OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 27
24 Nov.2007 02:06
Dink nie dat julle nou al genoeg gedoen het aan julleself en voldoende geestelik gegroei het nie. Daar was met MY beliggaming op aarde talle mense wat MY gevolg het en sommiges het begin hoogmoedig raak omdat hulle MY herken het en die skrifgeleerdes en sommige gewone mense MY nie herken het nie. Hulle het begin dink dat hulle beter is as die ander wat MY nog gesoek het in die tempel en geskrifte. Ook was daar díe wat nederig gebly het omdat hulle besef het dat hulle niks uit hulleself is nie en dat alles wat hulle ontvang het, van MY afgekom het, en nie uit die feit dat hulle so goed was nie. Daar is vandag nog baie mense wat MY êrens langs die pad verloor het, sonder dat hulle dit besef het, omdat hulle hoogmoedig begin word het en begin neersien het op hulle broers wat nog vasgevang sit in die vangkloue van die kerk. Dit was ‘n groot genade en barmhartigheid van MY kant af om julle oë oop te maak vir die verkeerde op jou weg, en dit was nie omdat jyself so slim was nie. Dit het nou tyd geraak dat julle ophou om uit selfverheffing op hulle neer te sien, en in die proses sal EK julle in die kerke instuur om die mense daarin te bevry. Dit is ‘n baie moeilike taak soos julle self weet, omdat die mense verstok aan die leraar se woorde hang en julle baie moeilik tot hulle deur sal kan dring. Onthou - EK dwing niemand nie en daarom mag julle nie dwang op julle vasgevangde broers uitoefen nie en hulle sagkens na MY lei. Julle sal maar op die harde manier moet leer omdat julle hulle, uit hoogmoed, alreeds julle vyande gemaak het en daarom sal dit ‘n baie moeilike en stadige proses wees om hulle te oortuig. Hoe sal julle hulle oortuig sonder om hard te praat en sonder om hulle te verjaag? NET DEUR LIEFDE! Werk aan jouself om jouself tot liefde te omvorm. Dan sal jy hê: Geduld, sagmoedigheid, vriendelikheid, lydsaamheid, vrolikheid en al die ander mooi eienskappe van die liefde en wie sal julle dan nie in liefde en geduld kan aanhoor en oortuig word nie? Kyk maar om jou heen as jy in ‘n saal vol vreemde mense instap. Na wie sal jy eerste gaan vir geselskap of raad? Die een wat jou die vriendelikste gegroet het, natuurlik! Maar die een wat jou met hoogmoed en verhewendheid aangekyk het, sal jy so ver vermy soos die duiwel ‘n slypsteen, soos julle sê. Dit is ‘n sprekende bewys daarvan dat liefde die wapen is waarmee jy alle vyandigheid moet verslaan. Baie maal het jy iemand nie baie vriendelik behandel nie en dan is daardie persoon maar lugtig vir jou en probeer jou maar op allerhande maniere te vermy. Pas dan net die beginsels van die liefde toe en jy sal ‘n merkbare verskil by hom/haar opmerk. Julle is so geneig om te dink dat EK nou klaar is met die kerke, omdat EK teen hulle uitvaar, maar daar sit nog baie van MY skape daarin vasgevang en dit is julle plig om hulle daaruit te gaan haal, want dit is soos ‘n skaap wat in ‘n doringdraad verstrik geraak het. Hy weet nie meer hoe om uit te kom nie en sal later maar net gaan lê en wag uit radeloosheid, terwyl hy aanhoudend blêr. Die geblêr van MY skape hoor julle egter nie, omdat net EK die harte ken. Maar nooit sal hulle na julle gaan vir hulp nie, omdat hulle alreeds in die verlede met strenge regverdigheid oor die kole gehaal is, omdat hulle nog in die drade verstrik gesit het. ‘n Skaap wat in doringdraad vassit, het ‘n vriendelike hulpvaardige hand nodig en nie iemand wat met felle geregtigheid op hom neerkom nie. Sou iemand op so ‘n manier een van MY skapies nader, sal hy MY skapie oombliklik verwilder en sodoende die kans verspeel om hom uit die draad te bevry. Wees egter nie bang as jy een van daardie streng “regverdige helpers” was nie. EK sal jou weereens na MY skaap toe stuur en jy sal hom maklik bevry, MITS jy jouself heeltemal aan MY oorgee en met liefde gaan skape vang.
Dit is nog ‘n les wat julle moes leer wat MY skryfkneg net moes neerskryf en wat op haar ook van toepassing is. Dink nie dat MY skryfknegte gevrywaar is van die dinge wat EK julle leer nie – allermins! Dit geld eerste vir hulle en dan vir julle! Moenie getroue navolgers wees van die “regverdiges” onder julle nie, want niemand is regverdig in MY oë nie, slegs die liefde regverdig jou en maak jou rein omdat EK liefde is, en net EK alleen kan reinig. Omdat EK julle baie liefhet, ten spyte van julle hoogmoed, gee EK julle weereens díe les wat julle al heel aan die begin verloor het in julle groot ywer vir MY.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205