Oor die drumpel van die DOOD
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19.

 

Die oorgang van `n beroemde man

28 Julie 1847

Ons gaan na die siekbed van `n groot en beroemde man van die wêreld, en wel enkele ure vóór sy oorgang na die ewigheid.

Laat ons net kyk na sy gedrag hier en hoe hy straks die wêreld aan die ander kant sal binnegaan. Ons sien met één oogopslag hoe die twee wêrelde mekaar daar ontmoet en inmekaar oorgaan en dit sal vir julle dan ook onmiddellik duidelik word, hoe die nou net genoemde hoofreël, die gebeure volkome korrek weergegee het.

Kyk, die dade en handelinge van hierdie man van die wêreld was van die aard en was sodanig uitgevoer dat die eggo daarvan soos `n sissende meteoriet oral op aarde verneem was, sodat hy die blikke van alle mense op hom gevestig het. Vanweë die sterk weerklank daarvan, wat op alle plekke op aarde merkbaar was, was alle dade uitgebreid pro en kontra bespreek en beskrywe, en wel op soveel papier dat mens die hele Europa daarmee kon bedek het. En nou lê hierdie groot man, hierdie filantroop, hierdie vurige verdediger van politieke en kerklike belange van sy nasie, uitgestrek op sy bed, vol vertwyfeling en vrees vanweë die nader­komende laaste uur, waarvan hy ook nie die minste hoop kan hê om dit te ontloop nie.

In `n soort dowwe, pynlike verwarring sien hy, aangesien hy heimlik `n ateïs is, nou eers die ewige vernietiging van sy bestaan voor hom, dan weer voel hy die vermeende pyne van die ontbinding. Daarom het hy dan ook testamentêr vasgelê die hy gebalsem moet word, en, sodat hy nooit meer in sy graf sal ontwaak nie, moet die hart en inwendige organe van sy liggaam geskei word; en sodat die tyd nie vir hierdie verwyderde dele te lank sal duur nie, moet hulle geplaas word op `n plek wat reëlmatig deur mense besoek word.

Maar tydens die gedink aan sy vernietiging, sluip nou ook sy katolieke geloof na binne, met sy streng dreiginge oor die hel, waaroor hierdie man ewenwel in die stilte gelag het, toe hy nog in die waan verkeer het dat hy nog `n honderd jaar sal lewe. Maar nou keer dit soos gevleuelde furieë terug en pynig die gemoed van ons sterwende vreeslik, en dat hy van menige groot skuld bewus is. Nóg die kommunie, nóg die oliesel, nóg die ononderbroke gebede en die baie misse en die luide klokgelui kan sy gemoed tot kalmte bring nie. Steeds vreesliker en steeds ewiger sien sy siel die vlam van die poel van die verderf oplaai. Dan verlaat al sy vroeëre manlike krag hom en is dit uitgeloop met al sy filosofie. Sy brekende hart sink reeds weg in die steeds nader wordende nag van die dood. En sy siel, beklem deur angs, soek nog tydens die laaste asemtogte na `n sprankie troos in die reeds sterwende skuilhoeke van sy hart, wat eens soveel aardse moed gehad het. Maar daar is dit oral leeg en in plaas van troos, staar die ewige vernietiging, of die hel met al sy verskrikkinge, haar oral aan.

So lyk dit aan hierdie kant; maar laat ons nou ook `n blik werp in die hiernamaals.

Kyk, daar staan drie onsigbare engele voor by die bed van ons sterwende. Hulle hou die blik onafgewend op ons man gerig.

Nou sê A vir B: 'Broeder, ek dink dat dit nou wel vir hom volbring is. Aan hierdie doringstruik sal hier op aarde wel geen druiwe meer tevoorskyn kom nie. Kyk hoe die siel haar krom en kronkel en geen uitweg vind nie, en hoe bekommerd die arme gees in haar lyk! Gryp dus met jou hand in die star ingewande en bevry hierdie jammerlike, ellendige siel uit haar nag, dan sal ek in die Naam van die Heer my asem op haar blaas en haar wek vir hierdie wêreld. En jy, broeder C, lei haar dan langs die weë van die Heer na haar plek van bestemming, ooreenkomstig die vryheid van haar liefde. Dit geskied so!'

Nou gryp engel B in die ingewande van ons man en sê: 'In die Naam van die Heer, ontwaak en word vry, broeder, ooreenkomstig jou liefde. Laat dit so wees!'

Nou sak aan hierdie kant, die sterflike omhulsel in die stof, maar aan die ander kant staan `n blinde siel op!

Engel A kom nader en sê: 'Broeder, waarom is jy blind?' En die eers ontwaakte sê: 'Ek is blind. Maak my siende as jy kan, sodat ek te wete kan kom wat daar met my gebeur het, want al my pyne het nou opeens verdwyn!'

Daarop asem A op die oë van die ontwaakte; die ontwaakte open hulle, kyk baie verbaas om hom heen en sien niemand, behalwe engel C. Hy vra hom: 'Wie is jy? En waar is ek? En wat het daar met my gebeur?'

Die engel antwoord: 'Ek is `n boodskapper van God, die Heer Jesus Christus; ek is aangewese om jou te lei op die weë van die Heer, as jy dit wil. Jy het nou liggaamlik vir ewig gesterwe vir die uiterlike, materiële wêreld en bevind jou nou in die geesteswêreld.

Hier staan twee weë vir jou oop; die weg na die Heer in die hemele, of die weg na die gebied waar die hel heers. Dit hang nou heeltemal van jou af, watter kant jy sal heengaan. Want sien, hier is jy volkome vry en kan jy doen wat jy wil. As jy jou deur my wil laat lei en my wil volg, dan doen jy goed daaraan. Maar as jy liewer jou eie lot wil bepaal, staan dit jou ook vry. Maar weet, dat daar maar één God, één Heer en één Regter is en dit is Jesus, wat in die wêreld gekruisig is! Hou jou slegs aan Hom, dan sal jy die ware lig en lewe bereik. Al die res sal bedrog wees in die skyn van jou eie fantasie, waarin jy nou leef en dit het jy nou van my verneem!'

Daarop sê die ontwaakte: 'Maar dit is `n nuwe leer, wat in stryd is met die leer van Rome, dus `n kettery! En jy, wat die leer vir my, hier op hierdie eensame plek wil opdring, lyk eerder na `n afgesant van die hel te wees as van die hemel; verdwyn dus uit my oë en bring my verder nie in versoeking nie!'

Dan sê engel C: 'Goed, jou vryheid ontslaan my in die Naam van die Heer Jesus van my sorg vir jou. Ontvang dus nou jou eie lig; laat dit so wees!'

Daarop verdwyn engel C; die eers ontwaakte tree sy natuurlike sfeer binne en is op die manier as`t ware onder sy bekendes van die wêreld en herinner hom nouliks meer wat daar met hom gebeur het. Daar leef hy nou maar onwerklik soos op die wêreld, hy gaan voort om te doen wat hy op die wêreld gedoen het en bekommer hom nóg oor die hemel, nóg oor die hel en nog minder oor My, die Heer. Want dit is vir hom alles belaglike vaaghede, ewe onwerklik soos droombeelde, en elkeen wat hom daaraan herinner, word uit sy geselskap verwyder.

Kyk, aan hierdie eerste voorbeeld kan julle nou al sien in watter 'water' ons groot, beroemde man geval het. Die volgende voorbeelde sal die onderwerp nog duideliker belig.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205