OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 28

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 28
24 Nov. 2007 07:20
En hier is nou weer iets vir die kleingelowiges. Nadat hulle MY liggaam van die kruis afgehaal het, was almal diep bedroef en niemand was vol vreugde nie. Alhoewel EK aan hulle gesê het dat hulle nie moet treur nie en dat EK ‘n stryd van MY eie het wat gestry móet word. Hulle was almal in hulle self gekeer en niemand was lus om te gesels nie. Toe daar meteens soldate aan die huisdeur hamer, was almal verskrik, en vreesbevange het hulle almal asof versteen gesit, omdat hulle gemeen het dat hulle weens MY, gevange geneem gaan word. Tussen hulle was ook ‘n klein seuntjie wat MY baie na aan die hart gelê het. Sy naam was Josöe. Hy is deur MY uit die dood opgewek en aan Cyrénius gegee om verder groot te maak. Hy was egter baie wys, omdat hy deur MYSELF geleer is en het niks aan wysheid en kennis kortgekom wat die grootmense gehad het nie. Josöe het met sy kop op Cyrènius se skoot gelê en was diep bedroef oor die gebeure, al het hy ook geweet wat die uiteinde sou wees. Julle wonder seker waarom dit nie ook in die Bybel opgeteken is nie. Die antwoord is pleinweg logies. Niemand sou geglo het dat ‘n twaalfjarige seun wat deur MY uit die dood opgewek is, kon wonderwerke doen en met die engele spreek nie, aangesien hy ‘n engel gehad het wat hom tot diens was. Die verhaal van Josöe sou dan so verdraaid die wêreld ingegaan het, dat EK dit nooit in die Bybel kon laat insit nie. Baie mense weet egter van hom, omdat hulle van hom gelees het in MY ander openbaringe wat deur Jakob Lorber vir MY geskryf is. Julle het nog nooit ‘n kind ontmoet met soveel breinkrag en intelligensie soos MY Josöe nie, maar dit beteken ook niks, omdat hy daardeur ‘n baie bedorwe kind geword het voor hy gesterf het en deur MY weer opgewek is, na een-en-’n-half-jaar. Leer julle kinders om MY lief te hê en nie hulle verstande tot op die letter te ontwikkel nie, want daardeur tree die hoogmoed in en niemand wat hoogmoedig is, kan deur MY geleer word nie. MY Josöe het met trane in sy mooi blou oë gelê en dink aan alles wat EK hom geleer het en hy was hartseer omdat hy nie by MY kon wees nie. Hy was in MY paradys waar hy deur MY engele geleer is van MY werke en was daarom nie bekommerd oor MY heengaan na ‘n ander wêreld nie, maar bloot oor die feit dat ons nie meer bymekaar kon wees nie. Met die harde klop aan die deur het hy baie groot geskrik en het orent gespring en die deur oopgeruk, omdat hy gedink het dat dit dalk EK was wat vroeër uit die dood opgestaan het en dat dit die rede was waarom die soldate ons kom roep het. MY ander diensknegte en dissipels het groot geskrik toe hy die deur oopruk en het hom probeer keer, maar hy was te vinnig vir hulle. Dit het toe ‘n deurmekaarspul opgelewer wat mense in paniek na alle rigtings laat spat het in `n poging om weg te kom van die soldate. Meteens sien hulle almal in hulle verwardheid ‘n helder ligstraal en ‘n stem wat met hulle praat kon ook gehoor word. “Waarom vervolg julle MY kinders, en dit terwyl hulle oor My treur? Laat hulle staan en gaan terug vanwaar julle gekom het!”, was die woorde wat die soldate in angs en verbystering laat vlug het. Maar MY mense het ‘n heerlike gesing vanuit die hemel waargeneem wat hulle almal tot kalmering gebring het. MY Josöe het in gejubel uitgebars en was nie meer hartseer oor die gebeure nie. Almal is met stom verbasing vervul en het in hulle harte gejuig en gesing, omdat hulle toe ook saam met Cyrènius bly gevoel het. Daar is toe ook baie om verskoning gevra aan Cyrènius, omdat hulle vroeër daardie aand gedink het dat hy mal was (Toe hy MY gesien het in die doderyk met MY helder lig om MY). Nodeloos om te sê, het alles vanaf daardie uur ook vir die Romeinse soldate verander, omdat hulle lewende getuies was van die feit dat EK werklik was wie EK gesê het EK is. Daardie aand is baie mense gered deur MY kinders, want die soldate het later teruggekom en aan hulle gevra om MY om genade te smeek, aangesien hulle verantwoordelik vir MY marteling was. Deur die skokkende gebeurtenis van My bulderende stem wat in hulle ore weerklink het, het elke demoon wat hulle beset het, op die vlug geslaan en in sak en as het hulle besef wie EK was en wat hulle gedoen het aan MY, die Ware Enige Koning van die Ewigheid af. Hulle het hulle swaarde van die wêreld verruil vir My Swaard van liefde en is deur MY Mense in MY weë geleer. Daar het ‘n geluk by die ongeluk plaasgevind, soos julle geneig is om te sê, en daarom wil EK dit ook aan julle voorhou om nie bekommerd te wees in ‘n tyd van nood nie, omdat EK julle wat MY liefhet se nood in “vrugbare grond” kan omskep as julle MY vra. Die “vrugbare grond” is dan ook bewerk deur die feit dat My mense op die tydstip van hulle nood deur My bygestaan is en My aangeroep het. Dit is nog ‘n bewys dat EK oral tegelyk is. EK was besig om Satan te oorwin en het terselfdertyd MY kinders op ‘n ander plek bygestaan. Wees daarom nooit meer bang nie, want EK is oral en altyd in beheer, en nie die wêreld of jou aanvallers nie. Gaan jou weg met vreugde en dink altyddeur aan MY, want EK IS die EEN wat maak en breek! In hierdie geval het EK MY mense se harte kalm gemaak en die soldate se doodsbande gebreek. Dit sit alles alleen in MY Mag en kan daarom nie deur ‘n mens gedoen word nie. Bring jou smarte en nood net na MY en julle sal juig en jubel omdat EK MAAK EN BREEK.
Met liefde aan julle vertel deur MY en My skryfkneg wat MY bo alles bemin.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205