Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 83

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Wat beteken "steel"?

83 Dat daar aanvanklik, onder die begrip "steel", onmoontlik die eiemagtige wegneem van materiële goedere van `n ander verstaan kon word, blyk duidelik uit die feit dat, in die besonder ten tye van die wetgewing, niemand van die Israelitiese volk enige eiendom besit het nie. Selfs toe die volk die Beloofde Land binnegetrek het, was sy staatsinrigting so gereël dat niemand in die land `n volkome regmatige eiendom kon besit nie. Hulle was daarenteen soveel moontlik aangewese op die gemeenskap van goedere en elke behoeftige Israeliet moes, wanneer hy verder volgens die goddelike ordening geleef het, oral gasvrye opname en onderdak onder die volk kon vind.

2 Sou die gebod oor steel egter in die willekeurige en eiemagtige wegneem van `n ander man se goedere bedoel word, dan sou, soos in die loop van hierdie uiteensetting duidelik genoeg aange­gee sal word, onvermydelik die verwyt op die Wetgewer geplaas word omdat Hy daardeur, in `n sekere sin, stilswyend die handel, die industrie en dus ook die woeker sou verdedig het. Want dit moet tog vir elkeen wat in staat is om ietwat helder na te dink, onmiddellik in die oog spring dat die eiendomsreg as volkome gesanksioneerde en bekragtigde ingevoer is, sodra mens `n wet gee waardeur die eiendom van elkeen volkome verseker gestel blyk te wees.

3 Hoe sou mens egter andersyds so `n wet kan verwag van die Wetgewer, wat met sy eie mond aan Sy leerlinge gesê het; "Wees nie besorg oor wat julle sal eet en drink nie en waarmee julle julle liggaam sal beklee nie, want dit is alles `n saak van die heidene. Soek vóór alles die ryk van God; al die ander sal julle vanself toeval."

4 Dieselfde Wetgewer sê verder: "Die voëls het hulle neste en die jakkalse hulle gate, maar die Seun van die Mens het selfs geen klip waarop Hy Sy hoof sou kon neerlê nie!" Andersyds sien ons weer hoe Sy leerlinge selfs op `n sabbat are pluk, dus kennelik steel. Maar toe die eienare van die akkers hulle klagte daaroor gemaak het, sê net, wie kry toe van die groot Wetgewer `n vermaning en `n baie gevoelige teregwysing? Julle kan dit maar in die Bybel nalees en dit sal vir julle almal duidelik word.

5 Verder sien ons dieselfde Wetgewer eens in die situasie toe Hy tolgeld moes betaal het. Het Hy dit uit eie sak betaal? O nee, maar Hy het geweet dat daar in die nabygeleë see `n vis was wat `n verlore stater (geldstukkie) ingesluk het. Petrus moes daarheen gaan om die vis, wat deur die krag van die Heer vasgehou was, die munt uit sy bek te neem en die tolgeld daarmee betaal.

6 Ek vra egter; het `n vinder volgens julle eiendomsreg die reg om vrylik te kan beskik oor `n voorwerp wat hy, op watter manier dan ook, gevind het? Moes die groot Wetgewer nie geweet het - of wou Hy dit nie geweet het nie - dat Hy slegs oor een derde van die goed wat in die vis gevind was, vry mog beskik en wel eers nadat Sy vonds geopenbaar of amptelik bekendgemaak was? Dit het Hy nie gedoen nie. Dus het Hy kennelik tweederde gesteel of, wat dieself­de is, `n verduistering gepleeg.

7 Wanneer mens vooropstel dat maar weinig Jode geheel en al daarvan deurdring was wie Christus eintlik was, dan kan `n mens hom aan die hand van die regsbeginsels afvra wie Hom die reg verleen het om die betrokke eselin by haar eienaar te laat haal, om haar dan Self na eie goeddunke te gebruik.

8 Mens sal nou sê: Hy was immers die Heer van die hele natuur en alles behoort tog aan Hom. Dit is korrek, maar hoe kan Hy in wêreldse opsig sê dat die Seun van die mens geen klip besit het nie en dan andersyds sê dat Hy nie gekom het om die wet op te hef nie, maar om haar tot die laaste letter te vervul.

9 As ons Sy geskiedenis verder sou volg, dan sou ons nog baie dinge vind waarby die groot Wetgewer volgens die huidige grondreëls van die eiendomsreg en volgens die uitvoerige juridiese uitleg van die sewende gebod, juis hierdie grondreëls duidelik genegeer het. Wat sou daar gebeur het met iemand wat `n ander man se boom sou verniel het, of `n groot trop varke sou vernietig het en nog meer van die soort dinge? Ek dink, dat ons voorbeelde genoeg het, waaruit meer as duidelik blyk dat die groot Wetgewer `n baie ander betekenis aan die sewende gebod verbind het, as wat mettertyd deur die hebsugtige en egoïstiese mensdom daarvoor bedink is.

10 Mens sal sê: Dit is nou baie helder en duidelik; maar die betekenis wat Hy daaraan verbind het, lê nog agter `n digte sluier verborge! Ek sê egter: Wees maar geduldig! As ons tot nou toe die verkeerde opvatting van die gebod behoorlik belig het, dan sal die korrekte betekenis van die gebod sekerlik ook maklik te vinde wees, want iemand wat in staat is om die nag te deurskou, sal tog sekerlik nie bang wees dat hy oordag te weinig lig sal hê nie.

11 Wat beteken dan eintlik in die ware sin: "Jy mag nie steel nie"? Die ware betekenis is wel te beskou dat:

12 Jy moet nooit die goddelike ordening verlaat nie, jou nie daarbuite plaas en die regte van God wil bemagtig nie.

13 Maar wat is hierdie regte en waaruit bestaan dit? Slegs God is heilig en slegs aan Hom kom alle mag toe! Die Een wat deur God self geheilig word en aan wie God mag toebedeel, besit haar regmatig; maar wie homself heilig en die goddelike mag na hom toe trek om met hierdie glorie selfsugtig en hebsugtig te heers, is in die waaragtige betekenis `n dief, `n rower en `n moordenaar!

14 Wie hom dus eiemagtig en selfsugtig deur watter uiterlike skynsel en bedrieërye dan ook, hetsy van aardse en wel geestelike aard, bokant sy broeders verhef, dit is hy, wat die gebod oortree. In hierdie sin word dit ook vir hierdie kinders hier geleer en word hulle langs praktiese weg getoon dat geen gees ooit die krag wat in hom woon en die mag eiemagtig mag gebruik nie, maar altyd slegs volgens die goddelike ordening.

15 Maar nou sal mens sê: As dit so is, dan is die bekende steel en roof immers geoorloof. Maar ek sê: Wees maar geduldig, die vervolg sal alles duidelik aan die lig bring. Maar vir nou sal ons onsself hiermee tevrede stel, omdat ons nou weet wat onder steel verstaan moet word en dat die Heer nooit die eiendomsreg deur die gebod ingevoer het nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205