Tog mag ons haar nie verlaat nie, want om in die gees ook maar een haarbreedte opsy te gaan, beteken soveel as om in `n oogwenk hierdie hele mooi wêreld uit ons gesigsveld te verloor. Ons is egter nog nie by die muur nie. Daarom moet ons nie moed verloor nie, dan sal alles wel beter verloop as wat ons verwag.

7 Ek ontdek nou ook voor die wal groot en uitgestrekte rye bome, waartussen allerlei pilare en piramides oprys. Dit sou baie goed moontlik kan wees dat ons met ons reguit lyn op `n boom of `n pilaar sal stuit en dus genoodsaak sal wees om vanweë so 'n versperring ietwat van die reguit lyn af te wyk.

8 Julle sê: Hoe sou dit dan wees as ons ons geestelik ietwat hoër in die lug sou begewe om dan so baie maklik in `n reguit lyn na ons grootse doel te trek?

9 Ek sê vir julle: Ook dit sou ons kan doen, maar daardeur stel ons onsself bloot aan `n dubbele gevaar dat ons hierdie wêreld uit ons gesigsveld kan verloor. Ten eerste omdat die omhoog beweeg nou juis `n skending van die reguit lyn is en ten tweede omdat ons immers, solank ons hierdie wêreld wil bekyk, ons voete nie van hierdie grond mag skei nie; want skei ons ons voete van hierdie grond, dan sink die hele wêreld onder ons in haar eerste onherkenbare sterregestalte terug. Daarom bly daar vir ons niks anders oor as om alle uiteindelik voorkomende hindernisse standvastig tegemoet te tree nie! 

10 Wel nou, ons het al die boomrye bereik. Vir sover ek in die woud van lane kan kyk, lyk dit verrassend reglynig; maar daar, baie diep daarin sien ek so iets soos `n opgerigte altaar en die altaar staan volgens my waarneming presies in die middel van hierdie laan. Dit maak egter nie saak nie: Ons gaan vasberade daarop af en die weg sal presies loop soos wat ons hom wil hê. Dit sou tog vir `n gees treurig wees wanneer hy die weg vir homself deur natuurlike hindernisse sou laat versper.

11 Nou is ons al by die altaar. Voorwaar, die eerste monument laat reeds sien, al is dit maar by benadering, van welke onbeskryflike prag die hoofgebou dan wel moet wees.

12 Kyk tog net die altaar. Dit is ongeveer een klafter hoog en bestaan uit suiwer ronde stawe, wat gemaak is van `n baie sterk glansende materiaal wat met hierdie karakteristieke eienskappe sekerlik op geen ander hemelliggaam voorkom nie. Kyk net na die stawe. Hulle lyk nie eens stewig nie, maar dit lyk wel of dit uit suiwer neerwaartse skietende waterstrale bestaan, wat egter so gesê, sonder gespat in goue tregters neerwaarts val. Die vlammende beweging van die strale in hierdie ronde stawe lyk byna asof hierdie stawe slegs ronde waterstrale sou wees, wat, soos dit wel lyk, van een of ander plek deur `n pilaar in die middel opwaarts gaan en hier, soos wat ons sien, volgens die reëls van die waterboukunde na benede val. Om ons egter daarvan te oortuig, gryp ons die stawe met die hande vas - en kyk, alles is net die karakteristieke eienskap van die materiaal. Dit het `n sodanige vlammende beweging in homself, dat dit lyk asof dit suiwer stromende water is; maar dit is egter so hard soos `n diamant.

13 En kyk net daar bo-op die stawe die pragtige opgestelde ronde tafel; hoe dit straal, asof mens `n egte klein son op hierdie aaneengeslote stawe geplaas het. Hierdie stawe mond aan die onderkant uit in goue tregters, wat ook weer in `n pragtige rooi en blou glinsterende ronde kristalplaat ingevoeg is. Waarlik, die aanblik van die altaar op hierdie mooi ronde plek, omgewe deur pragtige, keurig geordende bome, waarvan die takke mekaar in die kruine soos reusagtige arms vasgryp, is op sigself al so iets betowerend, dat mens dit met die grootste tevredenheid vir `n geruime tyd sou wil beskou. Wanneer mens daarby nog die wonderbaarlike groen fluweel grond aanskou en die stamme van die bome, wat die aansien het van suiwer magtige blou, half deursigtige ronde pilare, waaraan nie die geringste onreëlmatigheid te ontdek is nie.

14 Wat sê julle wel van hierdie eerste prag? Ek moet eerlik beken dat hierdie verhewe eenvoud my meer aanspreek en boei as alle vooraf aanskoue heerlikhede van hierdie wêreld. Ons vergeet by die beskouing van hierdie prag egter heeltemal dat ons nog verder moet gaan.

15 Maar die reguit lyn, hoe sal ons dit vind?

16 Moet ons miskien die wondermooi altaar omverloop? Waarlik, so-iets kan mens byna nie oor sy hart kry nie, veral as mens bowendien nog bedink dat daar vir so 'n werk baie arbeid en vlyt van mensehande van hierdie wêreld nodig gewees het en dat dit sekerlik vir `n geheiligde doel daar staan. Bowendien is die vernietiging op sigself al iets wat lynreg teen God se orde indruis.

17 Wat sal ons daarom nou hier doen? Julle sê: Hoe sou dit wees as ons as geeste deur die materie sou hardloop? Die Heer het tog ook deur geslote deure by Sy apostels gekom.

18 Ek sê vir julle: Dit is wel waar, maar ons is geen here nie, maar dienare en knegte van die Heer, en hulle mag nie alles doen wat die Heer gedoen het nie, behalwe wanneer die Heer dit wil. Daarom weet ek nou al die raad daarmee. Ons sal ons tot die Heer van die heerlikheid wend en wel in die liefde van ons hart, en ek is daarvan oortuig dat die reguit lyn dadelik weer tot stand sal kom.

19 Wel, dit het ek nou gedoen en julle ook in my en kyk, daar kom vanuit die agtergrond reeds `n manlike wese aangewandel, raak nou net die altaar aan waarna dit vanuit die middel uitmekaar skuif, en ons kan weer ons lyn volg.

20 Julle vra nou of die altaar werklik van `n werktuigkundige voorsien is waardeur dit vir sodanige lynregte reise altyd op dieselfde manier in twee gedeel kan word. Ek sê vir julle: Vir die Heer is alles op die mees doelmatige manier ingerig. Ook al maak die mense die dinge hoe vas aanmekaar, die Heer bly tog die boumeester van die materie. Die mens is weliswaar bekend met die onderdele van sy werk en weet hoe dit geskei kan word, maar die Heer ken ook die onderdele van die materie en weet ook hoe dit geskei kan word.

21 Daarom het julle vir die volg van die reguit lewenslyn niks anders nodig as `n steeds groeiende liefde tot die Heer nie, en julle sal deur rotse, vuur en water kan gaan asof julle met geen belemmering te kampe het nie.

22 Ek maak julle bowendien nog attent op die volgende: Let baie goed op alle verskynsels wat ons op hierdie weg sal teëkom, dan sal julle ten slotte allerlei omstandighede van julle wêreld as in `n reusagtige towerspieël herken. Nou lê daar alweer `n buiten­gewone uitgestrekte oop laan in `n reguit lyn voor ons, daarom kan ons weer met `n suiwer gewete verder gaan.

23 Julle sou graag wil weet, wat daar nou met die in twee gedeelde tempel sal gebeur. Sal hy hom weer sluit, of sal hy so gedeel bly? Maar ek sê vir julle: Begryp my goed en laat dit wat agter ons lê rus, want vir ons lê daar nog baie en verreweg groter sake voor. Wanneer ons egter by ons hoofdoel sal wees, dan sal ons sondermeer van bo af `n algemene oorsig kry. Laat ons dus verder gaan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205