MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 24

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 24
Slim en geleerd beteken niks, `n rein hart is alles
Daar is vandag baie slim en geleerde mense oral op die aarde. Die mense is eintlik wêreld geletterdes en geleerdes. Universiteite en kolleges loop oor van studente en mense wat net probeer om ‘n graad agter sy naam te kry. Nou wil EK die volgende weet? Wat het die slim geleerde se sertifikaat en graad met MY te doen? Sal dit vir hom voordeel by MY bring?
EK sê nie dat ‘n mens niks op aarde moet verwerf nie, maar wat beteken die een graad na die ander vir jou sieleheil? Gaan jy eendag na ‘n beter plek toe as jou ongeletterde broer wat langs jou staan? Wat het die geletterdes wat die ongeletterdes nie het nie? EK sal julle sê: ‘n Baie groot kop, soos julle gewoond is om te sê. En dit is glad nie voordelig nie. Dit is eintlik baie nadelig, omdat hulle dan ongebalanseerd is en maklik tot ‘n val kan kom. Die ongeletterde kyk na MY vir hulp, terwyl die slimgeleerde op homself staatmaak. Die probleem kom dan nou in dat die groot kop so swaar is om heen en weer te draai, dat hy glad nie na sy naaste langs hom kan kyk nie. Die kop moet dan te alle tye met die neus in die lug gehou word. Dis waar die term “neus in die lug“ vandaan kom. Die ongeletterdes daarenteen kan om hulle kyk en die swaarkry van hulle naaste raaksien. Hulle kan dan ‘n helpende hand uitsteek sonder om te vrees om van balans af te raak. Dit is hoekom EK sê: Wees nie te slim in julle eie oë nie. Deur te slim te wees, blok julle MY Gees heeltemal uit en dan kan MY Wysheid nie in jou posvat nie, want jy is te vol van jou eie drek. Drek is die term om te gebruik, omdat die mens hom besig hou met dinge wat MY glad nie welgevallig is nie. In plaas daarvan om om jou te kyk na mense wat jou hulp nodig het, kyk jy net na jouself. In die hedendaagse lewe is ‘n sertifikaat van baie belang. By MY is alle sertifikate van nul en gener waarde en al wat by MY tel is ‘n rein hart. As daar ‘n slim geleerde in MY Naam leef en MY liefhet met sy hele hart is hy MY welgevallig. Dit het niks met sy kwalifikasies te doen nie. Al wat EK begeer en EK sê dit die heeltyd, is ‘n rein hart wat MY toegeneë is. Dan kan die persoon maar ‘n vuil broek aan hê. Dit sal aan MY Liefde vir hom niks verander nie. Reinig julle harte en nie julle klere nie, wat soveel wil sê as, moenie julle teveel aan die uiterlike steur nie, maar werk aan julle innerlike. Reinig julle harte sodat EK met MY volheid intrek daarin kan neem. Daar is by MY niks so sleg soos die hoogmoed nie. Nie baie geld, mooi besittings of ‘n mooi uiterlike is vir MY welgevallig nie. Net ‘n rein hart wat na MY soek. Eerlike, opregte gebede is wat EK verhoor en nie aangeplakte mensbehagende gebede wat daarop uit is om die mens te roer en te prikkel vir persoonlike voordeel nie. Dit is vir MY ‘n gruwel en EK sal dit uitwis met MY Krag waar EK kan. Waar EK kan is soveel gesê as dat EK sal reinig sover die mens MY toelaat. Julle mense sien julleself nie soos EK julle sien nie en wat gering is in julle oë, is groot onreinheid in MYNE. Werp daarom alle vuil dinge van julle af, sodat EK julle kan vul en so sal julle ook die vuil en onreine in dinge raaksien. Dit is ‘n groot voorreg om met MY te kan wandel, omdat julle as aardbewoners, die enigste mense in MY heelal is wat MY kinders kan word. Moenie julle kanse verspeel nie, omdat jy nie maklik weer ‘n kans sal kry nie.
Die Ewige Vader en Herder roep julle na SY Bors om julle te omhels met al SY Liefde.
Al die lof en al die eer kom MY toe, want EK is die EEN wat red waar daar nie verlossing is nie. Dink elke minuut en elke sekonde aan MY en EK sal julle tegemoetkom. Babatjies in die gees is wat EK soek en nie slim wyse manne wat MY in wysheid wil oortref nie. Want die dag as ons saam raad hou, sal hulle wysheid hulle skandelik in die steek laat 
En hulle sal moet erken dat die wysheid alleen MYNE is. Daarmee is dit afgehandel.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205