Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 48

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die twaalf pilare van die lewe

48 Julle het al verskeie pilare betas. Begewe julle dan nou maar na hierdie plek hier in die middel waar ek my bevind, tas ook net hier ietwat omhoog en sê my wat julle daar gevoel het.

2 Julle sê: Liewe vriend en broeder, as ons gevoel ons nie bedrieg nie, dan voel ons balle, ongeveer so groot soos `n mensekop. Die is aan twee kruisstawe bevestig en vorm derhalwe `n gelykbenige, horisontaal hangende kruis, wat presies sover van die vloer verwyder is dat ons dit nog baie maklik met ons hande kan bereik. Dit is dan ook al wat ons hier kan ontdek.

3 By die omvatting van die pilare het ons ook nog `n verdere na bogaande leidende trap ontdek, wat van `n vlak leuning voorsien is. Hoe mens egter langs so 'n onsigbare trap na bo kan wandel, sal `n volgende ervaring ons in elk geval leer. Daarmee is alles wat ons nou ontdek het saamgevat en jy, liewe vriend en broeder, wil ons miskien enige uitleg daaroor gee, as daar tenminste iets uit te lê is.

4 Wat ons betref, is ons veel eerder geneig om ons vanaf hierdie deursigtige galery `n paar verdiepings omlaag te begewe, as om ook maar enkele tree omhoog te gaan, na `n waarskynlik nog deursigtiger galery. Maar, soos gesê, dit kom hier slegs op jou neer. Ons is met die beskrywing van hierdie hoogs onsigbare gedenk­waardighede klaar. Maak jy maar daarvan wat jy goeddink. Jy kan by voorbaat daarvan verseker wees dat ons ene ore vir jou sal wees.

5 Goed, my liewe vriende en broeders, julle het die merkwaardige voorwerpe op hierdie tiende galery korrek beskrywe, op enkele flou geestighede na, wat nie eintlik so passend hier is nie. Weliswaar is die geestigheid ook `n produk van die wysheid, maar dit staan as sodanig op die allerlaagste trap daarvan. Alle sogenaamde satire is voortdurend op bepaalde menslike swakhede gerig en is daarom `n slegte meester in die stryd, want `n held, wat maar net te velde trek teen kinders en sy krag wil toon teenoor hierdie swakkes, maar by die aanblik van `n egte held, hom die liefste agter `n berg verskuil, hy verdien werklik nie hierdie naam nie.

6 Die leeu is geen muggievanger nie, maar wie muggies vang en hom besig hou met die weë van `n pluksel skaapwol, het sekerlik nie die aard van `n leeu nie. So het ook die satire, netsoos ander aanverwante geestighede, bitter weinig met die eintlike diepsinnig­heid van die geestelike wysheid te doen. Mens sou dit baie goed en baie tiperend `n egte parasiet op die bodem van die diep innerlike kennis van die lewe kan noem.

7 Dit is dus goed dat julle dit in julle ore knoop, want die dinge wat ons voor ons het, is te ernstig, groots en verhewe van aard om dit by wyse van spreke met die onbeduidende groen van parasite­rende plante te versier. Hoe groots en betekenisvol hierdie voorwerpe egter is, sal julle dadelik uit my volgende uiteensetting kan aflei. Luister dus:

8 Die pilare van die versierde pilaar stel die lewenskragte van die mens voor. Twaalf pilare het julle ontdek. Wanneer julle die gebied van die kragte wat die lewe uitdruk deurloop, sal julle sonder veel moeite ontdek dat die gebied ook op twaalf soortgelyke pilare rus.

9 Hoe heet hierdie pilare; watter name het hulle? Ons sal hulle in kort deurneem. Die eerste pilaar heet; jy sal slegs in één God glo.

10 Die tweede pilaar; die naam van God, wat heilig is, heilig bokant alles, sal jy nimmer, nóg deur woorde, nóg deur gedagtes, begeerte of dade ontheilig.

11 Die derde pilaar heet; laat nooit na om rus te soek in die Heer nie en dink daarby in jou hart aan God, jou Heer en Skepper. Want slegs in hierdie rus sal die Heer, jou God, jou aansien en jou lewe seën.

12 Die vierde pilaar heet; betuig altyd gehoorsaamheid, liefde en agting aan diegene wat jou deur die in hulle aanwesige krag van God voortgebring het; dan sal jy daardeur God se welgevalle verwerwe en dit sal `n sterk basis van welvaart in jou lewe wees!

13 Die vyfde pilaar heet; toon agting vir die lewe in al jou broeders; dan sal jy die waarde van die eie lewe insien. Wanneer jy egter een van jou broeders dood, dan het jy daardeur `n dodelike wond aan jou eie lewe toegebring.

14 Die sesde pilaar lui; toon eerbied vir die verwekkende krag in jou, net soos vir die ontvangende krag in die vrou, want sien, God die Heer het die almagtige vonkie uit Sy hoogste en diepste liefde in jou geplaas. Misbruik daarom nooit hierdie heilige krag van God in jou en verstrooi dit nie tevergeefs nie, dan sal jy altyd jou eie lewe en die van die kinders wat deur jou verwek is, laat groei.

15 Die sewende pilaar lui; sien, alles wat daar bestaan, is die eiendom van die Heer, jou God en Skepper. Wat Hy gemaak het, het Hy vir iedereen gemaak. Wanneer jou broeder dus `n vrug van die boom geneem het, dan het hy haar uit God se hand geneem en dan moet jy jou nie eiemagtig die reg toe-eien om hom, naamlik jou broeder, die eenmaal geneemde vrug op watter manier dan ook, af te neem nie. Dit is beter om niks te neem en niks te hê as om iets te neem of te hê, wat `n ander broeder al vooraf uit die hand van die Heer ontvang het, want slegs die Heer is die enigste regmatige uitdeler van Sy dinge. Wie dus die regte van God vir hom aanmatig, sondig voor die goddelike erbarming en versteen sy hart, sodat hy nie meer in staat is om die lewe op te neem nie.

16 Die agste pilaar heet; God is die ewige waarheid. In Sy waarheid spreek Hy Sy ewige woord uit en die woord self is God se waarheid. Uit die woord het jy, mens, voortgekom; daarom sal jy trou bly aan hierdie ewige heilige oorsprong en sal al jou woorde altyd ewe trou en waar in harmonie wees, met die waaruit jy self voortgekom het. So nie, dan dood jy die oorspronklike woord in jouself en bygevolg jou eie lewe.

17 Die negende pilaar lui; God, die Heer, het jou verskillende sinne en kragte verleen. Dit sal jy in toom hou soos `n jong boompie in jou lewenstuin, sodat dit flink mag uitgroei tot die reusagtige krag en sterkte van `n magtige boom. Wanneer jy egter jou sinne, drifte en begeertes in die wilde weg laat opskiet, sal jou lewensboom nooit tot `n gebundelde krag uitgroei nie, maar oftewel verdor of uitgroei tot `n nietige struikgewas en kreupelhout waarin allerlei ongediertes hulle wel sal ophou, maar waarin die voëls van die hemel nooit hulle neste sal bou nie.

18 Die tiende pilaar heet; kyk nie met begerige oë na `n vrou nie en beskou die vrou van jou buurman of jou broeder, in die begeerte van jou hart, asof sy nie daar was nie; dan sal jou gees homself vry daardeur kan ontwikkel. En bevind jy jou in die krag van jou gees, dan sal dit maklik vir jou wees om jou met die krag van die gees opreg in jou vrou te verbind, dit wat `n ware huwelik voor God sal wees. Verenig jy jou egter met jou vrou, slegs op basis van jou nog onryp begeerte, dan sal jou gees en die van jou vrou mekaar gevange neem deur so 'n vereniging, waardeur daar dan uit twee geeste `n onbeholpe slaaf sal ontstaan, waarby die een gees nooit die heilige lewensvryheid aan die andere sal kan verskaf nie; hulle sal egter ook nog die oorspronklike lewensvryheid verloor deur die steeds sterkere verstrikking.

19 Hoe heet die elfde pilaar dan? Dit heet; God is in Homself die ewige en allersuiwerste liefde Self. Uit hierdie oneindige liefde het jy, mens, voortgekom. Aldus is jy `n werk van die liefde. Daarom sal jy ook God, jou Skepper, wat jou geheel en al uit Sy liefde gevorm het, met baie liefde omvou en Hom bo alles liefhê! Doen jy dit, dan gryp jy die ewige onverganklike lewe en leef jy vir ewig daarin. Doen jy dit nie, dan skei jy jou van die lewe af en die lot van die skeiding is die ewige dood!

20 Die twaalfde pilaar lui ten slotte: Kyk mens, net soos jy, het ook al jou broeders uit een en dieselfde oneindige liefde van God voortgekom. Daarom kan jy God nie bo alles liefhê as jy jou broeders nie liefhet nie, wat net soos wat jy in wese niks anders is nie as die almagtige liefde van die Heer.

21 My liewe broeders en vriende! Ek dink dat ons versierde pilaar hiermee voldoende belig is. In die middel hang `n onsigbare kruis, wat saamgestel is uit balle waarvan die aantal gelyk is aan die van die pilare wat ons hier getel het, en dit kan slegs met die gevoel, en nie met die gesigsvermoë waargeneem word nie.

22 Sien julle nou die geheim van die geloof? Julle kan nie sien wat julle glo nie, hoewel dit vir julle ewig vas voor oë staan.

23 Bevoel vooraf die innerlike lewenspilare in julle en gaan dan in julle innerlike; daar sal julle alle lewenskragte verenig in die heilige teken aanskou. Elke lewenskrag is `n pilaar en `n bal aan die teken. Daarby stel die pilaar die krag voor, en die bal die voltooiing van die lewe in elke tak daarvan.

24 Die kruis wat op julle aarde opgerig is, is dan heeltemal `n beeld van die geloof. Van die aparte dele stel die regopstaande balk, wat groter en langer is as die dwarsbalk, die liefde tot God voor en die dwarsbalk die liefde tot die naaste. Die horisontaal hangende kruis beteken hier egter die wysheid, die lig van die gees in sy voltooiing en die afsonderlike dele daarvan die suiwer hemelse liefde wat gelyk is in God voor God, net soos vir die naaste. Kyk, dit is al diep wysheid wat beslote lê in die groot misterie van die kruis, net soos in die twaalf wat die Heer uitverkies het. Julle kan dit nou almal begryp; maar hoe? Met die liefde!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205