MAAK EN BREEK
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 50

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 50
Kom na MY toe, wil EK weereens nooi en julle aansê om by MY te kom skuil, want die tyd is min
Vrees nie die mense wat julle niks kan doen nie, maar vrees MY wat julle in die verderf kan stort, of red. Dit is bekende woorde aan julle almal en EK hoef dit hopelik nie weer te sê nie, want dit het tyd geword dat julle MY Woorde binne julle bewaar, sonder dat Ek julle altyd weer moet herinner. Die eindtye waarvan daar in Openbaring gepraat word is in sig en julle het nog nie genoeg krag om dit te kan verdra nie, omdat julle nie julle krag van MY kom haal nie en nog steeds dink dat die krag uit julleself kom. Dink ‘n bietjie na oor díe laaste woorde van MY en julle sal dit in julleself raaksien as die waarheid. Kom na MY toe, wil EK weereens nooi en julle aansê om by MY te kom skuil, want die tyd is min en sal elke dag ‘n bietjie swaarder raak. Gee ag daarop dat die las vir julle nie te swaar word en julle langs die pad beswyk nie, want dit sal bitterlik wees en die honde en jakkalse sal op julle toesak en elke greintjie vleis aan julle verteer. Maar as julle MY las dra (en dit is die liefde), sal julle nimmer langs die pad beswyk nie, want EK maak jou las lig en die pad kort. Kom gee al jou sorge vir MY en EK sal dit vir jou dra en sommer ook al jou probleme oplos. Daar sal van al jou probleme geen jota of titteltjie oorbly nie en jy sal lig van vreugde jou pad vir MY stap. Dit kan alles alleen bereik word deur die liefde vir MY, wat jou net wil verlos en red en help waar jy MY toelaat. EK is nie ‘n onvergewende GOD nie en EK sal al jou sondes op MY neem, want EK het al jou sondes gedra die dag toe EK die vloekhout gevat het en met hom aangestap het na Golgota.
Dit was ‘n buitengewone lyding wat niemand sou kon dra behalwe EK nie en daarom het EK ingewillig om dit te doen, Ter wille van al MY kinders wat EK so liefgehad het en nog steeds het na al die sondes wat hulle gedoen het. Kan jy jou kind haat omdat hy ongehoorsaam aan jou was? Kan ‘n pa toekyk hoe sy kind verlei word sonder om hom te help? Nee, julle kan nie en nog minder kon EK toekyk hoe MY kinders deur die ou slang, wat ook genoem word satan, verlei word. Daarom het EK mens geword en tussen MY kinders kom loop sodat EK hulle kon leer in die regte weë wat so verdraai was deur die tempeldienaars. En nou kom EK weer na julle, in die vorm van openbarings, om julle weer die regte pad aan te wys wat so krom geword het deur verkeerde leerstellings wat uit die Bybel kom, wat so verkeerd oorvertaal was deur die invloed van die satan. Nou vra julle: Hoe kan U toelaat dat daar met U woord gepeuter word? EK is ‘n Ewige GOD wat nie toelaat dat MY woorde verdraai word nie, maar EK het die vertalers hulle vryheid gegee, sodat die wat MY regtig soek, MY sal vind; al is dit in ‘n verdraaide leer. Wie na MY soek, vind MY en dan sal Ek MY aan hom openbaar, maak nie saak wie hy is nie. Julle sal dit sien en daaroor jubel as julle besef dat EK julle kom haal het in ‘n verdraaide wêreld met verkeerde opvattings oor MY, want EK gee die onverdraaide waarheid. EK gee die rein voedsel aan MY kinders wat na MY soek en MY gevind het. Daar sal nie meer ‘n onwaarheid oor MY in hulle heers nie want EK, DIE GROOT EK IS, sal alles helder maak vir julle en julle sal die son sien skyn in julle binneste en groot sal julle vreugde wees. In MY Vaderhart is daar dan nie meer smart as MY kind hom na MY wend nie en EK sal hom met al MY liefde aangryp en hom styf teen MY bors druk, want ongeveins is MY liefde vir julle. EK verlang egter ook ongeveinsde liefde vir MY, en sodoende maak EK jou rein. Dink altyd aan MY woorde en vra dat EK jou binneste kom reinig, sodat EK daar vir MY ‘n welgevallige en rein tempel sal vind.
Amen. Ja, amen. Ja kyk, EK kom gou, en almal sal sien dat EK die EEN is wat maak en breek.
 
Naskrif
Na alles wat EK vir julle in hierdie boek vertel en uitgelê het, is daar nog iets wat EK in verband met hierdie geskrif wil sê. Die wat dit herken het as MY stem, is die saliges van hart waarvan daar gepraat word in MY Woord, die Bybel en hulle sal seën ontvang, omdat hulle MY stem herken het, want die skape herken hulle Herder se stem. Maar die van julle wat teen MY stem ingaan, sal ook hulle loon ontvang en dan sal dit nie so ‘n wonderlike dag vir julle wees nie. EK weet waarom EK díe goedere aan julle bring en julle moet nie aan MY woord twyfel nie, omdat die twyfelagtiges nie gered sal word nie. Dit is MY woorde aan julle. Dit is MY Stem wat na eeue nog steeds weerklink en net die wat MY liefhet, sal MY hierin herken. As jy díe werk afskiet as die werk van ‘n mens, is dit ‘n oordeel oor MY werk, want EK gebruik net MY skrywers as instrumente om MY woord na julle blindes en dowes te bring, wat self te lui is om na MY te soek. Dit is MY Stem wat elkeen van MY skape roep om hulle te vergader voor die naderende onheil gaan oorneem. Luister na MY Stem, want EK red uit liefde en jy sal eendag, dalk nie ver nie, voor MY Aangesig staan en EK sal aan jou vra waarom jy nie na MY Stem geluister het nie. Dit is MY gewisse woorde aan julle, MY skape en kleintjies.
Amen. 

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205