OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 53

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 53
8 Des. 2007 16:14
EK roep na almal en EK praat sag sodat niemand skrik nie. Ek roep ook hard sodat almal MY kan hoor. Daarmee wil EK te kenne gee dat almal wat graag wil, MY Stem in sy binnekant sal kan hoor. Luister mooi of jy nie dalk al MY Stem in jou kan hoor nie. Ignoreer jy MY nie dalk nie? EK beveel nie aan almal om te skryf nie, maar EK praat met almal wat My wil hoor. Luister net fyn en EK sal jou antwoord. Dit is hoe EK met elkeen wil praat. Sag, sodat net jy MY binne jou kan hoor, maar hard genoeg sodat jy MY nie kan mis nie as jy luister. EK het almal van julle , My uitverkore volk, lief en begeer om in julle harte erken te word. EK bring geen oordeel oor julle nie. Die wat nie na MY wil luister nie, bring die oordeel oor hulleself en sal net hulleself te blameer hê as hulle in die oordeel kom. Luister baie goed na My Stem en niemand sal verlore gaan nie. As EK julle roep moet julle kom en hoe sal julle dan weet as MY Stem stil is binne jou?
As almal om jou gaan waar EK hulle heen stuur en net jy bly oor? EK sal julle almal; bymekaarbring en net die wat MY kan hoor sal gaan op MY bevel. Soek na MY Stem sodat jy nie agterbly nie. EK roep julle almal en verlang na die tweegesprek met elke een van julle wat hier lees. Dit sal vir jou ongelooflike versterking gee en jy sal baie wysheid van MY ontvang. EK sal jou antwoord op elke vraag wat jy MY vra en jy sal weet wat om te doen. Nooit sal jy weer ‘n verkeerde besluit kan maak wanneer jy MY vra en EK jou antwoord in ‘n duidelike Stem in jou hart nie. Wees bly hieroor omdat dit nie aan vorige geslagte bekend gemaak is nie en bittermin MY so kon hoor. Julle hele volk sou MY so kon hoor as julle net ‘n begeerte daartoe gehad het. Nou nooi EK julle almal uit om so na MY te soek sodat EK met julle tweegesprekke kan hou. Nooit sal jy weer alleen voel soos nou nie en jy sal versadig voel omdat die Lewende Brood die hele tyd besig is om jou te vul. Soek dag en nag daarna en jy sal My hoor. Ek wil met elke een praat wat MY liefhet. Dit is die sleutel tot MY hoorbare Stem in jou binneste- liefde . Dit is die sleutel wat elke ingang na MY oopsluit sodat jy kan ingaan en alles aanskou wat EK aan julle belowe het. Dink dag en nag met liefde aan MY en EK sal jou alles gee wat jou hart begeer. Jy sal nie meer begeertes hê na aardse dinge en glorie nie en sal daarom ook nie daarvoor vra nie.Jou begeerte sal wees om een met MY te word en dit sál aan jou gegee word. Eenheid met MY is die toppunt wat jy kan bereik hier op aarde want dan beteken dit dat jy geestelik wedergebore is en My te alle tye kan aanskou. Wat ‘n groot vreugde moet dit nie wees vir die wat MY werklik liefhet nie? Om die heletyd in MY teenwoordigheid te wees terwyl jy in ‘n aardse liggaam is. Dit is dan ook waarom EK julle aanspoor om My binne julle te soek sodat julle die komende tye kan ingaan sonder enige vrees vir enige dreiging. Niks sal jou dan bang kan maak nie en jy sal dapper die donkerte ingaan want jy is die hele tyd van MY by jou bewus. Geen bose mag sal jou dan kan onderkry nie en Ek sal jou lei en jy sal My kan sien. Dit is hoe julle dan ook vir My sal stry en hoe julle sal oorleef sonder om te val. Satan sal julle nie met enige dreigement tot oorgawe kan dwing nie omdat julle sterker as hy sal wees. Al lyk dit vir die omstanders of julle die onderspit delf, sal hulle verbaas staan en kyk hoe julle nie ingee nie en in vreugde die gees aan My teruggee. Dink hieroor na en kom soek My met groter erns sodat EK een met julle kan word en julle die stryd kan oorwin.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205