Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 7

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die avondmaal met lam, brood en wyn

7 Kyk, daar reg voor ons is `n breë, glansende trap wat voorsien is van leunings en van suiwer deursigtige goud gemaak. Hierdie trap lei omhoog na die middelste gedeelte van die herehuis. Ons geselskap begewe hom nou saam met die apostels na bo; dus volg ons ook. Nou is ons al by die toegangsdeur van die groot saal. Die Heer open die deur en ons gaan almal na binne. Sien welke oneindige prag en heerlikheid daar in hierdie enorme groot saal aanwesig is! Die vloer lyk ook van deursigtige goud te wees en as julle hom goed bekyk, sal julle in die goud oral `n sag glansende skrif sien.

2 Wat staan daar eintlik in die skrif geskryf? Ek sê vir julle; nie meer en nie minder as alle dade wat ons prior uit egte innerlike liefde verrig het. Kyk nou na beide sye van die saal. Daar staan vyf rooi, stralende pilare, wat lyk soos witgloeiende erts wat daar op aarde vanaf `n kwartier afstand helderrooi sou lyk as gevolg van die digtheid van die lug waar so 'n straal hom deurheen moet boor. Soos julle in die gees kan sien, is die uitstraling van die pilare hier natuurlik onsegbaar sterker.

3 Kyk nou ook net hoe die voetstukke van hierdie groot pilare ook weer oral versier is met `n skrif wat sterker straal as alle sonne tesame. Lees dit maar net, en dan sal julle sien dat die tien gebooie daarop geskrywe staan. Bekyk die geskrif nog noukeuriger en julle sal in elke letter afsonderlik `n kleiner skrif ontdek waaruit mens dan die innerlike betekenis van die gebooie kan uitmaak.

4 Kyk ook net na bo, en dan sien julle hoe daar vanaf elke pilaar `n wit glansende, pragtige boog na die middel van die hoë plafon loop, alwaar hulle almal straalvormig bymekaar kom. Op die punt waar die boë mekaar straalsgewys ontmoet, sien julle `n sterk stralende son en midde in die son sal julle in helderrooi vlammende skrif die betekenisvolle woord 'liefde' opgeteken vind.

5 Kyk nou net na die wande van hierdie saal, wat uit die allerkos­baarste edelstene opgetrek is. Gaan net ietwat nader na `n deel van die wand toe en bekyk hom noukeurig; julle sal dan oral `n skrif ontdek en wel in die midde van die stene, glinsterend soos klein sterretjies. En as julle die een bietjie begin te lees, sal julle baie gou ontdek dat die geskrif God se woord bevat en wel eers in sy letterlike betekenis; wat dieper in die steen die geestelike word en nog dieper en veral boaan, die hemelse betekenis weergee. Hierdie vier wande bevat slegs die vier evangelies wat aan julle bekend is; beide die lang sywande die van Matthéüs en Lukas, die smaller wande voor- en agterin die van Markus en Johannes. 

6 Julle sou ook graag wil weet of die Ou Testament ook nie hier te sien is nie. Nie hier in die gedeelte van dié gebou nie, maar wat by julle 'die begane grond' genoem word, is alles opgebou uit die Ou Testament en wat julle op aarde die onsigbare fondamente van `n huis noem, bestaan hier uit die Oerkerk van die aarde.

7 Maar kyk nou net hier vooraan. Hier sien julle `n pragtig gedekte tafel met in die middel `n gebraaide lam in `n goue skottel, daarnaas `n brood en `n groot kelk vol voortreflike wyn.

8 Nou sê die Heer vir die prior: My geliefde seun, hier sien jy `n ander tafel; hoe vind jy dit? Die prior sê: O Heer, liefdevolste heilige Vader, alhoewel die eindelose prag van hierdie saal my terneerdruk, val dit my tog op dat hierdie maaltyd baie sterk lyk na die, wat U op aarde vir U bittere lyding met U liewe apostels en leerlinge gehou het. 

9 Die Heer sê: My geliefde seun, jy het korrek gespreek, want aan daardie tafel het Ek immers gesê dat Ek nóg van die lam, nóg van die wyn iets tot My sou neem voordat dit weer in die ryk van God, dus in My ryk, opnuut berei sou word. Sien, nou is dit opnuut berei! Hier sal ons dus weer saam hierdie maaltyd hou en ons sal daarby nie meer bedroef wees nie, maar in die allerhoogste vreugde oorgaan. Kom dus almal met My aan tafel en wel volgens die rangorde soos destyds op aarde. 

10 Jy vra nou egter ook na Judas, of hy ook aan tafel sal wees. Wat dink jy, sou die verraaier ook daarby hoort? Die prior sê: O Heer, liefdevolste heilige Vader, ek weet weliswaar dat U regverdigheid netso groot is soos U liefde, genade en erbarming, maar ek moet eerlik aan U beken dat dit my tog ietwat hard sou voorkom as ek hierdie verlore apostel werklik vir ewig sou moet mis, want U het tog self gesê dat hierdie een verlore moet gaan sodat die Skrif vervul sou word. Hierdie teks het my dan ook heimlik, met die oog op hierdie ongelukkige apostel, steeds met stille troos vervul. Want ek het by myself gesê: Miskien moes Judas, alhoewel dit sy vrye keuse was, wat ook U dienende werktuig is, dus `n apostel van die dooies wees, sodat juis deur sy verraad, sekerlik van die ewigheid af voorbeskikte plan, heilig en heerlik verwesenlik kon word! O Heer, liefdevolste heilige Vader, dit gee my dan steeds weer hoop vir hierdie arme ongelukkige apostel. Nog meer egter word ek steeds getroos by die gedagte hoe U aan die kruis die Vader in U vir al U vyande om vergewing gevra het; dan kon ek die arme Judas, ondanks sy selfmoord, nie uitsluit nie. Kennelik was tog ook, volgens die Skrif, die duiwel wat in hom gevaar het, skuldig aan sy laaste daad. Daarom sou ek ook graag hierdie apostel, ook al is hy nie hier nie, tog ten minste êrens `n bietjie gelukkig wil sien.

11 Die Heer sê: Luister My geliefde seun, daar bestaan nie één nie, maar daar bestaan twee Judas Iskariotte. Die eerste is die mens wat met My op aarde geleef het en die ander is die Satan, wat in sy toenmalige vryheid hierdie mens skatpligtig aan hom gemaak het. Hierdie tweede Judas Iskariot is weliswaar nog altyd volkome die basis van die alleronderste hel, maar nie die mens Iskariot nie, want dit was hom vergewe. En om te weet in hoeverre, hoef jy jou maar net om te draai. Want die een wat juis daar met jou broeder spreek en nou ook nog `n liefdesverraad pleeg deur jou broeder al by voorbaat van My groot liefde te getuig, is nou juis die Judas Iskariot oor wie jy jou besorg gemaak het. Is jy nou tevrede met My?

12 Die prior, wat nou byna van liefde vir die Heer wil vergaan, sê: O Heer, oneindig liefdevolste, heiligste Vader, werklikwaar, ek het U altyd wel as die aller liefdevolste en oneindig goeie vir my voor­gestel, maar desondanks het ek nooit durf dink dat U onein­dige erbarming, genade en liefde selfs betrekking sou hê op Judas nie! Want op aarde sou ek so 'n gedagte sekerlik as `n swaar sonde beskou het, maar nou sien ek hoe ver U oneindige goedheid, genade en erbarming elke menslike voorstellingsvermoë oortref. O Heer, wat moet ek tog doen? Hoe moet ek U liefhê, om in my hart maar enigsins so `n oneindige liefde van U te kan beantwoord?

13 Die Heer sluit die prior in Sy arms, druk hom teen Sy bors en sê vir hom: Kyk, My geliefde seun, soos jy My nou liefhet, beantwoord jy ten volle aan My oneindige liefde. Kom daarom nou dan ook met My aan tafel en eet en drink die ware lewende Avondmaal, sodat jy by die genot daarvan alle versterking sal ontvang wat jy as `n vors van aansien hier in My ryk steeds en ewig in toenemende mate nodig het!

14 Kyk, nou gaan almal aan tafel en aan die regterkant van die Heer neem die prior met sy vrou en sy broeder plaas. Aan die linkerkant sien julle Johannes, dan daarnaas Petrus en vervolgens Paulus en die ander apostels en leerlinge.

15 Aan die regterkant van die arm broeder van die prior sit Judas en naas hom nog enkele ander, wat ek nog nie nou aan julle wil noem nie. Meer hierdie kant op sien julle ook ons Josef en naas hom Maria; naas Maria, Maria Magdalena en nog ander vroue wat julle goed ken. Daarnaas sien julle Lasarus, Nikodemus en nog enkele groot vriende van die Heer.

16 Dat daar nog enkele stoele onbeset is, vra julle nou of daar iemand gaan sit? Ja, my liewe vriende en broeders, ook ek moet aan tafel gaan en julle, as nog aardse geeste, mag nie uit my sfeer tree nie. Daarom bly daar niks anders oor nie as dat ons op `n geheime wenk van die Heer, op die drie nog leë stoele plaasneem. Volg my daarom moedig aan tafel en eet en drink net soos ek en al die ander. 

17 Wanneer julle aan hierdie tafel sal geëet het - al is dit nie vir julle sintuie voelbaar nie - dan sal `n innerlike, julle gees versadigende gevoel julle sê dat julle in die gees aan hierdie tafel geëet het. Julle sal daardeur `n groot, belangrike versterking ontvang, wat julle baie goed sal voel. Wees nie bevrees nie, maar gebruik die maaltyd van die ewige lewe in deemoed en liefde. Volg my dus moedig en onbesorg aan tafel!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205