Gawes uit die Hemel (Uittreksels)
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26.

Ligging van dorpe in Palestina waarna in die Johannes Evangelie en die Ou Testament verwys word
(GH3,369 - 29/3/1864)
01] Aangesien jy vir my verskeie kere al gevra het of die dorpname en ook die ligging, sodanig geplaas is, soos wat sommige reisbeskrywings en atlasvervaardigers dit aantoon, en spesifiek in die groen boekie (‘Biblische Geografie für Schulen und Familien', ‘Bybelse geografie vir skole en families', 8ste Druk, uitgegee deur Calwer Verlagsverein. - opmerking deur die Uitgewer), waarin jy juis nou daagliks vir `n tydjie lees, voorkom. Daar moet Ek onmiddellik vir jou sê, dat daar byna nêrens `n plek in die hele Juda vanuit My tyd, wat deur My en my Apostels se voete betree was, meer bestaan nie, ongeag die name van dorpe en plekke wat nou daaraan toegeken is. Want baie dorpe is later deur die baie heidene wat hierdie land binnegedring het, sodanig vertrap, sodat niemand nou ook net naastenby kan sê; kyk, dit is die plek, waar die Heer dit of dat in die teenwoordigheid van Sy Apostels geleer en gedoen het nie.
02] Die enigste, naamlik Bethlehem, is nog steeds naastenby op dieselfde plek, en bokant die vallei, op `n berg, die einste kasteel van Dawid wat deur My beskryf is, maar waarvan ook net hier en daar nog enkele los stene bestaan. Vandag staan daar op die plek `n klooster met `n kerk, wie se bruin geklede inwoners dit baie goed verstaan om vrome pelgrims met allerlei relieke teen betaling te voorsien.
03] Wat die ligging van Jerusalem aanbetref, kan daar nie meer as een agste van die plek waar die groot Jerusalem eens gestaan het, as waar beskou word nie. Van die oord Bethanië kan geen enkele spoor meer aangetref word nie. Op die Olyfberg (direk uit Duits vertaal as ‘Olieberg') staan nog `n paar huise met enkele murasies, wat Bethania genoem word. Gedurende My tydperk was die blyplek en herberg op die Olyfberg wat aan Lasarus behoort het, Klein-Bethania genoem, `n plek wat voorheen die naam Betfage gedra het. Dus is daar ook van Emmaus by Jerusalem nie die geringste spoor meer oor nie.
04] Hoe baie die ligging van Jerusalem verander het, word daardeur bewys, dat die Olyfberg vandag, wat nou ook reeds `n heel ander vorm het as destyds, nou byna heeltemal oos van die nuwe Turkse Jerusalem geleë is, terwyl die ou Jerusalem grotendeels meer oos as wes van die Olyfberg gestaan het.
05] `n Taamlik geruime tyd na My, het `n Roomse keiser uit die môreland, by name Justinianus, vir die Jode toestemming, selfs opdrag gegee, om Jerusalem, tesame met die Tempel, waarvan hulle die fondasiestene sekerlik nog sal kan vind, weer net so te herbou, soos wat dit in My tyd gebou was. Toe het daar, uit alle wêrelddele, `n groot aantal baie welgestelde Jode, saam met baie bouers en werkers op die plek van die voormalige Jerusalem bymekaargekom en wou begin om alles weer op te rig, soos wat hulle die spore van die ligging van die destydse Jerusalem aangetref het. Maar hulle is deur `n vroom man uit die omgewing, wat volgens die leerstellings van die Apostel Phillippus geleef het en die Evangelie gepreek het, volgens die profesie van `n profeet gewaarsku, om hulle voornemens te laat staan, aangesien hulle, indien hulle nie na sy woorde sou luister nie, verseker baie sleg bedien sou word.
06] Maar hulle het die profeet uitgelag en het op baie plekke, waar hulle spore van die ou Jerusalem aangetref het, begin te grawe en die rommel weggeruim. En kyk, die werk het skaars `n halfdag geduur, toe `n hewige aardbewing ontstaan, en nie lank daarna nie, het `n vulkaanagtige hewige vuur uit die binnenste van die aarde oor die hele plek van die ou Jerusalem losgebars en het die belangrikste deel van die ou Jerusalem sodanig verwoes, dat geen steen en geen rots werklik onaangeraak gebly het nie. Stene en rotse is tot `n soort gruis vergruis en ure ver vanaf die plek weggeslinger, sodat die plek vandag nog soos `n woestyn lyk, en niemand sal kan vermoed dat die ou Jerusalem eens op `n tyd op hierdie plek gestaan het nie. Tydens die uitbreek van die vulkaanagtige vuur, het baie duisende werkende mense tot niet gegaan.
07] Hierdie wonderwerk is deur hulle, wat hulleself gered het deur skielik te vlug, in Rome aan die Keiser bekend gemaak en hulle het gesweer dat dit werklik so gebeur het. Hy het die wonderwerk geglo. Maar na twee jaar wou hy nog steeds `n indrukwekkende monument op hierdie plek oprig, om daardeur aan die nageslagte te toon op watter plek die groot Jerusalem destyds gestaan het.
08] Daar het weer bouers en beeldhouers op die plek van die ou Jerusalem bymekaargekom en het begin om `n plek te soek, wat vir so `n monument die meeste geskik was. Hulle het so `n plek gevind en het begin om die fondasie te grawe. Dit het egter met hulle nie veel beter gegaan as met die voriges nie; binnekort het vuur weer uit die binnenste van die aarde uitgebreek en verskeie mense beseer. Maar die wat nog betyds kon vlug, het sonder skade weggekom, en daarna was daar nooit weer iets onderneem om die ou Jerusalem op te bou nie. 
09] Eers na meer as seshonderd jaar het die Sarasene uit die omgewing van Bagdad na hierdie omgewing toe gekom, en wat hulle op pad as ou stede en dorpe aangetref het, het hulle alles vernietig. Selfs die ou stede wat nog hier en daar deur die Romeine onaangeraak gebly het, is in murasies omskep. En die plek van Jerusalem, wat destyds uit niks anders meer bestaan het as `n berg nie, wat later heel verkeerdelik die naam ‘Sion' verkry het, en waarop `n ou Romeinse wagtoring en `n kapel uit hout gestaan het, wat reeds in daardie tyd ook heel verkeerdelik as die plek van My destydse graf aangewys en vereer was, word nog tot op die huidige dag vereer, en daardeur word baie honderdduisende pelgrims tot die diepste bygelowigheid gedryf.
10] Die Sarasene het later, wes van die Olyfberg, `n heel nuwe stad met die naam Jerusalem gebou, in welke tyd ook die bogenoemde kapel `n groter en beter voorkoms verkry het, waarin en waarby die vrome pelgrims jaarliks sodanig met knuppels en stokke baklei het, dikwels terwille van al die vroomheid, dat dit soos `n slagveld gelyk het op die oop terrein om die kapel. En dit het gewoonlik gebeur omdat elke sekte die Christus wat hulle as God vereer het, vir ander verbied het om te vereer.  
11] Die Grieke wou niks van hierdie Rooms-katolieke Christus hoor en weet nie, en dit ook omgekeerd; en net so baie sektes as wat daar was, so baie vyande het daar teenoor mekaar gestaan en sou hulleself, terwille van alle geloofs-ywerigheid, geheel en al self vernietig het, indien die Turkse soldate nie rus en orde by sulke geleenthede gehandhaaf het nie. Hulle het dit gedoen, omdat daar ook `n paar fooitjies in hulle sakke beland het deur sulke spektakels.
12] Dit is wat vandag by die sogenaamde heilige oorde gebeur. En omdat Ek dit natuurlik sien kom het, het Ek, veral in Galilea, waar Ek die meeste van my tyd op aarde deurgebring het, al die genoemde en bekende plekke uit die Evangelies sodanig laat vernietig, dat hulle nou ook nie meer deur `n nog so Bybelvaste geograaf opgespoor kan word nie.
13] Van die destydse stad, Tiberias, langs die Galilese meer, is daar nog enkele oorblyfsels, maar van al die ander plekke, wat gedurende My tyd langs die oewer van hierdie meer gestaan het, is geen spoor meer te vinde nie. Daarby het die Galilese meer van alle kante af sodanig teruggetrek, dat dit nou `n bykans een derde kleiner wateroppervlak het as wat dit gedurende My tyd was.
14] Van My woonplek Nasaret is daar ook geen spoor meer oor nie; net in `n vallei wes van die Galilese meer, teenswoordig `n paar ure daarvandaan, bestaan daar `n baie ellendige Turkse dorp, wat deur die winsbejagte geloof van die plaaslike Christene en ook Turke as my destydse ware woonplek aangewys was. Op die plek van My verkeerdelik aangewese destydse woonhuis staan nou ook `n kerk met `n klein klooster, waarin die plaaslike priesterskap nog allerlei relieke uit die werksplek van die skrynwerker Josef ten toon stel, maar ten spyte daarvan by die meeste sektes min aanvaarding daarvoor vind, omdat elke sekte voorgee dat hulle self in besit is van daardie relieke, waarheen dit van engele deur die lug daarheen gebring is. Ander sektes weer heg in elk geval min geloof aan sodanige relieke, en so doen die huidige Nasaret maar baie swak besigheid met sy heiligdom.
15] Langs die kus van die Middellandse See is Joppe nog die bes behoue plek; Tirus en Sidon is bloot net murasies net soos Sardes en Laodicea. Op die plek van hierdie ou wêreldstede, staan daar vandag net `n paar armsalige vissershutte. In die murasies kom allerlei wild voor, waar die jakkals en die hiëna dikwels hulle verskyning maak, en die arm vissermanne moet altyd tot hulle tande toe bewapen gaan visvang.
16] Van al die stede, wat veral gedurende die laaste jaar van my leertydperk, deur My besoek is, en langs die oostelike oewer van die Galilese meer en die Jordaanvallei geleë is, is net nog `n paar murasies oor wat so nou en dan deur Beduïnes bewoon word, en dit daarom, omdat hulle deur baie harde basaltstene gebou is, wat reeds gedurende My tyd `n ouderdom van byna 2,000 jaar gehad het en meestal deur Romeine en Grieke bewoon was.
17] Daar bestaan ook nog in die boonste deel van Sirië plekke wat deur My besoek is. Die mense het nog net nie in hulle belang gestel nie, omdat hulle eerstens te ver afgeleë is, en tweedens nie in die teenswoordige vier Evangelies genoem word nie.
18] En dus kan jy met My benoeming van die plekke in die hele Palestina gerus wees; want Ek het hulle juis op grond van die voorspelde afgodery uit die bestaan weggevee, dat daar vandag ook nie eers naastenby enige teken daarvan oorgebly het nie.
19] Die mees korrekte verwysing is nog die Kisjonvallei langs die karavaanstraat, wat destyds vanaf Damaskus oor Kapernaum na Tirus en Sidon gelei het. Maar daardie vallei, wat destyds direk langs die Galilese meer geleë was, is vandag ten minste drie tot vier ure ver weg daarvan en is `n totaal onvrugbare sandwoestyn.
20] Net so staan sake met die Ebahlbai en die Ebahlvallei, waar destyds die plekkie Genésaret voorgekom het. Dit is nou `n taamlik uitgerekte sandwoestyn, en is twee ure vanaf die spieël van die Galilese meer geleë. In My tyd het die meer daar `n uitloop gehad, en ten tye van die Kanaïete was dit `n hoofafloop van die Jordaan, en waar dit nou afloop, was in daardie ou tyd net `n spruit. Gedurende latere tye was hierdie ou Jordaanvallei sodanig deur aardverskuiwings, wat in hierdie omgewing baie voorgekom het, verlê en geblokkeer, dat dit in die teenswoordige tyd geen reisiger en wetenskaplike enigsins sou kon byval, dat die Jordaan destyds daar sy loop gehad het. In My tyd was daardie vallei nog meer oop, en `n sytak van die Jordaan het daardeur geloop. Alleenlik deur die groot aardbewings en aardverskuiwings na My het elke spoor daarvan verdwyn.
21] Maar deur sulke aardverskuiwings het, veral in die omgewing van die Galilese meer, en juis die vloer van hierdie meer self, op sommige plekke met meer as tweehonderd vame gedaal, en op die wyse het die oppervlak van die meer ook kleiner geword en die Jordaan moes daar sy hoofafloop vorm, waar die aardverskuiwings vir hom `n nuwe deur oopgemaak het. Gedurende die tydperk van ongeveer `n duisend jaar na My, het die hele Jordaanvallei tot by sy monding in die Dooie See in geheel met `n honderd voet gedaal, en dit ook die Dooie See self, en `n mens kan die meer nie meer op `n sagte oewer bereik nie, wat nou deur baie hoë en styl rotsgesteentes omring word, sodat `n mens net op baie min plekke ter besigtiging van hierdie lewelose meer toegang kan kry, wat ongeveer drie keer so groot is as die Bodensee (meer in die suide van Duitsland). 
22] Wat Ek nou hieroor gesê het, is waarheid, alles anders is grootliks menslike versinsel en bespiegelings. Trouens, met betrekking tot die deur My aan jou gedikteerde Johannes Evangelie, is daar min geleë aan die name van die plekke of waar hulle geleë is; maar alles is geleë aan die lewensleerstellings en waarheid wat daarin voorkom. -
23] Daar bestaan nou baie narre wat daaroor stry, waar die destydse Paradys geleë was, en waarheen Adam daarvandaan reglynig gevlug het, en in welke land Kain vir Abel dood geslaan het, waarheen hy daarna gevlug het, en waar Adam hom later self gevestig het. Daar bestaan dus so baie verskeie aanduidings, dat self `n gees wat naby sy voltooiing staan, deurmekaar kan raak; dit is maar net `n stryery oor die waarde van `n paar wolhare van `n skaap! Wat die waarheid daaroor is, kan in My ‘Huishouding' gevind word, en ook gedeeltelik in ‘Johannes'. Alles anders is sonder waarde, aangesien die aarde in daardie tyd `n heel ander voorkoms en indeling gehad het, wat na Noag se tye aansienlik verskuif is. En sou jy poog om volgens die teenswoordige voorkoms van die aarde die woonsituasie van die oer-aartsvaders te bepaal, dan sou jy met sodanige bepaling `n skoot in die lug aftrek, want in daardie tye was die huidige Siberië, in besonder teen die ooste, so ook Sentraal Asië tot by die Merke van China, `n uiters geseënde en vrugbare land. Gaan kyk julle vandag daarna, dan sal julle die skerpste teendeel vind. Siberië het byna niks as ewige sneeu en ewige ys, en die destyds so geseënde Sentraal Asië word self deur die wildste en verskeurende ongediertes vermy, aangesien daar niks anders as sand en klippe aangetref word. Daarom is dit ook vir die Russiese verbande onderdane onmoontlik, om te vlug en oor hierdie uitgestrekte woestenye ten minste die uitlopers van die groot Tibetanse bergreekse te bereik, aangesien hierdie groot woestyne van Sentraal Asië grootliks netso erg is as die groot Sahara woestyn in Afrika.
24] Maar daaruit word gesien, dat hierdie aarde deur die oormoed van die mens `n groot verandering gelei het - en daar sal nou geen geoloog, al sou hy `n honderdvoudige Alexander Humbold wees - regkom nie. Maar wat elkeen ter beter begrip van die boeke van Moses moet weet en te verstaan noodsaaklik is, het Ek al twintig jaar gelede vir jou in die pen gedikteer, en doen nou ook dieselfde in Johannes oor die plekke in die land, waar Ek geleef en geleer het. Alles anders is ydel, en met ander woorde gesê, niks anders as om leë strooi te slaan nie.
25] Met hierdie beskrywing van My kan jy en elke ander gelowige volkome tevrede wees. Maar die sogenaamde verstandelike wêreldmuggieryers moet tot versadiging die stof van die ou murasies lek; maar dit sal vir hulle van min nut wees, aangesien hulle weinig voedsaamheid daarin sal vind.
26] Maar Ek bly die Heer en verander die aarde volgens My welgevalle en volgens My wysheid. Sulke hoogwyse verstandelinge, wat self die gras hoor groei en waarvan sommiges al beweer het, dat hulle die plante hoor snork het terwyl hulle asem haal, moet net `n vallei van `n rivier tot op die bodem leeg pomp, en hulle sal daar baie voedsel vir hulle verstand kry! Maar hulle sal dit sekerlik nie doen nie en eerder met die lekkery van vogtige klipmure tevrede wees, want daar kan tog elke mens vir sodanige hooggeleerdes sê: Vriende! Net tot daar, waar daar `n paar doudruppels hang, sal julle met julle tonge bykom. Maar met `n wonderstaf in julle hand sal julle geen fontein nes die Profeet Moses uit die binnenste van `n harde rots voortbring nie, van wie se rykdom miljoene mense en diere die brandende dors kan les.
27] Maar die wonderstaf van Moses bly nog altyd Ek en nooit die ydel roem- en selfsugtige verstand se gesamentlike wêreldwysheid van `n gegradueerde dokter uit die hoë universiteite nie.
28] Dit ter gerusstelling vir al diegene, wat aan My glo, My bo alles liefhet en hulle naaste soos hulle self.
29] Dit sê weer Ek, julle Vader, Heer en Meester. Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205