Oor die drumpel van die DOOD
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 8

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19.

 

Die laatste uur van `n ryk man

3 Augustus 1847

Daar staan ons alweer by die sterfbed van `n man wat baie ryk was en sy rykdom regmatig beheer het, sy kinders so goed as moontlik opgevoed en daarby steeds die armes baie goed behandel het. Weliswaar het hy in ruil daarvoor, so nou en dan ook wel net `n sogenaamde genoeglike uurtjie deurgebring by die arm jong meisies, wat vir een dukaat vir allerlei plesiertjies te kry is. Daarnaas het hy egter ook groot waarde aan die Heilige Skrif geheg, het dikwels en ywerig daarin gelees en het vas geglo dat Jesus die eintlike JaHWeH is, want hy het dit geleer uit die werke van Swedenborg, van wie hy in sy vrye ure, op enkele klein werkies na, alles gelees het.  

Die belesenheid het hom egter ook baie opvlieënd gemaak as hy iemand onverskillig of selfs smadelik oor Jesus hoor praat, en as so 'n 'antichris' hom daar in sy geselskap bevind, dan moet hy hom betyds uit die voete maak, omdat hy anders baie onvanpaste, handtastelike gevolge moes vrees. Kortom, ons man was `n volmaakte, streng held vir die suiwer Christendom.

Op taamlike ver gevorderde leeftyd word hy ewenwel siek, as gevolg van `n groot feesmaal waarby hy te veel van die goeie geniet het en waarby sy bloed deur die kragtige wyn te erg verhit geraak het, maar veral deurdat hy hom, na die maaltyd, twee keer te goed gedoen het aan `n liggaamlik baie weelderige jong vrou.

Toe ons man na die ekspedisie tuis kom, voel hy `n ligte duiseligheid, wat hy as `n klein roes beskou. (babelas) Maar hy vergis hom. Nouliks het hy op die punt gestaan om in die bed te spring, of sy voete weier hom hul diens. Hy sak bewusteloos inmekaar en was soos julle gewoonlik sê, ook al morsdood.

Dat sy mense erg geskrik het en alles op alles gedoen het om hul huisvader weer by te bring, spreek vanself. Maar dit was vergeefse moeite, want wat eenmaal deur die engelegeeste gehaal is, ontwaak nie meer vir hierdie wêreld nie.

Daar is by hierdie man, aan hierdie kant, dus nie veel meer te sien en te hoor nie; daarom sal ons onsself ook dadelik na die geesteswêreld begewe om te sien hoe ons man dan daaraan toe is, wat hy doen en waar hy hom heen wend.

Julle moet egter weet dat die mense, wat deur `n totale beroerte getref word, gladnie weet en ook nie in die minste merk dat, en hoe hulle gesterwe het nie. Hulle ondervind geen verandering nie, nóg in hul huislike lewe soos hulle dit op aarde gehad het, nóg in hul gesondheidstoestand, behalwe dat hulle heeltemal gesond is, wat hulle egter op die wêreld gewoonlik ook al was. Ook sien hulle geen engele nie, alhoewel hy homself digby hulle bevind, en hy bemerk ook nie die minste uit die geesteswêreld nie, waarin hy hom tog geheel en al bevind. Kortom, hy is in alle opsigte as`t ware nog heeltemal op die wêreld. Hy eet en drink, hy lewe in sy bekende omgewing, in sy huis en in sy gesin, waar daar so gesê geen dierbare hoof ontbreek nie.

Presies so was en is dit nou ook met ons man. Julle sien hom nou reeds in die geesteswêreld! Hy klim vreugdevol in sy bed in die welbekende slaapvertrek, wat hier tot in die kleinste detail met alles ingerig is soos op aarde.

Sien, hoe behaaglik hy hom in die bed uitstrek en probeer en verwag om te slaap. Die enigste wat ons man nou enigsins verbaas, is dat hy hierdie keer nie aan die slaap val nie, want geeste ken geen slaap nie. Hulle ken wel `n ooreenkomstige toestand, wat rus heet, maar wat in wese nie die minste ooreen­koms het met die aardse slaap nie.

Laat ons nou na ons man self luister en sien hoe hy hom in sy nuwe toestand gedra en watter indruk hy daarvan het. Hoor wat hy nou in sy bed sê: 'Lini, slaap jy?' Lini (sy vrou) rig haar op en vra: 'Wat wil jy hê, liewe Leopold, makeer jy iets?' (NB: vrou en kinders en verdere huisgenote is deur spesiaal daartoe geroepe geeste as`t ware verborge verteenwoordig). Die man sê: 'Nee, ek makeer niks, ek is gode sy dank kerngesond. Ek kan net nie aan die slaap raak nie; ek het nie eers die minste neiging daartoe nie. Gaan haal my slaappille, ek sal `n paar daarvan inneem, miskien geluk dit dan wel'.

Lini staan op en voldoen aan die wil van haar man. Die pille is nou ingeneem, maar die slaap bly nog steeds uit.

Na `n rukkie sê die man: 'Lini, gee my daar nog `n paar, want ek kan die slaap nog nie vat nie; ek word maar net helderder, in plaas van slaperiger'.

Lini sê: 'Ag, laat die pille tog staan, jy sal nog jou maag daarmee bederf. Kom lê liewer by my, dan sal jy daardeur miskien vroeër aan die slaap raak, as jy absoluut dan wil slaap’. 

Die man sê ietwat bedremmeld: 'Ja, liewe Lini, dit sal nou by my ietwat moeilik gaan, want jy weet immers wel dat ek na `n groot feesmaal nooit daartoe in staat is nie. Dan weier die natuur my immers altyd die vereiste diens. Gee my dus tog maar liewer `n paar pille!'

Die vrou sê: 'Eienaardig, my beste eggenoot! Daar word tog beweer, dat die ryk, godvresende Leopold na sulke feesmaaltye gewoonlik na `n sekere Cilli gaan en daar sy mannetjie soseer staan, dat `n jongman dit as `n voorbeeld sou kan neem. Maar as daarna tuis, die troue, weliswaar al ietwat ouer Lini, laat merk dat sy Leopold se vrou is en soms om bepaalde redes ook nie kan slaap nie, dan het Leopold altyd duisend teosofiese, filosofiese en God weet watter redes nog meer, om nie aan die redelike en bowendien ook baie sporadiese voorkomende verlange van sy vrou tegemoet te kom nie! Kyk, Leopold, jou vriend van die waarheid, wat dink jy diep in jouself daarvan dat jy my, jou altyd baie troue vrou, so smadelik en werklik skynheilig belieg het? Hoe dikwels het jy my nie die skandelikheid van egbreuk in die felste kleure geskilder nie! Maar wat sê jy nou van jouself, as ek jou glashelder kan aantoon dat jyself `n egbreker is?!'

Totaal oorbluf sê die man: 'Lini, liewe vrou, hoe weet jy sulke dinge oor my? Werklik, so iets sou ek slegs in `n swaar roes kon gedoen het, en as ek dit gedoen het, dan reken ek daarop dat jy met so 'n menslike swakheid van my ook Christelike geduld sal hê en verder geen gebruik daarvan sal maak wat vir ons huis onterend is nie. Wees verstandig, liewe vrou, wees verstandig en spreek nie meer daaroor nie; want weet jy, ek het jou tog baie, baie lief! Wees maar weer goed, wees goed, my liewe vroutjie; ek sal so iets my hele lewe nooit weer doen nie!'

Lini sê: 'Dit glo ek ook. As mens sy hele lewe al so geleef het en sy troue vrou minstens elke veertien dae een keer bedrieg het en hom al `n paar keer `n afskuwelike siekte op die hals gehaal het, dan word dit miskien wel net tyd om van sodanige dinge af te sien, waaroor in die Skrif geskrywe staan: 'Hoereerders en egbrekers sal die hemelryk nie binnegaan nie'. Sê my, my man, wat in die godgeleerdheid goed onderlê is, wat sou jy nou doen as die Heer jou skielik na Hom toe sou roep? Hoe sou dit dan met jou saligheid lyk? Of het jy van die Heer miskien `n skriftelike waarborg dat Hy jou solank sal laat lewe, totdat jy jou lewe fundamenteel sal verbeter? Vanweë Cilli sou ek nog niks wou gesê het nie; maar die onmiskenbare sinlike neiging wat jy ons eie oudste dogter laat merk het, nog voor sy getrou het, op `n manier wat vir jou `n ewige skandvlek voor God en alle mense, as hulle dit sou geweet het, op jou godgeleerde voorhoof gedruk het; sê net, wat moet ek dan daarvan sê? Of wat sal God daarvan sê?'

Nog baie meer oorbluf sê die man: ‘O vrou, jy begin my werklik te martel. Weliswaar volkome tereg, helaas, want dit sou meer as onnosel van my wees as ek dit teenoor jou sou ontken. Maar tog doen dit my pyn aan, en ek begryp gladnie dat jy, vir sover ek weet, ooit iets daarvan gedurende ons hele huwelik gesê het nie, en nou alle sluise skielik oopmaak en my reëlreg wil vernietig!

Bedink, dat ons mense almal swak is in ons vlees, ook al is die gees hoe gewillig, dan sal jy my al my swakhede maklik vergewe! Bedink, dat die Heer die egbreekster nie veroordeel het nie; dan sal `n berouvolle egbreker ook wel erbarming by Hom vind! Oordeel ook jy, liewe vrou, my nie; want ek beken dit en het berou oor my groot skuld teenoor jou en ook oor die ellendige vergryp teenoor ons getroude dogter! Mag die Heer Jesus dit my vergewe, soos jy my vergewe het!'

Die skynvrou sê: 'Goed dan, alles wat gebeur het, is jou volkome vergewe. Maar sorg daarvoor dat jy in die toekoms geen gebruik meer maak van jou voorgewende swakheid nie, anders sal jy weinig seën hê van my baie groot toegeeflikheid! Ek sal jou dus nog `n tyd verdra en sien hoe dit gaan! - Maar slaap sal jy nooit meer nie, want kyk en luister; jy is nie meer op die aarde nie, maar in die geesteswêreld! En Ek, wat jy vir jou dikwels bedriegde vrou aansien, is nie jou vrou nie, maar kyk hier: Ek is jou Heer en jou God! Bly, as jy dit wil, soos jy is; maar as jy verder wil kom, volg My dan uit hierdie ou skandkamer van jou!'

Die man herken My en val sonder woorde voor My op sy aangesig neer.

Ek sê egter vir hom: 'Rig jou op, want jou liefde is groter as jou sonde; daarom is dit jou alles vergewe. Maar by My kan jy nog nie bly, solank daar nog baie van die aardse aan jou kleef nie. Maar sien, daar staan engele gereed; die sal jou langs die korrekte weë lei. En as jou aardse huis deur hierdie leiers met nood en armoede geslaan sal wees, dan sal jy by My vir ewig `n nuwe woning vind. Amen!'

Kyk, dit is weer `n ander 'water'. Sommiges bly langer in hul natuurlike toestand as die van ons man, wat as voorbeeld dien; maar sy natuurlik-geestelike toestand duur maar baie kort, omdat hy op hierdie wêreld baie goed uit liefde gedoen het en omdat hy onmiddellik ernstige berou oor sy vergryp getoon het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205