Gawes uit die Hemel (Uittreksels)
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26.

VERDUIDELIKING VAN SKRIFGEDEELTES UIT DIE BYBEL EN GESKIEDKUNDIGE AGTERGROND TOT DIE ONSTAAN VAN DIE NUWE TESTAMENT
(Die Bybel verwysings is deur die uitgewer bygevoeg en was nie deel van die oorspronklike diktaat nie)
UITTREKSELS VAN "GAWES UIT DIE HEMEL - BOEK 3"
"Wees slim soos die slange maar sonder valsheid" ens. {mt.10,16-17;}
(GH3,352 - 22/3/1864 van 11:00 soggens tot 4:00 die namiddag)
01] Skryf wat oor die 16de en 17de vers uit die 10de hoofstuk van die Evangelie Matthéüs, waaroor daar reeds in die werk wat deur My aan Johannes gedikteer is, nie net eenmaal nie, maar verskeie kere melding gemaak is. Desnieteenstaande wil Ek nog `n nadere verduideliking daaroor gee vir julle. 
02] Ek het dit reeds destyds vir die Apostels gesê, toe Ek hulle vir die eerste keer voor My uitgestuur het, en dit was in My eerste leerjaar, in welke tyd die mense in die algemeen nog min van My geweet het. Hier en daar in Galilea, in Samaria ook, maar in die omgewing van Jerusalem het die mense nog baie min van My af geweet, en wie ookal iets geweet het, het die saak, uit vrees vir die fariseërs, so geheim as moontlik vir homself gehou, en daarom het Ek vir die Apostels wat op kort kennisgewing vooruit gestuur is, gesê:
03] "Kyk, Ek stuur julle nou soos skape onder die wolwe; daarom wees slim soos slange, maar nogtans sonder valsheid soos duiwe. Wees op julle hoede voor sekere van die hoë wêreldmense, want dit is hulle wat sal poog om julle te vernietig. As julle in `n stad inkom waar julle sulke mense sal aantref, moet nie daar bly nie, maar vertrek dadelik en skud die stof van julle voete van sodanige stad; want as hulle vir My, die Heer vervolg, soos wat dit aan julle bekend is, hoeveel te meer sal hulle julle nie as engele van God groet nie. Wanneer Ek julle vir die tweede keer in die hele wêreld sal uitstuur, sal julle allerhande moontlike vervolging terwille van My Naam lei, en mense sal julle aan die gereg oorhandig. Moet net nooit hulle vrees wat wel die liggaam kan doodmaak, maar verder vir die siel geen skade kan toevoeg nie, en wanneer hulle julle in die howe wil ondervra, moet nie vrees hoe en wat julle sal antwoord nie; want die antwoord sal vir julle in die mond gelê word, waarteen die regters niks sal kan sê nie. Maar Ek sê dit vir julle, My woord sal nog lank nie al die mense bereik het, voordat Ek weer onder julle sal tree en die volk, wat altyd gemoeid was om vir My en julle vyandig teë te staan, sal oordeel nie."  
04a] Die profesie is, eerstens op die ondergang van Jerusalem gerig, en vir latere tye op alle van watter aard ookal heidendom van die hoer van Babel.
04b] Hier het die ietwat verskrikte dissipels, respektiewelik Apostels gevra, of hulle ook hierdie keer voor die howe van allerlei maghebbers gesleep sal word? En Ek sê vir hulle: "Hierdie keer sal julle min met die vyande van die lig te doen kry. Maar wanneer Ek eendag liggaamlik hierdie aarde verlaat het, dan sal julle ter wille van My Naam, vernaamlik van die Jode en hulle priesters, baie beproef word. Maar dink altyd daaraan dat Ek julle nooit alleen sal laat nie en julle vooraf die krag en mag sal laat toekom, om julle kragtig, in die hoogste noodgeval, teen My vyande te beskerm. En die wolwe, onder wie Ek julle sal stuur, sal Ek ook nou vir julle stuur, maar hulle sal egter min of niks aan julle kan doen nie, indien julle waaragtig in My Naam slim sal wees nes die slange, maar daarby sonder valsheid nes die duiwe. Julle sal op slange, skerpioene en salamanders loop, en hulle sal geen skade aan julle kan berokken nie, en wanneer iemand julle gif sal gee om te drink, dan sal dit geen uitwerking hê nie. Dit as julle troos! Vertrou altyd op My, en Ek sal julle ook nooit verlaat nie, maar in die gees by julle bly met al My Liefde, Wysheid, Mag en Krag, wat vir julle die grootste en mees effektiewe hulp sal wees teen elke vyand van watter aard ookal. 
05] Daarop het My Apostels in pare in verskillende rigtings uitgegaan en My Naam gepreek en hoe die ryk van God baie naby na die mens gekom het. Maar in die omgewing van Jerusalem het hulle nie gekom nie; maar wel in die omgewing van Sidon, Tyrus en Joppe, Galilea en `n paar het selfs tot by Sirië geloop. Maar hierdie sending van hulle het nie al te lank geduur nie. Toe Ek op My eie in Kis by Kisjona aangekom het en daar na `n paar dae in die geselskap van hierdie vriend van My en verskeie van sy huisgenote op `n taamlik hoë berg geklim het, het Ek op die bekende wonderbaarlike wyse al twaalf My uitgestuurde Apostels, met behulp van My onsigbare helpers deur die lug op hierdie berg laat bring waarop Ek My bevind het, en het sommiges vir My laat vertel van hulle ervaringe. En kyk, hulle het My vertel dat hulle met alles goed gevaar het, maar net op een plek `n besete seun aangetref het, waar die bose geeste nie op hulle bevel wou reageer nie. Ook het hulle beswaar gemaak oor Johannes van Samaria, wat, soos reeds aan julle bekend is, op eie vrye aandrang My Naam en My boodskap wat in Samaria gehoor is, gepreek het, en ook wonderwerke in My Naam verrig het; en Ek het hulle toe gevra of hy vir My of teen My is? En hulle sê toe: Vir U, en Ek sê toe: Dan laat ons hom sy werk ongestoord doen. 
06] Hierdie Johannes is juis dieselfde een wat My woord en My Naam later in Damaskus so suksesvol gepreek het, dat hy in daardie groot wêreldstad baie duisende tot My bekeer het, en dat Paulus, voormalige Saulus, wat nog in diens van die fariseërs gestaan het, genoodsaak was om met `n bende na Damaskus te trek, om ook daar die Christene op die mees wrede manier te vervolg.
07] Maar toe het Ek Self teen hom opgetree, soos julle weet, en hom sodanig verander dat hy reeds twee dae daarna een van My aller ywerigste apostels geword het, en met betrekking tot die uitbreiding van My boodskap, vernaamlik onder die heidene, baie meer en beslissend werksaam was, as al die ander apostels en hulle baie dissipels. Hulle het wel na baie van die bekende ryke op aarde getrek, maar het min verrig, selfs in die groot Juda, waar hulle vir twaalf jaar lank na My gemeentes gestig het. Maar hulle, soos ook diegene in Laodicea, Sardis, Tyrus, Smirna en vele ander gemeentes, het na `n kort tyd so ver van die grondbeginsels van My boodskap afgedwaal, dat Ek genoodsaak was om deur Johannes (die Evangelis) die meeste gemeentes in sy Openbaring as verwerplik voor te stel.
08] Petrus self, voordat hy nog van Jerusalem weggetrek het, waar hy spesifiek in die huis van Lasarus, of in die huis van Nikodemus, of by Josef van Arimathea gebly het, was genoodsaak om juis in Jerusalem `n sogenaamde gemeente vergadering te hou, waarin hy aan hierdie gemeentes geskryf het, wat hulle as deels Judeërs en deels Christene moes nakom, watter vergadering ook kortliks deur die Evangelis Lukas aangeraak word en min vrugte gedra het. Daaroor het Paulus weer vir Petrus skerp verwyt by `n samekoms, aangesien hy nog met die Judeërs volkome `n Judeër wou wees, en het op hulle doktrines, wat Ek opgehef het, te groot waarde geheg en daardeur vir die Judeërs wat aan My geglo het, `n gewetensbeswaar gegee het; maar wanneer hy alleen onder die heidene was, oor die opgehefte gebruike en tradisies van die Judeërs gespot het. 
09] Op grond hiervan het Ek later Self vir Petrus geroep, dat hy na die Romeinse opperhoof Cornelius moes gaan, omdat hy begeer het om homself en ook sy hele familie in My Naam te laat doop en hulle daardeur in staat te stel - deur My Gees, wat in hulle werksaam geword het, na My toe te kom. Petrus het gegaan en toe hy by die huis van Cornelius aangekom het, wat in die middel van `n groot tuin gestaan het, het hy baie honger geword en vir My gevra dat Ek hom vir die amp op hande, ook met betrekking tot die liggaam, moes versterk. En kyk, Ek het vir Petrus sigbaar `n engel uit die hemel gestuur, wat vir hom, in `n wit doek toegedraai, kos gebring het wat vir die Judeërs verbied was. Petrus sê toe daarop: Heer! Dit is dan alles onrein voedsel wat vir die Judeërs verbied is om te eet, hoe kan ek dit inneem? Maar Ek sê toe vir hom: "Wat Ek gereinig het, dit is ook vir die Judeërs rein; eet daarom en gaan dan heen en verrig dit wat aan jou opgedra is." Petrus eet toe die onrein kos en gaan toe na Cornelius, waar hy weer onwillig teen My geword het, omdat Ek die doop van Cornelius en sy familie intussen Self uitgevoer het, en Petrus hulle dus almal in besit van die heilige gees aangetref het. -

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205