MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 47

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 47
Die eie “ek”.
Daar was in die dae sedert die vloed van Noag nie nog so ‘n bedorwe tyd soos nou nie.
Noag-hulle was die enigstes in `n land propvol mense met afgodiese beginsels en die een wou die ander niks gun nie. Mense het mekaar vermoor vir `n paar pennies. Dink `n bietjie aan die tyd waarin julle nou leef. Gaan dit nie net so nie? Is dit nie presies dieselfde nie? Naaste teen naaste, broer teen broer is julle. Die een kan net skeef kyk vir die ander, dan word hy hof toe gesleep. Die norm van vandag is die tema “ek”. Die ek-tema word gebruik om alles te doen. “Ek” wil `n groter huis hê. “Ek” is nie tevrede met die salaris wat “ek” kry nie. “My” kwalifikasies is die beste, en daarom moet “ek” aangestel word.
Sou iemand anders in jou lig probeer staan, word hy op ongenaakbare wyse weggestamp, sonder agting vir sy persoon of behoeftes. “Ek” maak ook “niks” uit my besigheid nie en daarom word daar uitgebrei na iets groters. Is daar iemand wat tevrede is met die lewe soos EK dit vir hom gee? Wie is die man wat MY dank vir elke stukkie brood wat EK vir hom gee? Daar is die onder julle volksgenote wat wel dankbaar is vir wat EK hom gee. Maar sal ook maar ‘n geleentheid aangryp wat na hom toe kom om sy lewenstyl te verbeter. Daar is niks mee fout om aardse besittings te hê nie, mits jy dit goed en wel gebruik om vir jou naaste die lewe te verbeter. Wie gee sy ekstra voertuig aan iemand wat sonder `n ryding sit? Dink jy nie daaraan dat EK jou sal vergeld vir die goeie daad aan `n ander nie? Wat sal van jou afval as jy iemand help wat minder het as jy? Dit sal mos net van jou ‘n beter mens maak, wat, vervul van MY GEES die ewige lewe ingaan en sy loon daár sal ontvang. Verwag niks van die wêreld nie, want die wêreld sal niks gee nie - hy neem net en is nie tevrede voor hy jou hele siel het nie. Daar is tye in `n mens se lewe dat jy moet kies - om jouself te bevoordeel, of `n ander. Dink nie dat deur selfverloëning toe te pas, jy nou al gereed is vir die ewige lewe nie. Ondersoek jouself en kyk met watter gesindheid jy jouself verloën het. Is jy ongelukkig oor dit wat jy weggegee het? Dan is jy nog nie reg nie, want EK wil gewers hê wat wìl gee. Nie omgekrapte, buierige mense omdat hulle iets moes gee aan iemand minder bevoorreg nie. Dink nie in jou hart dat hulle self `n plan kan maak nie, want hulle is op jou pad gebring om jouself te verbeter, maar jy kan ook versleg deur hulle, as jy nie op jouself let nie. Dit wat jy weggee sál aan jou teruggegee word, al is dit ook eers in die lewe hierna. Julle het nie `n idée van wat julle loon is, net omdat jy ‘n klein guns bewys het aan iemand wat dit nodig gehad het nie. Wat julle nie besef nie, is dat daar heel moontlik een van MY gestuurde boodskappers of engele ‘n draai by jou kom maak in die vorm van `n behoeftige. En wat sal jy dan maak as jy agterkom jy het nou net `n engel met leë hande weggestuur? Waar sal jy hom gaan soek om alles reg te maak wat jy verbrou het? Kan jy MY sommer agter elke bos gaan uithaal om reg te maak, wat jy in die eerste plek, weens selfsug, nie wou doen nie. Die eie “ek” verblind soms die mens sò, dat hy nie kan agterkom wie voor hom staan nie en skaam sal hy dan sy kop moet laat sak as EK vir hom die volgende bekende woorde sê: EK was by jou en jy het MY nie gevoed of geklee nie. EK het jou vir water gevra en jy wou MY niks gee nie. Daarom moet julle aan julleself dink - maar nie in die opsig waaraan die wêreldling aan homself dink nie. Dink hoe nietig die aardse lewe en bestaan is. Dink hoe EK dit in `n oogwink kan vernietig as EK wou. Dink daaraan dat die liggaamlike lewe met sy plesiertjies nie vir ewig duur nie en dat jy verantwoording sal moet doen vir elke daad wat jy op aarde gedoen het. Dit is die manier waarop jy aan jouself moet dink en koester geen ydele gedagtes nie. Dan sal jy vrylik na MY kan kom. En EK sal jou beloon vir al jou goeie dade. Daarvan kan julle verseker wees, want die enigste “EK IS” het dit aan julle gesê. En EK sê dit in alle liefde aan julle.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205