OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 49

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 49
6 Des.2007   06:09
Nadat EK opgestaan het uit die graf, en al MY dissipels en mense van My opstanding bewus was, het Ek aan hulle almal gesê dat EK weer sal kom op die wolke en dat elke oog MY sal sien. Hulle was baie bly hieroor en het gedink dat Ek nog in hulle tyd weer sal kom. Maar hulle het MY verkeerd verstaan en het gewag op ‘n fisiese verskyning van MY terwyl hulle nog op aarde was. Deur die jare heen, het Ek aan al MY knegte gesê dat die einde van tye aangebreek het. Hulle het dan ook gedink dat dit binnekort MY wederkoms sal wees en het die mense dan ook so vertel. Wat hulle verkeerd gedoen het, is om al MY Woorde letterlik op te neem en nie geestelik nie. EK praat altyd in die Gees en sal julle sê wanneer Ek praat van dinge wat letterlik gaan gebeur. Hierdie boeke wat deur MY skryfknegte aan julle gebring word is alles deur MY aan hulle gedikteer. Baie hiervan is ook geestelik en dan is hier baie dinge wat EK aan julle sê wat julle letterlik en in die vlees moet verstaan. Een hiervan is dat die einde van tye regtig aangebreek het en dat julle almal wat nou hier lees nog MY wederkoms sal sien. Julle sien dit nou deur hierdie openbarings wat EK aan julle bring, maar julle sal ook MY verskyning sien wanneer EK julle kom haal en die aarde die oordeel ontvang. Julle sal MY koms sien, so seker as wat Ek leef en julle sal die laaste geslag wees wat op hierdie aardbodem wandel. Dit sê EK, julle Koning en Vader wat nooit vir julle sal lieg nie. Dit moet julle glo, omdat dit die waarheid is en nie omdat julle verplig voel daartoe nie. EK sal nooit vir julle onwaarhede vertel nie en julle sal nie deur MY skryfknegte mislei word nie, omdat hulle MY baie liefhet en net hier neerpen wat Ek aan hulle gee. Glo dat julle die laaste nageslag is wat hier sal wees en wees bly daaroor, omdat die aarde met die mense daarop buitengewoon bedorwe geraak het. EK sal kom om alles te reinig, sodat die volgende geslagte dan op ‘n gereinigde aardbodem kan leef. Die nuwe aarde sal buitengewoon mooi wees en EK sal nuwe dinge doen, en julle sal nie hierdie aarde herken nie, omdat EK haar totaal en al sal vernuwe. EK sal nuwe dinge doen wat ongekend en vreemd vir julle is. Hier sal nuwe skeppings wees wat julle nie ken nie en in vreugde sal almal hulle weg gaan, sonder enige hartseer, moeite of verdriet. Die geslagte van die nuwe aarde sal heeltemal in verbinding staan met almal wat reeds vooraf na MY gegaan het. En hulle sal MY kan aanskou, omdat hulle dan heeltemal rein sal wees. Nuwe skeppinge sal dan hier wees, waarvan julle nou nie eers ‘n idee het nie en julle sal daaroor juig, omdat EK julle buitengewoon sal seën. Geen mens het nog ooit so iets gesien nie en julle sal almal stom van verbasing wees as EK dit aan julle sou bekend maak. Maar dit sal EK nie nou doen nie, omdat die wat dit sal hoor en nie in MY kring van geliefde kinders staan nie, hulle daaroor sal vervies en MY uittart deur die spot daarmee te dryf, en dit sal EK nie toelaat nie. Wees julle maar net gerus en vertrou MY Woord dat die nuwe aarde onuitspreeklik mooi sal wees en net die reines van gees sal daarop kan wandel. Daar sal geen sonde heers nie en EK self sal hulle Leier en Koning wees. Dit is tog wat julle almal wil hê, nie waar nie? Julle almal wil hê dat EK alleen julle Koning en Regeerder op aarde moet wees. Dit sal dan ook so wees en met vreugde sal julle elke dag, die hele dag deur MY lof bring en sing tot eer van MY Naam. Julle sal nie hoef te sweet om julle brood te verdien nie en salig sal julle wees tot in lengte van dae. Daar sal geen siekte wees nie. Geen bakleiery nie en geeneen sal sy naaste leed aandoen nie, omdat die grootste liefde denkbaar tussen almal sal heers. Maar julle wat nou hier lees en glo, moet werk maak aan julleself, sodat julle ten volle gereinig ook deur My na die nuwe aarde gedra kan word, nadat hierdie ou aarde met sy slegte dinge tot niet gegaan het. Julle almal sal dit aanskou en julle sal juig wanneer EK MY Woord gestand doen. Maar baie van julle wat nou hier lees sal ook in die komende geloofstryd deur MY opgeneem word, voordat die einde aangebreek het, waarin EK dan hierdie ou aarde sal verbrand en aan die wat MY koms verwag, ‘n nuwe aarde sal gee. Julle wat by MY opgeneem word voor die tyd, sal ook deur MY geseën word en julle sal julle loon ontvang, omdat julle getrou gebly het aan MY tot EK julle kom haal het. EK sal baie kom haal en met blydskap sal hulle dan hulle lewens in MY Hande gee en saam met MY sal hulle dan ook die ryk ingaan wat EK vir hulle, wat MY getrou gebly het, berei het. Maar vir die wat hier agterbly en tot op die einde getrou sal bly aan MY, is daar ‘n ander plek berei, waar hulle dan sal wag op MY nuwe aarde wat EK aan hulle sal gee. EK sal hulle almal wegvoer na ‘n plek wat vir hulle berei is en daar sal hulle dan vertoef totdat die nuwe aarde voltooi is. EK sal hulle dan self weer na die aarde lei, en daar sal groot blydskap heers wanneer hulle dan die vernuwe aarde self sal aanskou. Dit alles sal díe aanskou wat op MY bly wag en getrou bevind word.
Wees nie bevrees vir die wat die liggaam kan skend nie, want hulle kan julle siele niks doen nie. Julle sal almal van julle vrees vir die dood genees word en sonder enige vrees sal julle dan My Woord kan uitdra aan die wat nog daar buite is en MY nie verwag nie.
EK sal aan julle ‘n nuwe ding doen wanneer EK julle almal bymekaar gebring het en Ek sal vir julle iemand uit die dood opwek sodat julle niks meer sal vrees nie. Hy sal julle vertel van sy ondervindinge in die hiernamaals en julle sal nie meer bang wees vir die dood nie. Almal van julle wat nou hier lees en dit glo sal gered word, al word julle deur MY opgeneem voordat die aarde verbrand en EK MYNE hier kom haal. Die wat nou alreeds gegaan het, staan julle in die gees by en MY dissipels en apostels is julle die hele tyd naby en versterk julle in die gees. Dit is EK wat aan julle krag gee sodat julle kan aangaan en nie moeg word nie. Wees maar net gerus, al lyk dit of die hele wêreld om jou wil vergaan. EK is van alles bewus en sal julle nooit verlaat nie. Julle is almal in MY Hande. Vertrou MY met alles al lyk dit soms moeilik en swaar. Wees altyddeur bly omdat die satan nie ‘n hart vol blydskap kan verdra nie en hy op die vlug sal slaan, die oomblik wanneer daar aan MY lof toegesing word. EK sal julle red en beskerm en bewaar sodat julle die stryd vir MY sal stry en oorwin. Glo net vas, dat dit wat EK aan julle sê deur MY skryfknegte, die waarheid is. Bou op MY julle huise en wandel op MY, want Ek is die Rots waarop julle moet bou en die Weg waarop julle moet wandel. Daar is geeneen soos EK nie en geen ander paadjie lei na MY nie. Geen leerstellings van mense nie, geen onderhouding van wette nie en nog minder vermoeiende bestudering van die Bybel en geskrifte nie. Dit is net EK wat julle kan bevry en op die regte pad lei. Gee alles aan My oor en Ek sal julle rig. Dit wat vir jou ‘n bron van kommer en hartseer is, moet net in MY Hande gegee word en EK sal jou hartseer in die grootste vreugde verander. Dit alles en nog veel meer belowe EK aan julle wat MY liefhet en getrou op MY koms wag. Dit is ook MY woorde aan julle wat nou hier lees. Julle sal nie een woord hiervan ontdaan sien nie en EK sál MY Woorde gestand doen. Dit is dan ook al vir vandag.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205