MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 20

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 20
Wedergeboorte
Na die gelykenis van die verlore seun, kan ons nog ‘n stappie verder gaan en dit heet die wedergeboorte. Menige mens wat in die kerk sit en nie vir homself kan dink nie, sal alles nou in die stryd werp om homself te verdedig in die bewys daarvan dat hy ‘n “wedergebore Christen “ is. Hy is salig onbewus van die betekenis van wedergeboorte en weet absoluut niks daarvan af nie. Maar hand en tand sal hy veg, as jy aan hom moet sê dat, ten spyte van sy geloof daarin, hy glad nie wedergebore is nie. Wedergeboorte is ‘n proses wat nooit ophou terwyl jy op aarde is nie. Hier en daar is iemand wat dit bereik in mensegedaante, maar die mense is baie skaars, want die ware en tere liefde vir MY is die basis daarvoor en niemand het so ‘n liefde vir MY nie. Sou iemand so ‘n liefde vir MY gehad het, sou hy die wedergeboorte bereik het. Daar is in MY skepping op aarde slegs `n geringe hoeveelheid van mense wat dit bereik . Die meeste mense kan dit eers bereik as die siel van die liggaam geskei het in die liggaamlike dood. Wat is wedergeboorte dan?
Dit is die totale eenwording met MY, julle Vader en Skepper van alle eeue. As jou siel MY liefgekry het, groei jy nader aan MY totdat Ons later Een word, maar min mense kry dit reg, want dit vereis totale oorgawe aan MY en losmaking van die wêreld. Die meeste mense is so vas aan hulle aardse besittings en kan daarom nie loskom om MY te dien nie. Die gemiddelde kerkganger is vas oortuig daarvan dat hy MY dien, maar wat hy nie besef nie, is dat hy sy kerk dien, in plaas van MY. Kerke is instansies wat, baie slim, vir MY gebruik as geldmaak-artikel. Die lidmate is vas oortuig dat hulle MY dien as hulle geld aan die kerk skenk wat dit vir “goeie gebruik” aanwend. Vertel jy so ‘n eerlike kerkganger dat hy eintlik die god van Mammon ondersteun, sal jy as ketter uitgekryt word wat nie respek vir Die Here het nie. Hulle dink dat EK te vinde is in ‘n leë gebou met ‘n walglike reuk. Die enigste gebou waar EK te vinde is, is in julle harte. Maar terug by die wedergeboorte. Die wedergeboorte begin eintlik as jy jou hart onvoorwaardelik aan MY gee. Dan begin jy ‘n pad saam met MY te stap tot by die Vaderhuis. Dit is ‘n pad vol dorings en distels, maar EK stap al die tyd saam met jou en lei jou saggies heen oor al die gate. Die hoogtes maak EK vir jou gelyk en die dale vul EK op, sodat jou pad so gelyk as moontlik kan verloop. Dit is die stampe en stote in die lewe wat dien om jou te reinig en om jou geloof en vertroue in MY te bou. As jy daardeur leer, dien dit tot voordeel van jou siel en jy groei dan vaster aan MY. Soos wat jy groei, lê jy dan die wêreld en sy begeertes af om sodoende rein te word om meer en meer van MY Gees te kan bevat. Die liefde tot MY bring jou vinniger op jou eindbestemming en daarom is dit belangrik om MY lief te hê. EK sal jou koester en vasdruk op jou pad en dit sal jou pad korter maak. Dit sal jou aandag aflei van al die swaar op die lang pad en voor jy sien is jy daar. Maar dit kos ook werk aan jouself. Ondersoek jouself gedurig vir foute en dra dit aan MY op en EK sal jou help en die las van jou skouers afneem terwyl EK jou reinig. Die hele pad is EK by jou en help jou met alles – as jy dit aan MY gee. Daarom is die wedergeboorte ‘n lang proses en nie iets wat jy bereik deur een gebed nie. Niemand is wedergebore na hy MY net een keer gevra het nie. Dit is die eenwording met MY en daarom vat dit baie beproewinge en dinge wat op jou pad kom om jou te kry om van die wêreld af te sien. Maar die doel kan bereik word deur volle geloof in MY en bowe als, die liefde tot MY, julle Skepper en getroue Vader Jahweh.
Amen
(Oom Dirk
Ek het dit gekry as Jahweh. Ek het gebid daaroor en het bevestiging gekry. Vader sal weet hoekom. Ek sê dit net omdat ek weet oom het op ‘n stadium opdrag gekry om nie die name in te sit nie: Louise)

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205