MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 49

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 49
EK het almal lief as MY kinders en begeer elkeen se hart wat toegewyd aan MY moet behoort
Daar was nog nooit ‘n tyd soos nou wat op die aarde geheers het nie. Dinge het begin skeefloop in julle land, die dag toe julle MY, julle Verlosser en Skepper vergeet het en agter ander priesters begin aanloop het. In plaas van om na MY te soek met ‘n brandende verlange, het julle die verlange agterweë laat bly en julle vertroue in mense gestel om MY vír julle te vind. Elkeen is verantwoordelik vir sy eie sieleheil en niemand kan agter iemand anders kom skuil as hy die dag voor MY te staan kom nie. Geen leraar kan vir jou instaan nie. Jy moet MY self soek en EK verseker jou, jy SAL MY vind, want EK is nie ver nie. EK is nie in ‘n ander land, sodat jy geld moet betaal om MY daar te kom soek nie. EK is in die stille nabyheid van ELKEEN se hart. Laat niemand vir jou vertel EK is net by sekeres nie. EK het geen witbroodjies nie. EK het almal lief as MY kinders en begeer elkeen se hart wat toegewyd aan MY moet behoort. As elkeen van julle MY soek, soos MY skrywers MY gesoek het, sou EK al lankal met julle ook gepraat het en EK wou telkemale met elkeen van julle, wat nou hier lees, gepraat het, maar julle het MY nie toegelaat nie. Dink daarom nie dat MY skryfknegte iets besonders is nie, en verhewe bo julle nie, want Ek ken elkeen se hart en hulle is net so vol sonde soos julle. Al verskil is dat hulle MY dieper as julle gesoek het en daarom vir MY ‘n weg in hulle harte oopgebaan het om vir julle boodskappe te bring van Die Enigste Verlosser wat julle lief genoeg gehad het om vir julle te sterf. Dink ook nie dat julle verlore is, omdat julle nog nie MY stem in julle binnekant gehoor het nie, want dit is ‘n leuen van satan wat hy wil gebruik om julle te laat moed verloor. Dit ís EK wat met julle spreek. Die van julle wat nou nog nie glo nie, sal ook nie glo nie, al kom EK in persoon na julle toe en dit sal vir jou wat nie glo nie, nie ‘n te lekker ondervinding wees as EK in volle glorie en krag na jou kom en jou swakhede voor al die mense ontbloot nie. Wees daarom liewer gou om te hoor wat EK, Die Almagtige, Wyse met jou spreek en jy sal gered wees. Die van julle wat daarvan hou om julle eie stemme te hoor,wil EK sê: Pasop vir die dag as Ek jou laat spreek voor ‘n gehoor van duisende om aan almal jou domhede oop te vlek en daar sal jy die sot wees waarvoor almal sal lag. Dit sal voorwaar vir jou ‘n dag van skande wees. Daarom waarsku EK weereens, wees eerder stil en verberg jou sotheid, sodat niemand dit weet nie en EK, as EK gevra word, sal jou hart verander, sodat jy ook MY wysheid binne jouself kan vind wat sonder die vermoeiende Bybelstudie deur MY aan jou eerstehands gegee sal word. Dit is baie beter as die vermoeiende studering van die heilige skrifte omdat jy nie oop sal wees vir verkeerde leerstellings wat oral in die Bybel uitgekrap kan word nie, want dit kom dan direk van MY, Die Skepper van die Woord, want EK IS die Woord en wie kan MY teëspreek? Is daar iemand wat met MY wil redetwis? Is daar iemand wat wil praat sodat EK moet stilbly? Is daar dalk nog iemand wat MY Woorde in die Skrif vir sy eie agendas wil gebruik en MY daardeur vasgevang wil hou in MY eie Woorde? Dink daaraan dat EK Almagtig is en dat EK kan maak en breek soos EK wil. EK kan die Woorde wat EK gespreek het oor iemand maak of breek. Niks, en EK herhaal NIKS kan MY gebied of beveel nie. As EK ‘n ding besluit het, kan niemand MY anders laat besluit omdat hy dit so wil hê nie. Wat MY van besluit kan laat verander, is die ware, deemoedige Liefde in ‘n hart wat MY uit diepe liefde kom vra en EK sal uit liefde MY planne laat vaar. Vir die van julle wat nou weer die teksverse gaan nadersleep van hoe onveranderlik EK is, wil EK net herinner aan die stad Ninivé wat verwoes sou gewees het, as die mense daarbinne MY nie in liefde en berou kom soek het nie. Dit was een van My planne wat EK verander het, ter wille van ‘n volk wat MY begin soek het. Moet Ek ter wille van MY onveranderlikheid ‘n hele stad vol mense uitwis, net om te bewys dat EK onveranderlik is? Nee, EK is Liefde. Sagte, tere liefde en Ek bewys barmhartigheid in MY groot Liefde aan wie EK wil en daar is niks wat enigiemand daaraan kan doen nie. As Ek MY Gees oor iemand uit wil stort, doen EK dit en daar sal nie ‘n vinger na MY gewys word nie, want EK weet wat Ek doen. EK is vir al MY kinders ewe lief, maar as die een MY dieper soek as die ander, is EK outomaties nader aan hom as aan die ander wat MY nie so diep begeer nie. Dit is hoe dit is en hoe gouer julle dit besef, hoe beter vir julle eie sieleheil en selfs vir die een wat langs jou staan wat altyd na jou slimmigheid moet luister, want dan sal jy eers ware Wysheid begin spreek in plaas van die domhede wat jy dag na dag kwytraak. EK vergewe alles as iemand na MY kom in diepe berou. Dan sal EK hom rein was deur MY bloed en jy sal weet as EK by jou kom aanklop het, want jou hart sal ‘n vernuwing bespeur en jy sal juig en jubel in MY. Dan sal daar eers ‘n nuwe lewe in jou binneste begin vloei en jy sal nie kan glo dat jy eers so onrein was, terwyl jy gedink het dat jy so suiwer was nie. En dit geld vir almal, asook MY skryfkneg wat hier skryf. Dink nie dat MY skrywers op die kantlyn staan en julle oordeel nie, want hulle het nie die oordeel in hulle hande nie, maar MY Woorde, wat EK slegs deur hulle aan julle bring sal julle oordeel. Wees daarom gewaarsku, want die tyd is min en so ook die groepie uitverkorenes van MY. Ek wil hê dat jy deel wees van MY uitverkore groepie, want EK het jou lief en weet dat jy opreg in jou sotheid is . Dit is MY woorde aan jou, wat deel is van MY uitverkore groep mense. Dit word aan jou gesê met al die liefde in MY Vaderhart. Let op na die teken wat EK aan jou sal gee as bevestiging dat hierdie MY Woorde is en nie die van ‘n mens nie.
Dit is troue woorde en gewis
Die Groot Ek IS, is die EEN wat spreek en jy sal ‘n vernuwing in jou binneste bespeur en jy sal ‘n waardige kneg vir MY word, MY moderne Paulus. Gaan en wees geseënd in MY Ewige Naam.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205