Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 40

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Oorgang van die liefde in die wysheid

40 Soos wat ek merk, het julle alles goed bekyk en kan nou ook al vertel wat julle gesien het. Sê dus maar, wat julle op hierdie sewende galery of sesde verdieping in die besonder opgeval het. Ek sien aan julle dat julle voorstellingsvermoë hier nog ietwat tekort skiet en julle alles wat julle gesien het, ook nie goed onder woorde kan bring nie; daarom moet ek julle wel `n bietjie te hulp kom.

2 Ten eerste, liewe vriende en broeders, sien mens op hierdie sewende galery reeds dat hierdie een bietjie rondloop, terwyl mens op die laer geleë galerye, vanweë die groot ronde vorm, nog niks daarvan kon merk nie. Ten tweede sien julle dat die versierde pilare hier nie meer so 'n enorme omvang het as op die vorige galerye nie. Ook bestaan `n versierde pilaar nie meer uit dertig nie, maar slegs uit twintig pilare en die binneplaas is daarom ook ietwat kleiner. Ten derde sien julle dat die vloer hier ligrooi is, terwyl die pilare, die wande en die plafon ligblou is; die poorte in die wande van die hoofgebou gaan egter oor in donker karmosynrooi. In dit alles sien julle niks vlammend nie, maar wel `n buitengewone sterk glans en daarom sê julle ook vir julleself; die uiterlike prag van hierdie galery bly kennelik ietwat agter by die voorgaande, maar die balustrades (borswerings) aan die buitekant van die galery en die versiering van die pilare is, tenminste met die eerste oogopslag, baie voor op die vorige.

3 In die eerste plek lyk dit of die galerye uit suiwer sterre bestaan, waaruit baie stewige versiersels gevorm is wat dan lyk asof dit saamgevoeg is tot `n bruikbare geheel. Die sterre het `n buitengewone helder glans en straal in duisende kleure deurmekaar. Die wenteltrap binne die versierde pilare blyk slegs uit lyne van sterre saamgestel te wees en tussen hierdie sterrelyne is geen ander vaste materiaal te sien nie. Dit is egter ook al, vir sover ons taal tenminste toereikend is om alles wat ons hier sien, onder woorde te bring. Maar wat die versiering in die middel van die versierde pilaar betref, wat ons ook goed sien, dit is `n voorwerp wat te hoog bokant die horison van ons spraakvermoë lê en daarom kan ons dit ook gladnie beskryf nie.

4 Ja, ja my liewe vriende en broeders, dit is nou juis wat ek al in die begin vir julle gesê het en ek het waarlikwaar goed gemerk dat die beskrywing van die voorwerp vir julle ietwat moeilik sou wees. Daarom het ek dit dan ook vanaf die begin op my geneem. Let dus baie goed op! Ons sal so naby moontlik by die sierstuk gaan staan en dit met alle aandag beskou.

5 Ons is nou so na daaraan as moontlik; en kyk nou net na die vloer van die versierde pilaar. Wat sien ons daar? `n Sterrekrans met `n omtrek van sewe klafter, wat uit sewe rye sterre saamgestel is en wel in die volgorde van die kleure van `n reënboog, terwyl die krans drie spanne breed is. Binne-in hierdie krans verhef `n violet­kleurige altaar homself tot `n hoogte van ses spanne en dit het `n omvang van ongeveer drie klafter, dit wil sê, gemeet met uitge­strekte arms. Die ronde rand aan die bokant is met `n band sag vlammende goud omvou en op hierdie band is nog een halwe span hoë, wat uit suiwer ronde stafies bestaan, glansende wit leuninkie aangebring. Oor hierdie pilaartjies lê weer `n breë band, gemaak van dieprooi, deursigtige goud. Daarbo is, presies op die plek waaronder die pilaartjies staan, meer na die donkerblou oorgaande, volkome ronde klein balletjies aangebring, terwyl elke bal nog `n klein helder skitterende sterrekrans om sy middel het. 

6 Vanuit die middel van die omrande altaarblad verhef `n volkome liggroen pilaar homself en bokant hierdie pilaar is `n groot krans van saamgevoegde sterre. Binne-in hierdie krans is ook nog `n groot hoeveelheid helderrooi en wit sterretjies as geometriese figure saamgevoeg, wat saam met hulle omgewende krans `n buitengewone geheimsinnige en indrukwekkende skouspel bied.

7 Vanaf die plafon hang, aan `n massiewe gouddraad, egter nog `n krans, wat ewe groot is en nie regop, maar horisontaal bokant die regopstaande geplaas is, dit wil sê bokant dit, wat aan die groen middelpilaar bevestig is; verder lyk hulle volkome na mekaar. Kyk, dit is die vorm van so 'n versierde pilaar as sierstuk wat vir julle so moeilik te beskryf is.

8 Julle sê: Liewe vriend en broeder in die Heer, dit is alles buitengewoon verhewe, mooi en goed, maar die sierstuk sal net soos die vorige sekerlik ook `n diep wyse betekenis hê, want daaroor het jy voorheen ook al gespreek. Maar wat beteken dit, hoe lui dit? Dit is `n ander vraag. As dit aan ons geleë was, sou ons al genoeg gedoen het as ons in die beskrywing geslaag het en sou dan die ooreenstemmende betekenis tog sekerlik vir beter tye oorgelaat het. Omdat jy ons egter al so dikwels uit die verleentheid gehelp het, is ons nou dan ook vas daarvan oortuig dat dit vir jou ook in die geval nie te moeilik sal wees om vir ons `n bietjie lig hierin te verskaf nie.

9 Ja my liewe vriende en broeders, ons bevind ons hier op die eerste vlak bokant die halwe hoogte van die gebou en daarom het ons nou al met voorwerpe van suiwer wysheid te make. Tot nou toe het ons onsself in die fondament bevind, dit wil sê in die liefde, maar nou gaan ons uit die liefde na die wysheid en dit is vir God `n gepaste weg. Omdat objekte van die wysheid tog beduidend moeiliker te begryp is as objekte van die liefde, moet ons onsself hier ook ietwat meer inspan om nie, soos julle gewoonlik sê, die oorsig kwyt te raak nie. 

10 Julle sê nou weliswaar: Daarvan sien ons die rede nie goed in nie, want in die liefde is immers ook die hoogste wysheid aanwesig. Ja, my liewe vriende en broeders, julle oordeel is andersins taamlik goed, maar ek moet julle sê dat julle die plank behoorlik misgeslaan het. Om by my woorde krag by te sit, sodat julle dit self ook sonhelder mag insien, sal ek julle `n paar voorbeelde gee wat my uitspraak voldoende sal bevestig. Luister dus! 

11 Wanneer julle op julle hemelliggaam rondwandel en tallose voorwerpe daar teëkom, wat almal goed deur die son beskyn word, dan sal julle nie één daar vind wat julle nie met julle hande sou kan vasgryp en verder dra nie, tenminste as die gewig julle kragte nie te bowe gaan nie. En by geen enkele voorwerp kan julle sê dat dit nie in staat sou wees om lig op te neem en wanneer julle dit vasgryp, julle nie tewens ook sy lig saam vasgryp nie. Probeer nou egter net om die vrye lig beet te pak en dit in bondels heen en weer te dra. Ek dink dat dit `n bietjie moeilik sal gaan.

12 Kyk, waar die lig al aan `n vaste liggaam, wat ooreenstem met die liefde, gebonde is, kan julle weliswaar die lig saam met die liggaam vasgryp en na behore heen en weer dra, maar soos reeds gesê, laat die vrye lig so 'n handeling absoluut nie toe nie. Dit was één voorbeeld. Laat ons nog `n ander een bekyk waaruit dan duidelik sal word dat `n mens van die lig kan geniet en optimaal daarvan kan gebruik maak, maar eers langs die weg van die goddelike ordening. Hoe egter, dit sal die volgende voorbeeld dadelik duidelik maak.

13 Wat bewerkstellig eintlik die rypword van die vrug aan die boom en die koringhalm? Julle sê: Onmiskenbaar die lig en die met die lig verbonde warmte. Julle het goed geantwoord. Ons sien dus dat `n vrug `n produk van die lig en die warmte is. 

14 Die lig laat hom egter hier deur die warmte gevange neem en hoe meer warmte, des te meer lig laat hom ook deur haar gevange neem. Uit beide saam kom dan `n heeltemal ryp vrug voort, wat julle kan nuttig. Op hierdie wyse neem julle sonder enige moeite saam met die genuttigde vrug, onvermydelik ook die gevange geneemde lig op en die gevange lig is dan ook die eteriese stof wat die lewegewende voeding aan julle organisme gee.

15 Iemand sou nou kan sê: As dit kristalhelder en sekerlik waar is, sou mens tog net in die son hoef te gaan sit om sodoende uit haar stromende lig ywerig op te slurp, sodat mens dan elke growwe maaltyd agterweë sou kan laat. Maar ek sê vir julle; probeer dit maar net! Die sonmaaltyd is sondermeer al bekend; laat iemand maar net tien dae lank op suiwer sonmaaltye lewe, dan sal sy organisme hom al op die tweede dag sê hoeveel voedingstowwe hy na binne opgeslurp het!

16 Uit die voorbeeld kan julle nog duideliker as uit die vorige aflei dat die lig op sigself, in sy vrye toestand, ongenietbaar is en dat niemand hom dus daaraan kan versadig nie. Wanneer dit egter in die goddelike ordening deur die goddelike krag self gevang word, dan eers is dit genietbaar en voedend. Om die rede moet die mens ook al sy wêreldlig in sy hart gevange neem, waar dit verbind word met die lewenswarmte, en dan sal hy uit die lig die korrekte voeding vir sy gees verkry. En op dieselfde manier moet ons dit wat ons hier sien aan suiwer vorme van wysheid, eers in ons liefde vir die Heer gevange neem; vervolgens sal ons die ontwikkeling daarvan in onsself baie betekenisvol aanskou en so vir ons `n stewige maaltyd berei. Die Heer sal dan ook die altaar vir ons open, soos Hy die altaar in die laan vir ons geopen het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205