Gawes uit die Hemel (Uittreksels)
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26.

Die ontwikkeling en verband van liggaam, siel en gees
GAWES VAN DIE HEMEL - BOEK 3 - Geopenbaar aan Jakob Lorber op 17 Junie 1840
01] Dit is die volle antwoord op die grootste en belangrikste vraag wat Ek Maandag vir julle gegee het, waarvan die grootheid en belangrikheid eers in hierdie aflewering stralend duidelik sal word. -
02] Dit is noodsaaklik, sodat die antwoord volledig verstaan sal word, dat die wese van die mens en sy natuur en geestelike sfeer verduidelik word, sonder welke voorkennis dit nutteloos sou wees om te preek, terwyl alles net aan die gees gerig is, maar wat by julle nog nie lewendig is nie, maar nog op pad is om lewendig in die liefde, die moeder van die gees, te word. En sodat die eerste prikkeling vir julle gees gegee kon word, het Ek juis hierdie vraag vir julle gegee, waarin die lewe van die gees, sy wedergeboorte en dan eers die ewige lewe in die allerhoogste vryheid berus.
03] Sien, die mens is saamgestel uit `n natuurlike liggaam, wat as houer daar is, waarin daar deur die onderskeie organe `n lewendige siel kan ontwikkel; want tydens die ontstaan deur verwekking word alleenlik net die wese van die liggaam gekonstrueer. Eers in die sewende maand, wanneer die liggaamlike wese organies, maar nog nie volledig volgens vorm nie, maar tog volgens alle dele gevorm is deur die vegetatiewe lewe van die moeder, - so word daar in die omgewing van die maag `n blasie, wat van die verwekker afkomstig is, maar wat onsigbaar is vir julle oë, wat die substansie van die siel bevat, oopgemaak en dit word aan die hele organisme deur die verbinding van die senuwees oorgedra, omskep dan die magnetiese fluïdum wat in alle senuwees teenwoordig is, in sy eie en dring dan met volle elektriese snelheid in al die oorblywende organe, maar spesifiek laastens in die hartspiere, wat gewoonlik eers op die sewende dag, by party `n bietjie later, geskied.
04] Die hart begin dan baie stadig te rek deur die geleidelike opvulling van die sielsubstansie, en wanneer dit stadigaan uiteindelik vol geword het, nes `n elektriese bottel (kapasitor), dan ontlaai dit in die are deur die boonste kamer. Hierdie ontlaaide fluïdum word dan oorgedra aan alle vloeistowwe wat daar teenwoordig is en dwing hulle in alle houers en so ook in die vloeistowwe van die houers self ter beweging weer in die are en deur hulle weer terug na die hart, waartydens die hart reeds weer gelaai word en die vloeistowwe wat daarheen terugkeer weer verder stuur.  
05] En so begin dan die polsslag en die sirkulasie van die vloeistowwe en bloed wat ietwat later daaruit ontstaan. Deur die voortdurende verkeer en uitruiling van vloeistowwe wat op die wyse plaasvind en inderdaad die van die bloed, word die massa van die liggaam gebou - en deur die substansie wat in die fyner vloeistowwe voorkom, word die soliditeit van die siel elektro-organies gevorm. En wanneer die maag ook volledig gevorm is vir die opname van meer growwe vloeistowwe, eers uit die liggaam van die moeder, ter ondersteuning van die vloeistowwe en die bloed wat ook vir die doel gebruik word, dan word die mens losgemaak van die voedingsbande in die liggaam van die moeder en word in die buitewêreld gebore, toegerus met vyf natuurlike uiterlike sintuie, om die waarneembare wêreld te kan opneem, of eerder die verskillende substansies soos die van lig, klank, smaak, reuk en uiteindelik die van die algemene gevoel, wat alles ten doel het om die siel te ontwikkel en na haar behoefte te laat groei in die liggaam, wat dan etlike jare agtereenvolgens gebeur. En so is daar nou twee mense in een, naamlik eers `n materiële en binne in `n substansiële mens. 
06] Let nou goed op hier; - ongeveer drie dae voor die geboorte word uit die allerfynste en terselfdertyd die mees soliedste substansies van die siel in die omgewing van die hart `n ander oneindig fyn blasie gevorm, en in hierdie blasie word `n gees geplaas wat op `n stadium in die verlede boos geword het, wat volgens sy wese `n vonk van die goddelike liefde is; ongeag of die liggaam manlik of vroulik is, is die gees tog eintlik sonder geslagtelike verskil en neem eers mettertyd `n bietjie geslagtelikheid aan, wat deur die begeertes geuiter word. 
07] Maar nou is hierdie gees nog dood, soos wat hy in die materie alreeds sedert lang, lang tye was. Aangesien die siel nou `n onbepaalbare, substansiële wese is, eenvoudig en sodoende onvernietigbaar, en haar voeding ontvang deur die nou reeds volledig ontwikkelde sintuie van die liggaam - wat as volg is: ooreenkomstig die ore die rede, ooreenkomstig die oë die verstand, ooreenkomstig die smaak die behaaglikheid van die indrukke wat ontvang word deur klank en lig, dan ooreenkomstig die reuk die waarneming van goed en kwaad, en laastens ooreenkomstig die algemene gevoel die bewussyn van die natuurlike lewe in haar, wat bewerkstellig word deur die aanhoudende evolusie van vloeistowwe en die daaruit geabsorbeerde substansies, - so word die siel dan bekwaam om te dink, waar die dinkproses eintlik deur die sirkulasie van die fynste substansies in haar ooreenstemmende organe met die liggaam bewerkstellig word. 
08] Net soos wat die sirkulasie van vloeistowwe in die liggaam voorheen die wesenlikheid van die siel gevorm het deur die toevoer van substansies vanaf die buitewêreld, net so behoort en sal, deur die sirkulasie van die fynste substansies in die organe van die siel, die ingeslote gees gevoed word vir so lank, tot hyself ryp word om die blasie te breek en sodoende ook stuk vir stuk al die organe van die siel te deurdring - en net soos die siel in die liggaam, so word ook hy in die siel `n volwaardige derde mens, deur voeding uit die denke van die siel, wat as volg gebeur:
09] Die gees het, net soos die liggaam en die siel, ooreenstemmende geestelike organe - ooreenkomstig die gehoor en rede, die ontvanklikheid of waarneming, ooreenkomstig die lig en die verstand, die wil, ooreenkomstig die smaak en behaaglikheid van die indrukke wat ontvang word vanaf klank en lig, die vermoë om alle wêreldhede in ooreenstemmende vorms te kan opneem, ooreenkomstig die reuk en die waarneming van goed en kwaad, die insig van waar en vals en uiteindelik ooreenkomstig die algemene gevoel en die bewussyn van die natuurlike lewe, die uit al hierdie voortspruitende liefde.
10] En net soos die kos van die liggaam deur al die sintuie voorsien word, so ook die van die siel en uiteindelik ook die van die gees. As die kos in die algemeen sleg is, word alles uiteindelik sleg en sodoende ook verwerplik; maar as die kos in die algemeen goed is, word alles ook ten slotte goed en aanneemlik. Nou kyk, dit is nou eenmaal die bestaansverhoudinge tussen liggaam, siel en gees. Nou is die vraag, wat is slegte en wat is goeie kos? -  
11] Kyk, alles wat wêrelds is, is sleg, omdat dit die gees weer na die wêreld lei, uit wie se doods kerkernag Ek hom van die materie losgeruk het en geplaas het in die hart van die siel, sodat hy daar weer lewendig en gesuiwer kan word van alle sinlike natuuragtige materiële wêreldgesindhede, en dat hy daar uiteindelik bevoeg word vir die opname van die lewe uit My. Indien daar nou net slegte kos vir hom gegee word, word hy weer wêreldgesind, sinlik en uiteindelik materieel en daardeur dood soos voor die geboorte, - so ook die siel met die liggaam, omdat sy daardeur self heeltemal vlees geword het.
12] Maar word nou vir die gees goeie kos gegee, wat bestaan uit my geopenbaarde wil en die bemiddeling deur die werke van verlossing - of My liefde in volle bestanddeel deur die lewendige geloof, word in die hart van die gees `n nuwe geestelike blasie gevorm, waarin `n suiwer vonk van my liefde geplaas word. En net soos voorheen by die verwekking van die siel en daaruit die gees, net so gebeur dit ook met hierdie nuwe verwekking van die heiligdom. Word dit nou volledig ryp, dan skeur hierdie heilige liefde die los bande van die houer en stroom dan soos die bloed van die liggaam of soos die fynste substansies van die siel of soos die liefde van die gees oor in alle organe van die gees, watter toestand dan die nuutgeboorte genoem word, soos wat die toestand van inplasing van hierdie lewensblasie die inplasingsgeboorte genoem word.
13] En kyk, terselfdertyd egter word daar ook deur die hel, reeds tydens die verwekking, in besonder wanneer dit bloot op sondige dierlike bevrediging gemik was, `n groot aantal liefdesblasies uit die hel in die omgewing van die maag en die geslagsdele gelê, wat dan byna op dieselfde tydstip as My liefde uitgebore word - soos die ruspers in die lente, wanneer hulle in die warmte van die son kom, so kom ook hierdie broeisel deur die opgaande warmte van My goddelike liefde in die gees van die mens. 
14] Sien, daarvandaan kom dan ook die versoekinge, aangesien elkeen van hierdie uitgebore wesens van die hel onophoudelike pogings aanwend om altyd, waar enigsins moontlik, in die lewe van die siel in te gryp. En indien die mens dan nie kragtig met die nuutgebore liefde uit God eiewillig teen die ongediertes optree nie, dan stroom hulle oorheersend in alle organe van die siel in en gaan sit daar soos suigende poliepe vas by die plekke waar die gees in die siel moet instroom, en verhinder so die opname van die lewe uit die gees in die siel en so ook deur hom die lewe van die goddelike liefde. Wanneer die gees nou sien dat hy homself nie kan uitbrei om die volheid van nuwe lewe uit God in hom te kan opneem nie, dan trek hy weer terug in sy stomme blasie - en so ook des te meer My liefde in hom, wat die God in die mens is.
15] En wanneer dit in die mens plaasgevind het, dan word hy weer heel natuurverbonde en baie sinlik, en ook verlore, omdat hy nie weet wat binne-in hom gebeur het nie, omdat hierdie ongediertes, heel ongemerk en aangenaam, eers die sintuie van die mens omkoop en hom sodoende geleidelik heeltemal gevange neem, sodat hy niks meer van alles wat van die gees afkomstig is wil weet, hoor, sien, proe, ruik en voel nie. Dit is dan `n groot ellende, soortgelyk aan dit wat vanaf die begin tot op die huidige stadium nie bestaan het nie - en ook voortaan nie meer sal wees nie. Maar wanneer die mens nou sy toevlug tot God neem deur uiterlik te bid, naamlik My gebed, deur te vas en lees van die Woord uit die skrif sal hy daardeur `n groot verlange kry, om bevry te word uit die groot ellende.
16] En as die mens dit ernstig opgeneem het, sodat hy in homself die groot twyfel raaksien, dan begin Ek ook van buite af te werk as oorwinnaar van die dood en alle hel, deur My werke van verlossing en gee dan vir die mens uit My barmhartigheid kruis en lyding volgens My wysheid. Daardeur word dan die wêreld en sy vreugdes vir die mens so bitter, dat hy `n bare afsku daarvoor kry, en `n verlange ontwikkel na bevryding uit die lewe van lyding. En sien, aangesien die ongediertes daardeur geen voeding meer in die siel kry van die sondige buitewêreld nie, word hulle swak en verdroog byna volledig in die organe van die siel en beland in `n totaal bewustelose toestand.   
17] Aangesien die van buite af sielsverlossende barmhartigheidsliefde van Jesus Christus nou in die sieklike organe van die liggaam, sowel as die siel begin invloei, verlig dit die organe en maak die siel as vermanende gewete bewus van die groot getal ongediertes van sonde, dan skrik die siel, wat deur `n beklemming in die hart en ook deur `n innerlike sametrekking van die bors in die omgewing van die maag geuiter word, en vra dan in hierdie nederige smart, wat deur ware berou bekragtig word, vir God in die gekruisigde liefde om genade en barmhartigheid, - en kyk, dan gewaar sy die gees en begin weer te roer in die blasie, waarheen hy onttrek het.
18] Dan word daar vir die mens, deur die barmhartigheidsliefde van God, die wette van Moses sterk in sy geheue deur ernstige vermaning opgeroep, van die eerste tot die laaste, en word die streng nakoming daarvan opgedra, sodat hy homself verneder en verloën tot in sy diepste innerlike, en dit met dieselfde rede as wat `n wasvrou die linne so lank deur die nougeplaasde rollers pers, sodat ook selfs die kleinste vuilisdeeltjies deur die aflopende water saamgeneem word, en wat so dikwels herhaal word as wat daar nog `n troebelheid in die water sigbaar is. Dan eers word die wasgoed onder die strale van die son geplaas, om nog die laaste druppels vuilis deur verdamping te verwyder, sodat dit deur die skoon winde na alle kante toe vernietigend verwaai kan word.
19] En kyk, so is die wette van Moses uit God volgens die getal tien, wat `n getal van God is, en toon dat die mens eers moet glo wie Ek is, wanneer hy in ellende beland het, sodat hy dan vir My die hoogste agting moet hê, ja dat hy selfs glo dat hy skuldig is, uit die sewe dae die aangewese Sabbat te kies en dit te heilig in die rus as `n ware rusdag van die Heer, sodat hy kan leer om homself te verloën en steeds dieper en dieper in homself te kyk, om daardeur sy inwoners te erken en hom dan tot My te wend, sodat Ek hulle op die bogenoemde wyse kan vernietig en uitdryf uit die organe van sy siel.   
20] En as hy homself so ver verneder het tot diep onder My groot mag en krag, kom dit nou neer op die was van die linne - daaronder moet verstaan word die stiptelike nakoming van die nog oorblywende sewe gebooie, waardeur hy homself tot ver onder sy gelyke moet verneder, en al sy bose begeertes moet gevange neem, en geheel en al sy eie wil moet breek en al sy begeertes en selfs die sagste wense van sy hart onderdanig moet maak aan My wil; dan sal Ek kom met die liefde en die blyplek van sy gees verwarm, soos `n hen haar ongebore kuikens. En kyk, dan word die gees, wat al vooraf begin te roer het, deur die warmte van die goddelike liefde van nuuts af weer uitgebore en stroom binnekort weer oor in alle dele van die gereinigde siel en slurp hy gretig die van buite af inwerkende barmhartigheidsliefde uit die gereinigde organe van die siel op, waardeur hy dan kragtiger en kragtiger word.   
21] En wanneer die liefde van my barmhartigheid dan ingedring het in die diepte van sy hart, waar nog die buitengewone blasie van die goddelike oerliefde rus, dan ontkiem die rein goddelike blasie opnuut, waarin opgesluit was die groot heiligdom van die liefde van die ewige heilige Vader, aangeraak deur die liefde van die Seun, wie nou die siel verlossend gereinig het, - en stroom dan, intiem verenig met die siel, in groot duidelikheid, soortgelyk `n opgaande groot son, in die gees oor en sodoende ook in die siel en deur haar ook in die geheel afgestorwe vlees. Sodanig word die mens deur en deur lewendig, en hierdie totale lewendig wording is dan die opstanding van die vlees.  
22] En wanneer alles nou deur die Vader deurdring is, dan word die Seun van die Vader opgeneem in die hemel, dit is in die hart van die Vader; maar die Seun neem die gees van die mens op, en die gees die siel, en die siel die liggaam, wat die reeds aan julle bekende senuweegees is, want die res is net ekskremente daarvan.
23] En wanneer die Vader nou, dit is die liefde van die Vader, oorheersend in die mens word, dan word dit lig in die mens, aangesien die Wysheid van die Vader nooit geskei is van Sy Liefde nie, - so word ook die mens vol van liefde, vol wysheid en mag en daardeur nou volledig wedergebore in alle liefde en wysheid. - Kyk nou, watter bemoeienis, lankmoedigheid en groot geduld dit My altyd kos, om uit duisende skaars een te kan verlos, en hoe dikwels word My moeite ook van so `n mens ontken, verag, gevloek en met die voete getrap, - en kyk, tog hou Ek nie op om voortdurend na julle te roep nie: Kom almal na My toe, die wat vermoeid en belaai is, Ek sal julle almal verkwik! -
24] Dit is moeilik om vir die dowes en blindes te preek, aangesien hulle hulself in volle maat in die ellende van die wêreld gedompel het en daardeur die aarde, wat hul vlees is, bevuil het met die vloekdrek van die stinkende hel, waarvan die stank `n ware pestilensie van die siel is, wat My noodsaak om gereeld `n sondvloed uit die hemele te laat reën, waaronder verstaan moet word die bitter werke van verlossing. En as die aarde dan weer daardeur die vloekbesoedelde van die siel skoongewas het, en as die poele en moerasse weer deur die winde van genade uitgedroog is, dan eers is daar weer `n moontlikheid om vir julle te preek oor die weë na die lewe uit My.  
25] En terwyl Ek nou alreeds vir `n geruime tyd vir julle preek, volg dan My stem en keer terug na die stal van My lammers, sodat Ek julle kan lei as die alleen goeie herder op die weiveld van die lewe en julle vir My dan wol gee, so wit soos sneeu, en Ek vir julle `n kleed daaruit kan berei, wat julle kan versier tot in alle ewigheid. -
26] En aanskou nou verder die vervolg van hierdie My beantwoordbare boodskap en sien: 
27] Wanneer `n boer `n klein boord het en sien dat die bome daarin `n klomp vreemde gewasse is, dan sal hy by homself dink; wat moet ek doen? Verwyder ek hulle uit die grond, sal my tuin leeg word, en sou ek ook ander in hulle plek sit, sal hulle aanvanklik ook net vreemde gewasse wees, en dalk nie so kragtig soos die wat reeds bestaan nie. Ek sal hierdie dus sorgvuldig reinig van al die kwaadaardige gewurm en hul neste, en wil en sal dan op die regte tyd edele takke soek van goeie bome en daarop inent. En so sal hierdie vreemde gewasse, wat andersins vars en kerngesond is, met die hulp van bo gewis nog almal regkom, en sal gewis eendag vir my baie en goeie, soet en edele vrugte bring. En kyk na die slim boer, wat gedoen het wat hy wyslik gedink het; hy verkry reeds binne `n paar jaar `n ryk, vreugdevolle oes. 
28] En kyk, julle ouers is almal sulke boere, op wie se aardse of liggaamlike grond, deur die sorglose hoeragtige wyse met alle ontug van Sodom en Babel, baie vreemde gewasse van die hel ontstaan het. Daarom moet julle daarna met dubbele ywer hierdie struike reinig van al die duisende ongediertes, - wat daaruit bestaan, dat julle met die grootste sorgvuldigheid ag slaan op al die wense en begeertes wat almal uit die inwonende helgediertes hul oorsprong neem - en verdelg hulle almal op die ware, van My aan julle reeds duidelik aangewese wyse, en snoei ook van die begin af die nuttelose sytakke van die dikwels goed lykende, maar nog steeds die lewe van die stam verswakkende eiewil, dan sal julle binnekort `n gesonde en kragtige stam laat groei. En wanneer die tyd van inenting dan kom, wat die bekendmaking en inenting van die, uit My hoogste Liefde gegewe wette van Moses is, dan sal julle met toevoeging van My kragtige hulp gewis kan verwag, dat die vreemde gewasse wat op die wyse gereinig en sorgvuldig versorg is, My wil gewis kragtig sal gryp, nadat die eiewil volledig van hulle geneem is, en sal uit hulle binne `n kort tyd `n groot hoeveelheid van die mooiste en wonderbaarlikste vrugte van alle soorte voortkom, wanneer julle hulle daarby nog ywerig natlei met die water van die lewe, sodat hulle toppe binnekort reg op in die hemel ingroei, waardeur hulle geestelike gesigsveld salig wyer sal word, en hulle dus meer genadelig sal opsuig, wat in groot hoeveelhede bestendig uitstroom uit die genadeson, wat ontstaan het deur die daad van verlossing, uit welke lig en warmte die hele skepping eers nuut en uiteindelik volledig wedergebore kan word tot die ewige lewe.  
29] Maar dit is die verlossing; dat jy die heilige Vader en die Liefde erken, wat - die hele wêreld versoenend en weer heiligend - aan die kruis gebloei het en selfs vir die misdadigers, deur die laaste steek van die spies in die hart van die ewige Liefde, die heilige poorte na die lig en die ewige lewe laat oopmaak het. En soos iemand daar sienend geword het en lewendig in die geloof en die liefde, so kan almal sienend en lewendig word in die geloof, wat die ware aandeel is van die verlossing, sodat die blasie van die ewige Liefde dan van nuuts af bevrug kan word deur die strale van die genadeson en ou Liefde van die Vader kan opgaan in julle, die deur die werke van die Seun in alle krag en mag van die allerheiligste Gees uit beide, in die rein liefde van julle wedergebore harte. 
30a] Wat die daad van My verlossing in beginsel beteken en is, sê Ek vir julle:
30b] Vir eers is dit die allergrootste daad van die ewige Liefde, aangesien Ek die Allerhoogste, in alle volheid van My Liefde en in die oneindige volheid van My Godheid self mens, ja vir julle almal selfs `n broer geword het, die totale massa van sondes van die wêreld op My skouers geneem het en die aarde op die wyse gereinig het van die ou vloek van die onaantasbare heiligheid van God;
30c] Tweedens is dit die onderdanig-maak van die hel onder die krag van My Liefde, wat vroeër net in die mag van toorn van die Godheid gestaan het en sodoende afgesonder was van die invloed van My Liefde, maar wat die vreeslikste wapen is teen die hel, aangesien sy die mees teenoorgestelde daarvan is, waardeur die hel ook by die liefdevolle en aandagtige noem van My Naam `n hele oneindigheid teruggedryf word; 
30d] En derdens is dit die oopmaak van die poorte van die hemel en die ewige lewe en die getroue aanwyser daarheen; want dit versoen julle, nie net met die heiligheid van God nie, maar dit wys vir julle hoe julle julleself voor die wêreld moet verneder, indien julle deur God verhef wil word. Verder wys dit vir julle om alle bespotting, lyding en kruis uit liefde vir My en julle broers te dra, met alle geduld, sagmoedigheid en oorgawe van julle wil, - ja dit leer julle om julle vriende op julle hande te dra en julle vyande te seën met die goddelike Liefde in julle harte. - 
31] Aangesien die wêreld dus niks anders is as net die suiwer buitevorm van die hel nie en die aarde, wat weer deur die verlossing geseën is, op hierdie wyse weereens tot die draer van die hel sou word, het die wêreld homself oor die aarde verhef en woon in hoë geboue in die glans van selfsugtigheid, van selfbedrog, van eieliefde, pragliefde, wellus, rykdom, suinigheid en woekergees en die algemene eienuttige heerssugtigheid. Maar sodat die aarde nie weer skandelik bevlek word nie, is sy gewas en geheilig deur die bloed van die ewige Liefde. En wanneer die slang ook êrens van sy afval wil ontslae raak, hetsy deur oorlog of deur regshandel, of deur roof, of deur ontug, hoerery, godverloëning en egbrekery, natuurlik en geestelik, - tree die verlossende sondvloed van die gekruisigde Liefde onmiddellik in werking, deur die opwekking van mans en sieners van God, wat dan weer die afval van die slang moet verwyder van die aarde, nadat hulle dit opgesoek het en in die skure van die wêreldgroottes gegooi het. Dan bewonder die wêreldhart sodanige skat, maar My kinders moet dan vir `n kort tyd swaar kry, aangesien die aarde vir daardie kort tyd onvrugbaar word. Maar wanneer hulle dan vlug onder My kruis en My stem hoor praat van die nuwe lewe deur die mond of die pen van My sieners en die droë aarde met ywer natgooi met water uit die fontein van Jakob, dan word die aarde gou weer geseën en dra vrugte van die allermooiste soort, - en hierdie vrugte is dan weer die aandeel van die groot werk van verlossing, wat volbring is aan die kruis.    
32] Laastens moet Ek nog vir julle, naamlik die ouers, nog hierdie Vaderlike raad van My byvoeg, dat julle jul seuns beslis nie laat trou nie, en sou hulle ook in alle wêreldse aspekte onderhoudsvermoënd toegerus wees - hetsy in die amp of besittings, voordat hulle nie minstens halfpad wedergebore is nie, sodat hulle vrouens dan deur hulle geheilig kan word, om geseënde vrugte in die wêreld te bring, wat binnekort self maklik die seën van die hemel van `n hele groot generasie kan word, waardeur julle dan `n groot ryk, nes die van Abraham, in die hemele sal stig, waaroor julle vir ewig meer en meer bly sal word oor die steeds toenemende heerlikhede, wat voortgegaan het uit julle geseënde saad. 
33] Maar gee julle dogters vir My seuns, wat uit My Liefde na julle toe kom en wat My erken in die wêreld, en wat hulle laat trek deur My Liefde en laat lei deur My wysheid, en aldag My stem gehoor het en hul oë gerig het op My hart. Daardeur sal julle vir My die seënende skoonvader van julle dogters maak. En Ek sê vir julle, aangesien julle My nou tot die naaste familielid gemaak het, kan julle maklik vir julleself dink dat Ek My skoonfamilie eendag nie ten gronde sal laat gaan nie; en wanneer Ek sê dat hulle in My huis sal woon en aan My huistafel sal eet en aldag gewis groot vreugde sal hê met die uiters mooi kleinkinders van My geliefde seuns en hulle deur hulle geseënde dogters, en wanneer hulle aan die Vaderhand gelei sal word in alle ryke in en daar My groot heerlikhede sal aanskou, - dan eers sal hulle verstaan wat dit beteken om My as skoonvader te gehad het!!!
34] Nou kyk, dit is `n volledige antwoord. Dit is nie geleerd nie, maar wat veel meer is, dit is uit die bron van die ewige Liefde en Wysheid van julle heilige goeie Vader, in alle ewige waarheid getrou gegee nes `n groot ligstroom, wat van `n groot son op die hoë oggend uitstraal, wat vir julle deur en deur lig sal gee, wanneer julle dit mettertyd heeltemal opgeneem het in julle nog taamlik onverhelderde harte, wat julle des te meer sal aanvoel, indien julle dit vergelyk met julle eie swak antwoorde - en gewis duidelik daaruit sal sien hoeveel julle nog tekort skiet, en hoe diep julle in julleself gedring het. -
35] Maar dan sê Ek nog vir julle, dat die antwoorde dieper is as julle harte; want Ek het dit aangepas vir die beter gedeelte van julle, en dit onbewus in julle harte geplaas. Julle sal eers die teken van waarheid van My antwoord vind, indien julle `n dieper betekenis in julle antwoord sal ontdek, as wat julle gedink het om versagtend by te voeg. - Maar dit sal vir julle `n besliste teken wees hoe diep Ek in julle en hoe vlak julle nog in my gedring het.
36] Kom daarom almal na My toe, wat beswaard en belaai is, want Ek wil julle almal verkwik en volmaak met My genade. Amen. Ek, die ewige Liefde en Wysheid, Amen, Amen, Amen. - - -

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205