Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 75

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die verlange na God - `n getuienis van Sy bestaan

75 Kyk, nou net kom die ander soekende kinders ook na binne. Van hulle gesigte is duidelik af te lees dat hulle nóg op die een, nóg op die ander manier vir Hom, Wie hulle gaan soek het, gevind het. Hulle gaan daarom vir die tweede keer baie bedeesd na hulle leraar toe en die leraar vra hulle: Wel my liewe kinders, hoe lyk dit nou met die soeke onder die bome, of op die solder, of op die galerye en met die soek van diegene onder julle wat hom voorgeneem het om die Heer in hulle kamertjies te soek? Volgens wat ek sien, haal julle almal julle skouers op; het julle dan die goeie liewe Vader, die enige God van alle hemele en alle wêrelde, nog nie gevind en gesien nie? Hoe is dit nou met julle geloof gesteld? Het julle nog vertwyfeling oor die bestaan van God?

2 Die kinders sê: Ag liewe, verhewe leraar, wat die vertwyfeling betref, die het ons nou nog meer as voorheen, want kyk, nóg ons standvastige wil, nóg ons mees lewendige geloof, nóg al ons diepsinnigste, op God die Heer berustende gedagtes, nóg ons sterk wil tot liefhê, het `n resultaat gehad. As daar `n God en Heer sou bestaan, dan sou Hy Homself tog op die een of ander manier aan ons moes geopenbaar het, want kyk, ten slotte het ons onsself almal verenig en het van die vaste geloof uitgegaan dat daar één heilige, goeie, liewe God en Vader sou moet bestaan. Ons het Hom met al ons liefde omvou en Sy Naam, wat jy aan ons bekend gemaak het, geroep, waarby ons gesê het: Ag liefste, heilige Vader Jesus, kom, kom tog na ons toe, verhoor ons kinderlike smeking en laat ons sien dat U bestaan en ons ook liefhet soos wat ons U liefhet! En sien, liewe, verhewe leraar, so het ons vir `n geruime tyd geroep, maar daar was geen spoor van die een of andere hemelse Vader te sien nie. Dit was alles tevergeefs en daarom is ons nou volkome daarvan oortuig dat daar, buiten julle verhewe leraars, geen andere hoëre leraar of God bestaan nie.

3 Ons wil daarmee weliswaar nog nie beweer dat ons vertwyfeling regstreeks op vaste gronde gebaseer is nie, maar ons kan met sekerheid aanneem dat na al die vergeefse, moeisame soeke na die bestaan van God, eerder vertwyfeling, as `n vaste geloof by ons opgekom het.

4 Maar daar sien ons ook die een, wat hom van ons afgesonder het om die Heer slegs met die liefde te soek; het ook hy niks gevind nie?

5 Die leraar sê: My liewe kindertjies, daarop kan ek julle voorlopig nog nie met ja of nee antwoord nie. Maar die kinders vra die leraar weer: Liewe verhewe leraar, wie is dan tog die vreemde eenvoudige man daar, waar die een uit ons midde so mee besig is en wat hy so liefdevol aankyk? Het sy aardse vader miskien hier aangekom?

6 Die leraar sê: Liewe kindertjies, dit is alweer iets, waaroor ek julle niks kan sê nie. Wat julle voorlopig wel mag weet, is dat die eenvoudige man uitsonderlik wys is. Daarom moet julle baie goed oplet as hy uiteindelik oor die een of ander met julle sou wil spreek.

7 Die kinders sê: Ag liewe verhewe leraar, kan so `n baie eenvou­dige mens dan ook wys wees? Want kyk, ons het tot nou toe ervaar dat leraars, jy inbegrepe, na mate hulle wyser word, ook steeds verhewender en stralender lyk. Maar die man lyk gladnie verhewe of stralend nie. Hy is juis baie eenvoudiger en gewoner as jy. Daarom lyk dit vir ons ietwat vreemd dat hy so uitsonderlik wys sou wees.

8 Die leraar sê: Ja liewe kinders, by die innerlike allerdiepste wysheid kom dit gladnie meer op uiterlike glans neer nie, maar daar geld: Hoe meer glans van buite, des te minder lig van binne, maar hoe meer lig van binne, des te minder glans van buite. Gaan maar na hom toe en vra hom iets en julle sal julleself dadelik daarvan oortuig hoe wys hy is.

9 Nou gaan die kinders na die Heer toe en vra Hom, nog niks vermoedend: Sê, liewe eenvoudige man, sou jy ons toestaan om iets vir jou te vra?

10 Die Heer sê: O graag, van ganser harte, My liewe kindertjies! Vra maar, dan sal Ek wel weet om `n antwoord te vind. Die kinders sê vir die Heer: Noudat jy ons toegestaan het om iets vir jou te vra, vra ons jou juis na dit wat ons almal die naaste aan die hart lê. Kyk, ons soek en probeer al vir `n geruime tyd op alle moontlike maniere te bewys of daar `n God bestaan, al dan nie, wat `n buitengewone goeie Vader in die hemel sou wees vir alle mense, wat waar dan ook lewe. Ons kan egter nêrens op die spoor van hierdie Vader kom nie en ons leraar self wil of kan ons ook niks wesenlik hieroor sê nie. Hy het ons egter wel gesê dat jy eg en buitengewoon wys sou wees. Daarom sou ons graag van jou wil hoor of daar so `n God en Vader bestaan al dan nie. As jy ook maar iets daaroor weet, sê dit tog aan ons. Ons sal baie oplettend na jou luister en aan elke woord wat uit jou mond kom, graag die grootste moontlike aandag bestee. 

11 Die Heer sê: Ja my liewe kindertjies, nou het julle My wel `n baie moeilike vraag gestel, wat Ek nouliks vir julle sal kan beantwoord, want sê Ek vir julle dat so 'n God en Vader bestaan, dan sal julle sê: Met die antwoord is ons nie tevrede solank ons Hom nie sien nie. En as julle dan sê, laat ons die Vader sien, wat moet Ek dan vir julle sê? Ek sou êrens met my vinger heen kan wys, maar julle sou niks waarneem nie; want waarheen Ek ook sou wys, sou julle tog nooit julle God en Vader vind nie. Maar as Ek vir julle sou sê: Kinders, die Vader is hier in julle midde! Sou julle dit dan wel glo?

12 Sou julle nie vra: Waar is Hy dan? Is Hy een van die leraars in hierdie groot saal? En as Ek dan vir julle sê: O nee, my liewe kinders! Wat sal julle dan doen? Julle sal My met groot oë aankyk en sê: Kyk, die man hou ons vir die gek. As dit nie een van die baie leraars is nie, wie is dit dan? Jy sal dit tog nie wees nie? Want soos so `n gewone, eenvoudige en glanslose wese soos wat jy is, kan die mees verhewe Hemelvader tog nie lyk nie!

13 En wanneer julle My dan so 'n antwoord gegee het, wat moet Ek julle dan weer daarop antwoord? Daarom moet julle My maar iets anders vra, want die beantwoording van hierdie vraag skyn nog nie te wil geluk nie.

14 Die kinders sê: O liewe wyse man, kyk, so gaan dit nie. Aan die beantwoording van `n ander vraag is daar niks vir ons geleë nie; maar alles daaraan om te weet of daar `n hemelse Vader bestaan al dan nie. Bestaan daar egter `n Vader in die hemel, dan is ons almal oorgelukkig; bestaan daar egter geeneen nie, dan is dit asof ons geen grond onder ons voete het nie en nie weet waarvoor, waardeur en waarom dit alles gaan nie? Daarom, as dit vir jou moontlik is, gee dan `n antwoord op die eerste vraag; dit vra ons jou almal baie nadruklik.

15 Want dat jy `n baie wyse man is, het ons al uit jou ontwykende antwoord afgelei. Bring ons daarom tenminste `n paar treë nader aan die Vader, want daar moet sekerlik Een wees. Dit merk ons aan ons groot verlange na juis hierdie hemelse Vader, wat des te sterker word namate Hy hom agter ons kinderlike vertwyfeling wil verberg.

16 As Hy gladnie sou bestaan nie, waar sou die verlange in ons, wat tog ewe lewend is as onsself, dan vandaan kom? Met die verlange moet immers ook die sekerheid oor die bestaan van `n hemelse Vader groei!

17 Die Heer sê: Nou My liewe kinders, julle haal nou juis die woorde uit My mond! Werklik, in die verlange lê `n baie sterk bewys, maar wat is dan die gevolg van die verlange? Is dit nie so nie, My liewe kindertjies, dat die gevolg sal wees dat die mens hom sekerheid wil verskaf oor dit waarna `n mens verlang. Julle sê, dit is `n goeie antwoord. Maar nou vra Ek julle; wat is dan die rede van die verlange? - Julle sê vir My, dit is die liefde tot dit waarna `n mens verlang.

18 Wanneer mens egter iets wesenlik en waarheidsgetrou wil aanskou, is dit dan wel voldoende om slegs by die verlange en die gevolg daarvan te bly stilstaan? Julle sê vir My: O nee, liewe man van baie groot wysheid, dan moet mens na die oorsprong self teruggaan. Kondig die groot waarheid hom nie daar aan nie, dan is alles bedrog; kondig hy hom wel daar aan, dan het mens tot die lewendige oortuiging gekom om dit ewig nooit êrens anders as slegs in haar oorsprong self te herken en te aanskou nie.

19 Kyk nou net hier kindertjies! Hierdie een broeder van julle het hierdie weg gegaan, en hy het die Vader gevind! Vra hom waar Hy is en hy sal die Vader met die vinger aanwys!

20 Nou rig die ander hulle na die een wat Hom gevind het en verlang van hom dat hy die Vader aanwys. En hierdie een sê: Og, my liewe broeders, kyk daar, Hy, wat julle as eenvoudig en gewoon beskou, Hyself is Die Een wat julle so lank tevergeefs gesoek het; Hy is die goeie, liewe hemelse Vader - heilig, bo alles heilig is Sy Naam! Glo my maar, want ek het reeds Sy heerlikheid aanskou. Glo egter nie omdat ek dit vir julle sê nie, maar nader Hom almal met julle harte en dan sal julle Hom ewe waaragtige en heerlik vind soos wat ek Hom gevind het!

21 Kyk, noudat hulle die Vader herken, roep die kinders almal soos uit een mond: O Vader, Vader, Vader!!! Dit is U, ja, dit is U, want ons het in U nabyheid al so `n sterk vermoede gehad! Omdat ons U egter gevind het, vra ons U om U nooit meer vir ons te verberg nie, sodat ons U nie meer so moeisaam moet soek nie!

22 En die Heer sê: Amen, kindertjies, van nou af aan sal julle gesigte nimmer meer van My afgewend word nie! Ook al sal Ek nie steeds soos nou onder julle vertoef nie, tog sal Ek in die verste son wat oor julle skyn, aanwesig wees! Wat julle verder nog oor My moet weet, sal julle leraar julle vertel.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205