Oor die drumpel van die DOOD
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 12

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19.

 

`n Pous verlaat hierdie aarde

11 Augustus 1847

By die voorbeeld sal ons dadelik aan die ander kant begin en daar `n man in oënskou neem wat op hierdie wêreld `n baie belangrike rol gespeel het. Hy was die mening toegedaan dat die wêreld daar ter wille van hom was en hy daarmee kon doen wat hy wou, aangesien hy hom werklik aangematig het om die plaasvervanger van God te wees, meer nog as ander soortgenote. Maar deson­danks moes hy tog 'in die stof byt' en daarteen beskerm nóg die groot mag wat hy hom aangematig het, nóg die wêreld en ewemin sy plaasvervangerskap van God.

Kyk, daar ver in die noorde wandel langsaam `n buitengewone lang, skraal mansgestalte, baie donker van kleur, wat onder­soekend om hom heen kyk en nou eens in die een en dan weer in die ander rigting tuur!

In sy geselskap sien julle `n mannetjie, net soos `n gitswart aap, wat baie druk om ons man heen dartel en maak asof hy met hierdie man baie belangrike sake het om af te handel. Laat ons maar ietwat naby gaan, sodat julle kan hoor wat hierdie man, wat sy metgesel ewemin sien as ons, eienaardige gesprekke met homself voer.

Nou is ons al baie naby hom, luister dus. Hy sê: 'Alles leuens, alles bedrog en wie die meeste bedrieg is, is die gelukkigste; maar ongelukkig die bedrieër, as hy willens en wetens `n bedrieër is! Maar as hy uit onwetendheid `n bedrieër is en lieg en bedrieg sonder om te weet dat hy dit doen, dan kan hy gelukgewens word, want dan trek die een esel die ander, en beide is met die slegste voer tevrede. - Maar ek, wat is ek? Ek was die hoogste leier, almal moes glo en doen wat ek bepaal het; maar ek het gedoen wat ek wil, omdat ek die sleutel van die mag in die hande gehad het, as iemand dit geneem het sonder om te vra of hy wel die reg daartoe het. Ek weet alles; ek weet dat alles slegs leuens en bedrog is, en tog dring ek op straf van streng vergelding, leuens en bedrog op aan elkeen wat nie aanneem en glo dat alles wat van my uitgegaan het, geskrewe of nie, as die volle waarheid beskou dien te word nie. 

Maar op die wêreld het ek gedink; die dood van die liggaam is die einde van alle bestaan. Dit was my heimlike, vaste geloof, en alle wysheid van die wêreld kon my geen ander geloof gee nie! Dit het ek as die enigste waarheid beskou, en sien, ook dit is `n leuen; want ek leef verder, hoewel ek, wat my liggaam aanbetref, gesterwe het.

Hemel, vaevuur en hel het ek vanaf baie duisende kansels laat verkondig, ek het aflate uitgedeel, `n groot aantal gestorwenes heilig verklaar en vaste, gebed, bieg en kommunie beveel en nou staan ek self hier en weet nie wat ek moet doen nie! As daar `n oordeel bestaan, dan sou ek al geoordeel gewees het. As daar `n hemel sou bestaan, dan sou ek tog dan eerste aanspraak daarop kon maak. Want om te begin moes ek tog deur God se wil plaasvervanger van die kerk van Christus geword het; en wat ek toe in die funksie gedoen het, was beslis ook slegs `n allerhoogste opperste wil, want sonder hierdie kan daar volgens die Skrif geen haar gekrenk word en geen muis van die dak afval nie.

Ek het dus ook gebieg en gekommunikeer volgens die ou voorskrif, alhoewel ek myself baie maklik daarvan kon vrygestel het, aangesien ek die mag gehad het om die bieg saam met die streng kommunie vir elkeen vir ewig op te hef, wat ek egter uit politieke oorweginge tog nie kon en wou doen nie. As daar `n hel bestaan, sou daar ook rede genoeg wees om my daarin te bevind; want vir God is elke mens `n moordenaar! Ten minste moes ek my in die vaevuur bevind het; want dit moet elkeen tog minstens drie dae lank ondergaan! Maar ek het niks ondergaan nie, nóg die een, nóg die ander. En daarom is God, Christus, Maria, hemel, vaevuur en hel niks minder as leuens en bedrog nie! Die mens leef slegs deur die kragte van die natuur en dink en voel slegs op grond van die konsentrasie van die verskillende natuurkragte in hom, wat daar waarskynlik tot `n ewige onverwoesbare geheel met mekaar verbonde en verwewe is. Dit sal nou dus my taak wees, om die kragte van naderby te ondersoek en dan, as ek hulle presies leer ken het, deur middel daarvan `n hemel te vestig.

Maar ek merk dat daar voortdurend aan my pontifikale toga gepluk word. Wat sou dit tog wees? Is daar dan miskien tog `n onsigbare gees in my omgewing, of doen die een of ander wind dit dalk? Dit is werklik baie eienaardig in hierdie oneindige woestyn, want jy kan loop waar jy wil, jy bly tog ewig heeltemal alleen. Jy kan roep, skreeu, skel en vloek, of bid tot wie jy maar wil, daar gebeur heeltemal niks en jy bly voor en daarna heeltemal alleen! Dit sal al wel enkele jare gelede wees dat ek op aarde gesterf het, en wel op `n baie pynlike, uiters onaangename manier en nou is ek ewe onaangenaam hier, met niks anders as die kaal woestyn onder my voete nie! Ruimte het ek hier wel, dit is weer `n waarheid, maar waar ek is, wat daar in die toekoms van my sal word - sal ek ewig verder lewe of tog eenmaal volledig vergaan, dit is `n onoplosbare raaisel.

Nou dus maar met goeie moed begin aan die ondersoek van die natuurkragte in my en as ek dit beter leer ken het, sal aan my wel duidelik word wat daar van my moet word!'

Het julle nou gehoor hoe hy redeneer, hy, die plaasvervanger van God op aarde? O, hy sal nog lank so in sy eentjie redeneer, soos wat sy onsigbare begeleier dit vir hom inblaas; want die lot van sulke op aarde baie hoog geplaasde mense is aan die ander kant altyd dieselfde, naamlik die alleen wees, aangesien hy hom op aarde ook bo alles uit geïsoleer het.

Dit isolering is egter tog `n groot genade vir hulle, want slegs daardeur is dit moontlik om hulle weer op die goeie weg te bring. Maar dit duur baie lank; hulle moet in hulself alle grade deurmaak van nag en duisternis, van nood en ook van pyn, soos wat dit in die hel tuishoort.

As so 'n seloot die solotoer deurloop het, wel in vyfhonderd tot duisend, ook wel tot tienduisend jaar, dan kom hy eers in die geselskap van streng geeste. As hy hulle nie volg nie, word hy weer verlaat en heeltemal alleen geplaas, waarby alle gruweldade dan vir hom voor oë gestel word, wat oftewel deur homself of onder sy voorgangers begaan is. By hierdie geleenthede moet hy ook alle pyne ondergaan, wat alle vervolgdes onder hom, of onder sy voorgangers gely het. As hierdie kuur hom nog nie genees nie, word hy gelaat soos hy is; slegs die honger word hom as metgesel gegee en ook die dors, en hierdie twee hofmeesters kry, op slegs enkele uitsonderinge na, bykans elkeen weer na `n verloop van tyd in orde.

Hier het julle nou weer `n beeld gesien, waaruit jy die wêreld aan die ander kant beter kan leer ken en ook die 'water', waar so 'n opperhoof deurheen moet swem, voor hy die oewer van deemoed, waarheid en liefde bereik. Daarom nou niks verder meer oor hierdie man nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205