Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 65

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die verskyning van ons "geestelike son". Ander verskynings as in die sfeer van die Heer

65 Kyk, ons het al op die geestelike oppervlak van julle son aangekom. Hoe geval dit julle hier? Soos ek merk, trek julle hoogs verwonderde gesigte en sê: Waarlik, ook hier is dit onvoorstelbaar heerlik en aangenaam om te wees. Daar is weliswaar van die byna huiweringswekkende, glansende prag van die vroeëre sonwêreld geen spoor te ontdek nie, maar desondanks is hier die egte lieflike tuine en die buitengewone pragtige blomryke weivelde, bebou met lieftallige huisies, ook besonder verruklik om te sien. Wat egter die aanblik hier nog liefliker maak, is dat ons hier in die tuine en in die weivelde, baie in die besonder rondom die huisies, `n hele spul kindertjies sien en ook groter mensegeeste, wat hulle baie vriendelik met die kindertjies besig hou.

2 Maar één ding kom hier buitengewoon vreemd vir ons voor. Kyk beste vriend, die Heer Self het ons na die beskouing van die natuurlike son nou wel op die geestelike son geplaas, maar daar het ons van alles wat ons nou hier sien nie die allergeringste opgemerk nie. Ons het slegs `n eindelose ver uitgestrekte vlakte gesien, wat alom met `n soort gras en hier en daar ook met klein blommetjies versier was. Ons sien ook bokant die onmeetlike wyd uitgestrekte oppervlak geeste heen en weer en op en af gaan, byna soos die eendagsvlieë op aarde by sonsopgang of voor sonsondergang. Dit was dan ook al. Wou ons meer gesien het, dan het ons die sfeer van `n gees nodig gehad.  

3 Dit roep drie belangrike vrae by ons op. Die eerste lui as volg: Was die "geestelike son", wat ons in die aanwesigheid van die Heer so baie eenvoudig aanskou het, identies aan hierdie wat ons nou sien? Die tweede vraag lui: As hierdie son identies is aan die eerste wat ons betree het, is dit dan `n heel ander plek op haar oppervlak as dit wat ons die eerste keer gesien het? Die derde vraag lui: Indien dit dieselfde son is en ons op haar oppervlak nie dit sien wat ons in die aanwesigheid van die Heer by die eerste beskouing van die geestelike son gesien het nie, het ons dit dan aan jou sfeer te danke?

4 Jy het ons dadelik in die begin gesê dat ons onsself nie in jou sfeer bevind nie, maar dat jy jou nou in ons sfeer bevind. Daar kan miskien wel `n verwisseling van sfere plaasgevind het, sonder dat ons daarvan bewus was. Daarom vra ons jou dan ook hoe die saak inmekaar steek.

5 Liewe vriende en broeders, ek moet julle al by voorbaat sê dat julle nou geen passende antwoord op hierdie drie vrae kan kry nie, en wel om die eenvoudige rede dat julle die vraag nie só gestel het dat die verklaring van die momentele verskynsel in die antwoord beslote sou lê nie.  

6 Toe julle die oppervlak van die geestelike son in die aan­wesigheid van die Heer betree het, het julle die oppervlak van die son nie in die besonderheid, maar in die oneindige sfeer van die Heer baie in die algemeen betree, want in die sfeer van die Heer is nimmer `n eindigende, gedetailleerde beeld op sigself denkbaar nie. In Sy sfeer kry elke gedetailleerde verskynsel op sigself skielik iets onbegrens, iets oneindig en die eenvoudige grond wat julle toe betree het, was die grond van die oneindige geestelike son van die Heer, waarin alle oneindige sfere beslote lê.

7 Die geeste wat julle daar heen en weer sien wandel, is eintlik geen afsonderlike geeste nie, maar elke gees wat julle daar op die oppervlak as afsonderlike gees gesien het, is `n hele vereniging van tallose geeste, waarvan elke gees op homself weer tallose kleiner verenigings in hom dra, wat ook elk op sigself uit salige geeste bestaan, op dieselfde manier soos wat ons nou hier byeen is. Aangesien julle eers in die sfeer van so 'n groot gees tot `n meer gedetailleerde aanskouing van die geestelike en hemelse dinge gekom het, kan julle julleself maklik daarvan oortuig dat dit volkome waar is.  

8 Julle sit nou wel `n erg verbouereerde gesig op en sê: Hoor net, beste vriend, hoe is dit nou? Waarlik, wat jy daar sê, kom nogal onsinnig vir ons voor, want die Heer het ons tog die name van die afsonderlike geeste wat na ons toe gekom het, bekendgemaak en daaronder was selfs enkele aardse, naaste bloedverwante van ons. Op hulself kan hulle tog nie so `n algemene hemelvereniging van engele vorm nie? Bowendien het ons hulle, nadat ons in hulle sfeer binnegegaan het, presies so gesien soos voorheen en hulle het met ons gepraat soos jy en hulle het ons rondgelei. Hoe moet ons dit dan begryp?

9 Ek sê vir julle, my liewe broeders en vriende, dit sal vir julle wel taamlik moeilik word om die onderlinge verhoudinge in die hemel volkome te deursien. Wat ek egter kan doen om julle geestelik te korrigeer, sal ek ook doen en ek sal julle weer allerlei duwweltjies gee, waardeur julle ten minste nader op die spoor van die groot waarheid kan kom. Luister dus! Wat het die Heer gesê toe Hy eens `n getuienis oor Johannes die Doper gegee het? Sy woorde het so gelui: "Van almal wat tot nou toe uit vroue gebore was, was daar nie een groter as hy nie; maar die kleinste in die ryk van God is groter as hy!" Wat wil dit nou sê? Niks anders nie as: Van alle individuele mense is niemand op sigself groter as Johannes nie; maar die geringste onder hulle wat volgens die leer van die Heer as suiwer godskinders in die nuwe ryk van die hemele opgeneem word, sal reeds groter wees as die grootste individuele mens op sigself. 

10 Waarom dan wel? Omdat hulle nie net deur hulle liefde tot die Heer groot word nie, maar omdat hulle liefde tot die Heer iets oneindig inhou, word hulle leiers van hemelse verenigings en voor die aangesig van die Heer dy die liefdesfeer van so 'n salige gees as`t ware uit tot `n tweede groot mens. En hierdie sfeer op sigself is nou juis so 'n hemelse vereniging, waarin al die goeie geeste opgeneem word wat dieselfde liefde vir die Heer voel as die leier, en dus ook die skepper van die vereniging.

11 Soortgelyke voorbeelde vind ons immers ook op aarde. Die statebonde laat daarvan al `n duidelike voorbeeld sien en elke staatsburger dra in `n sekere sin die naam van die hoogste leier; dit kan `n keiser, koning, hertog, vors ensovoorts wees. Kleiner verenigings is stede, distrikte, dorpe en gemeentes, waarvan elke inwoner in `n sekere sin ook die naam dra, want mens sê: Dit is `n Parysenaar, dit is `n Londenaar, dit `n Wener, ensovoorts. Nog meer kenmerkend vir ons geval vind ons dit terug by religieuse verenigings, wat mens trouens baie ontoepaslik "sektes" noem. Bekyk ons net so 'n sekte, dan sien ons dat elke sekte sy oorspronklike stigter het. Wat beteken so 'n stigter vir die sekte wat deur hom opgerig is? Hy is die hoof van so 'n sekte of vereniging, wat hom geestelik gesien ontwikkel het tot `n algemene vorm, wat volkome ooreenkom met die tiperende idees van die stigter.

12 Wie byvoorbeeld die Lutherse geloof volledig aangeneem het, woon geestelik gesien al in die algemene geestelike vorm van Luther, oftewel is hy `n lid van die Lutherse vereniging. Dit is dan `n groot vereniging, wat weer onderverdeel is in `n groot aantal kleiner verenigings wat mens gemeentes kan noem en wat stuk vir stuk weer hulle eie leier het. So 'n gemeente het altyd sy voorganger of leier, wat in `n sekere sin `n algemene geestelike liggaam of `n kleiner vereniging is, waarin almal wat hulle in sy geloof en liefde kan vind, tuis voel.

13 Dit is ook die geval met die eerste verbreiders van die leer van die Heer, net so ook met Swedenborg, wat julle ook leer ken het. Julle aardse verwante is egter enersyds weliswaar lede van so `n vereniging, maar andersyds het hulle ook, deur hulle liefdeswerke, baie mense na hulle toe getrek en daardeur ook weer verenigings gevorm waardeur hulle op hulle manier dus ook klein voorgangers van hulle vereniging geword het. Om die rede kon julle hulle dan ook, in die algemeen geplaas in die sfeer van die Heer, as afsonderlike verenigingsgeeste sien.

14 Ek dink dat deur hierdie duwweltjie alles al taamlik duidelik vir julle geword het. Dat dit egter werklik so is, kan julle ook duidelik aflei uit dit wat die Heer vir Sy apostels gesê het toe hulle Hom gevra het wat hulle eens sou ontvang, omdat hulle alles om Sy ontwil verlaat het. Hy het gespreek: "Julle sal op twaalf trone gesetel wees en die twaalf stamme van Israel oordeel!" Wat soveel wil sê as: Uit die woord wat julle in My Naam en vanuit My gees aan alle volkere sal predik, sal daar, aan die hand van julle aantal, eweveel hoof verenigings opgerig word, waarvan julle, volgens julle aard, die hoofleiers en voorgangers sal wees. Ek dink dat dit tog goed voor die hand liggend is. Sodat die saak nog duideliker mag word, sal ons vervolgens ons toevlug tot `n ander "duwweltjie" neem. 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205