Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 60

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Oor die menswording van die Heer

60 Nou spreek die oudste en ons sal na hom luister, want hy het verstandig oor alles nagedink en julle sal julle verbaas met welke diep wysheid ons man vorendag sal kom. Sy woorde lui as volg:

2 Hoë afgesant van Hom wat almagtig is en wat al die lig en alle materie van die wêreld geskape het! Jou raad is so buitengewoon goed, oortuigend en diep wys, dat ek, as die mees wyse van die oord, absoluut niks daarteen kan inbring nie.

3 Dit is waar dat die liefde, of die drang van die hart na sy Skepper, alles kan doen, want wanneer ek met my hart, as die grond van my lewe, die Skepper omarm het, dan het ek my tog ook sekerlik volkome met Hom verbind en word ek dus één met hom. Omdat ek daardeur met die grond van my lewe, ook my wil volkome onderwerp het aan die almagtige wil van die Skepper, kan dit ook nie anders as dat ek voortaan slegs kan wil wat die wil is van die almagtige God.

4 Tot sover, verhewe gesant, is alles volkome in orde en is nie die geringste daarteen in te bring nie; maar nou kom daar iets anders. As dit met die nou net genoemde grondbeginsel te verenig is, dan is alles vanselfsprekend gewen. Is dit egter nie die geval nie, dan bly die verkryging van die kindskap van God `n baie twyfelagtige aangeleentheid en kan ons hoogstens die vroom wens daarna koester, maar desondanks tog nooit die kindskap van God verkry nie. Die punt wat teen die bogenoemde grondbeginsel indruis lui egter as volg: 

5 Dit is aan my bekend dat alle hemelliggame, inklusief met hulle bewoners, met `n volledige mens in volmaakte en onveranderlike korrespondensie staan, en wel so, dat `n wêreld ooreenkom met `n liggaamsdeel, `n ander wêreld weer met `n ander liggaamsdeel, en so korrespondeer die tallose wêrelde met die tallose dele, waaruit, deur die mag van die goddelike wysheid, `n volkome mens geskape is.

6 Nou weet ons egter ook dat die ledemate en alle dele van die mens weliswaar een en dieselfde lewensdoel dien, maar die ervaring leer ons maar al te duidelik dat `n voet nooit `n hand kan word, `n hand nooit `n hoof, `n mond geen oor, `n tong geen oog, `n neus geen bors, ensovoorts kan word nie. So het die mens `n lewende hart in homself en dit lê en werk in sy borskas. Deur middel van die hart leef die hele liggaam weliswaar en mens kan nie beweer dat een of ander liggaamsdeel op sigself, volgens die goddelike ordening, van minder belang is as `n ander nie, maar desondanks het al die lewe tog slegs sy hoofsetel in die hart en die ledemate van die hele liggaam kan die hart, as dit vernietig sou word, nooit vervang nie. 

7 As dit onweerlegbaar waar is, hoe is dit dan moontlik dat skepsele, ook al is hulle volgens hulle aard volmaak, die kindskap van God verkry, terwyl hulle volgens hulle aard, nie ooreenstem met die hart van die groot God nie, omdat hulle hulleself nie op `n wêreld bevind wat deur God self in ooreenstemming gebring is met Sy hart nie. Wat sou dit `n liggaamsdeel baat om in `n hart verander te word, al sou hy ook nog so 'n sterk drang daartoe in homself voel? Sal so iets ooit gebeur?

8 Daarom is ek van mening dat ons, as bewoners van hierdie wêreld, wat in die wetenskap verkeer, slegs met die oog van die Heer kan ooreenkom, maar nooit met Sy hart kan ooreenkom nie, oftewel dat ons nimmer die volledige kindskap van God kan verkry nie, tensy ons eers totaal vernietig sou word. Eers dan sou `n nuwe skeppingsvorm van ons bestaansorde denkbaar wees. Dit gebeur egter sigbaar wanneer die dapperstes hulle hande op die brandende altaar lê, waarby hulle dan oombliklik ophou om te bestaan. Daar bly van hulle dan niks anders oor as `n sekere fluïdum wat in elke wese, of dit nou `n wêreld, `n klip, `n plant of `n ander lewende wese is, onbewustelik met die hart van sy Skepper ooreenstem.

9 Wel nou, baie verhewe gesant, dit is die tweede grondbeginsel wat vir ons, bewoners van hierdie wêreld, die eerste, wat deur jou uitgespreek was, noodsaaklikerwys geheel tot niet maak, tenminste volgens die insig wat ek tot nou toe het.

10 Kan jy daarenteen alles in `n ander lig plaas, waardeur die lig van my gefundeerde insig verbleek, wees dan so goed om dit aan my mee te deel, en dan sal ek dit aanvaar en dit my eie maak, asof `n ander lig nog nooit die innerlike vertrekke van my lewe sou verlig het nie.

11 Nou spreek ek weer: Luister, geagte oudste van die huis, jy het op jou manier wys gespreek, maar jou wysheid is nie soepel en nie vloeiend nie, omdat dit steeds uitgaan van die stugge uiterlike vorm. Jy beweeg jou voortdurend in `n kringetjie om suiwer ooreen­stemminge en daardeur bly jy ook vassit soos `n liggaamsdeel aan sy liggaam en kan jy nie van jou plek af kom nie.

12 Kyk, dit is immers maar net `n kenmerk van die uiterlike, gerigte vorm, maar `n suiwer vrye gees ken geen oordeel nie en kan daarom in sy totaliteit altyd met die liefde van God, volkome in ooreenstemming wees. Daar bestaan naamlik in die hele oneindigheid geen ander lewe as die lewe wat uitgaan van die krag van die liefde in God nie.

13 Ook al kom jy, wat jou wesenlike, uiterlike vorm betref, nie met God se hart ooreen nie, dan kom jy tog wat jou lewe aanbetref, net so goed soos ek, volkome met God se hart ooreen. Sou dit nie die geval wees nie, dan sou jy glad geen lewe hê nie, en jou gees sou geen gees wees as hy nie `n krag sou gewees het wat één is met die oneindige krag van die ewig lewende liefde in God se hart nie.

14 Wat jou uiterlike vorm aanbetref, wat aan vaste ooreen­stemminge gebonde is, kan jy weliswaar nooit die kindskap van God verkry nie, maar in jou gees kan jy dit net so goed soos ek, wanneer jy dit deur jou liefde vir God van die grof stoflike wese kan losmaak.

15 Dit is egter slegs moontlik wanneer jy jou innerlik heeltemal vry kan maak van jou begeerte na wêreldse prag en praal, om dan met alle krag van jou lewe niks anders as slegs die Wese van God se liefde te omarm nie.

16 Hierdie Wese is die goddelik-menslike, oftewel is dit die God wat vir jou onvoorstelbaar is, wat in Sy wesenlike hoedanigheid volmaakte mens, wat op `n wêreld, "aarde" genaamd, Self die vlees aangeneem het en `n mens geword het, presies soos alle mense wat deur Hom geskape is, dit is.

17 En hierdie volmaakte Mens van alle mense het uit eindelose liefde vir al Sy skepsele die allerpynlikste dood van Sy vlees ondergaan om hulle daardeur die eindelose heilige poort te open, waardeur hulle as Sy kinders by Hom kan kom, Hom kan sien en met Hom kan spreek soos met sy gelyke, asof hulle ook gode sou wees, soos wat Hy God is van die ewigheid af.

18 Die naam van hierdie Mens van alle mense, wat God is van die ewigheid en wat alle dinge geskape het, is tans Jesus. Hierdie naam wil sê die Hy `n Heiland is vir al Sy skepsele. Sy woord wat Hy gespreek het, was gerig tot alle skepsele en sodoende het Hy ook al Sy skepsele geroep tot die heil van Sy liefde en jy is net so min uitgeslote daarvan as ek, wat Sy tydgenoot op aarde was.

19 Hy het self gesê: "Ek het nog baie skape wat nie tot hierdie skaapstal behoort nie, en hulle wil Ek ook hierheen lei, sodat daar één Herder en één kudde mag wees!"

20 Kyk, by sulke skape, of skepsele wat nie van die aarde is nie, behoort ook jy, net soos alle bewoners van hierdie hele wêreld. Omarm hierdie Godmens Jesus in julle harte en heg geen waarde aan julle wêreld nie, dan is julle al "God se kinders", soos wat julle hier lewe en strewe.

21 Ek sê nie dat jy daarom jou groot, pragtige huis moet afbreek en in plaas daarvan onaansienlike hutjies moet oprig nie, maar breek dit af in jou hart en besit dit so, asof jy dit gladnie sou hê nie. Gee die Heer alles in eiendom en wandel vol deemoed en liefde voor Hom, net soos jou kinders, broeders en susters; dan sal die Gees van die Heer Self oor jou kom en jou lei in alle wysheid van die hemele! Kyk, dit is noodsaaklik; al die ander is vir die Heer van nul en gener waarde nie.

22 Stel jou net voor hoe groot die liefde van die Godmens moet wees wanneer Hy, die ewig enige Heer en Skepper van die oneindigheid, Self volkome arm wil wees, sodat al Sy kinders des te ryker mag word.

23 Noudat jy dit egter vanuit die diepte van die suiwer goddelike wysheid en liefde in my ervaar het, probeer voortaan alle rykdom te vermy; gee alles met die grootste liefde weer aan die oneindige liefde van die Heer terug en soek in die besit van Homself, en verder in niks anders, die hoogste rykdom nie; dan sal jy die allerhoogste goed in oneindige oorvloed besit!

24 Probeer nie om jou die krag en die mag van die Heer eie te maak nie, maar probeer eerder die swakste en geringste te word in sy ryk en niks anders te besit as Sy liefde en niks anders te verlang as om by Hom te wees nie. Dan sal jy ewig soos `n bekoorlike, geliefde kindjie op die heilige arms van jou ewig allerliefdevolste Vader woon!

25 Kyk, dit is die ware grondbeginsel. Leef daarvolgens, en dan sal jy en al jou huisgenote dit nie nodig hê om die altaar ook maar met `n vinger aan te raak nie en tog sal julle die kindskap van God volkome op julle eie wêreld kan bereik.

26 Steur jou egter nie aan my uiterlike vorm nie, wat veel minder mooi is as die van jou, want dit gaan nie oor die vorm nie. Julle eindelose mooi vorm is slegs `n uiterlike behoefte vir hierdie wêreld, wat so deur die Heer geskape is, dat dit met haar magtige lig, die nagenoeg tallose ander, kleiner wêrelde, wat nie soos hierdie deur lig omgewe is nie, kan verlig. Daarom is so `n teerheid van die uiterlike vorm van julle wese vir hierdie wêreld `n behoefte, omdat julle onmoontlik met `n ander een op hierdie wêreld sou kon bestaan; maar met die skoonheid van die gees is dit baie anders gesteld. Hy rig hom nooit volgens die uiterlike vorm nie, maar enkel en alleen volgens die liefde vir die Heer, want dit is die waaragtige en allerhoogste skoonheid van die lewe!  

27 Wel nou, agtenswaardige oudste, oordink nou my woorde en sê my dan, in hoeverre jy dit begryp het en in hoeverre nie; dan sal ek elke twyfel wat by jou, op grond van jou lig wat nog na bo moet kom, so belig dat jy weldra met die grootste gemak die waaragtige grond van God se ewige waarheid sal ontdek. Doen dit dus!

28 Kyk, ons oudste en al sy kinders kniel met geboë hoof neer en begin hulle harte te aktiveer. Ons sal afwag, wat die resultaat daarvan sal wees.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205