MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 19

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 19
Die pad van die gevalle siel deur die skepping
Daar is in MY grote skepping nie nog so ‘n plek soos die aarde nie. Daar is nie so ‘n groot verskeidenheid van lewe en skepsels op ‘n ander planeet nie. Ja, daar is lewe op ander planete, maar dis weggesteek vir julle, tot die tyd aangebreek het om hierdie geheim met julle te deel! Julle sou dit nie vroeër geglo het, as dit aan julle meegedeel is nie, daarom het EK dit raadsaam geag om julle nou in te lig, sodat julle nie eendag kan sê dat julle nie geweet het nie. Daar is ook mense op ander planete en hulle lyk min of meer soos julle. Die verskil is net dat hulle baie mooier is as die bewoners van die aarde. Die bewoners van die ander planete het nie die swaar laste wat julle op aarde moet dra nie en daarom word hulle ook nie oud en afgeleef soos julle nie. Die oudstes onder hulle is, ten spyte van hulle ouderdom, nog springlewendig en kan julle jonges in alles oortref. Maak nie ‘n fout nie, dit is ook baie mooier as hier op aarde. Julle sal nou vra: ”Maar hoekom word ons nou eers daarvan ingelig?” Dit is omdat julle dit nie vroeër kon verdra nie, want julle het nog nie so ernstig na MY gesoek nie en daarom was julle siele nog nie in staat om in MY groot geheime ingewy te word nie. Maar noudat julle na MY soek, verander julle siele en julle word ryper en meer ontvanklik vir MY Groot Wysheid. Dink aan MY Groot Genade en Ontferming oor julle en luister voort.
Duisende jare gelede het julle MY verlaat om agter Lucifer, wat MY engel van lig was, aan te loop en daardeur het julle van MY afvallig geword en MY ontsettend bedroef. Dit was nodig om julle tot besinning te bring en julle terug te lei na die Vaderhuis, waar julle vandaan gekom het en daar was sekere dinge voor nodig om julle te laat besef wat julle gedoen het. Die mens se siel bestaan uit miljoene deeltjies wat alles deel van julle was, toe julle nog by MY was. Maar met julle afval van MY, moes EK daardie deeltjies almal uitmekaarhaal en na verskillende plekke stuur om gereinig te word en MY weer waardig te word. Die verskillende planete is toe geskep om julle deeltjies te kan bevat. In elke planeet sit miljoene der miljoene deeltjies. Ook op aarde is die deeltjies versprei in alles wat julle om julle sien. Die hele planeet bestaan net uit deeltjies van MY gevalle engele wat nog besig is om hulle weg na MY terug te vind. Selfs die mense om julle is engele wat hulle weg na MY moet terugvind. Skokkend, nê? Wat dink jy van jouself? Waar kom jy vandaan? Is jy net geskape as ‘n gier of ‘n gril van ‘n Hoër Hand wat daarvan hou om julle dop te hou? Nee! MY Liefde strek te vêr daarvoor en EK het genoeg om MY mee besig te hou as om so-iets te doen. Dit is baie vêr van MY om mense net as marionet poppe aan te hou vir MY plesier. Alles het ‘n doel en so ook julle en julle bestaan. Julle bestaan hier op aarde is vir julle van baie groter waarde as die bestaan op ander planete waar hulle MY nooit as ‘n Vader mag aanroep of aanskou nie. Net die bewoners van hierdie aarde het die voorreg om MY kinders te kan word en hulle waardeer dit nie. Hulle gaan voort asof hulle jare se tyd het om te verkwis en dink nie daaraan dat hulle eens van MY uitgegaan het nie. Julle is die planeet van liefde wat EK bitter graag terug wil bring in MY Vaderhuis, maar julle weet dit nie. Dis waarom dit nou tyd geword het om julle in te lig oor julle bestaan. Maar terug by die deeltjies: Die miljoene deeltjies van ‘n enkele engel is deur MY in die skepping vas “gemaak”. Dit kan nie uitkom alvorens dit nie MY wil is nie. Dit is die kluistering waarvan gepraat word. Al die skeppingsfases wat julle om julle sien is deeltjies van een of ander engel. Die deeltjies is eers in die hardste materie gekluister soos bv. asbes, graniet, koper, yster, en allerhande metale. As die deeltjies in die metale sagter en nederiger geword het, kan hulle oor gaan na iets sagters. Die sieledeeltjies is lewendige “stukkies” in die metale en ander skeppingsfases en sodra hulle ophou om hulle teen MY en MY orde te verhef, kan hulle vrygelaat word en na iets sagters en beters gaan. Daarom is minerale soos yster so hard, want dit is die verharding van die sieledeeltjies teen MY. Sodra hy dan sy weg deur al die metale en minerale gewerk het, kan hy oorgaan na die plantewêreld waar hy daar ook sy weg opwaarts werk tot hy deur al die plante gegaan het. Die sieledeeltjies van een engel is dan weer besig om hulle stadig maar seker weer bymekaar te voeg, nadat hulle vrygestel is uit die fases waarin hulle was. Daarna kom die dierelewe aan die beurt wanneer al die plante deurgegaan is. Dit is ‘n proses wat jare der jare duur. Die opwaartse beweging na MY word stadig hervat, totdat al die dierefases deurgewerk is en die deeltjies hulle weer bymekaar gevoeg het en nou gereed is om in die vorm van ‘n mens bymekaar te kom. Dit is daar waar die verwekking van ‘n mens ‘n rol speel in die opwaartse ontwikkeling tot by MY. Deur verwekking, gaan die sieledeeltjies as ’n geheel in die vorm van ‘n mens en word as ‘n klein baba die wêreld ingebring. Sy vorige fases en ervaringe word dan uit sy geheue uitgewis en hy of sy kom as ‘n nuutgebore mens op die aarde voort. Dit is nou waar die volle verantwoordelikheid op hom rus om weer met MY, sy Skepper te verenig, om weer na die lang pad, weer terug te kom tot in die Vaderhuis. Dis waarom dit so belangrik is om MY met jou hele hart te soek, want jy het ‘n onmeetlike vêr pad gekom om tot hier te kom.
Die Vaderhuis is nou net om die draai en as jy jou kaarte reg speel, soos julle geneig is om te sê, is julle al amper daar. Al wat nou nog van julle verwag word, is om MY met julle hele hart, siel en wese te bemin en dan is jy weer na eeue se skeiding weer by MY en in MY arms sal jy rus na die lang en vermoeiende pad. Soos ‘n vader sy verlore seun weer terug gevind het, so het EK julle dan weer teruggevind en saam met MY sal MY engeleskaar feesvier, want een van MY verlore, beminde kinders is weer tuis. Nou verstaan julle ook die gelykenis van die verlore seun, waaroor daar in die Bybel geskryf staan. Soek MY daarom soos wat die verlore seun weer terugverlang het na sy vaderhuis en EK, as julle Vader, sal julle met ope arms ontvang en daar sal feesgevier word soos nog nooit tevore nie. Dink aan die gelykenis van die verlore seun en julle sal baie wys word uit ‘n gelykenis wat julle nog nooit regtig verstaan het nie. Julle Vader wat vurig en verlangend op julle tuiskoms wag is EK.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205