Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 70

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Onderrig oor die wese en die ontstaan van die aarde

70 Die nuwe gebou lê voor ons en ons gaan na binne. Wat sien julle hier in die groot saal? Klaarblyklik niks anders nie as alweer `n opgestelde sfeer, wat hom in niks onderskei van die vorige nie. Hoe sou mens egter geologie moet bestudeer met behulp van hierdie sfeer? Laat ons maar nader gaan, dan sal dit ook dadelik duideliker word.

2 Kyk, om te begin gaan hierdie sfeer presies in die middel, van pool tot pool in twee dele uitmekaar. Daarvoor is maar een duwweltjie nodig om die hele inwendige bou van die aarde van pool tot pool sigbaar te maak. Die struktuur en die bou is noukeurig weergegee volgens die werklike aarde; ja, selfs die mineraal, soos dit hier te siene is, is volkome dieselfde. As julle nou die in twee gedeelde bal bekyk, sal julle sien dat daar in die aarde, in `n sekere sin nog `n aarde van `n kleiner afmeting is, wat egter tog `n samehangende geheel met die buitenste aarde vorm, deur middel van stewige organiese bande.

3 In hierdie kleiner aarde sien julle, meer na die noordpool toe, nog een, natuurlik ook in twee gedeel, maar `n meer ovaal bal wat binne-in vol sit met are en kanale. Presies onder die ewenaar sien julle `n groot hol ruimte, wat skynbaar met `n massa opgevul is wat soos vuur lyk. Vanuit hierdie vuurmassa sien julle, via tallose organe, die vuur na die oppervlak van die aarde opstyg en van hierdie inwendige vuurholte sien julle ook, veral na die suidpool toe, verskeie groot spiraalvormige buise, waardeur julle `n groot hoeveelheid brandende dampe sien stroom. Hierdie dampe word voortdurend deur die binnestromende water vanaf die oppervlak van die aarde in hierdie vuurholte gevorm, terwyl, deur die kragtige na buite stroming daarvan in die rigting van die suidpool, die daaglikse omwenteling van die aarde bewerkstellig word.

4 Dit is nie nou die oomblik om die hele wese van die aarde vir julle uit te lê nie, maar ek wil julle net laat sien op watter manier ons meer gevorderde geestelike leerlinge hier die innerlike wese van die aarde leer ken. Ek is van mening dat ons dit verder kan laat rus, omdat elkeen van julle tog met die eerste oogopslag kan sien dat die geologie, of die bou van die gehele wese van die aarde, nie verstandiger en sinvoller onderrig en deur die leerlinge begryp sou kan word, as juis op hierdie manier nie.

5 Tewens word hier egter, naas die materiële geologie, ook nog uitgelê hoe die hele materie en die uit haar gevormde organe in wese niks anders is nie as geestelik ooreenstemmende vorme, waarin `n gevange geestelike lewe op sy verlossing voorberei word. Daar word hulle ook die trapsgewyse vooruitgang getoon, volgens wat die gevange lewe van die sentrum van die aarde uitgaan en via tallose trappe opstyg en haarself dan op die opper­vlakte van die aarde weer in tallose nuwe vorme manifesteer en verder ontwikkel. Kyk, dit alles leer die leerlinge in hierdie saal.

6 Julle vra nou; vir soveel geestelike leerlinge sal een so 'n sfeer tog nie voldoende wees nie. O, kyk maar net rondom in hierdie saal, dan sal julle nog `n baie groot aantal sodanige apparate sien, deels in ewe groot vorme en deels in kleiner vorme. En al hierdie sfere is so gemaak, dat hulle in alle moontlike dele uiteengehaal kan word. Nadat ons dit ook gesien het, kan ons onsself weer na `n volgende saal begewe.

7 Ons bevind ons in die tweede aangrensende saal. Kyk, dit het die vorm van `n buitengewone ruie en hoë ronde saal, wat rondom ingedeel is in duisend aansienlik groot en taamlike diep, deur pilare gevormde nisse, oftewel `n soort kapel. Julle sien hier in die middel van hierdie saal niks anders nie as vlugtige wit en liggrys wolke bokant `n groot tafel.

8 Wat beteken dit? Kyk maar net in alle rigtings na die ronde vensters. Elk venster van elke kapel werp sy lig presies op hierdie tafel.

9 Deur die saamval van die strale ontstaan hierdie oënskynlike wolk nou juis. Wat kan die leerlinge egter daaruit leer? Niks anders nie as die sistematiese ontstaan van `n wêreld. Hoe, volgens die wil van die Heer, daar `n wêreld uit so 'n stralekonflik moet ontstaan, is te sien in hierdie duisend aangebringde kapelle rondom.

10 In die eerste kapel sien ons op ietwat kleiner skaal dieselfde fenomeen, wat ons al in die middel van die saal gesien het. In die volgende kapel het die ongeordende wolk al `n meer ovaal vorm, wat egter nog buitengewoon onvas is. 

11 In elke daaropvolgende kapel word hierdie vorm steeds besten­diger en in `n sekere sin ook solieder. So deurloop ons honderd kapelle. Na die honderdste sien ons deur die lig deursigtige newelbal heen al `n kristalheldere waterdruppel swewe. As ons dan weer `n paar honderd kapelle deurloop het, sien ons, dat die water­bal in elke volgende kapel groter is, totdat hy uiteindelik die omvang van die vroeëre newelbal kry.

12 Vanaf dié oomblik ontdek ons in die middel van die waterbal klein deursigtige kristalletjies, wat `n bietjie lyk soos die glad gevormde sneeuvlokke, wat by `n deeglike koue dikwels soos klein diamantplaatjies rondvlieg.

13 In die daaropvolgende kapelle ontdek ons steeds meer sulke kristalle, waaromheen `n soort blouagtige vlegwerk homself na die sentrum toe begin te wikkel, waardeur die voorheen los kristalletjies met mekaar verbind word.

14 By die voortgaan deur hierdie kapelle ontdek ons in die middel van die waterbal al geleidelik aan `n grysagtige, ondeursigtige klont, waaromheen, soos in `n koue winter rondom `n boomtak, weer nuwe, helder kristalle vassit, wat soos diamante deur die waterbal heen glinster.

15 Gaan ons verder, dan sien ons ook dat hierdie nuut gevormde kristalle alweer deur `n nuwe, blouagtige weefsel, so te sê vasgebind is, en ook dat daar vanuit die steeds donker wordende klont, nog `n hele spul lugbelletjies na alle kante opstyg, waardeur daar reeds `n soort atmosferiese lug homself bokant die waterbal begin te ontwikkel. En julle sien dat hierdie ontwikkeling, namate ons verder gaan, steeds groter en duideliker word.

16 Nadat ons weer by hierdie langsaam voortgaande ontwikkeling `n paar honderd kapelle deurloop het, word hier in die eersvolgende al `n geweldige bruisende klont in die middel van `n taamlike groot waterbal sigbaar. Vinnige belle styg voortdurend daaruit omhoog en is hier al draers van `n soort newelagtige substansie, wat hom bokant die oppervlak van die waterbal, by die uitmekaar spat van die opstygende belle, soos `n ligte newel bokant die wateroppervlak versprei. En kyk, hierdie aktiwiteite word hewiger van kapel tot kapel. By die honderdste kapel sien ons hier en daar al deur die sterk gekristalliseerde waterbal heen `n gloeiende plek van waaruit voortdurend, net soos by kokende water, dampe opstyg in die vorm van ontelbare baie belle en belletjies.

17 Verderaan sien ons al aansienlike kristalle se pieke bokant die wateroppervlak uitsteek en die waterbal is slegs hier en daar nog vry van die dampe wat bo hom sweef.

18 Nog verderaan sien ons reeds aansienlike vuurstrale wat van binne uit die wateroppervlak uiteen skeur, waardeur geweldige golwe ontstaan; deur die golwe spoel nuut gevormde klein kristal­letjies in die binneste gleuwe en op hierdie manier word die binneste, ondeursigtige bal steeds stewiger en ook ronder soos die oppervlak van die water.

19 Weer verder van kapel tot kapel voortgaande, kom ons al bliksemstrale teë wat, uiteraard op klein skaal, ontstaan in die dampe, wat die eintlike bal al soseer bedek, dat `n mens dit nog net met moeite kan waarneem.

20 Teen die einde van die museum vir wêreldvorming sien ons baie geweldige, vurige uitbarstings, wat die binnenste, vaste substansie bo die oppervlak uitspuit en daardeur berge en ander, droë vastelande vorm. By die voortgaan ontdek ons dat die kaal, vaste gesteentes hier en daar reeds met mos bedek is en in die dieper geleë streke sien ons sagter grond, wat uit die moslaag op die gesteentes en deur die invloed van die vuur in uiteengevalle gesteentes ontwikkel het.

21 In die verdere verloop ontdek ons dat die water al vol sit met infusiediertjies en dat die vorming van die vegetatiewe aardryk vlotter verloop. By `n volgende kapel sien ons al `n soort wurm in die water. Weer verderaan word die vorming van dierlike lewe in die water steeds sterker en oorvloediger; en so sien julle deur die voortstap van kapel tot kapel, dat die aarde hom uiteindelik ontwikkel het tot die toestand waarin die skepping van die mens begin. Dit is egter nie meer hier nie, maar in `n volgende saal te sien.

22 Hoever sou hierdie kapelle, in die tyd gesien, egter uitmekaar lê? Ek sê vir julle: Hoewel die tydruimtes nie heeltemal gelyk is nie, sal julle nie ver verkeerd wees wanneer julle aanneem dat dit wel miljoene jare van kapel tot kapel geduur het. Want as julle die grootte van die aarde in aanmerking neem, sal julle ook kan begryp watter tydsfaktore daarvoor nodig is om een doudruppel uit die volkome nietige ligeter te wen, en dit daarna deur gestadige en steeds verder toenemende groei tot die teenwoordige omvang van die aarde te sien uitdy en ten slotte vaste vorm te sien aanneem. Meer hoef ek julle nouliks te sê.

23 Dat die leerlinge op hierdie manier, die ontstaan van `n wêreld en hier veral van die aarde, so prakties moontlik leer langs die weg van die leersame aanskouing, spreek vanself. So kan ons dus verder gaan na die volgende saal, waar die skepping van die mens uitgebeeld word en waarmee dus ook die historiese en geestelike ontwikkeling van die aarde begin.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205